As jy dit sien . . .

brexit-meme

‘n Grafika oor die ironiese situasie met Brexit wat tans op sosiale media gedeel word. Grafika: Verskaf.

Politiek was nog nooit mooi nie, maar dit was lanklaas só interessant en selfs snaaks as vandag. PG du Plessis het eenkeer opgemerk dat dinge in ʼn verhaal soms so tragies word dat dit snaaks is.

Humor is nogal terapeuties – vir my in elk geval. Dit kan ʼn mens wakker maak vir die waarheid. As ons nie die ironie sien nie, word ons maklik meegesleur en dan is ons presies waar diegene wat die magspeletjies van politiek, ekonomie en selfs georganiseerde godsdiens speel, wil hê ons moet wees.

Zuma, Trump en Brexit is maar van die name in die tragiese komedie wat tans besig is om af te speel. Soms wil ʼn mens huil, soms wil jy lag, soms albei.

Ironie gebeur wanneer die teendeel (of die mees onwaarskynlike) ʼn waarheid beklemtoon. Die komiese ontmaskering van ʼn leuen.

Oscar Wilde het gesê: “Irony is wasted on the stupid.” Die teendeel van ʼn ironiese bewussyn is dom arrogansie. Dom arrogansie lei dikwels tot onbewuste ironiese aksie.

Dié wat van buite af kyk en kan sien die keiser is kaal, is geskok, maar bars ook soms uit van die lag. Die keiser self is nie net onbewus van sy optrede nie, maar selfs trots daarop.

Dis byvoorbeeld ironies wanneer iemand sê iets is verkeerd, maar hy of sy is die laaste persoon om te praat. Soos byvoorbeeld wanneer president Zuma praat teen korrupsie. Of wanneer jare lange voorstanders van wit rassisme kwaad is oor swart rassisme (of andersom) – dis net onregverdig as jy self aan die ontvangkant is?

Hier is ʼn prent wat die afgelope week die ronde gedoen het op sosiale media in reaksie op Theresa May se opmerkings oor die groeiende probleem met immigrante in Brittanje in een van haar Brexit-toesprake:

Amper meer ironies is die Afrikaners wat die Britte se min simpatie met immigrante aanmoedig – maar steeds graag hand op die bors Bok van Blerk se De La Rey sing en self ’n nefie het wat daar werk.

Dis ironies wanneer Donald Trump kwaad is omdat sy verkiesing as president gekritiseer word. Het hy nie tydens die verkiesing herhaalde kere gesê dat hy nie Hillary se verkiesing sal aanvaar nie? Dis mos hy wat aksies van stapel gestuur het om Barack Obama se Amerikaanse burgerskap in sy termyn as president te bevraagteken!

Dis ook aan die ander kant ironies dat die Amerikaanse Demokrate nie Trump se presidentskap wil aanvaar nie – hulle het hom dan “gas gegee” toe hy gesê het hy gaan so optree.

Dis ironies wanneer Robert Mugabe sy eie mense veel slegter behandel as die koloniste na wie hy so graag vinger wys.

En so kan ons aangaan. Die politiek is vrot daarvan en die res van die samelewing ook.

Komediante gebruik ironie doelbewus om mense te laat lag, politici hoop weer dat hulle volgelinge te dom of blind sal wees om dit raak te sien.

Ons het almal die geneigdheid om ironiese optrede eerder in ons vyande raak te sien en uit te wys as in ons eie groep.

Ons het nodig om meer konsekwent te wees met geregtigheid en genade. Maar dit wil voorkom asof ʼn mens net meer konsekwent kan wees as jy eers doelbewus bewus word van jou en jou groep se eie inkonsekwente optrede – die ironie in jouself begin raaksien.

Die gebruik van ironie in legendes en verhale het ʼn manier om ons wakker te skud. Dalk omdat fiksie maak dat ons minder op ons hoede is en dit dus moontlik maak om ons menswees vir ʼn oomblik op ʼn veilige afstand te bekyk.

Jesus het dikwels hiervan gebruik gemaak. Dit was byvoorbeeld uiters ironies wanneer ʼn Samaritaan, iemand uit die groep mense wat volgens die Jode onrein en totaal van pad af was, in een van Jesus se verhale die samevatting van die hele wet demonstreer! Ook wanneer Hy opmerk dat Hy by ʼn Romeinse soldaat groter geloof sien as in die hele Israel (Matt 8:5-13), dat grootmense soos kinders moet word, die belangrikstes dienaars moet wees, die swakkes die geseëndes is, dat ons eers die balk uit ons eie oog moet haal …

Ironie is ’n spieël wat ons die waarheid oor die wêreld en onsself kan wys. Jesus waarsku egter dat ʼn mens blind kan wees, dat jy kan kyk sonder om te sien.

Sekerlik een van die grootste ironieë in die Bybel is wanneer die blinde man in Johannes 9 kan “sien” dat Jesus die seun van God is en na Hom uitroep, maar die Fariseërs en die skrifgeleerdes, die bestudeerders van God, blind is en hulle Hom – en dit waarvoor Hy staan – verwerp.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Strydom

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Lees sy artikels op ECHO Jeugontwikkeling se webwerf.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

SUZETTE BOTHA ·

UITSTEKEND – EK HET AL BEGIN DIE ALIENS HET MY HIER AFGELAAI EN VERGEET OM TE KOM HAAL, WANT IS DIT DAN NET EK WAT DIE GOED SIEN?

DANKIE, VRIEND, TEN MINSTE WEET EK DAAR’S 2 VAN ONS

Genie ·

Tussen Trump & Clinton, was Trump die beter keuse (uit die oogpunt van die Amerikaners). Brexit is ook die korrekte keuse want die EU het te magtig geword wat neig na ‘n oorheersende wereldorde (verwys na die storie van Babel in die Bybel).
Jammer, die bostaande artikel sê eintlik niks en is ‘n subjektiewe oordeel van geregtigheid deur die ‘Pastoor’.
Oor ‘n paar uur is Donald J Trump die 45ste President van die VSA!!!! Put that in your pipe and smoke it!!! Ek erken egter dat die invloed baie skraal gaan wees op Suid-Afrika – ons is te klein en onbeduidend.

Melt Olckers ·

Binne twee jaar is Trump afgedank en Pence die President. Herinner baie sterk aan Nixon.

gatiep ·

Baie goed gestel. Dis die hardkoppegeid van ons wat ons niks raak laat sien nie.
Ons is so geprogrameer deur die apartheid goverment om niks anders te glo as wat hulle ons geleer het nie.
Ons was self ook slagoffers van apartheid gewees as jy uit lyn gestaan het was jy hard gestraf.Ek dink nie een van ons wil weer apartheid terug he nie want eintlik was dit n police state gewees waarin ons gebly het ,maar tog het apartheid goverment nie verkondig dat ons swartmense moet doodmaak soos wat nou aangaan by ons nie.
Dis ook ironies dat die britte die wereld wou oorvat en vandag is hulle land oorgevat en hulle sukkel om dit terug te kry en sal dit ook nie regkry nie sonder n oorlog nie.

DewaldS ·

Hmmm….

Wanneer politiek en Godsdiens gemeng word, dan stoot die naarheid so in my keel op.

In elk geval – as ons nou daai wêteldkaart vat en ons sit al die lande daarby wat deur Frankryk, België, Holland, Portugal en Spanje gekolonialiseer is, dan bly daar min kolletjies oor wat nie rooi is nie.

Die artikelskrywer beroep hom op die Bybel om bietjie gewig aan sy argumente te gee. Die ironie dat die meesal rooi wêreldkaart wat ek na verwys deur mense wat daardie selfde Bybel (met variasies) aangehang het, daargestel is – kyk – daardie ironie is die een wat die skrywer hoop dat ons sal miskyk?

Melt Olckers ·

Soos Trevor Noah al genoem het dat hy bekommerd is hy verloor sy werk omdat politici beter grappe as hy maak.

JC ·

Wat is hierdie: propaganda uur om oningeligte mense te verwar en nie te laat verstaan dat die winde van verandering voor ons is nie: nasionalisme, patriotisme, realiteitspolitiek en die omverwerping van die globalistiese en internasionalistiese liberale elite, veral die media elite (DIE 4DE STAND) en politieke elite, met die ondergang van die “siek” demokraties liberale wereldwye beweging oftewel die “diktatuur van die liberaliste”. Asb, noem dit wat dit is, em moenie die mense probeer iets ander wysmaak met lang relase nie!! En ja, ons Afrikaners ondersteun onomwonde wat nou gebeur d.i. die terugkeer en beklemtoning van geloof en konserwatisme!! (sien Mike Pence) Ek meen liewe aarde, die afgelope dekade het ons kwansuis geleef in die “post Christian” era-“NEED I SAY MORE?”
TRUMP=HELD!!

Maria Van Dieweeck ·

JC ek dink ook Trump gaan n goeie president maak.

Sebastiaan ·

Daardie “slim mense” wat die wêreldkaart met Brittanje se kolonies opgestel het om ‘n stelling te maak, ken nie die geskiedenis en aardrykskunde nie. Van wanneer af was die gebied van Guatemala tot Peru ‘n Britse kolonie? Dalk Brittanje met Spanje verwar? En Tunisië, Libië, Angola, Mosambiek, Kongo, Iran, Thailand, Indonesië en Filippyne was ook nog nooit Brits nie. Dit bewys hulle stelling as bog.

moegvirfanatici ·

jc : jy versuur gewone normale Afrikaners se dag met jou tirades op elke artikel. Alles en almal wat nie jou siening deel is liberaal. Talle van ons is keelvol vir jou emosionele uitsprake. Skryf n slag iets wat jy met feite staaf.

DewaldS ·

Ek stem saam met JC. Die skrywer se liberale onderrok hang uit tot in die modder. Die skrywer het sekere maar net nagelaat om Putin ook in sy stommiteite in te weef – die liberale doen dit gewoonlik. Die ironie wat die skrywer self nie sien nie is dat liberale optrede en denkwyse vir Zuma tot stand gebring het? En dat 99% van kolonialiste daai tyd die Bybel aangehang het (maar die Bybelversies wat hy aanhaal moet sy tirade teen Brexit ondersteun?).

So – as ons van tragiese komedies begin praat dan is die artikel eintlik maar ‘n puik voorbeeld.

Henry ·

Moegvirfanatici
Inderdaad!
Ek stem allie pad saam met jou. Laaaankal moeg vir die voorspelbare kommintare wat links en regs uitgedeel word. In skreeuende hoofletters nogal.
Herdie poging sal waarskynlik ook ‘n rusplek in die snippermandjie vind.
Aquila non capit muscas
:-)

Boerseun ·

Dankie Melt, hy sou klaarbleiklik ook nie as pres verkies word nie

Boerseun ·

Of as jy dit nie sien nie…. ironies dat Trump, brexit en zumpie almal teen die mainsteam globlist elite se mantra gaan. Ek sukkel om die ironie in die De La Rey aanmerking te verstaan. Engelse sal altyd by my haat koester maar n enemy of my enemy is my friend ? Nie die beste stuk deur mm. Moet se julle mening stukke raak maar lekker beeld-te-rug

moegvirfanatici ·

Dewaldt : jy se ‘liberale denke en optredes het vir Zuma totstand gebring’. Ek dog dit is die honderde duisende semi geletterdes op die platteland wat hom ingestem het ! En as jy hulle as liberaliste wil beskou gaan voort!

DewaldS ·

Liberale denke en optrede het nugter en realistiese mense verhoed om in Suid-Afrika ‘n regverdige bestel tot stand te bring waar al die bevolkingsgroepe veilig kon voortleef en vooruitgaan. Nou slaan die ekstremiste die kitaar en niemand is veilig.

Johan II ·

Eks met jul DewaldS en JC. Skryf bietjie n artikel. Ek sal graag jul standpunt in meer besonderhede lees. Mr.Moeg hierbo is maar net nog n liberalis wat binnekort van deuntjie gaan verander…

Henry ·

Gits DewaldS!

Ek het weer gedink dat 35 miljoen teenoor 4 miljoen in 1995, die logiese rede was dat Zuma en sy voorgangers se regime sedert 1995 die kitaar in hierdie droewe land slaan.

Nou praat jy van liberale denke!

Wanneer daar so ‘n groot getalle verskil is, kan wie ookal op sy/haar kop staan en Sarie Marais deur die tande fluit, maar so ‘n klein minderheid gaan vir seker nie so ‘n meerderheid onbepaald regeer nie.

Nie eers ‘n liberalis, kommunis, sosialis, kapitalis, nasionalis of watse lis ookal nie.

DewaldS ·

Jy verdraai my woorde, Henry. Ek het gepraat van ‘n regverdige bestel – nie van oorheersing deur ‘n minderheid nie. Onregverdige politieke situasies met ‘n geweldige meerderheid aan die eenkant – dan eindig ons by ‘n Holodomor, ‘n Holocaust of etniese vernietiging van bv die Aborigine’s of die Boesmans. As jy in ons moderne wêreld ‘n een-man-een-stem demokrasie wil instel, dan MOET daar beskerming van minderheidsgroepe wees – ander sal daar meerderheids-tirannie wees en gevolglike uitwissing van die minderhede. Maar ja – mense soos jy sal dit net nooit sien nie.

Henry ·

Ag ou DewaldS

Wat jy ookal wil kwytraak met: “mense soos jy sal dit net nooit sien nie.”- sal ek nie weet nie. Dit vertel uiteindelik meer van jou, as wat dit van enige verdere nut is.

Ek het nie nodig om jou woorde te verdraai nie. Duidelik dat jy een van talle siele is wat dit nie kan insien en aanvaar dat ons wittes se verteenwoordigers by Kodesa, jammerlik gefaal het om ‘n bedeling te beding wat beter beskerming vir ons – die minderheid – bied nie.

Aquila non capit muscas

JC ·

Ek dink die rede waarom Afrikaners die Britte se weersin in die immigrante steun, terwyl ons terselfdertyd na De la Rey luister, is omdat ons Afrikaners konserwatief en “calvinisties” is, net soos die meerderheid Britte (lees: Engelse) konserwatief is. Ons SIMPATISEER dus met hulle. Inteendeel, die Britte het ons kultuur tot ‘n groot mate beinvloed en het ons ‘n gedeelde geskiedenis met hulle. Ons brand nie hulle vlae en standbeelde af nie (miskien behalwe tydens die rebellie so bietjie ‘n vlag-in protes teen SA se deelname aan WW1), ons respekteer hulle vir wat hulle is al het hulle ons volk ondenkbare skade aangedoen. Mens noem dit SELFRESPEK en DISSIPLINE. In elk geval, wat is die raakvlakke en hoe word die twee onderwerpe by mekaar uitgebring? Die twee onderwerpe staan totaal apart van mekaar, maar indien ek ‘n verduideliking moet gee, en eenvoudig gestel, tree doe britte patrioties en nasionalisties op, ons ondersteun dit ten sterkste want ONS IS OOK VAN DAARDIE SPESIE. DIT SMEEK BESLIS NIE OM ‘N VERDUIDELIKING NIE.

MTSteyn ·

Hallo Jaco Strydom,

Ek moet dit toegee; hierdie is een van jou beter pogings. Sien, deur hierdie keer jou geloof van humanisme met die Christelike Godsdiens te verdun, tot so 1:10 verhouding soos in hierdie skrywe van jou, gaan jy baie meer sg, Christene by jou idees laat inkoop!

Baie Christene, ja, maar dank God, nie alle Christene nie.

Joe Hall ·

Die skrywer se opgewondenheid oor die aanwending van ironie, herinner aan ‘n wysheid van my oorle’ oompie Piet Poggenpoel.

In teenstelling met Wilde het wyle Oom Piet altyd gewaarsku teen die oormatige gebruik van ironie.

“Irony is often wasted by the stupid” het oorle’ Oom Piet Poggenpoel in sy beste Ingils vir ons vertel.

Jacobus ·

JC, Joe Hall, MTSeyn…. is uitstekinde voorbeelde van die blindheid vir ironie in hulle eie groep waarvan die skrywe praat. Bevestig die argument

Johan II ·

Hoekom hou julle aan vergelykings maak tussen Trump en Zuma? Ons kan nie Zuma losmaak van die Britte se ANC met hul hoofkwartuur in London nie. Zuma is dus n produk van die Liberaliste nie die nationalise of konservatiewe kamp nie.

Marius ·

Jesus het met só baie van Sy leringe die mense en Sy dissipels na dinge met ‘n geestelike bril laat insien. Sy fokus was die lande wat wit staan vir die oes. Ons fokus is ongelukkig om Christendom te gebruik om te propageer vir selfbehoud. Vir al wat Jesus omgegee het kon Israel ophou bestaan het. Hy het eintlik Sy rug op Sy Joodskap gedraai(ek weet ek gaan gelooi word oor dié een). Sy saak was baie groter as die hier en nou (en dit juis toe Rome hulle regeerder was). Hy het nogal gesê ons moet dieselfde doen voor Hy opgevaar het hemel toe. Groot ironiese verskille tussen ons en Sy opdrag.

JC ·

President van die magtige VSA Donald J. Trump het niks met “zumpies” te maak nie!! “zumpies” is ‘n produk van uitgeleefde kwasi marxistiese en “liberale” denke en ‘n goeie voorbeeld van jou tipiese immorele, korrupte en ongelowige Afrika diktator !!
President Donald John Trump is ‘n nasionalis en ‘n patriot en staan die herlewing van die westerse wereld en Christenskap voor, en GAAN DIT VERWESENLIK.
Die oningeligtheid en swak redenasievermoe van sommige Afrikaners wat nie ag slaan op breer politieke wereldstrominge nie en boonop in ‘n liberale “bubble” (lees tonnelvisie) leef is angswekkend!!

aaijaaijaai ·

jc en dewaldts verduidelik asb vir ons hoe Zuma die resultaat van liberale denke is. En los nou maar die storie van dat die ANC eintlik uit Londen beheer word. Watter liberales het n meerderheid by die stembus in SA ? Dit is juis die Swart konserwatiewes, wat glo dat Zuma as die ‘koning’ op talle voordele geregtig is, wat die oormag in SA het.

JC ·

Jy mis duidelik die punt aaijaaijaai! Zuma oorleef en floreer as gevolg van liberale denkers wat hom en die ANC; hoe korrup en verfoeilik hulle dan ookal is; eerder die land sal sien regeer en verder in die afgrond indruk; as om te erken dat persone soos hy en sy party nie in staat daartoe is om te regeer nie. In kort, die liberale hoofstroommedia se liefdesverhouding met zumpies en die ANC is nog lank nie verby nie, en dit is dit wat enige kragdadige [en regse-m.a.w. konserwatiewe, respek vir en propagering van natuurlike of normale (regs) gesag ] optrede teen hom en sy trawante verhoed. Daar is jou antwoord.

Henry ·

Zuma en die huidige regime kan slegs ‘oorleef en floreer’ indien die meerderheid inwoners hul kruisies aan die ANC toeken.
Volgens jou beredenering moet die kiesers wat vir die regime stem en bygevolg vir Zuma steun, dus liberale mense met liberale waardes en oortuiginge wees.
Kan jy/julle miskien meer toeligting verskaf oor die unieke vorm van liberalisme wat blykbaar in hierdie droewe land pos gevat het?

marius ·

Christendom het nie nou nie en sal nooit mense soos Donald Trump nodig hê om sy saak te bevorder nie. Dis ‘n belediging vir ‘n soewereine God. Donald Trump gaan meer skade doen aan die waardes van Christendom as wat enigeen van ons kan droom. Dis die tekens van die tyd. Hillary Clinton sou op haar manier dalk erger gewees het. Sien die geestelike nood, nie die nasionalistiese, patriotiese en popularistiese leë beloftes nie. Christene is burgers van die ewigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.