As groei die mikpunt is, is dit tyd dat Jan Taks terugstaan

Deur Martin van Staden

Martin van Staden (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika se belastingwette is vir ʼn hoë-inkomste-samelewing ontwerp – die resultaat van die land se lang geskiedenis van ʼn klein welvarende ekonomie en ʼn groot armoedige ekonomie.

Vir ʼn land waarin miljoene der miljoene óf werkloos is óf uiters min verdien, maak dit egter min sin dat ons een van die lande met die hoogste belastingkoerse ter wêreld is, juis terwyl kleinsakegroei van deurslaggewende belang vir ons ekonomiese toekoms is.

Só sê die skrywers van Laws Affecting Small Business: Tax, deel van ʼn reeks boekies wat die Vryemarkstigting uitgee. Die navorsing in die LASB-boekies dek agt terreine van staatswetgewing en -regulering wat die vestiging en groei van kleinsakeondernemings in Suid-Afrika belemmer en benadeel.

Een van die figure uit ons geskiedenis wat ek die meeste bewonder is Jan Hendrik Hofmeyr, wat onder generaal Jan Christiaan Smuts as adjunk- eerste minister en minister van finansies (onder talle ander portefeuljes in sy jong lewe) gedien het. Hofmeyr was die leier van die liberale beweging in Suid-Afrika en die mees senior persoon in owerheidsdiens wat hom vir nierassigheid asook persoonlike en ekonomiese vryheid vir almal beywer het.

Ongelukkig het sy termyn as minister van finansies met die Tweede Wêreldoorlog saamgeval, wat beteken het Jan Publiek moes aansienlik meer belas word om die land se deelname aan die konflik te finansier. Daarmee het Jan Hofmeyr, die openbare gesig van dié oorlogsbelasting, in die Afrikaanse pers aan opposisiekant die ongunstige bynaam “Jan Taks” gekry.

Die bynaam het bly steek en word vandag nog, lank ná Hofmeyr se dood, steeds by tye in die Afrikaanse (en soms Engelse) nuusmedia gebruik om na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te verwys.

Met die pynlike prysinflasie wat Suid-Afrikaanse burgers die afgelope klompie maande ervaar, druk die belastinglas vandag meer as ooit tevore. Reeds teen 2019 reeds was Suid-Afrika een van die tien samelewings ter wêreld wat die swaarste belas is. Daar kan nie verwag word dat kleinsakeondernemings moet floreer wanneer hulle ʼn groot deel van hul spaargeld en inkomste aan ʼn onbevoegde en korrupte staatsdiens moet oorbetaal nie.

Trouens, die idee dat die regering ʼn omgewing skep vir sukses en Suid-Afrikaners dus finansieel daartoe moet bydra, is uit voeling met die werklikheid wat die meeste Suid-Afrikaners daagliks ervaar. Kragonderbrekings, ʼn afwesige polisiediens, vervalle paaie, traak-my-nieagtige munisipaliteite, ʼn gebrek aan water – die lys gaan aan – wys duidelik dat geen so ʼn “omgewing” geskep is of geskep word nie.

Suid-Afrikaanse belastingbetalers verstaan vandag ons finansier bloot korrupsie en wanbesteding aan ydelheidsprojekte.

Die Suid-Afrikaanse regering bestee buitensporige bedrae geld, en studies toon dat solank die staat so ʼn groot deel van die BBP opslurp, dit ekonomiese groei sal verhinder. Die vereiste vermindering in staatsbesteding sal belastingverligting moontlik maak, wat op sy beurt meer spaar, belegging, en ekonomiese groei sal aanwakker, veral onder kleinsakeondernemings.

Belastingwette is ook berug ingewikkeld, nie net in Suid-Afrika nie maar oral ter wêreld. Kleinsakeondernemings in agtergeblewe gemeenskappe ly die meeste daaronder, aangesien hul eienaars dikwels nie goed toegerus is om die regstaal te vertolk nie en ook nie duur regsraadgewers kan bekostig om dit namens hulle te doen nie. Nienakoming is die uiteinde daarvan.

Die skrywers van LASB: Tax maak spesifieke aanbevelings oor hoe Suid-Afrika se belastingregime aangepas kan word om kleinsakeondernemings tot voordeel te strek, soos:

Verminder staatsbesteding tot onder 25% van die BBP. Dit sal behels dat die staat se kernfunksies geïdentifiseer en periferale kwessies laat vaar moet word, meen die skrywers. Om ontslae te raak van staatsdepartemente soos sport en ontspanning, kuns en kultuur en die hopeloos verkeerd-benoemde departement van kleinsakeontwikkeling sal ʼn goeie beginpunt wees om staatsbesteding in te kort.

Stel ʼn nuwe, vereenvoudigde inkomstebelastingwet in vir belastingbetalers in die laagste inkomstekategorie. Ingevolge dié wet behoort ʼn belastingopgawe dan nie meer as ʼn bladsy lank te wees nie, en die belastingdrempel (voor inkomstebelasting betaalbaar raak) moet relatief hoog wees.

Laat kleinsakeondernemings toe om al hul besteding aan kapitaaltoerusting van hul belasbare inkomste af te trek.

Skeld sakeondernemings met omset van minder as R2 000 000 vry daarvan om vir belasting op toegevoegde waarde te registreer. Nakoming van BTW-wetgewing is berug ingewikkeld en dit is onredelik om te verwag kleinsakeondernemings moet tyd, moeite, en geld daaraan afstaan.

Staan ʼn belastingkorting toe aan kleiner maatskappye en vennootskappe wat uit natuurlike persone bestaan.

Die LASB-boekies verteenwoordig ʼn derde van die Vryemarkstigting se boek Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom, wat ʼn omvattende hervormingspakket aan die hand doen om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat floreer, onder meer met maatreëls rakende belasting.

Soos die statistikus Garth Zietsman onlangs namens die Vryemarkstigting geskryf het:

“Staatsinkomste is onverdiend en onseker. Vergeleke met internasionale standaarde vir lande met ons BBP het Suid-Afrika tegelykertyd ʼn uiters hoë belastinglas en ʼn buitengewone klein belastingbasis, en die regering lyk vasbeslote om sy grootste bron van inkomste te verdryf.”

My bewondering vir Jan Hofmeyr tersyde, dis tyd dat Jan Taks vir goed terugstaan. Die regering se beheptheid met sy eie koffers moet plek maak vir ʼn verbintenis om toe te sien dat gewone Suid-Afrikaanse burgers en sakeondernemings meer van hul verdienste behou, sodat hulle in hulself, hul gesinne, en hul gemeenskappe kan belê en sodoende op lang termyn ekonomiese groei en voorspoed kan bewerkstellig.

  • Martin van Staden is die redakteur van die Vryemarkstigting se boek, ‘Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom.’

Die volledig boekie oor belasting kan hier gelees word. 

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Ja mense die belasting bloei ons almal dood , en wat kry ons terug vir dit ? die belasting maak dat mense minder geld uit gee , en so verloor die land werks poste , ek wens iets kan aan dit gedoen word. Ons is plat sak en die lewens kostes bly net styg en belasting meer en meer en meer ……………..

DapperWoef ·

As dit tog net moontlik was

Maar kom ons wees eerlik: Betaal ons minder belasting gaan ons nog minder van die… Wag, ons sien tans GEEN diens van die staat nie.

Minder belasting sal hulle net ‘n verskoning of rede (volgens hulle) gee vir geen dienslewering nie.

Maak nie saak wat nie, ons sal aan die korste end trek.

Enigste oplossing vir ons is die ANC moet uit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.