As Kalifornië wil afstig, moet die VSA dit vaarwel roep

hollywood-kalifornie

Foto: Unsplash/Pixabay.com

As een van die linkste deelstate in die VSA, is Kalifornië uiteraard omgekrap daaroor dat Donald Trump nou president is. Massiewe betogings het spontaan in stede soos Oakland, Los Angeles en veral San Francisco uitgebreek die dag nadat hy die verkiesing in November verlede jaar gewen het. Gebelgde mense het bande gebrand en snelweë geblokkeer uit protes teen Amerika se 45ste president.

Kalifornië kan amper as ʼn soort Wes-Kaap van Amerika beskryf word. Dit is polities, maatskaplik, demografies en ook ekonomies verskillend van die res van die land en ook op talle maniere uitsonderlik.

Immigrasie uit Asië en veral Latyns-Amerika, asook die vertrek van meer konserwatiewe inwoners en die feit dat Spaanssprekendes wit Engelssprekendes in 2014 as die grootste etniese groep verbygesteek het, het veroorsaak dat die Republikeinse Party en die Amerikaanse variant van konserwatisme vandag so goed soos dood is daar.

In die 1980’s het die Goue Staat steeds bankvas agter Ronald Reagan, ʼn voormalige Hollywood-ster en goewerneur van Kalifornië, as konserwatiewe presidentskandidaat gestaan. Maar sedert oudpres. Bill Clinton se eerste verkiesing in 1992, het die staat ʼn blou Demokratiese bastion soos min geword en omdat sowat ʼn agtste van die land se bevolking daar bly, is dit nogal ʼn opmerklike politieke verandering.

Terwyl die Republikeine oral baie goed gevaar het in 2016 se verkiesing, het Kalifornië selfs nóg blouer geword, met meer as 80% van kiesers wat vir Hillary Clinton gestem het. As Kalifornië se stemme weggeneem is, sou Trump die verkiesing met 1.4 miljoen stemme gewen het, eerder as om 3 miljoen minder as Clinton op hom te verenig.

Noem enige kwessie en Kalifornië se siening daaroor is strydig met die res van Amerika sʼn (selfs die meer liberale state): Aborsie, gay-regte, minimumlone, immigrasie, belasting, die reg om vuurwapens te dra, ensovoorts. Trouens, inwoners van Kalifornië roem hulself daarop dat hulle anders as die res van Amerika is, nes Amerikaners hulself daarop roem dat hul land anders en ook beter as die res van die wêreld is.

Nodeloos om te sê Trump se beleid oor vlugtelinge en immigrasie het groot oproer in Kalifornië veroorsaak, veral as die sowat 10 miljoen onwettige immigrante daar in ag geneem word. Betogings het weer in Januarie en vandeesmaand daar uitgebreek en die staat se ampsdraers was omtrent uitasem om maatreëls aan te kondig om Trump se bevele op staatsvlak te beveg. Dit is ironies, aangesien die linkses in Amerika aansienlik gekant is daarteen dat die deelstate meer outonomie moet kry. Maar as die skoen jou pas . . .

ʼn Ander soort afstigting

Wat selfs meer veelseggend is, is die voorstel wat laat in Januarie by die Kaliforniese minister van eksterne sake se kantoor ingedien is oor Kalifornië se afstigting van die res van Amerika. ʼn Groep, genaamd die Yes California Independence Campaign, is agter hierdie inisiatief (passend gedoop #CalExit) en hoewel hulle voorheen as ʼn onbenullige organisasie beskou is, het hulle nou wel die groen lig ontvang om 600 000 handtekeninge in te samel om afstigting (sesessie) in ʼn stemproses te toets. Die groep se Twitter-volgelinge het bykans oornag van 1500 tot 16 000 ontplof.

Waar afstigting in feitlik elke geval onderneem word om iets parogiaal, etnies of spesifiek te beskerm, is hierdie stappe juis daarop gemik om die staat se diversiteit te laat voortbestaan, sonder die skynbare regse homogenisering van die res van die land onder Trump.

“These people are a people, and they’re very different from everyone else in America,” sê Marcus Ruiz Evans van Yes California. Hulle wil dus poog om ʼn Kalifornië op grond van diversiteit en ʼn burgerlike nasionalisme, eerder as etnisiteit of kultuur, te laat afstig van Amerika. ʼn Middel wat tradisioneel as “regs” beskou is, word dus gebruik om as’t ware ʼn linkse doel te bereik.

Maar hierdie soort nasionalisme en eenheid lyk terselfdertyd asof dit uiters onverdraagsaam teenoor ander idees, kortsigtig en kleingeestig is. ʼn Onlangse peiling het bevind een in elke drie Kaliforniërs steun ʼn moontlike afstigting weens hul afkeur in Trump. “I get called a racist, a bigot, just because I’m a Republican,” sê Vicky Reinke, ʼn Republikeinse grootkop in Sacramento, Kalifornië.

Die Demokratiese Republiek van Kalifornië?

Die vraag is hoe sal só ʼn staat lyk en funksioneer? Kalifornië is weliswaar tans ʼn ontsaglike welaf streek met sy vermaakbedryf, boerdery en die beste tegnologiesektor in die wêreld in Silicon Valley, wat in sy guns tel. As dit vandag onafhanklik sou word, sal dit die sesde grootste ekonomie op die planeet wees.

Maar alles is nie so rooskleurig en blink in Kalifornië soos wat Hollywood wil voorgee nie. Belasting in Kalifornië is uiters regressief en tel onder die hoogste in die VSA, volgens die Tax Foundation, ʼn onpartydige navorsingsgroep sonder winsbejag in Washington D.C.

Die staat het die hoogste verkoopsbelasting in die land en afhangend van waar jy in Kalifornië bly, betaal jy ook van die hoogste persoonlike inkomstebelasting en eiendomsbelasting in die land. Terwyl Trump besig was om minder regulasies en belasting in November te belowe, het kiesers en wetgewers in Kalifornië hoër belastings goedgekeur tot minstens 2030. Gʼn wonder dit staan bekend as Commiefornia of die Demokratiese Republiek van Kalifornië nie.

Natuurlik is dit lekker vir ongedokumenteerde immigrante om van die swaar verdiende belasting van ander te leef – en Kalifornië maak ruim wetlike voorsiening daarvoor dat hulle dit kan doen – en dis ʼn groot deel van waarom hulle in sulke groot getalle soontoe gaan. Maar andersyds is Kalifornië besig om die gans te slag wat die goue eiers lê.

Luidens syfers van die Interne Inkomstediens (IRS), het meer as 250 000 inwoners van Kalifornië tussen 2013 en 2014 die staat verlaat. Meer as 10% van hierdie groep het na Texas, wat een van die beste belastingbedelings in die VSA het, gemigreer. Robert Wood, ʼn belastingspesialis wat vir Forbes skryf, sê ofskoon heelwat mense Kalifornië vir ʼn goedkoper leefstyl verlaat, is dit geen verrassing nie dat belasting ook ʼn groot rede is.

Reuters het ook in 2016 berig Kalifornië het bykans $1 miljard se belasting minder geïn in die laaste boekjaar as wat verwag is, weens belastingbetalers se uittog. Menige tegnologiese start-ups en bekende besighede het oor die afgelope paar jaar besluit om hulself in Texas te gaan hervestig om sodoende Kalifornië se hoë belasting vry te spring.

Die hoë verkoopsbelasting lei ook daartoe dat arm gesinne in relatiewe terme disproporsioneel baie meer van hul inkomste bestee op goedere en kos vergeleke met ryker huishoudings. Kalifornië straal dus ʼn progressiewe beeld uit, maar in die praktyk tree dit heeltemal anders op.

Daarbenewens sal die demografiese trajek ook beteken ʼn onafhanklike Kalifornië se amptelike taal sal waarskynlik uiteindelik Spaans en nie Engels nie wees. Kalifornië se misdaadsyfer is ook ontsaglik hoog weens die staat se laksheid teenoor misdaad, onwettige immigrante en straf. Ná ʼn paar dekades se afname in geweldsmisdaad, het misdade soos gewapende rooftogte, verkragtings en moorde ʼn sterk toename getoon oor die laaste twee jaar. Die moordkoers het byvoorbeeld in 2015 met dubbel die nasionale gemiddeld geklim.

Amerika sal dus aanvanklik armer en kleiner wees sonder Kalifornië as een van sy state, maar weens die ideologie en aard van die Goue Staat gaan dit myns insiens Kalifornië se verlies en die VSA se wins wees as Kalifornië afstig.

Mense uit die middel- en hoër klasse, sowel as hordes besighede, sal in hul miljoene terugtrek Amerika toe en veral na plekke soos Nevada en Texas, om regressiewe belastings en misdaad vry te spring.

Dit sal vreemd wees om byvoorbeeld te sien hoe die Hollywood-teken iewers in die Nevada-woestyn, eerder as in Beverley Hills, pryk. Maar dit is heel moontlik, want Hollywood wil so maklik en goedkoop moontlik flieks skiet en versprei. Amerika as staat sal tewens minder oor onwettige immigrasie bekommerd hoef te wees, omdat Kalifornië nie meer mense bloot oor internasionale grense laat loop nie.

As Kalifornië ernstig is om af te stig, moet Amerika dit oorweeg om die naelstring te knip. Daar sal wel met voete en geld gestem word oor welke reëls en land die beste is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

As jy Amerika ken sal jy weet dat dit net tot verdere chaos sal lei. Dis is Mexiko se plan en hy sal dit dadelik geannekseer weens die oormassa eie onwettige werker daar. Dit is juis ook hoekom hulle wil afstig; hulle wil nie huistoe nie. Groot geld is bele in Kalifornie se akademiese/landbou/wynbou-aktiwiteite so ook in die film/intel-bedryf. Die klimaat is van die beste in die VSA en die vulkaniese grond is vrugbaar en… Die Demokrate het hul arms oopgegooi vir vreemdes vandaar die toeloop maar die VSA-regering sal nooit die’ deel van sy land aan arrogante onwettige immigrante afstaan nie.

chrisp ·

Ek dink die meeste Amerikaners buite hierdie liberale nes sal ook stem dat hulle moet afstig.

Ek sou.

Rynhardt ·

Hollywood en kie. word deur die C.I.A gebruik in sy ontevrede-veldtog wat teen pre.Trump gemik is.Hollywood en die C.I.A. het nie hul sin gekry met die oorlogsugtige Hillary Clinton nie.Vir jare het die liberale gesorg dat presidensiele kandidate gekies word vir die nuwe wereldorde om oorlog te maak.Hollywood is uitvoeling met die werklikheid en het homself in n borrel van permanente ontkenning omring!Kalifornie sal nie op sy eie kan oorleef sonder regeringshulp nie.Sal nes die res wegsak in n skuld-moeras en ellende!

Johanna Botha ·

Kan die Wes Kaap nie dink om aftestig van die res van SA …kan dit dalk werk ?

Paul ·

Daar is ‘n verandering van definisie van verkragting gewees in Kalifornië wat die definisie verbreed het wat in 2014 se data gedeeltelik gereflekteer is, en in 2015 se data ten volle. Dis dus nie verbasend dat die getal verkragtings toegeneem het nie.

Ander geweldsmisdade het ook in die afgelope paar jaar toegeneem in Kalifornië, maar die uitskieter-toename van verkragting was weens die veranderde definisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.