As idees stilgemaak word: Hoe sommige SA bome die byle in hul woud aanspoor

Foto deur TeroVesalainen via Pixabay.

Daar is nie een vrye samelewing wat die reg tot vryheid van spraak verkry het sonder om ’n stryd daarvoor te stry en iets daarvoor op te offer nie. Dit is ’n baie brose mensereg wat deur sommige mense as vanselfsprekend aanvaar word en ’n mens kan dit baie makliker en vinniger verloor as wat jy dit verkry het.

Die Suid-Afrikaanse filosoof N.P. van Wyk Louw het besef hoeveel intrinsieke waarde hierdie mensereg het, toe hy gesê het: “So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ‘n volk. Die sirkulasie van gedagtes; dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ’n wisselwerking ontstaan… en mettertyd miskien ’n wederkerige begrip en ’n mate van gemeenskaplike oortuiging; dit is die ‘oop gesprek’ nie alleen tussen individue nie, maar ook tussen groepe. En hiersonder is geen gesonde politieke lewe moontlik nie.”

Die versmoring van vrye spraak is politieke selfmoord. Met die koms van die nuwe dekade vir Suid-Afrika is daar baie mense wat terugkyk en die vorige dekade se konstruktiewe en destruktiewe eienskappe bespreek. Daar word algemeen saamgestem dat die opkoms van ’n “mondsnoer-kultuur” die mees regressiewe verskynsel van die 2010’s was – verskillende individue of groepe is daarop uit om mense wat nie met hul gekose narratief saamstem nie, stil te maak of van ’n platform te ontneem. Hierdie verskroeideaardetaktiek op die slagveld van idees is dikwels goed verskuil agter emosiebelaaide, passievolle leuses wat die feit dat redelikheid en rasionaliteit geïgnoreer word, moreel probeer regverdig.

Die geslaagde etikettering van die geteikende individu(e) se idees as “gevaarlik vir die samelewing”, “ ’n bedreiging vir ons demokrasie”, of “rassisties”, dien as ’n gerieflike morele basis om hul stemme deur middel van sensorskap of verbanning stil te maak. Die teenoorgestelde is egter ook ongelukkig waar. As dialoog en debat oor verskillende sienswyses verhoed word, is dit ’n ernstige bedreiging vir ’n gesonde demokrasie en ongetwyfeld die gevaarlikste. Sonder die reg tot vryheid van spraak, is jou hande afgekap om jou ander fundamentele menseregte te beskerm. ’n Mens moet dus volstaan by die feit dat vryheid van spraak die kosbaarste en mees beskermde mensereg in enige vrye samelewing behoort te wees.

Die opruiers maak geredelik gebruik van die taktiek om die geteikende persoon te etiketteer, veral op sosiale media. In plaas daarvan dat die verwydering van iemand se rekening of bladsy verduidelik word aan die hand van spesifieke voorbeelde van die aangeklaagde se onaanvaarbare gedrag, ontvang die persoon eenvoudig ’n algemene neerhalende etiket as “rassisties”, “ver regs”, “fascisties”, ens.

Wanneer ’n mens vra wat die persoon gedoen het om so ’n verdoemende etiket te verdien, is die antwoord gewoonlik dat die persoon so perfek in die rol pas, dat slegs ’n blinde mens dit nie sal kan raaksien nie. Wat vir my die lagwekkendste is hieroor – maar ook die ontstellendste – is die onheilspellende ooreenkoms tussen hierdie taktiek en die heksejagte en -verbrandings in Europa gedurende die Middeleeue. Volgens die opruiers was daar een onteenseglike teken dat iemand ’n heks was (destyds) of ’n rassis is (vandag), naamlik as die persoon dit heftig sou ontken. Ek is nogal nuuskierig om te weet: sou hedendaagse heksejagters dink rassiste kan sink of dryf?

Daar is invloedryke mense wat saamstem dat diegene wat van hulle verskil, van hul stem ontneem moet word; mense wat die ontneming van ’n platform voorstaan en/of aanmoedig as dit kom by mense met wie hulle nie saamstem nie; en mense wat woede aanhits teenoor diegene wat ’n ander standpunt as hulle het.

Wat veral kommerwekkend is, is die beroepe wat hierdie individue volg – dit sluit in komediante, strokiesprentkunstenaars en selfs prominente joernaliste. Dit is kommerwekkend omdat hierdie juis die mense is wat ’n mens verwag sal veg vir die behoud van vryheid van spraak, want dit is nie net hul eie lewensbestaan wat in gedrang is nie, maar ook hul selfrespek en die beginsels waarop hul beroepe berus. Dié wat nie permanent deur die opruiers “gekanselleer” word nie, oorleef slegs as hulle na die opruiers se pype dans. Dit is telkemale in die verlede bewys dat opruiers nie maklik tevrede gestel word nie, en daar is baie meer doeltreffende maniere om mense se monde te snoer as om net daarop aan te dring dat hulle stilbly.

Wanneer mense kyk na die ergste diktatorskappe en outoritêre regimes in die geskiedenis van die mensdom, is hulle dikwels stomgeslaan oor hoe dinge toegelaat is om tot so ’n punt te vorder. Hulle besef nie dat die mense in daardie betreurenswaardige lande nie net een oggend opgestaan het en hulself in ’n tirannie bevind het nie – die situasie het stadig maar seker begin verander.

As jy nie opstaan teen sensorskap en die ontneming van ’n platform nie – eenvoudig omdat jy nie met die mense saamstem wat daardeur geraak word nie – moet jy nie verbaas wees as die selfaangestelde wagte wat besluit watter gedagtes toelaatbaar is, eendag op jou ook toesak nie … en dan sal daar niemand wees om vir jou op te kom nie.

Baie mense is nie gepla oor die sensorskap of ontneming van ’n platform van mense met wie hulle nie saamstem nie – diegene wat hulle as “gevaarlik” of “haatlik” beskou. Sensorskap word immers nie teen hulself gebruik nie, maar wel teen hul vyande of diegene van wie hulle nie hou nie … vir eers.

Ons moet dalk die waarskuwing ter harte neem uit die ou Turkse gesegde: “Toe die byl na die woud toe kom, het baie van die bome gesê: ‘Die handvatsel is ten minste een van ons’.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Feite ·

Om mense te oortuig om op te staan en saam te staan verg baie meer as net skryf/praat en om n sakeryk te bou. Dit verg leierskap, leierskap wat verskille tussen alle teen rewolusionere groeperinge, eerstens oorbrug en tweedens hulle verenig in n gesamentlike front mbt alle sake van gemeenskaplike belang. Solank as wat daar op die huidige trant leierskaploos met elke groep op sy eie eilandjie aangekarring word, vir solank sal die teen-rewolusioneres nie met mekaar saamstaan nie, maar mekaar eerder met lippetaal beledig, blameer en opponeer. Tot tyd en wyl onbaatsugtige en daadwerklike leierskap nie na vore gaan kom onder die groeperinge wat nie aan dieselfde kant van die draad as die ANC/EFF staan nie, tot dan sal onderdrukking van regte erger en erger raak. Indien leiers ware leierskap toon, dan sal gewone mense uit hulle eie saamstaan en opstaan, dan hoef hulle nie gesmeek, mislei of beledig te word om dit te doen nie!

m.d.r. ·

Een van die beste artikels oor hierdie onderwerp wat ek nog gelees het ..!
Dit behoort voorgeskrewe leesstof vir elke huidige en voornemende joernalis te wees—moenie ‘n voertuig wees vir net een ideologie nie…
Moenie jou lesers onderskat nie….
Moenie die mag wat saam met hierdie beroep kom misbruik nie…
Ek word telkens herinner aan die uitspraak van Edmund Burke in 1787 toe hy in die Britse Parlement verwys het na die “three estates of the realm–the Royalty, the Clergy and the Commoners” en toe wys hy na die persbanke:
“and yonder sits the fourth estate, more powerful than they all ”
Solank as ‘n joernalis/redakteur oor die mag beskik om ‘n andersdenke te “isoleer” is die beginsel van demokrasie in gevaar…..dit is iets waarvan veral Afrikaners deeglike ondervinding het..!

Sideliner Opinions ·

Dankie Ernst vir hierdie insiggewende artikel. Dit verduidelik op ‘n baie logiese wyse aan alle mense, insluitende jong toekomstige leiers, hoe belangrik vryheid van spraak is. Hierdie intellektuele bydrae tot die uitwisseling van idees is juis waaroor NP van Wyk Louw skryf as hy praat van die “sirkulasie van gedagtes”. Moenie jou laat afsit deur die “maar wat van span” nie. Mense soos jy en organisasies soos Afriforum speel op jul eie manier ‘n kritiese rol in die politieke landskap deur dit te doen waarin jul goed is. Dit kan nie van julle verwag word om alles vir almal te wees nie. Dit is tyd dat die lede van daardie stil meerderheid elkeen ook na gelang van sy of haar talente ‘n bydrae moet lewer om ons land weer op die regte pad te kry. Jou stem van redelikheid en rasionaliteit is broodnodig om ‘n vreedsame en regverdigeoplossing te bewerkstellig. Doen so voort jong man.

Marthinus Willemse ·

Ernst, jou artikel beskryf Maroela Media se houding teenoor my en `n paar ander kommentators perfek. Ons word daagliks gesensor; ons vryheid van spraak word daagliks verkrag.

Fanie ·

Marthinus, wat van bietjie selfondersoek? Ek’s nog nooit gesensor- en verskil gereeld van ander en Maroela?

Feite ·

Elke persoon wie voel dat hulle vryheid van spraak onderdruk word, voel so omrede hulle dit toelaat. As een sosiale platform jou so laat voel, dan is daar ander platforms wat jou nie so gaan laat voel nie. Wanneer een deur toeklap is daar talle ander oop deure wat benut behoort te word. Mense is maar fyngevoelig en voel verontreg wanneer hulle nie hulle sin kry nie, maar dit kan oorkom word deur aan te beweeg. Jy kan byvoorbeeld MM of n politieke party se vryheid van spraak ook onderdruk deur die MM app te delete en om die TV af te sit wanneer die ANC iets te se het. Soos n engelse gesegde lui, “there are many ways”!

Piet ·

Baie goeie skryfstuk Ernst.
Sensuur is die futlose se wapen.
Wil nie onnodig ‘stir’ nie maar dit lyk of somminge van die bome groei in die geil kwasi- geleerde woude in Stellenbosch. Maar nouja, saam met die uitgelese groep wat die krokodil voer, grawe hulle darem aktief aan ons land se graf.

Feite ·

Mense beland in netelige situasies omrede hulle die uitgelese groep toelaat om die krokodil te voer. Mense se huidige leierskap versuim om tot aksie oor te gaan om dit te verhoed, hulle gaan eers oor tot aksie in reaksie (slaan terug) wanneer die skade reeds aangerig is. Dit is ongelukkig die leierskap en hulle volgelinge se verhaal, n verhaal van “mostert na die maal”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.