As jy die ou uit vrou haal, sit jy met vrx

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Volgens sekeres – laat ek dit maar reguit op sy naam noem: ekstremistiese feministe – mag ’n mens nie meer die Engelse woord “woman” gebruik nie. Die rede? Die agtervoegsel “man” (met ander woorde, ’n verwysing na die manlike geslag) kom daarin voor. En dus moet dit nou “womxn” wees.

Iets meer belagliks het ek byna nog nooit in my lewe gehoor nie. En dat twee hoogs geleerde professore, Christi van der Westhuizen en Melanie Judge, dit jou werklik waar in ’n lang artikel in Rapport gaan verdedig, is gewoon ’n belediging vir ’n mens se intelligensie.

Dis ’n voorbeeld van ’n politieke hiperkorrektheid wat die laaste jare van kampusse in Amerika en Brittanje – interessant genoeg, nie soseer die Europese vasteland nie – na Suid-Afrika oorgewaai het.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is 100% ten gunste van gelykheid tussen mans en vroue. Met ’n vrou wat tegelyk my skerpste kritikus en trouste vriendin is aan my sy, kan dit ook nie anders nie. Maar die ou mense het gesê enigiets waar ’n “te” vóór staan (met die uitsondering van tevrede) is nie goed nie. Dus: Vrouebevryding – ja! Oorboord gaan soos die twee professore? Aikôna.

Maar nou moet ’n mens in jou (teregte) kritiek op politieke korrektheid ook self nie oorboord gaan nie. Want is politieke korrektheid nie van alle tye en plekke nie?

Ek onthou in die vroeë jare sestig, toe ek op hoërskool was, sou ds. Beyers Naudé op ’n keer sy teenkanting teen apartheid in ons kerksaal in Johannesburg kom verduidelik. Skemeraand, teen die tyd dat hy sou opdaag, het ’n groep woedende jong Afrikanermans hom ingewag en verhinder om die terrein te betree. Naudé het toe ’n paar woorde op die sypaadjie gesê en moes onverrigter sake weggaan.

’n Paar jaar later, in 1968, toe ek al ’n student op Stellenbosch was, het dr. Albert Hertzog, leier van die pas opgerigte verregse Herstigte Nasionale Party (HNP) ’n openbare vergadering in die Paarlse stadhuis toegespreek. ’n Oproerige skare, waarvan ek een was, het hom bestook met eiers en tamaties en sy lewe vir ’n uur of twee in ’n hel omgeskep. Vandag, noudat ek my oudag nader, skaam ek my vir dié optrede. Maar daardie soort felle onverdraagsaamheid was taamlik algemeen.

In die jare veertig het ’n jong swart vuurvreter met die naam Nelson Mandela aktief openbare vergaderings ontwrig waar Indiër-sprekers opgetree het, eenvoudig omdat hulle nie swart was nie. ’n Dekade of vier later het AWB-boewe dikwels vergaderings van die Nasionale Party of die Progge uitmekaar probeer slaan.

Maar dit het verder gegaan as dit. Daar was ’n ideologie van bo aan ons opgelê wat ons moes volg. Afwykings van die norm is nie geduld nie.

In die laat tagtigs het steeds meer Suid-Afrikaners in Lusaka, Dakar of elders met die ANC gaan praat. Pres. PW Botha het hulle in die Volksraad met ’n woedende sarkasme gegesel. Een van hulle was nogal dr. Theuns Eloff, tans een van die mees formidabele voorvegters vir Afrikaanse taalregte.

In die ANC is geen afwyking van die ideologie en rigting wat deur Moskou opgelê is, geduld nie. Diegene wat groter interne vryheid en verantwoordbaarheid van die leiding geëis het, is tereggestel of in wrede omstandighede in konsentrasiekampe in Angola en Lusaka aangehou.

Ek lees soms hoe mense op allerlei forums beswaar maak teen die onverdraagsaamheid van “liberaliste”. Akkoord, liberale kan inderdaad buitengewoon onverdraagsaam wees.

Maar dit geld nie net vir liberale nie. Dit geld ook vir kommuniste, fasciste en konserwatiewe.

Pres. Donald Trump is op sy eie manier dus net so polities korrek soos die liberale miljoenêr George Soros. En pres. Wladimir Poetin niks minder as Jeremy Corbyn, verlinkse leier van die Britse Arbeidersparty nie.

Of jy polities korrek is, word dus nie gemeet aan presies waar jy jou op die politieke spektrum bevind nie. Dis in elk geval ’n spektrum wat in ons tyd vinnig sy betekenis verloor.

Nee, dit gaan hoofsaaklik om die vraag of jy ’n ekstremis of ’n gematigde is.

Teen dié agtergrond was sowel Adolf Hitler as Josef Stalin en Mao Zedong die toppunt van politieke korrektheid. Hulle het immers elkeen ’n openbare klimaat geskep wat die aanhang van afwykende menings lewensgevaarlik gemaak het.

Toe ek in die vroeë jare sewentig vir die eerste keer vir nagraadse studie in Nederland aankom, was dit bitter moeilik om nié links te wees nie. As wit Suid-Afrikaner moes jy by wyse van spreke maar koes-koes loop en jou woorde versigtig kies. Dit was politieke korrektheid wat die botoon gevoer het.

Dis vandag minder, maar veral anders. Deesdae is dit die régses wat onverdraagsaam is, wat gematigde politici op politieke vergaderings en aanlyn onbeskof uitskel en bedreig. En, wat die toenemende regse politieke korrektheid verder voed, is die feit dat die Moslem-minderheid aangevoer word deur fundamentalistiese en onverdraagsame imams.

Iemand wat die laaste tyd nogal aandag in Nederland getrek het, is die Islamitiese imam Fawaz Jneid, wat in 1992 uit Libanon aangekom het. Hy is ’n perfekte voorbeeld van ’n wanaangepaste fundamentalis wat afvalliges en ander “ongelowiges” gereeld alles wat sleg is, toewens. Hy is iemand wat nie wil rus voordat Nederland volledig deur die Islam onderwerp is nie. (Hy kan lank wag, want dit gaan nie gebeur nie.)

Hoe ook al, Jneid is op sy eie manier ook polities korrek.

Dit sal lesers teen dié tyd opgeval het dat ek nie ten gunste is van politieke korrektheid nie, maar dat ek dit moontlik anders bekyk as sommige mense: Ekstremisme en politieke korrektheid gaan meestal hand aan hand; so ook gematigdheid en verdraagsaamheid. Die kuns is om mense in hul eie waarde te laat.

As ek opkom vir Afrikaans, moet my nie in die hoek van regse ekstremiste gaan plaas nie. En as ek menseregte bepleit, maak dit nie van my ’n polities korrekte liberalis nie. Bekyk die lewe nugter en moenie oorboord gaan nie. En skakel jou onsinverklikker vir fopnuus aan.

Proff. Van der Westhuizen en Judge moet maar “womxn” wees as dit hulle bevrediging verskaf. Maar moenie van my verwag dat ek daardie soort nonsens moet navolg nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

John ·

Ja, ons moet almal liefs op die draad sit en nie oorboord gaan nie. En jinx nou maar die vingers agter die rug as formidabele vroue, die woord ‘dames’ is mos ook taboe, siende dat diesulkes almal gedodo is, X word ook gekoppel aan baie ander woorde, miskien sal dit vervang moet word met y soos in yna…

Vrydenker Willem Wouter Waarheen Witvark ·

Alles is in die kop. Hoe meer dae, hoe meer dinge, hoe meer snert. Hoe meer mense op aarde, hoe meer X’e gaan daar wees. Die dag mag aanbreek dat mens sal verkies om perde-oogklappe te dra en ‘n kamera op die kop vir ingeval die X’e of XX’e of XXX’e jou aankla dat jy die een of ander minietienewienie menseregte oortree het, menseregte wat nog uitgedink gaan word. Gee my liewer biltong, koffie en beskuit. Gelukkig kan ek dink wat ek wil.

Michelle ·

Wonder vir hoe lank, daar is nou ‘n tipe oorfoon wat jou gedagtes omskakel in woorde :-)

V ·

Dankie Leopold vir die artikel. Waar ‘n “te” bykom is verkeerd. Miskien sal jy ook die studies van John B. Calhoun wardeer. Dit wil my voorkom dat die weste besig is met selfvernietiging weens die “utopia” wat dit deur die weste se hoë produktiewe Christelike beleid geskep het. Sy studie van muise en hulle gedrag is verstommend – https://en.wikipedia.org/wiki/John_B._Calhoun

PW se Seun ·

Kyk na onlangse gebeure by Evergreen College in die VSA om die destruktiewe impak van kulturele marxisme “gender studies” te sien. Haatdraende en onverdaagsame fassisme in die hoogste graad.

Word ook nou by Stellenbosch Sekondêr aangebied .

Judge Dredd ·

“Akkoord, liberale kan inderdaad buitengewoon onverdraagsaam wees. – Marr dit geld nie net vir liberale nie. Dit geld ook vir kommuniste, fasciste en konserwatiewe” –

Verkeerd – verdraagsaamheid van ander se opinies is mantra van die liberale ideologie, nie noodwendig die ander politieke ideologie nie – ek vind dit snaaks dat “liberale” ander will forseer om hulle ideologie te volg, maar meerderheid liberale volg nie eers hulle eie ideologie.
Dis “fashionable” om jouself ‘n liberalis te noem, maar waarheid is dat die meeste is
lib-leke wat nie hulle eie ideologie volg of verstaan watter impak hulle besluite op res van samelewing maak nie.

Willem ·

Ek het nog nooit ‘n definisie van liberalisme teegekom wat verdraagsaamheid “as mantra” insluit nie. Maar dit is ‘n aparte kwessie, dat die definisie van liberalisme (en konserwatisme) self aan die verander is. Tydens die Franse rewolusie was die gepeupel die liberale. Vandag beskryf dit amper dieselfde groep as die wat sosialisme aanhang.

Moet tog nie daarom die baba met die badwater uitgooi nie. Net omdat sekere van die definisies nie presies gemaak is nie, verander dit nie Mnr. Scholtz se punt, dat politieke korrektheid meer gaan oor ekstrimisme as plek op die politieke spektrum, nie.

Jerry ·

Die nuutste geit is vrye denke, dit bevraagteken die bestaande en soek na alternatiewes wat nuut is. Van der Westhuizen en Judge val in die kategorie van vrye denkers eerder as ekstremistiese feministe. Die “soort nonsens” wat jy van praat is besig om pos te vat by n menigte studente en jongmense en dit kan in die afsienbare toekoms die norm van denke word. Jou denke wat jy tans huldig sal dan as eng denke gereken word. Vrye denke en fopnuus is reeds besig om die wereld te verander en of dit ten goede of ten slegste sal wees sal net die tyd ons leer.

Vry Vrydenker Vlakvark ·

Yippee Jerry, ek is ‘n vry vrydenker! Ons soort hou van kreatiwiteit en selfaktualisering. Ons wil nie volg-skape van enige Animal Farm wees nie, ook nie die Homo sapiens sapiens Animal Farm varke wat self navolgers en nasingers van ‘n koning, stamkaptein, pous, priester, sanger, filosoof, idealoog, fanatikus, demagoog of politieke opportunis voorloper of ‘n kommunis is nie. Ons wil ekonomies wêreldwyd kompeteerbaar wees. Ons wil nuwe produkte uitdink. Ons wil wenners en eerbare leiers en voorlopers in hierdie lewe wees. Ons wil ons talente ten volle gebruik. En weg met enige geheime polisiediens, dinkpolisie en al sulke goeters wat vir ons wil dink. En weg met enige vorm van slawerny. Yippeeeeeee! Viva vir die Internet. Viva vir vrydenke. MAAR, ons erken ons Skepper wat verlang dat ons sout van die aarde moet wees.

humor ·

Vroulikheid is die mooiste, skoonste skepping op aarde. Waarom sal so baie dit nie besef en uitleef nie?

Anoniem ·

Wys jou nou net hoe werk die brein van die vrou. Sy wil nou X wees. My vrx dan klink dit meer na my x vrou. Beste is beweeg terug na die bybel naam. God het vir die man n maat gemaak en haar manin genome. Hoe klink dit vir u X.

Swerwerkie ·

Jip, maar haal die :man” uit “mannin” uit, dan sit jy met dieselfde ding: Xnin.

Casper Labuschagne ·

Moderne feminisme moet per definisie ‘n onverdraagsame ideologie wees, en in ‘n absolutistiese graad afgedwing word juis omdat feminisme die menslike biologie ignoreer. Feminisme soos dit in die hedendaagse definisie voorkom, beslaan ‘n groot deel van die leer van kultuurmarxisme. Die meerderheid vroue verwerp egter feminisme en wil niks daarmee te doen hê nie.

Die menslike baba word vroeg gebore, etlike maande voor die baba werklik genoegsaam ontwikkel het om sonder intensiewe sorg kan oorleef. Vir baie jare daarna moet kinders met groot sorg grootgemaak en vertroetel word. Geen ander soogdier het naastenby ‘n soortgelyke nageboorte sorg nodig nie en die sorg en arbeid verbonde aan die grootmaak van kinders oor verskeie dekades vorm die kern van die familie en is al vir honderde duisende jare die geval by die mens. Gevolglik is dit by die mens ‘n biologiese verskynsel dat die meerderheid vroue beheer oor hul lewens aan ‘n man sal oorgee sodat sy ‘n beskermde wêreld het waarin haar kinders grootgemaak kan word.

In die natuur het ‘n rooibokram ‘n harem van ooie wat hy beskerm en bewaak. Die arme ram is letterlik ‘n bondel senuwees soos hy ander ramme afweer en waghou teen roofdiere terwyl die ooie rustig grassies vreet en hul lammers vertroetel. Hier is dus ‘n duidelike voorbeeld van ‘n patriargie in die natuur en behalwe by hiënas waar ‘n matriargie voorkom, is elemente van ‘n patriargie dominant by alle soogdiere, juis vanweë die biologiese behoeftes verbonde aan die voortbestaan van die spesie.

Casper Labuschagne ·

Net dit, ek het lank terug al tot die gevolgtrekking gekom dat die groot probleem nie die snert is wat mense in Rapport skryf nie, maar die feit dat ek hoegenaamd Rapport lees. Die kwessie het ek toe ook reggestel.

Casper Labuschagne se Afrikaan Familielid Vlakvark ·

Casper, pragtig gestel! Nou wonder ek net: het jy toe die kwessie reggestel met kasterolie of Engelse sout of fopnuus of politieke roesmoes? Geniet jou “kwessierus”.

Casper Labuschagne ·

@Vlakvark ek kan met vreugde meedeel dat Engelse sout amper nooit meer nodig is nie, veral nadat ek my Sondae sonder die wêreld se grootste Afrikaanse sondagkoerant in ware rusdae omskep het.

Ou Afrikaan Familielid Vlakvark ·

Beste Casper, Amper Oumagrootjie Liefdesvark vertel my dat al die Suid-Afrikaanse Homo sapiens sapiens groeperinge, ongeag ras, kleur en kultuur en watsenaam goed, en lede van sulke groepe geweldige identiteitskrisisse het. Hulle weet nie hoe om hul eie identiteite eenduidig te definieer nie, wat nog ‘n naam daarvoor te gee en wat nog van te kan spel. En hulle weet nie wat is die ononderhandelbare waardestelsels wat hulle optredes rig nie. Enige oplossing van jou kant gesien? Oor en uit.

Casper Labuschagne ·

Beste @Vlakvark, dit is juis Engelse sout wat vir alle homo sapiens in SA ‘n gemene ervaring en gemene deler sal gee. ‘n Verpligte daaglikse dosis is gewaarborg om die nasie in ‘n eenvormige posisie te verenig en dit sal die bykomende newe effek hê om die politici van die verhoë af te hou en sal ook die oorsaak te wees dat die stadions dolleeg sal wees van hul ondersteuners. En dit klink vir my soos ‘n ware revolusie op ‘n vlak baie na aan voetsoolvlak.

Pietman ·

‘n “liberalis” is nie die teenoorgestelde van ‘n regse nie. Die regses is deesdae die liberales en die linkses die fasciste. Was dalk omgedraai in die 60’s.

Gerhard ·

Jy hoef nie ‘n ekstremis te wees om onverdraagsaam te wees nie. Gematigdes is baie keer net so onverdraagsaam. Dit is reeds waarom Trumps so baie in die media deurloop wereldwyd.

Rupert Ashford ·

Die grootste gevaar is die hedendaagse liberalisme wat alles in ‘n kleedjie van “verdraagsaamheid” toewikkel. In die naam van verdraagsaamheid word voorgeskryf wat/hoe ons mag dink, se en doen en uiteindelik is ons in ‘n gemeenskap van zombies omskep wat so maklik beheer en gemanipuleer kan word. Dit is in reaksie hierop wat mense soos Trump, Farage, Wilders, Shapiro, Peterson en kie prominent geword het en dit is die westerse beskawing se laaste kans om te oorleef. As die liberalisme hier wen en hierdie generasie word so groot, is die westerse Christelike beskawing se kwyning tot ‘n klein minderheid wat oral vervolg sal word op hande. Die draaipunt vir lande soos Nederland is baie nader as wat mense dink. Jy het nie ‘n Islam meerderheid nodig nie, net ‘n meerderheid wat hulleself en waarvoor hulle voorvaders gewerk en geveg het verag.

Gerhard ·

Rupert Ashford. Ek verskil nie van jou nie, ek maak egter ‘n ander punt. Dit is dat die mense in die middel, die sg. “gematigdes”, net so onverdraagsaam kan wees. Hulle is ook maar net so hardkoppig in hulle sienings omtrent baie goed. Jy hoef nie ‘n ekstremis te wees om so te wees nie.

Rupert Ashford ·

Ek stem saam Gerhard. Die lot “gematigdes” in die middel is die sg “swing voters” wat in meeste demokrasiee die “veranderings” in regering tussen die hoofstroompartye (wat in meeste gevalle eintlik maar dieselfde ding is) bewerkstellig en hulle is die zombies waarna ek verwys. Hulle is geprogrammeer om bitter min vir hulleself te dink en dinge te bevraagteken, en hulle funksioneer in ‘n baie nou band van wat hulle dink fatsoenlik en aanvaarbaar is. Baie vatbaar vir die hedendaagse Fascisme van diesulkes soos Antifa (hoe ironies) en meeste sg NGOs wat almal geinfiltreer is deur die linkse kulturele marxisme en daardeur werk hulle ywerig mee aan hulle eie vernietiging. Dit is hierdie lot se nageslag wat ons voor moet bang wees.

Amper Oumagrootjie Liefdesvark ·

Die Homo sapiens sapiens is darem vir jou ‘n snaakse eienaardige dierasie. Hulle weet maar besef nie noodwendig hoe kortstondig hierdie lewe is nie. Maar dan mors hul die kosbare tyd wat hul lewensduur nog oor het op allerhande snert en liefdeloosheid en dinge wat jy in elke geval nie na die hiernamaals kan neem nie. Eendag het ouma Liefdesvark ‘n grafsteenopskrif gelees: “Hier rus Sy Edele Prof. Genl. Adv. Dr. Jan Burger, D.Sc (Cum Laude), Ph.D., MB.ChD, Ll.D, D.Ing, D.Ed.” Om te dink ek is maar net ‘n liewe oumatjie wat opreg omgee vir my naaste. Laat ek gaan koffie maak – ek is ‘n gelukkige oumavark.

Tess ·

As iemand jou woman noem en jy voel minder vroulik behoort jy jou te skaam. Jy is ‘n vrou al noem iemand jou meneer.

Sebatiaan ·

Ek sien ‘n ding kom. Met die afrikaner wat so met sy rug teen die muur is, is dit die dames en vrouens wat deesdae hulle stemme dikmaak. (Ek praat nie van die VD Westhuisen en Judges wat sinneloos probeer “cool” wees nie). Ek verwys na die afrikaners wat so leierloos is en dit kan net weer die dames en vrouens wees wat ons oor die drakensberge gaan kry. Dit maak egter nie van hulle “X”e nie.

Koos1 ·

Ek gaan nou uitgehaal word maar dis ok. Vir ‘n sameleweing om te bestaan moet riglyne gevolg word, ek praat nou nie van ons grondwet nie (want sien, die gaan ook nou vinniger verander as Caster om ‘n baan). Nee ons moet terug gaan na die Bybel (of vir die moslem die Koran en so kan ons aangaan). Alle godsdienste boeke gee riglyne en wette om te volg. Is dit toevallig dat dit so is?
Die Bybel is vir ons almal riglyne vir ‘n samelewing om vreedsaam te kan bestaan, maar ongelukkig word dit nie deur almal gevolg nie. Ja, ek weet die vrx’e gaan nou aanvoer dat hulle nie aan mans onderdanig gaan wees nie, maar dit is nie nodig nie. ASB nie. Na Jesus se koms het die wette ook bietjie verander. Wie was Sy grootste navolgers op aarde? Armes, siekes en vroue. Hierin het Hy vir ons gewys dat almal gelyk voor Hom is!

Kannaland ·

So sien almeer mense die lig, soos watdie wereld se demografie en gepaardgaande nie-westerse idologie begin oorneem. Hopelik gebeur die oogoopgaan nie te laat vir die VSA en europa, soos wat by ons gebeur het nie. Ons ‘liberales’ het nou meestal klaar gevlug na ander westerse lande, maar waarheen gaan daardie lande se ‘liberales’ eendag vlug nadat hulle hulle eie plekke ook getransformeer het?

Annika ·

Eva was uit Adam se ribbekas gehaal om sy gelykstaande te wees, ek dink die feministe wil net regeer bo oor mans. en tog was die vrou se eerste naam manin omdat sy vanuit die man geskape was. Dis soos n sekere liberalis (right-winger) gesê het as daar wêreld rampe kom soos n oorstromings is dit nie die vrouens wat die mans en kinders help nie dis die mans wat hulle afgebreuk het, onman het, oor wou hoor heers wat hulle gaan help. Dis eintlik lagwekkend en ek kry skaam as vrou om te dink daar is vrouens daar buite wat sê ons kan nie meer vrouens genoem word nie.

Joe Hall ·

Dankie tog dat die internet dit moontlik gemaak het dat ons deesdae vrye toegang tot inligting vanuit alle hoeke en voorkeure het.

Is dit nie ‘n wonderlike bevryding van die dogma’s wat ons denke vir sovele dekades bevark het nie???

Vanaf Ver-regs tot Ver-links, met ‘n paar verdwaalde en bokspringende “Liberale” draadsitters iewers in die middel in, wat vandag nog probeer om hul perdekuttels as vye te probeer smous…

Viva! Vive! en Wiewa! vir die vryheid van keuse tussen kuttels en vye!!!

aquila non capit muscas

Therese van Schalkwyk ·

Interessante artikel met vele gesprekspunte. Politieke korrektheid op taalgebied is een na aan die hart.

Dr. Theuns Eloff is beslis “táns een van die mees formidabele voorvegters vir Afrikaanse taalregte”. Theuns Eloff en andere se goeie werk word opreg waardeer deur alle moedertaalliefhebbers.
Die destydse huiwering om betyds en daadwerklik op te tree ten gunste van Afrikaans het egter gelei daartoe dat Afrikaans op akademiese gebied een voet in die graf is.
Een na die ander pro-Engelse rektor is by voorheen Afrikaanse universiteite aangestel met wye goedkeuring en ophemeling deur polities korrekte Afrikaanses in gesagsposisies. Waarskuwings deur bekommerde “taalbulle, omies in grys skoene en regse ekstremiste (!)” is op eg onverdraagsame liberale wyse stil gemaak.

Politieke korrektheid is die voorskriftelike onverdraagsaamheid van linkses en liberales.
Dr. Scholtz wend wel ‘n puik poging aan om die term na weerskante van toepassing te maak.

Rupert Ashford ·

Therese, jy het lank geskryf hieraan om ook die dele met onsigbare ink so tussen die lyne in te voeg…????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.