As die jeug nie saamkom nie, is dit verniet

Paul Maritz. Argieffoto.

Deur Paul Maritz

Oor die afgelope maande word ek baie met een spesifieke ding gekonfronteer: Emigrasie. Die tyd toe ek die hoeveelheid skool- of universiteitsvriende wat oorsee werk op my twee hande kon tel, is lankal verby. As ek een aand by elkeen sou oornag kan ek al meer as ʼn maand in Europa, Brittanje, Kanada, die VSA en Australië, en verskeie ander lande deurbring – en ek vermoed dit is met meeste jong Suid-Afrikaners so.

Ek verkwalik natuurlik nie mense wat hierdie stap neem nie – die lande waarheen hulle gaan, bied ʼn magdom geleenthede, aansienlik meer geld, en sosiale voordele waaronder die primêre een veiligheid is. Hierdie vriende verlang soms, so sê hulle vir my, na ʼn bosveldvuurtjie, ʼn lekker jagnaweek saam met die “manne”, en die “belaglike hoeveelheid” sonskyn, wat hulle nou besef ons werklik in Suid-Afrika het, maar al hoe meer van hulle beplan nie om terug te keer nie, ten minste nie in die voorsienbare toekoms nie.

Dit is natuurlik so dat, hoe meer mense die sprong neem, hoe makliker dit word – die Facebook-groep vir Suid-Afrikaners in New York het blykbaar meer as 6 000 lede, ʼn ondersteuningsnetwerk, ʼn geleentheid om dadelik vriende te ontmoet – sonder stote of stampe in die vreemde te land.

Dit is ʼn gegewe dat ek vir my vriende bly is, dat ek op hulle trots is vir hierdie internasionale prestasie en invloed, dat ek hulle beny vir die vermoë om rustig na die bakkery op die hoek toe te stap sonder aarseling of ʼn versteekte wapen van een of ander aard. Ek kan egter nie anders as om ʼn klein frons reg tussen my wenkbroue te kry nie, want elke een wat gaan, is een minder wat oorbly om hande te vat en te help bou.

Daar is baie mense soos ek wat nie naïef is oor die omstandighede in Suid-Afrika nie, maar steeds vas glo dat daar gebou en ontwikkel moet word. Die eenvoudige waarheid is dat ʼn hele gemeenskap nooit kan emigreer nie, en dat dit ʼn oplossing vir die hoogs opgeleides is, en heel moontlik sal bly. Om hierdie eenvoudige rede is dit van kernbelang om hier waar ons is, te bou met wat ons het.

Val die standaarde by staatshospitale? Dan moet mens privatiseer en oor begin. Val die standaarde by staatskole? Dan moet mens privatiseer en oor begin. Dit is nie altyd maklik nie, inteendeel, dit is nooit maklik nie, maar dit is vir die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners ʼn werklikheid, ʼn verbeterbare werklikheid.

Hierdie een frase “ ʼn verbeterbare werklikheid” som my eie benadering tot Suid-Afrika op. Die uitdagings wat as stootfaktore beskou kan word, is volop en algemeen. Jong witmense se kans om ʼn goeie aanstelling by ʼn staatsdepartement te kry is basies nul, en groot maatskappye met bekende name voldoen aan hul SEB-kwotas deur op intreevlak radikaal te transformeer, wat dit moeilik maak om die werkplek in Suid-Afrika te betree. Dit is sleg, maar dit is ons werklikheid, ons veranderbare werklikheid. Ons kan, al is dit effens moeiliker, ons eie besighede begin en dienste lewer in die leemtes wat deur die staatsektor gelaat word. Ons kan, al is dit heelwat moeiliker, ons plase, huise, en motors beveilig tot op ʼn baie gesofistikeerde vlak.

Sou ʼn gesprek dan hierdie punt bereik, kom die vraag van jong hoogsgekwalifiseerde Suid-Afrikaners luid na vore: Maar waarom wil ons ons werklikheid verbeter as dit soveel moeite neem? Waarom nie maar net die sprong neem nie, waarom nie maar net na ʼn veiliger hawe toe seil nie.

As daar ʼn antwoord op hierdie vraag is wat op groot skaal rustigheid kan gee, sal dit altyd met roeping te doen moet hê. Waarom behoort jy twee keer te dink voordat jy die permanente sprong neem? Dit is eenvoudig – want dit is jou roeping, dit is die werk waarvoor jy geroep is. Soos Jona wat na Nineve toe moes gaan, soos Moses wat die Israeliete moes uitlei – dit is die werk wat voor hulle geplaas is, hulle is daarvoor voorberei en afgesonder.

Ons kan ons werklikheid verander – en ons doen dit reeds. Soveel selfdoenorganisasies is landwyd besig om daagliks die letterlike en figuurlike gate te vul wat gelos word deur die laksheid en onvermoë van amptelike strukture, maar hulle het ons hulp nodig. Hulle het jongmenshulp nodig.

As jong Suid-Afrikaners skouers optrek en op groot skaal emigreer na die buiteland of agter hul hoë mure in, dan is die werk van hierdie selfdoenorganisasies, hierdie organisasies wat bou aan ʼn beter môre, tydelik en nutteloos. Ons, as jeug, moet verantwoordelikheid neem vir die werk waarvoor ons geroep is. Ons moet tot die besef kom dat geld nie alles is nie, dat omstandighede nie altyd maklik is of sal wees nie, en dat hardwerkendheid ons grootste bate is, en dat dit die sleutel is waarmee ons die toekoms wat ons kinders gaan hê, moet oopsluit. Harde werk in antwoord op die roeping wat ons hard en duidelik hoor, harde werk met die klein bietjie wat elke dag voor ons geplaas word om te doen.

Vir julle wat in ander lande hul geld in dollar, pond, euro, en wat ook al verdien, mag jul werk met sukses bekroon word, maar mag jul daardie vaardighede, en daardie hulpbronne kom terugploeg, en help bou aan die land wat julle geslyp het tot die nuttige instrumente wat julle tans vir jul maatskappye is.

Vir julle wat in Suid-Afrika bly, maar konstant een oog op die buiteland het, mag julle bewus word van jul roeping, en besef dat jul werklikheid ʼn verbeterbare werklikheid is. Vir julle wat hier is, en hier wil wees, mag julle die lig van hardwerkendheid wat julle by jul ouers geleer het vandag, en elke dag op hierdie aarde, aanwend om ʼn voorbeeld te wees en die toekoms te bou wat julle verdien!

  • Paul Maritz is die koördineerder van Solidariteit Jeug.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Dink vir Jouself ·

Mooi gesê Paul. Ons land het positiewe en hardwerkende jong manne soos jy en Ernst nodig om ‘n billike en regverdige toekoms vir ons nageslag in Suid-Afrika te verseker op innoverende en volhoubare maniere. Ons hoef nie ondergronds te gaan of die woestyn in te vlug tensy dit ons enigste en laaste opsie vir oorlewing is nie. Ons voorgeslagte het al groter uitdagings in die gesig gestaar. Ons moet vasbyt in geloof en hoop en arbeidsaamheid soos Paul sê. Ek ondersteun jou siening ten volle. Ander is geregtig om van ons te verskil.

Jimmy ·

Jong man emigreer so vinnig moontlik. Niemand hier gee ‘n snars om vir wit mense nie.

Deon ·

Ek sal die jong man aanraai om sy base te druk om te werk aan selfregerende Afrikaner volkstaat. Dit is die enigste oplossing.

Francois ·

Suid-Afrika se heel grootste probleem is eintlik dat mense net agteroor sit en niks doen nie. Ons mense verkies om te kla, eerder as om self in te spring en dinge te verbeter. Daar is baie geleenthede om ons situasie te verbeter. Dit verg net ‘n bietjie meer werk en verbeelding as in ander lande, dis al. Kyk hoe goed is ons privaathospitale. Medi-Clinic is selfs bedrywig in Switserland! Ons swak regering skep eintlik geleenthede vir besighede soos private skole, hospitale, klinieke, sekuriteit, ens, wat ‘n mens nie naastenby so suksesvol sou kon bedryf in ‘n land waar hierdie dinge gratis en/of op aanvaarbare standaard deur die staat verskaf word nie.

VanStaden ·

Ek verskil heeltemal van jou. Ja daar is baie geleenthede om te verbeter waar die staat tekortskiet, maar teen watse prys?? Wat kry jy in ruil vir die belasting wat jy betaal? Absoluut niks, want jy kan nie na ‘n staatshospitaal toe gaan nie, jou kind kan nie na ‘n staatskool toe gaan nie, polisie reageer nie meer op inbrake nie… So jy spandeer jou hele salaris op hierdie privaat dienste en nogsteeds vrees jy vir jou lewe agter slot en grendel!

Deon ·

Die ander probleem is mediese spesialiste. Van hulle emigreer ook. ‘n Mooi hospitaal sonder dokters is nie veel werd nie.

Totsiens SA ·

Ek gaan land uit in Augustus. Die plan is om so lank moontlik weg te bly en op die ou einde permanent. Ek dink om in Suid Afrika kinders te beplan en om in SA te wil bly, is die domste ding ooit. Jou kind sal nie n toekoms hier hê nie. Jou kind sal t.o.v. sy vel altyd benadeel word. Jou kind sal in vrees lewe vir altud. Jou kind sal swak onderwys ontvang omdat die beter onderwys groener velde gaan soek het oorsee of omdat hulle in Engels saam met ander kulture moet skool gaan. Jy is dom om kinders in dieand te wil inbring.

@ Totsiens SA ·

Dit is die regte besluit wat jy neem.

Hier is GEEN toekoms vir ‘n wit kind in hierdie land nie.

Voorspoed en mooi loop.

Nigel ·

Ek en my vrou met 7 grade tussen ons is nou oppad na Australia. Hierdie is nie n land vir n witmens nie

GB ·

Ek verstaan die aanloklikheid van die buiteland en ek blameer niemand wat hier wil wegkom nie. Ek het self kinders en weet nie wat van hulle gaan word as hulle in SA bly nie. Tog weet ek ook nie of emigrasie op die lange duur die uitweg is nie.

Hoe lank gaan dinge nog beter gaan in die buiteland as hier? Dalk nog tien of twintig jaar? Europa stuur af op ‘n groot krisis, onder andere weens die immigrasieprobleem en stadige groei van die inheemse populasie. Tereuraanvalle neem toe. Daar is dele waar dit ook al net so onveilig is soos hier. Dieselfde wag vir die VSA en ander, vir nou nog, wit lande.

En wat gaan gebeur as meeste Afrikaners die land verlaat? Dit sal heel moontlik die einde beteken van ‘n kultuurgroep. Ons geskiedenis sal vergeet word. Ons voorouers se tradisies, hulle opofferings en stryd, die goeie wat in hulle was sal vergeet word en net die slegte sal deur die vyand onthou word. Kunstenaars soos Pierneef, digters soos Opperman, denkers soos Van Wyk Louw, baanbrekers soos Chris Barnard en vele vele meer se werke en dade sal vergeet word. Hoe verskriklik hartseer sal dit nie wees nie?

Bob ·

Vir diegene wat pro landuit is wens ek alle sterkte toe. Maar moet nie diegene wat wil bly en bou kritiseer nie. My kinders gaan en het ‘n plek in Suid Afrika. Al bou ek dit self. As julle te bang is om die moue op te rol en hier te bou hou dit vir jouself. Julle klink wanhopig en boonop pateties.

@Bob ·

Ons kritiseer glad nie diegene wat wil bly nie.

Moet ook nie diegene kritiseer wat wil gaan nie.

Jimmy ·

Bob, moenie namens jou kinders praat nie. Hulle mag hul eie besluite neem en wil dalk nie altyd vir pappie please nie.

Jozi ·

Of jy bly en of jy gaan is deur en deur elke ou se keuse.
Ek probeer eerlikwaar baie hard om positief te bly – oor SA, ons mense en ons toekoms.
Maar dit raak by die dag al hoe moeiliker om soos ‘n volstruis met my kop in die sand te staan.
Ons is vuisvoos, niks kan ons meer rerig skok nie. Ons hoor en lees van die afgryslikste dade wat gepleeg word en ons klim vinnig op sosiale media om kommentaar te lewer.
Maak ons gesanik enigsins nog saak ? Nee.
Ons word van alle kante gemelk.
Daar word openlik en op elke vlak teen ons bleek velle gediskrimineer.
Deur dit als word daar van ons verwag om maar ewe gedwee in te stem, die pakslae te vat, Noord te kyk en voort te #@&.
Daarom sê ek vandag vir elkeen wat wil gaan.
GAAN. As daar ‘n geleentheid op jou pad kom, gryp hom met albei hande aan. Dit gaan nie maklik wees nie, want ons is kinders van Afrika. Dis in ons bloed. Maar julle gaan beter af wees. Veiliger.
Vir julle wat nie kan of wil gaan nie. BLY. Maar weet dit gaan nooit beter raak nie – al trek ons die moue op en doen alles self!

Jerry ·

Paul Maritz, jou goeie voornemens as n jongmens sal uiters gepas wees in die buiteland! Dit is juis die rede hoekom ons mense wat reeds in die buiteland is, blom.

Luister vir Jimmy en Jerry ·

In SA wag Sisyphus se lot vir al wat blank is. Jy gaan daai rots rol tot bo op die berg, net om te sien hoe hy weer afrol sodat jy môre weer van voor af moet begin.
Vat jou goed en trek, Van der Merwe, Gerber, Ferreira, Smit, Kok, Le Roux of du Plessis – trek, want jy sal floreer waar jy ookal beland.

Kallie ·

Ja, die wit jeug het nie veel hoop nie. Die swart jeug het geen hoop nie, ten spyte van SEB en RA. Indien hulle opstaan gaan die poppe dans.

Hans Richardt ·

Het jonger geslag nie meer die dryf om oor te begin in hul eie land nie?
Ek dink baie word blatant gedryf deur selfsug, om so gou moontlik miljoenêrs te word. Hul is gelukkig as hul kan emmigreer.
Is oorbegin werklik so swaar? Ja, dis HARDE werk en vra fisies van elke mens wat glo aan selfbeskikking nie, onafhanklik van swak staat dienslewering.

Kannaland ·

Kan jy sê van waar tot waar strek die ‘eie land’? Wie het onderhandel daarvoor? Wat is die hulpbronne daar dat ons kan regmaak vir die toekoms se uitdagings en ons moue kan oprol? Wie is aan bewind? As dié eie land bestaan, dan trek ek self (al oor die 50 maar nog heel gewillig om te werk). Sommer môre.
Ek is reg om te trek. Dis net die land wat ontbreek. As dit net vir die selfsugtige jongmense was wat in die ergste omstandighede ‘n toekoms probeer bewerk nie, sou one seker al dié land gehad het.

Kallie ·

Kannaland, daar is mense wat oplossings soek. Gaan dink bietjie en deel jou plan. Niemand sal vir jou lag nie. Moontlik is jou plan die een wat werkbaar is.

John ·

?.. kyk maar eers na die outeur se werksomstandighede en lees dan verder. Met die unie agter jou blad staan groot drome oor die land se toekoms nie in jou pad. Destyds was die Kaap se regering en veral die dominees woedend toe die Boere hul waens begin pak het omdat die lewe ondraaglik begin word het en die binneland wou in. Vir jare daarna wou geen dominee die trekboere besoek vir troues en doopgeleenthede nie. ‘n Engelse predikant en sendelinge het toe maar uitgehelp. Laasgenoemde, dis nou die edele sendelinge, het natuurlik net Engels gepredik en verkoop en hulle en die swart-Ingelse het hul byna doodgelag vir die Boere se swak taalbegrip om daarna hul heilige volgelinge van gewere en perde voorsien om die Boere se lewens verder te beduiwel want gou is die trekboere as kompetisie gesien tov grondbesit. Om die werklikheid te verbeter, is nie net om agter ander skoon te maak of slaggate heel te maak en dan seèn van Bowe vir jou skynheiligheid te verwag nie… of goeie betaling deur jou slim werkgewer nie. Lees die verhaal oor die flukse Denel-kundige…

Jan ·

Paul Maritz, hoeveel werkgeleenthede en ontwikkeling reken jy kan daar maandeliks met R100 000 000 geskep word? Dis R1,2miljard per jaar. Maar hoe gaan ons hierdie aansienlike hoeveelheid geld in die hande kry, sal jou vraag dalk wees. Maklik. Indien slegs 100 000 van die meer as 400 000 kiesers wat laasweek vir die VF+ gestem het, sou besluit om hulle nuttelose DSTV te staak en so ‘n dosyn of wat minder bier te drink, en dan daardie geld in ‘n Grond- en Otwikkelingsfonds te stort, dan is ons daar! Sorg net dat al die werk deur volksgenote gedoen word, so nie is ons binne enkele jare maar net weer in dieselfde situasie as tans.

Jerry ·

Hoekom moet die jeug betaal om saam te kom, hoekom is dit nie verniet nie, hoekom moet jy n lid wees wat maandeliks moet betaal. Nog nooit voorheen in die geskiedenis moes die jeug of die volk betaal om saam te kom nie, behalwe wanneer dit n boereverneuker was wat sy eie sakeryk gebou het. n Volk betaal nie om saam te staan of om op te staan nie, wanneer dit tyd is dan gebeur dit outomaties en sonder betaling!

Jan ·

Jerry, help my reg indien ek verkeerd is, maar is jy nie alreeds landuit nie? Niemand gaan jou verplig om n finansiele-bydrae te maak nie. Geniet jou geld daar waar jy dit verdien en laat ons wat nog steeds hier bly, maar self oor ons lot besluit. Sover my kennis strek is daar heelparty forums op die internet waar mense oor emigrasie gesels, en jy moet dalk maar jou insette daar gaan lewer.

Kallie ·

Jerry, wat is jou visie en werkbare plan vir die Afrikaner se ekonomiese toekoms. Deel dit met die forum. Niemand sal vir jou lag nie. Dalk is jou plan die een wat werkbaar is. Indien jy gelukkig is met die huidige stand van sake, sê dan so.

Gerhard ·

Die Nuwe Suid-Afrika is een groot gemors en geen hoeveelheid harde werk gaan dit red nie. Sodra Solidariteit Inc. ophou met bogpraties van hoe daar hoop is om die gemors te red en begin werk maak van n Afrikaner Staat sal mense vanself ophou om die land te verlaat. Begin met ‘n werkbare antwoord vir die probleem, ‘n eie Afrikaner Staat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.