As jy dink #FeesMustFall is ’n goeie idee, lees hierdie…

studentebetogings 2015 feesmustfall fees must fall

Studentebetogings (Oktober 2015) (Foto: verskeie bronne, sosiale media)

Verlede jaar, toe die #FeesMustFall-beweging vaart begin kry het, het een betoger op ’n internasionale TV-netwerk gereken dat hoër belasting en gratis onderwys ’n “no‑brainer” is. Interessante woordkeuse. “No-brainer” is dalk nie so ’n vergesogte beskrywing nie. Die afgelope week is verskeie studente in die media aangehaal dat die geweld van die #FeesMustFall-betogers vir hulle aanstootlik is, maar dat hulle saamstem met die motief daaragter.

Dit is ongelukkig nie so eenvoudig nie. Ek gaan nie probeer om die eis vir gratis onderwys belaglik te maak nie, maar as jy ook reken dat dit ’n goeie idee is, wil ek tog vir jou ’n bietjie stof tot nadenke gee wat jou sal help om te besin of gratis tersiêre onderwys enigsins ’n oplossing is. AfriForum is, vir die rekord, ook van mening dat klasgelde te hoog is, veral as dit gemeet word aan die diens wat spesifiek Afrikaanse studente by universiteite kry. Afrikaanse studente word gelok onder die vaandel van Afrikaanse onderwys, maar wanneer hul klasgelde betaal is, ontdek hulle dat universiteite nie so gretig is om die beloftes wat hulle aan voornemende studente maak, na te kom nie. Daar is talle voorbeelde hiervan, maar dit is ’n debat vir ’n ander dag.

Die ekonomiese linkses hou baie daarvan om die woord “justice” te gebruik. Wie kan nou teen geregtigheid stry? Afrika is arm en daarom sal dit geregtigheid bevorder as onderwys gratis is. Wat die aanvoerders van hierdie argument egter nie besef nie, is dat ekonomiese werklikhede groter gewig as politieke slagspreuke dra.

As ek byvoorbeeld sou eis dat die prys van alle Suid-Afrikaanse wyn met 50% gesny moet word, sal baie mense sekerlik sê dat hulle “in beginsel” van die idee hou. Dit kan selfs geregtigheid bring vir arm mense wat nog nooit goeie wyn kon proe nie. Maar wat sou die ekonomiese gevolge hiervan wees? Kortliks: Duisende werkverliese en die vernietiging van die wynbedryf. Geregtigheid?

Die punt is nie dat jy ’n graad in ekonomie benodig nie, maar wel dat, as jy jou oor ekonomiese aangeleenthede wil uitspreek, jy ten minste die basiese beginsels van ekonomie moet verstaan.

Die probleem met dwaasheid is egter dat die dwaas gewoonlik die laaste persoon is wat sy eie dwaasheid insien. Dit laat die dwaas nog meer belaglik lyk, wat die dwaas selfs meer woedend maak. Flip Buys het by geleentheid gesê ’n mens se politieke ideologie is soos jou asem: As jou asem stink gaan almal in die vertrek dit ruik, behalwe jyself.

Ek het akademici selfs hoor aanvoer dat hierdie opstande goed vir Suid-Afrika is, aangesien dit moontlik tot ’n Arabiese Lente (met verwysing na die revolusies in die Moslemwêreld) hier in ons eie land sal lei. Zuma is ’n swak president en hierdie mense baklei teen Zuma. My vyand se vyand is mos my vriend, nie waar nie? Die aanvoerders van hierdie argument doen egter nie die moeite om te kyk wat in daardie lande gebeur het nie. Gewelddadige revolusies en die gewelddadige omverwerping van regerings lei bykans sonder uitsondering tot voortgesette geweld en plundering.

Die idee dat hoër belasting en sentralisering (wat staatsfinansiering insluit) die oplossing vir alles is, is ook nie ’n nuwe idee nie. Dit was die argument van die destydse Sowjetunie, maar ook meer onlangs van regeringsleiers in Griekeland, Zimbabwe en Venezuela, om enkele voorbeelde te noem. As jy dus reken dat hoër belasting en staatsbeheer die oplossing is, doen asseblief die moeite om te kyk wat in hierdie lande gebeur het. Dit lei nie net tot werkverliese en ekonomiese ineenstorting nie, maar soms ook tot grootskaalse lewensverliese.

As jy dus reken dat gratis onderwys die land na groter hoogtes sal bring, maak ten minste seker dat jy die volledige prentjie – en die ekonomiese implikasies hiervan – begryp. Jy kan begin deur jouself af te vra of jy die basiese ekonomiese beginsels van skaarsheid, vraag en aanbod, die wet van onvoorsiene gevolge en die beginsel van aansporing verstaan.

As jy nie weet wat hierdie konsepte in ekonomiese terme beteken en hoe dit in die praktyk neerslag vind nie, moet eerder nie die moeite doen om veldtogte oor ekonomiese kwessies te dryf nie.

Murray Rothbard het dit goed saamgevat: “It is no crime to be ignorant of economics, which is, after all, a specialized discipline and one that most people consider to be a ‘dismal science’. But it is totally irresponsible to have a loud and vociferous opinion on economic subjects while remaining in this state of ignorance.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Johan de Klerk ·

Nou wat sê u nou eintlik—behalwe dat u vrees ons is te dom om u te verstaan en tog iets moet gaan lees. Met wie debatteer die skrywer hier—wie beskou hy as sy teikengroep? As leser voel mens amper jy word tereggewys oor iets, en as verkeerd afgemaak as jy anders sou dink as die skrywer. Waarom die foto met die mikrofoon? By Malema afgekyk?

Pietman ·

Die boodskap is, doen eers jou huiswerk ( verwittig jouself van die feite) voor jy standpunt inneem.

Dark.O ·

Johan, as jy die opskrif lees, sal jy sien dat die teikengroep die mense is wat dink dat die #FeesMustFall-beweging ń goeie idee is. Die skrywer verskaf redes in die artikel waarom hy van mening is, dat genoemde beweging nie ń goeie idee is nie.

Theuns ·

Ernst ek wonder net, klip in die bos, sou gratis onderwys moontlik gewees het as ons nie vermorsing en korrupsie van miljarde Rande gehad het nie?

Marianne ·

Verhoog die oproerigers se fooie met 30% sodat die geboue wat hulle so hartseerlik verniel hey, uit hulle geld kan netnou word…..
Ek wonder…… IS AL DIE BETOGERS WERKLIK STUDENTE? OF HET AMDER MENSE NET VIR PRET BY HULLE AANGESLUIT SODAT DAAR GETALLE KAN WEES???
IS SOMMIGE VAN DIE MENSE NIE OOK AANGERY VIR ONTWRIGTING NIE???

JC ·

Uitstekende, goed beredeneerde en intelligente artikel.
Sjoe, “wow”!!!
Johan, wat probeer jy nou eintlik se? Se eerder dankie vir intelligente en wyse mense soos Ernst wat van ons uitstekende Afrikanerleiers is, en wat die saak vasvat en op intelligente wyse beredeneer. Ek meen, wie kan nou werklik stry teen wat Ernst hier gese het?
Dit is briljant. ALMAL moet asseblief luister na wat hy te se het, insluitende die sogenaamde “leiers” van ons pragtige land Suid-Afrika.

Johan de Klerk ·

Maroelamedia—Afrforum se propganda poging! Al weer eie kommentaar deur ‘n werknemer?

Sune van Heerden ·

Dagsê Johan

Dankie vir jou terugvoer. Die rubriek is op ons debatsplatform, Nou pra’ jy, gepubliseer, waar ons graag menings van verskillende persone en organisasies publiseer. Reageer gerus in die kommentaarafdeling op die rubriek indien jy nie hiermee saamstem nie, of rig jou skrywe aan [email protected] – dui dan net duidelik aan dat jy op hierdie rubriek wil reageer, waar dit vir plasing oorweeg sal word.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Pyrrho ·

Ernst, jy behoort darem meer ewewigtig met inligting om te gaan. In Europa word tersiêre onderrig goed finansieël deur die staat ondersteun, omdat die staat die waarde van wat die Duitsers noem “Bildung” verstaan. Amerika, wat waarskynlik jou implisiete voorbeeld van “vrye” mark hoër onderrig is, staar ‘n moontlike volgende ekonomiese krisis in die gesig weens die hoë koste van studies, waaraan baie mense vir die res van hulle lewens moet terugbetaal.

Ernst Roets ·

Hallo Pyrrho

Dankie hiervoor. Jy is reg. Ek het dit oorweeg om iets oor die sogenaamde “sosialistiese” Skandinawiese lande in die artikel te skryf, om daardie konteks ook te bied, maar dit sou die stuk te lank maak. Die bewering dat sosialisme werk omdat daar lande is wat gratis onderwys aanbied is bedrieglik. Dit regverdig ‘n artikel op sy eie.

Groete,
Ernst

Henry ·

Volpunte aan beide Pyrrho en Ernst Roets.

Dit is hoeka die klas/tipe kommentaar en antwoord wat spreek van wysheid, insig, goeie maniere en bowe alles – die vryheid om op beskaafde wyse van mekaar te verskil of saam te stem!

Van soveel meer nut en van soveel meer betekenis as skryfsels van die vervelige juigkommando’s en/of venynige kritici wat nie alternatiewe antwoorde kan bied nie.

My beskeie mening is dat dit maar altyd broekskeur sal gaan om die Eerste wêreld se vermoëns, instellings en stelsels met die van ons droewe land, met sy agtergeblewe regime, wat in die droomwêreld van ‘n uitgediende Marxistiese Utopia voort ploeter, te vergelyk.

Se maar net ·

Mens BETAAL vir alles wat die moeite werd is. Ek werk saam met ‘n kollega wie se susterskind matriek 2 maal moes herhaal. Sy wou toe teen wil en dank Ingenieurswese gaan “swot”. Weet nie hoe sy toelating gekry het nie!?! Sy het die eerste jaar hopeloos gefaal en die tweede jaar nie veel beter gevaar nie. Dit is net die gebrek aan finansies wat hierdie student gestuit het. As opleiding gratis was, was hierdie student seker al in haar laaste (13) jaar van studies en op die punt om ‘n hoogsbetaalde ingenieurspos as totaal onbekwame opgeleide ingenieur te “demand”. Waar gaan ons land heen?

Basson ·

In my opinie glo ek nie een van die oproermakers (die wie WEL bona fide studente is) die eksamens sou deurkom, so hulle het niks om te verloor en kry op die koop toe baie mediadekking terwyl hulle die septer swaai.

Wil 29 ·

Ek wonder maar net! as al hierdie studente wat so betoog en tekere gaan en aandring op gratis opleiding, sal hulle nadat hulle klaar afgestudeer het ook hulle dienste gratis aanbied vir die periode waarin hulle gratis opgelei ontvang het, ek dink nie so nie. hulle sal elkeen wat hulle gebruik melk tot die laaste sent. wat is regverdig daarin?

Louisa ·

Dis alles goed en wel om van die regering te verwag om pa te staan vir tersiere opleiding. Dink hulle ooit daaraan dat om dit te moontlik te maak, belasting verhoog moet word? Dit beteken minder geld in die belasting betaler se sak. So, oor ‘n jaar of so gaan van hulle gradueer en hopelik begin werk. Die realiteit van hemel hoe belasting wat vir hulle studies moes betaal gaan begin werklikheid word. Gaan die volgende aksie wees ‘#taxmustfall? Sal hulle ooit die onsinnigheid besef wat agter hulle sogenaamde protes aksie skuil? Hulle is bedorwe kinders wat dit ‘n duisend maal beter het as wat hulle ouers en voorouers dit gehad het! Hulle het nie ‘n benul hoe BEVOORREG hulle is nie.

Johann Marx ·

Ek is ‘n voorstander van gratis onderrig en opleiding….maar nie soos die gewone mens daaraan dink nie. As dit alles net gratis was, sou daar geen aansporing gewees het om te presteer nie, dus….slaag matriek goed genoeg om universiteitstoelating te kry, registreer vir jou kursus en betaal jou registrasie koste, woon jou lesings by, voltooi jou kursus binne die voorgeskrewe tydsraaamwerk, en as jy gemiddeld 80% gehandhaaf het deur jou kursus, kan jy al jou geld terug kry nadat jy jou graad verwerf het. Dit sal veroorsaak dat instansies makliker studielenings toestaan, want die student wat slaag sal sy fooie terug ontvang en sodoende sy studielening delg……Op hierdie voorwaardes sal die student wat regtig WIL, hard werk, slaag en ‘n teenprestasie lewer om sy #Feesmustfall doelwit te bereik. As dit net alles “gratis” gemaak word, gaan daar “studente” wees wat op kampus “uitkamp” en vir 9 jaar aan ‘n 3 jaar kursus swot….want daar’s GEEN motivering om te presteer nie.

Erf Wetter ·

Baie goed raakgevat mnr Marx, baie dankie. Niks wat die moeite werd is kom immers maklik nie. Mens sal nooit op iets trots kan wees of die waarde daarvan besef as jy dit pasella op ‘n skinkbord gekry het nie.

Boela ·

Nee wat Johann, dit sal nie werk nie. Dit is tog duidelik dat die betogende massas heeltyd die doelpale verskuif. Ek waarborg jou dat, sou swart studente nie jou voorgestelde 80% gemiddelde haal nie, hulle baie vinnig rassisme sal skree en blanke dosente van diskriminasie sal beskuldig. Dan betoog hulle weer daaroor, en ons is terug presies waar ons vandag sit met die vernietiging van kampusse en akademiese infrastruktuur.

brenda ·

Laat die mense wat by universiteite werksaam is ook begin betaal vir hul studies; want dis die ma…pa….en elke kind wat gratis onderrig kry; as jy werksaam is by enige universiteit! bring die gelde af; verminder dit en dat hulle ook betaal vir onderrig! nepotisme vier hoogty by vele instansies; oom …anties…boeties..sussies die hele boksomdaais kry werk ….en its for free dan!!!

Christo ·

Ernst. Ongelukkig een van jou minder goeie pogings. Verstaan jy die ekonomiese begrippe waarna jy verwys en veral die toepassing in hierdie situasie? indien wel, hoekom deel jy nie jou kennis en insig nie? Nogal arrogant om voor te gee dat jy oor meerdere kennis beskik en ander (jou lesers insgesluit?) nie.

Cobus Schoombie ·

Fees must fall, retig!! Gaan die regering, ministers en betuur van unuversiteite nooit leer nie? Meeste van die jong mense en ook volwasse mense het hierdie mentaliteit dat hulle altyd iets kry om oor in opstand te kom. Hulle is dus volgens my mening, vir die verkeerde redes daar. Om te studeer en hul lewe te verryk. Vernietig hul eie toekoms en onskuldige mense se toekoms. Ek dink hul kom agter dat die universiteit is nie skool nie , jy moet werk. Dit is nie ‘n status om in universiteit te wees nie. As hulle aanhou toegee aan hierdie tipe van goed, gaan ons ekonomie langer neem om te herstel, gepaargaande met die ander gebeurtenisse in ons land. Doen iets,maar vir die regte redes.

Jan ·

Ek het effektief gratis studeer in die 90’s. Om dit te bewerkstellig het ek meer as 200 briewe gerig aan maatskappye en gevra vir ‘n beurs in ingeneurswese want my ouers was nie welaf ommy te stuur nie, Van die 200 briewe het ek opslegs 8 ‘n antwoord ontvang waarvan 6 negatief was. Uit 200 briewe gestuur is ek genooi vir 2 onderhoude waarvan 1 op ‘n beurs uitgeloop het. In ruil daarvoor moes ek die ekwivalent van die tydperk van my studies in diens bly by die maatskappy.

Met hardewerk en deursettings vermoeë kan dit gedoen word. Die luiheid van die huidigge studente laat hulself belaglik lyk in die oë van die publiek,

Hulle moet liewer skouer aan die wiel sit en moeite doen om alternatiewe befondsing te bekom stede van die land plunder.

Otter ·

Goeie artikel wat die beginselsaak raakvat. Dis nodig dat artikels soos dié met logiese redenering, gebasseer op feite en aanvaarde praktyk, hedendaagse dwase bewerings ontmasker. As dit nie gebeur nie, dwaal die openbare mening.

Dup du Plessis ·

…..eenvoudige ekonomiese beginsel……niks is verniet, iemand anders betaal maar net daarvoor. Tog kan daar met vandag se tegnologie en internet verbindings sekerlik baie goedkoop/feitlik gratis studie opleiding gedoen word. As daar regtig ‘n wil is vir gratis of baie goedkoop opleiding kan daar met rekenaar programme d.m.v. annimasie aan baie behoeftes voldoen word. Dink aan die moontlikhede: keuses t.o.v. voorkeur taal, voorkeur kleur, die tydperk wat ‘n student neem om die kursus te voltooi is irrelevant, geen probleme t.o.v. verblyf, geen plekke wat beskadig kan word nie…….rekenaars word nie moeg nie, ens…..as daar in die verlede deur die pos studeer kon word is hierdie nou ‘n ” no brainer”. Waar daar egter by groot geboue met baie onderhoudskoste studeer word en van hoogs betalende dosente en professors gebruik gemaak word, kan dit tog nie gratis wees nie, nog ‘n “no brainer”…..Wat gaan die volgende eise wees sou studies by instellings gratis word? – gratis verblyf? – gratis etes? …iemand kan tog nie met ‘n honger maag studeer nie……daar is nie ‘n ander manier vir gratis / goedkoop onderwys nie….Meeste ouers sukkel om hul eie kinders deur universiteit te kry wat nog van om vir ander te betaal…..

Therese van Schalkwyk ·

Dis te hope dat Johan de Klerk (hierbo), ná sy taamlik venynige kommentaar op hierdie puik meningstuk, sy siening van die #Feesmustfall-kwessie met Maroela-lesers sal deel. Sou dit graag onder oë wil kry.

Gratis universiteitsopleiding in ‘n land soos Suid-Afrika is so uiters dwaas dat dit ‘n mens lighoofdig maak van onsteltenis. Die lae vereistes en gevolglike swak standaard van die SA matrieksertifikaat is slegs één beletsel.

Dus, as ene Christo (hierbo) effe meer volledig kan verduidelik waar hy met Ernst Roets verskil, leer ons ander dalk iets waaraan ons nie gedink het nie.
Sien uit daarna.

John ·

Banke wat studielenings uitdeel wen die meeste maar se nou niks. In die VSA is studielenings ‘n multi-miljard-onderneming en staan gelyk aan ‘n huis- of motorlening. Die universiteite se studiegeld styg en die inrigtings leen nie geld nie maar steun op die studente en die staat. Hoe langer die studiejare, hoe meer baat die instellings en die banke. Studies is baie duur en styg vinniger as die meeste mense in die land se inkomste. Dit is met reg dat studente en ouers bekommerd is dat die afgestudeerdes dalk nie werk gaan kry nie en dat hulle, die borge, die skuld sal moet delg. Universiteite sal self ook moet kyk na hul uitgawes, buitelandse reise en onnodige aankope en toerusting. Daar word rojaal gekyk na die topbestuur se grille en planne om allerhande kongresse regoor die wereld by te woon. Dikwels is dit ‘n slim manier om die wererld te gaan bekyk. Ek weet van gevalle waar van die professore by kongresse gesoek is, maar op toere deur die lande is. Hierdie probleem is veelkantig as mens die griewe van studente, duidelik met ‘n bedorwe-brokkie-mentaliteit, vir ‘n oomblik buite rekening laat.

Jan Booysen ·

Gratis uv-opleiding kan net geregverdig word as dit aan die ekonomiese behoefte na ‘n die land voldoen. Daar moet dus eerstens gekyk word na watter vaardighede benodig word en dié rigtings moet aangemoedig word deur dit gratis aan te bied. Dit kan dan op glyskaal van die skaarste tot mees algemene (volop) vaardighede gerangskik word. Sou ‘n student verkies ‘n algemene graad waarvan daar ‘n ooraanbod is te behaal moet hy gedeeltelik of ten volle daarvoor opdok. Toelatingsvereistes en studie tydperke moet streng gehandhaaf anders kan studente jare op universiteit sit sonder om vordering te maak. Die voorbereiding van skoliere vir uv-opleiding is uiteraard van kardinale belang maar is onder verdenking met die huidige skoolopleiding. Verskillende variasies op die tema is moontlik. Gratis opleiding sonder duidelike doelwitte en standaarde sal uiteindelik nie suksesvol wees nie.

Jacques ·

In die 70’s en 80’s het meeste ingenieurs, vakmanne, landmeters, regsgeleerdes en verskeie ander beroepe puik opleidingsgeleenthede gekry by die Staatsdepartemente en semi Staat bv. ESKOM, Spoorweë. Elke beurshouer het sy kontrak terug gewerk, die salaris was nie te sleg nie maar defnitief nie vergelykbaar met die privaatsektor nie. Elke student was verbind tot ‘n streng opleidingsprogram voorgraads sowel as na graduering. Ek het 21 jaar terug gewerk en het ongelooflike ervaring en kennis opgedoen. Daar was wel deurdagte opleidingsprogramme en strukture. Dieselfde geld vir Ambagsmanne.

Indien jy nie geslaag het nie was jy van opleiding onttrek en moes jou skuld terug betaal. Indien die Staat sy verantwoordelikheid gestand doen as opleidingsvenoot sal dit alreeds ‘n groot persentasie studente se las verlig en ook goeie opleiding verseker. Ongelukkig is die Staat se kennisbank bankrot en dit moet stadig en doelmatig opgebou word. Die gaan ongelukkig nie gou gebeur nie.

Meriete beurse kan verder vir verdiestelike studente gegee word. Dit sal harde werk bevorder en die las verlig. Indien daar genoeg beurshouers is is die Universiteite verseker van ‘n vaste inkomste en dit kan die las verlig op die oorblywende nie-beurshouers.

Ongelukkig beskik ons regering nie oor die visie nie. Hulle het geleer om die maklike uitweg te kies deur die sg. ryk blanke student te teiken. Die Universiteite moet kreatief raak.

Dries ·

Die artikel is raak ge vat. Kom ons wees eerlik daar is te veel op kampus wat nie daar moes wees nie en dit as gevolg van die verlaagde standard (slaag syfers ook). Ons sal ook merk dat die regte presteerders hul nie sal ophou met hierdie sort eise of optredes niemaar dit is juis die wat nie rerig sou kwalifiseer het om daar te wees nie. Verhoog net die standaarde van toelating weer tot ndie vorige stand en hierdie belhamels sal nie eers op die kampusse verskyn nie alhoewel hul dan seker weer in die townships gaan oproer oor ongelyke regte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.