As die lewe ons eksamen is

Deur ds. L.J.E. (Lourens) Venter

(Argieffoto)

Niemand van ons is mal oor eksamens nie. Dit voel soms so oorbodig. Vir die meeste van ons is dit ’n berg wat voorlê wat jy soms kaalvoet moet oorsteek. Eksamens is egter ’n belangrike en noodsaaklike deel van die lewe.

Deur eksaminering word mens se vaardighede juis getoets om kennis te kan toepas, soos ’n koshuisvriend altyd opgemerk het: Wie nie leer nie, kom nie deur nie. Sommige mense hou van leer-eksamens, van boekekennis. Ander is baie meer vaardig met doen-eksamens. Die eeue oue stryd tussen teorie en praktyk sal nog lank met ons wees.

Wat help dit jy het al die kennis, maar weet nie hoe om dit toe te pas nie. En andersyds help dit nie jy is baie vaardig met jou hande, maar weet nie hoe dinge inmekaar pas nie. Dit is waarom daar eksamens is. Teorie-eksamens en praktiese eksamens. Om dit wat jy leer in die klaskamer te kan toepas in die werkswinkel, is die groot geheim.

Hierdie eksamens geld nie net vir jou loopbaan en jou beroep nie, dit strek oor al die fasette van die lewe. Dit wat jy in jou ouerhuis wys geword het, is die voorbeeld wat jou lewe vorm. Soms goed, en soms nie so goed nie.

Gedurende die laaste jaar en ’n half is ons almal besig met die eksamen van die lewe. Ons word uitgedaag op soveel gebiede. Daar is so ’n oorweldigende groot groep mense in ons samelewing wat geen koers of hoop meer het nie. Dit is asof al die lewenswysheid oor die jare hulle geen waarde bring om die eksamen te kan slaag nie. Daar is bloot net nie genoeg geld in hul bankrekening oor om nog huur te kan betaal of kos te koop nie.

Net so is daar in baie harte ’n gevoel van leegheid en moegheid wat voel of daar net nie meer krag is om nog ’n eksamen te kan skryf nie. Mense voel magteloos omdat hulle in omstandighede beland wat nie beplan is nie. Mense voel hopeloos omdat hulle niks kan doen aan hierdie omstandighede nie. En dan raak dinge lelik.

Want jy gee nie eintlik meer om wat op jou lewensvraestel geskryf word nie. Jou waardes raak effens vervaag en jou woorde sonder sout. En dan val jy in die spiraal van duisternis en “ek gee nie meer om nie” en “los my net uit”. Wanneer jy jouself so begin isoleer en afsonder van ander mense, staan jy op die drumpel van die afgrond van vervreemding. Want ons stoot mos juis dié mense weg wat vir ons lief is en omgee, sodat hulle daardie verwerping kan ervaar wat jy nou beleef.

Dalk staan jy vandag op daardie afgrond. Nie om die mooi uitsig te waardeer nie, maar omdat jy daar wil afspring omdat jy nie meer kan nie. Jy sien nie meer kans nie. Jy wil wegvlug van alles en almal, omdat jy nie meer antwoorde het vir die vrae wat die lewe bied nie.

Sommige twyfel en huiwer, omdat daar nog ’n veraf stemmetjie is wat roep. Daar is iets wat jou twee keer laat dink. Ander maak net oë toe en spring. Hulle spring na die afgrond van vervreemding en onsekerheid. Hulle gee alles prys wat so kosbaar was. Hulle laat los die fondamente wat hulle hele lewe so vasgegrond was.

Dan weergalm die stem van vervreemding en hopeloosheid: Niemand kan en niemand wil jou help nie. Jou lewe is niks werd nie. Jy is ’n mislukking. Jy hoort nêrens nie.

Dit is eers net ’n gedagte, en dan groei dit in jou binneste soos ’n ongeneeslike kanker. Jou kop hou aan draai en kan op niks fokus of konsentreer nie. Dit oorheers jou hele gemoed. En eindelik prewel jy dit uit: God het my vergeet… Hoe kan ’n God van liefde my met soveel hartseer en mislukkings teleurstel? Waarom gryp Hy nie in nie? Waarom help God ons dan nie as ons Hom die nodigste het nie?

Dit is op hierdie punt wat die perspektief van die vrae op die eksamenblad jou laat besef: Jy is besig met eksamen. God wil juis dat jy die dinge toepas wat jy geleer het deur jou lewe. As die eksamen maklik was, sou almal tog volpunte kan kry. Maar soms is die doel meer as net volpunte. Soms is die doel om iets te leer wat meer is as die lewe self.

Daarom moet ons nie net die regte antwoorde ken nie, maar ook leer om die regte vrae te vra. Soos my pa sou sê: Hoe harder jy leer, hoe makliker is die eksamen. Vir dié wat nie leer uit hul foute nie, en nie leer om die regte vrae te vra nie, word die skoolfonds soms baie duur.

Onthou dan dat die Here nie ten doel het om jou lewe te vernietig nie. Hy is nie die mensemoordenaar nie. Nee! Hy wil jou juis wys waarin jou krag en sterkte lê. Hy wil jou leer wat werklik saak maak in die lewe. Maar dit kan jy net doen as jy van al jou eie wyshede en mensgemaakte verlossers en eie kragte afsien.

Gaan dan, in jou swakheid, in jou moedeloosheid en in jou hopeloosheid en lê jou lewe in die hande van Hom wat jou gemaak het. So leer die Here ons om volkome met ons hele hart op Hom te vertrou. Dit is immers wat Christus gedoen het. Hy het sy eie lewe in die hande van sy Vader oorgegee. Hy het self hierdie eksamen aangedurf en vir ons die antwoord gegee. Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Deur sy smarte is daar vir ons hoop.

Op die vrae wat Hy in die lewe se eksamen vra, is Hyself die antwoord. Hy is die weg. Hy is die waarheid. Hy is die Lewe.

  • Lourens Venter is leraar verbonde aan die Gereformeerde Kerk Centurion asook medewerker van Begrond, die Instituut vir Christelike Grondslagstudies.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.