As daar een plek is wat kan help, dan is dit die kerk

Ds. Jan-Louis Lee en sy gesin. (Foto: Verskaf.)

Deur ds. Jan-Louis Lee (Gereformeerde kerk, Brits)

Die oorweldigende indruk wat die regulasies betreffende die heropening van kerke by my laat, is een van verstomming en onbegrip.

In die tyd sedert die koronavirus sy onwelkome verskyning op plaaslike bodem gemaak het, is ’n groter krisis op die Suid-Afrikaanse burgery losgelaat – ’n apokaliptiese voorskou van ’n wêreld waarin ’n regering ongebreidelde mag het.

Vir ’n aanvanklike minuut het die president die burgery se samewerking gehad, en was almal mooi soet toe die 21 dae van afsondering afgekondig is – sodat die mediese infrastruktuur kan voorberei. Daardie welwillendheid het egter plek gemaak  vir ’n doodse gevoel van onsekerheid en voorbehoud soos wat die lang, beproewende en uitmergelende weke van die landwye grendelstatus voortgesleep het.

Miljoene mense is geforseer om toe te kyk hoe hul bankbalanse krimp, hul lewensdrome in vlamme voor hulle opgaan en hoe hul bestaan bedreig word. Irrasionele regulasies is uitgevaardig, teruggetrek, weer uitgevaardig en in die openbaar verdedig. Wetenskaplikes probeer (na wat ons uit die media kon verneem) die regering oortuig om die “hard lockdown” te beëindig – maar sonder sukses.

Intussen bloei die land.

Onderwyl is die polisie en weermag op ons mense losgelaat. Hierdie krygers is baie dapper wanneer hulle op die vreedsame burgery se inperkingsongehoorsaamheid toeslaan, maar staan redelik langtand wanneer dit by regte misdaad kom. Hoekom anders sou ’n hofuitspraak nodig wees om die weermag te leer dat jy nie iemand doodslaan as hy – heel onskuldig – in sy tuin sit en bier drink nie?

Wat sê dit as die VN reeds in die eerste weke van die grendelstaat die Suid-Afrikaanse regering gewaarsku het oor die hardhandigheid waarmee hul maatreëls toegepas word? Dit is insiggewend dat die regerings se maatreëls nou op grond van grondwetlikheid geweeg, en te lig bevind word…

Eindelik, ná nege weke, is die kerke as “essensieel” erken. Net om die situasie binne konteks te plaas: Die een oomblik is die beperking op samekomste gestel op 100 en minder, die volgende oomblik is dit :”Toe met julle deure!”, en vir ’n onbepaalde tyd word die kerk in die proses totaal en al verbygegaan.

In die aanvanklike regulasies wat in die week voor vlak 4-afsonderingsmaatreëls begin geld het, was daar geen sprake van kerklike aktiwiteite nie, selfs nie eens as ons vlak 1 van afsonderig bereik het nie. Die kerk is op dieselfde vlak as sport- en ontspanningsaktiwiteite geplaas. Min of meer irrelevant.

Daar is nie met ons gepraat nie. Daar is nie vir ons gevra wat die kerke dink moet gebeur nie. Daar is vir ons gesê wat om te doen. En – tot ons groot skande – het ons dit in stilte en gelate aanvaar. Waarskynlik omdat ons geglo het dat dit net vir drie weke sou wees.

Ja, ten spyte van stemme wat probeer skerm dat daar gepraat is, dat daar teenkanting was, was ons stil toe ons deure onseremonieel toegemaak is. Ons was stil toe minister Dlamini-Zulu op irrasionele wyse voedselhulp wou sentraliseer. Dit sou ’n vernietigende effek op die werk van ons diakonieë gehad het, maar ons was stil. Burgerregteorganisasies het opgestaan en gepleit vir die vryhede van ’n platgeslane nasie.

Ons is tjoepstil wanneer ons sien dat mense rondgeklap en van hul basiese vryhede ontneem word deur die einste konstabels wat hul vryhede behoort te beskerm. Ons stilte is oorverdowend wanneer regeringsbeleid ons lidmate se winkels en besighede en vermoë om eerlik hul brood te verdien, met onredelikheid en ’n onverbiddelike ideologie kniehalter.

Die land sit in die wurggreep van ’n ideologiese oorlog op die burgery, maar die kerk sluimer.

En ná alles – ná die gesprekke wat deur sommige godsdienstige groeperinge met die owerhede gevoer is – moet ons tevrede wees met die krummels wat op die vloer van die regeringstafel af vir die kerke gegooi word.

So asof die kerke skielik ’n staatsdepartement geword het en maar net te dankbaar moet wees dat daar eindelik aan ons versoeke gehoor gegee is. Waar die magiese getal van vyftig uit die lug gegryp is, sal nugter en die vaalmerrie alleen weet. As ’n mens na die beeldmateriaal van mense buite die pas geopende drankwinkels en winkelsentrums en kospakkietoue kyk, lyk dit of die virus net in die kerk kan tel.

In die kerk regeer Christus, nie Cyril Ramaphosa of Nkosazana Dlamini-Zuma, Beki Cele of die res van die Politburo wat die nasie tiranniseer nie. Die regering staan nie bo-oor die kerk en hou toesig oor ons doen en late nie, daardie eksperiment het in die verlede al verdoemende resultate opgelewer. Dit is Christus wat deur sy geroepe diensknegte regeer sodat die Evangelie – die Goeie Nuus van die Verlosser – ons doen en late kan rig. Dit is die boodskap van Christus wat ons vrygemaak het voor die aangesig van ons Vader en dit is God wat ons vryheid gee om te leef na sy welbehae.

Dit is die kerk se taak om profeties teenoor die regering van die dag te getuig, om die lig van die Woord te laat val op die regering se handel en wandel, want immers kom alle gesag van God af (of hulle dit nou wil erken of nie).

En verstaan mooi: ek bepleit nie ’n halsoorkopbenadering waarin ons die kerk sonder enige versigtigheid en nugtere denke oopmaak nie. As daar een instansie is wat die waarde van menselewens voor die aangesig van God begryp, dan is dit die kerk.

Dit is juis vanuit my besorgdheid oor die skape wat die Opperherder aan my opgedra het, vanuit die onmoontlike taak om elektroniese bediening vol te hou – dat ek ’n erediens, in vlees en bloed bepleit. As daar een plek is waar ons met verantwoording, in liefde, ons naaste sal koester, veral as daardie persoon ’n siekte soos Covid-19 het, kan hanteer, dan is dit die kerk. As daar een plek is, wat met graagte sal saniteer, skoonmaak en sorg – dan is dit die kerk.

Meeste van die regulasies is common sense.  Die res is onnodige ingrype in sake waarvan die regering ooglopend geen kennis dra nie.

Waarskynlik is dit met die gebeure in Centurion (so ’n ruk terug) in gedagte dat soveel kerke vir eers besluit het om deure toe te hou.

Kortom: Ek is in matriek laas met soveel agterdog en wantroue hanteer. Dit is vir my natuurlik ’n werklike gewetenswroeging dat die owerheid soveel mag oor die kerk uitoefen.

En daarom is die dae van stilbly helaas verby. Dit is tyd om op te staan, rûe behoorlik styf te maak en NEE te sê. Dit is tyd dat ons die euwels behoorlik met die Woord bestraf, en binne redelike verantwoordelikheid ons profetiese taak op te neem en ywerig in ons gemeenskappe diensbaar te staan.

Ons verset teen die owerheid sal nie kom in die vorm van geboue wat brand of betogings wat gewelddadig raak nie. Dit sal kom in die vorm van gelowiges wat verantwoordelik voor die Here, gesondheidsprotokolle gereed, heelhartig saam aanbid. Soos ons voorvaders met die Bybel, oortuig van God se getrouheid, sal ons hierdie ongekarteerde vaarwaters binnevaar.

Gelowiges weet dat die sekerheid van Christus die onsekerheid van die hier en nou in ryke mate oorskadu – en daarom is Covid-19 nie die ergste ding wat met ons kan gebeur nie.

Laat die kerke help – met oop deure!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Ook oor dertig jaar gesien hoe die kerk juis nié help nie, ten spyte van sy oop deure. En pas weer gesien hoe 40kg kos per gesin afgelewer word, solank hulle nie wit is nie. Spyker maar die deure toe.

Vrijburger ·

Uiteindelik ontwikkel iemand in die 3 Suster Kerke ‘n stem!

Adam ·

Eerlike, harde en goed beredeneerde argumente wat hier geopper word en ek glo dat Pieter, indien hy die pennevrug weer lees, sal sien dat hierdie net net oor die kerk handel nie. Die regering se magsvergrype is die hoofoorsaak van die probleem en dit is waarom die argument wentel. Hoe op aarde kan enige regdenkende mens die regering se optrede en die Grondwet met mekaar versoen.

Sarel ·

Ds. Ja ek was ook bekommerd oor die stem van die Kerk en was bekommerd dat die Stem mag stil raak. Tog het dit nie, en die Stem van God is nie gesmoor nie en kon nie gesmoor word nie. Wat en Wie us die Kerk. Dit is in elke persoon wat volgeling van Christus is en is nie afhanklik van ‘n gebou nie. Dis wat ek geleer het die afgelope tyd.
U noem verskeie gevalle o.a. die moord op die ekonomie van ons land en hoe Politieke Ideologië gebruik word of misbruik word.
Daar is egter twee sake wat ek.nog oorvin die duister is. 1.Hoekom moes die Regering by spreke van die Staatspresident ‘n Nasionale Biddag uitroep terwyl daardie plig eintlik by die Kerk hoort.
2. Die nood is hoog en ons weet dit. Die Kerk saam met ander Burgerlike Organisasies probeer help maar iemand moes iewers van hulle vergeet het Die Kinderhuise, wat moes smeek om bystand o.dat hulle net nie due mas opkom nie. Hierdie kinders is ‘n klag teen o s gemeenskap en het nie gevra om daar te wees nie.

Johan ·

Ek hunker met hart en siel om weer die wonderlike ervaring van die gemeenskap van die heiliges te beleef. Die onderlinge byeenkomste moet nie verwaarloos word nie. Buite die plek van aanbidding kan derduisende alle voorsorgmaatreël minag. Binne die plek van aanbidding kan aansienlike getalle met verantwoordelikheid alle voorskrifte nakom – al mag hulle nie sing nie. Dis tyd om weer met verantwoordelikheid saam te aanbid.

Ben ·

Ek hoop dat die dominees wat in die pers as dominees publiseer en na buite praat ook binne die kerk se strukture na binne praat sodat die sake op ‘n (dringende?) sinode of iets soortgelyks se tafel kan kom… Anders is hulle net so skuldig aan die kerk wat ‘lamgelê’ word/is. As ‘n dominee van ‘n Gereformeerde Kerk wat heeltemaal anders oor die saak voel (en daar is virseker sulkes) more op Maroela Media publiseer gaan dit darem lyk of ons erg verward is as kerkverband. Dalk beter om net onder jou naam te publiseer en die ‘dominee’ deel uit te laat…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.