As die Springbokke deur die regering bestuur moes word

Jan Bosman van die Afrikanerbond.

Iemand het onlangs vir my ʼn brief van die Universiteit van Chicago gestuur wat deur die studentedekaan aan voornemende 2020-eerstejaars gestuur is. Vir diegene wat vertroud is met die oordrewe politieke korrektheid van universiteitskampusse, veral ook nou in Suid-Afrika, is dit bewonderenswaardig dat die universiteit so sterk standpunt teen politieke korrektheid inneem.

Vry vertaal na Afrikaans is die volgende in die brief belangrik:

“Jy sal ontdek dat een van die belangrikste kenmerke van die Universiteit van Chicago ons verbintenis tot vryheid van ondersoek en uitdrukking is. Lede van ons universiteitsgemeenskap word aangemoedig om te praat, te skryf, te luister, uit te daag en te leer, sonder vrees vir sensuur. Buigsaamheid en wedersydse respek is noodsaaklik vir ons almal en die vryheid van uitdrukking beteken nie die vryheid om ander te teister of te dreig nie. By ons verwag ons dat die universiteitsgemeenskap aan robuuste debat en bespreking sal deelneem en selfs ernstige verskille sal ervaar. Dit mag jou somtyds uitdaag en selfs ongemak veroorsaak.”

Dan maak die Universiteit van Chicago die volgende belangrike punt wat hulle as vereiste stel:

“Ons toewyding tot akademiese vryheid beteken dat ons nie die sogenaamde “trigger warnings” of snellerwaarskuwings ondersteun nie, en dat ons nie genooide sprekers kanselleer omdat hul onderwerpe kontroversieel mag wees nie. Ons ondersteun ook nie die skepping van intellektuele ‘veilige ruimtes’ waar individue hulle kan terugtrek van idees en perspektiewe wat strydig is met hul eie nie.”

ʼn Snellerwaarskuwing is die nuwe politieke korrekte term vir dosente om studente vooraf te waarsku dat daar dalk iets omstrede mag voorkom in die aanbieding of teks of iets wat aanstoot mag gee. Dit word gedoen om studente wat dalk “sensitief” mag wees, voor te berei. Net so verwys “veilige ruimtes” ook in politieke korrekte terme na plekke wat geskep word vir individue wat gemarginaliseerd voel om bymekaar te kom en hul “geleefde ervarings” te deel. Dit is begrippe wat meestal op universiteitskampusse in die Weste voorkom en ook in sommige werkplekke.

Die volgende artikel het dus ʼn snellerwaarskuwing en is veral gerig op mense wat in die Suid-Afrikaanse politieke konteks politiek korrekte begrippe bevorder, soos wit bevoorregting, witmonopoliekapitaal, swart slagofferskap, dekolonialisering, geïnstitusionaliseerde rassisme,  imperialisme, Afrikanisering, transformasie, Eurosentrisme, demografiese verteenwoordiging, die nalatenskap van apartheid, geleefde ervaring, geslagsneutraliteit en ander terme wat deesdae bydra tot die skep van verwarde Suid-Afrikaners.

In die euforie van die 2019 Wêreldbeker-rugby en die toer van die Springbokke deur die groot stede van die land, is dit vandag makliker vir wit – en swart – manlik en vroulik, ryk en arm, gelowige en niegelowige om te sê wie en wat ʼn Springbokondersteuner is, as om te sê wat ʼn Suid-Afrikaner is.

Bogenoemde begrippe skep groter onsekerheid en skep eerder afstand en terugtrekking as om aktief – en soos wat die Universiteit van Chicago mense aanmoedig – aan robuuste debat en bespreking deel te neem, uit vrees vir beweringe en aantygings van rassisme.

Baie koerantspasie en menings oor radio en TV is uitgespreek oor die lesse uit die Springbokeuforie. Natuurlik is dit belangrik en moet ons gesprek hieroor aanmoedig in ons verwarde wêreld. Ons almal ervaar ontnugtering en, inderdaad, wil ons graag hê dat die sukses wat ons met die Springbokke ervaar, ons ook vir die land wil ervaar.

Die Springbokke se sukses kan egter ook omgekeerd geïnterpreteer word as ʼn scenario wat sou gebeur as die ANC-regering sy hande lê op die Springbokke en die span en die spel soos die land bestuur word. Die volgende is slegs enkele moontlike waarnemings:

As die regering die Springbokke soos die land moes bestuur:

  • Dit sou nie meer die Springbokke genoem word nie, maar iets soos die Nkandlas of ʼn naam uit die struggle-verlede;
  • ʼn Volgende toetswedstryd sal laat begin, want daar sou op ʼn redelike laat stadium agterkom word dat iemand ʼn stadion moes bespreek het en niemand het die opposisie genooi nie;
  • Politieke debatte sou tot in der ewigheid geduur het oor wie die kontrak moes kry om die balle te vervaardig, en van watter leer van wie se beeste en van watter bemagtigingsprojek. Die Vrystaat se Vrede-melkplaasskandaal sou dan ʼn vulletjie gewees het;
  • Die Franse skeidsregter sou vervang moes word en spelreëls sou eers gedekoloniseer moes word;
  • Die volgende en meer aanvaarbare skeidsregter vanuit die Oosblok sou nie betyds opgedaag het nie, want die SAL staak;
  • “Die Volkslied” sou nie gesing kon word nie, want die konstitusionele hof sou nóg ʼn uitspraak oor die afskalende gebruik van Afrikaans gelewer het, dié keer in “Die Volkslied”. Bykomend tot die probleem sou die nuwe volkslied nog nie afgehandel kon word nie, want die verkeerde volkslied is in die Staatskoerant gepubliseer en die ANC se bedryfsarms en militêre veterane-verenigings het nie geweet van die tender nie;
  • Die toets sou net op die helfte van die veld gespeel kon word, want die een kwart van die veld is vol slaggate en ʼn onreëlmatige mynlisensie is op die ander kwart en die hoofpawiljoen toegeken;
  • In die eerste skrum van die wedstryd sou die stutte nie daar kon wees nie, want hulle was besig met ʼn onbeskermde staking en in gesprek met vakbonde vir addisionele vergoeding vir die risiko’s waaraan hulle in die skrum blootgestel sou word;
  • Met die eerste uitgee na die agterlyn sou die spel gestaak word, want beide die skrum- en losskakel is wit. Daar sou eers demografiese verteenwoordiging toegepas moes word. Nog sestien spelers sou gevolglik tot die agterlyn toegevoeg word wat ander rasse insluit, Suid-Afrika se 11 amptelike tale en verskillende geslagte en geslagsneutraliteit verteenwoordig, ʼn oudambassadeur en pensionarisse insluit, asook twee ANC-beroepspolitici wat addisionele wedstrydgeld en bonusse ontvang net omdat hulle opgedaag het.
  • Met die eerste lynstaan sou die een slot en haker nie daar wees nie, want die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ondersoek hulle vir beweerde rassisme;
  • Ná halftyd sou die hele afrigtingspan deur die Valke aangekeer word vir beweerde “spankaping” tydens halftyd. Die nuwe afrigtingspan, waarvan nie een iets van rugby weet nie, sou tyd vra vir die implementering van die nuwe omkeerstrategie en – gebaseer op ʼn Eskom-plan – nóg R2 miljard vir die betaling van uitstaande skuldverpligtinge (teenoor die eregaste wat genooi is en om die spyseniers vir die presidentlosie te betaal);
  • Weer sou die spel gestaak word, want die flanke is eers na ʼn “veilige ruimte” – die een flank is ongelooflik sensitief en moes die veld al huilend verlaat aangesien iemand iets sou gesê het oor hom, sy span, of oor sy voorkoms;
  • Intussen sou die mediese span wat in Kuba opgelei is, nie die spelers of hul beserings verstaan nie en sou hulle ook die veld verlaat het aangesien dit vakansiedag in Kuba is;
  • Die finale telling sou nie dadelik bekend gemaak kon word nie, want Umalusi sou eers bevestiging moes gee van die toekenning van punte en die standaard stel vir die toekenning van die punte; en
  • Ten laaste sou daar besluit word om al drie spanne wat gespeel het, gelyk te laat eindig, want meriete, prestasie en uitnemendheid is kapitalistiese begrippe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Werner ·

Die enigste sportsoort waar geen regering kwotas kan indruk nie, is GHOLF.

Judge Dredd ·

…….tennis ?……….Swem? ……..

Enige enkelsport waar slegs jou eie prestasie jou sukses bepaal.

leser ·

goed uiteengesit
die heelagter sou ook nie wil speel nie want hulle diskrimineer teenoor hom

Feite ·

Uitstekend Jan! Jy is volgens my beskeie opinie, nie net n rugbykenner nie, maar jy ken beslis ook die vyand, want jy lees hulle denke soos jy n boek lees!

DC ·

Uitstekend gedoen. Vertaal asb in Ingels, zulu en tswana en plaas in n paar koerante. Dis tyd dat politici en die meerderheid bykom.

Swartwolf ·

Uitstekend geskryf- dis hoekom die staatsinstansies lyk soos dit lyk. Sirkusse bestuur deur narre.

Izak ·

Dit is baie snaaks, seker omdat dit so na aan die waarheid is

Freek ·

Dit is een ding om ‘n gewillige span rugbyspelers te organiseer tot iets groots. Dit is ‘n ander ding om 50 miljoen mense in dieselfde rigting te laat trek (soos met die Springbokspan). Die grootste deel van van ons land se bevolking se wortels le in ‘n moeras van Afrika afgodediens. Dit het oor die afgelope 100 jaar (en langer selfs) stadigaan verander en en baie is nou deel van die Christendom met ‘n Christelike werksetiek. Die blanke deel van ons bevolking se wortels le in Christelik Europa met al die goeie dinge wat daarmee saamgekom het. Die gevaar is dat diegene wat van Europa af kom so stelselmatig weer hul Christelike wortels laat vaar, net soos wat tans in Europa gebeur. En wat gebeur as n bevolking nie (meer) leef vanuit die Christelike beginsel nie… die goeie orde in ‘n land val weg, soos wat in die die artikel beskryf word. Laat diegene wat leef uit die Christelike beginsel – blank en swart – voortrek en voorloop, en dit doen tot voordeel van die hele bevolking van Suid Afrika.

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. (Efesiers 6:12)

Julius ·

Jan jy is polities korrek, ek sou dit nie so sagtens gestel het nie. Goed geskryf!

JohanL ·

Dankie Jan – uitstekend gestel en laat mens lekker lag.

Wens iemand kan dit na Engels vertaal en versprei :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.