As mens alles verloor

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Party dae het mens nie woorde nie.

Dis die dae wat die goed wat om jou gebeur, soos klippe in jou bors gepak word. Tot dit so swaar is dat dit voel of jy nie kan regop kom nie.

Dis die dae wat jou vingers lank stil lê op jou rekenaar se sleutelbord. Wanneer selfs jy, wat geseën is met die vermoë om goed in woorde te kan sê, regtig nie die woorde agtermekaar gesit kry nie.

Vroeër hierdie week bel een van my Maroela-kollegas vroegoggend – dis nog donker buite. Ek kan eers nie hoor wat sy sê nie; haar woorde maak nie sin nie. Dan verstaan ek: Hulle huis het afgebrand in die nag.

Later stuur sy  foto’s. Daar is regtig niks oor nie.

Ek dink hoe ek soms ligtelik in ’n geselskap opmerkings maak oor wat ek sal red as my huis afbrand: My man, kinders en honde, natuurlik. En dan sal ek my klavier – ‘n erfstuk – voor my uitstoot. En ek sal my foto-albums (wat ek getrou elke jaar byhou) onder my arms vasknyp en op my kop balanseer.

Toe sy my donker-oggend bel, was sy nog nie seker of haar man en haar honde veilig is nie. Later het sy laat weet: haar klavier is daarmee heen. En haar viool. En hulle foto’s. En nog ’n klomp ander goed wat geen versekeringspremie kan dek nie.

Net twee weke of wat gelede bel ’n ander kollega my op ’n Sondagoggend: Haar skootrekenaar is uit haar motor se kattebak gesteel. Twee dae later, nog ’n kollega: Daar was ’n inbraak by sy huis; hulle televisie en sy skootrekenaar is gesteel.

Verlede week – ’n ander kollega met ‘n potblou oog en skewe kakebeen by die werk ná ’n padwoedevoorval.

Netnou vertel ’n ander spanlid, bewerig: Sy het nou net met haar man gepraat. Hy is pas beroof. Nie seergekry nie, dankietog.

’n Ander kollega is pas terug van ’n tydjie verlof. Sy ma is oorlede. Heeltemal onverwags, en kort nadat sy pa ’n paar maande gelede oorlede is. Hy en sy broer en susters het die huis gaan uitsorteer. Goedjies uitgedeel, besluit wie hou wat, boeke gaan aflaai, klere weggegee, skoongemaak. Dit tref hom later: Hy het nie meer ’n pa wat hy kan bel om raad te vra nie. Of ’n ma wat vir hom bid nie.

Gistermiddag wag my seuntjie vir my in die oprit toe ek by die huis kom. Staan met sy lyfie styf teen myne toe ek uitklim. Hy het nie die krieketspan gemaak nie. Druk sy gesiggie in my trui in.

Woensdagaand woon ek Aardklop se 2018-programbekendstelling in Johannesburg by. Ons kuier lekker. Ek staan met Jannie du Toit en gesels; ons praat oor ons ouer, ervare Afrikaanse kunstenaars wat nie genoegsame publisiteit in die media kry nie, ten spyte van die ongelooflike werk wat hulle doen. “Jy sal iets moet doen om die media se aandag te trek – sing Die Stem of iets,” spot ek. Nee wat, sê hy; dis nie sy tipe ding nie. Hy groet, stap uit na sy motor.

Minute later is daar ’n oproerigheid in die straat. Die deure word gesluit; ons kyk deur die glasdeure buitentoe hoe polisiemotors se ligte in die straat flits. Iemand help vir Jannie na binne. Sy denim is nat van die bloed. Iemand het hom met ’n mes bygekom, hier buite. Net sy selfoon is gesteel, dankietog. En omstanders het die aanvaller vasgetrek en aangehou tot die polisie gekom het.

Vanoggend, my huishulp; stil in die kombuis. Ek maak vir haar koffie om haar hande warm te kry. Sy kyk weg toe ek vra wat fout is. Later vertel sy: Haar sussie se dubbele mastektomie gister, nadat sy met borskanker gediagnoseer is, het toe goed afgeloop. Sy moet chemo kry, een keer ’n maand. Maar ai. Sy is ’n vrou.

Ons moet moed hou. Ons – Maroela – wil hoop skep; deur hoe ons stories aanpak, hoe ons berig oor die realiteite in ons land, hoe ons eties met inligting en met mense omgaan. Ek kan nie negatief wees nie. Veral nie in ’n redakteursbrief nie.

Maar met hierdie groot knop wat nou in my keel sit, wil ek vandag sê: Ons verstaan. Hierdie is nie net ons realiteit nie. Dis joune, elke dag. Soms is ek die slagoffer van ons land en sy probleme; soms is dit maar net eenvoudig die lewe wat met my gebeur. En soms is jy die slagoffer, of die een wat getref word deur die lewe. As ons mooi goed skryf hier op Maroela, positief bly, die ligstraaltjie in ’n hartseer storie soek, seker maak ons dek elke kant, dagstukkies publiseer, moed inpraat, ons seëninge tel, beteken dit nie dat ons nie verstaan nie.

As jou bors vol klippe is, kom vertel ons, en dan huil ons saam tot dit ligter word. En dan staan ons op en ons probeer weer, al is dit eers môre.

Hierdie goed gebeur met ons ook.

Groetnis

Susan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Marelue ·

Soos ek nou hier skryf is my data amper klaar. Dit was nog my een vasklou hoop dat ek darem mense kon bereik. Ons het ook alles verloor man sy werk huis meubles niks kos nie en toe tref die ongeluk ons nog meer . Man raak siek maande van angs en wag vir hospitaal afsparke hoor ons hy het chronhs. Met chemo pille en siek wees kry ons geen werk geen inkomste nie. Ek klou vas aan my Vader soos n drenkeling. Mag die Vader ons almal help uit die ellende want ek het nie meer krag nie.

*dri**n ·

Ek was 3 weke by n nuwe werkgewer gewees en het gister n dissiplinêre verhoor gehad. Dis moeilik om met n besigheidseienaar saam te werk as jy nie weet in watter bui sy by die werk gaan opdaag nie. Mens weet wanneer jy by n plek gaan inpas of nie, en of jy daar wil werk of nie. Ek het skuldig gepleit op die aanklagtes en ons paaie het geskei. Ek is 54 en manlik, en die ekonomie is stram. Maar soos Susan se, ons staan op en probeer weer, al is dit eers more.

Sannie ·

Dankie, Susan, dat julle weet en verstaan!..My lewe loop ook afdraande en ek kan niks daaromtrent doen nie!.. Kyk net op, dis al..

Em ·

Dankie Susan. Ek werk al 5 jaar saam met iemand wat in een dag al vier seisoene is. Dit is moeilik. Sy kraak my gereeld af. Ek dink dit is deur ek een van die ouer garde is en ons was mos verantwoordelik vir alles wat verkeerd loop in hierdie land. Maar, ek moet elke dag opstaan, gereed maak en werk toe te kom want ons het my salaris nodig. Dit is net die wete dat God al hierdie dinge sien en my die krag gee om vorentoe te kyk elke oggend en se Dankie Vader, ek het n inkomste, n plekkie om my kop neer te le saans. Ek my Here is gelukkig.

J O H A N N E S !!! ·

SHALOM!
SUSAN,Vir jou en jou span en ALMAL
Wat aan hulle verbind is.
SHALOM.!

M ·

Gister was hier ‘n groepie – uit ‘n plek van veiligheid – kindertjies (almal so tussen 4 & 6) by my werkplek. Ons het hulle bederf met ‘n lekker gesonde ontbyt, speelgoedjies, swieties as deel van die bewusmaking in SA om GOED te wees vir ander en om GOED te doen vir ander. Ek staan so en kyk na elke gesiggie, elkeen onbewus van die realiteit waarmee hulle die lewe ingaan. Hulle is net KINDERS – vernielde ontspoorde onwelkome verguise KINDERS in ‘n samelewing wat net GIF versprei. Hoe bring mens GOED en KWAAD bymekaar uit? Hoe kan jy GOEDGUNSTIGHEID betoon and ander wie se harte donker en vol gif gevul is? En dan besef ek – Deur GOD, want GOD IS LIEFDE! Elkeen wat dit in sy/haar hart dra, het ‘n onmiskenbare verantwoordelikheid en purpose om daardie liefde te betoon, te leef en te laat voortleef, no matter what! Al is jy die slagoffer van watter aard ook, God se opdrag aan ons elkeen is om LIEFDE te betoon, en met daardie liefde, is ENIGIETS moontlik! Dankie Susan, dat jy Maroela Media gebruik om mense se harte sag te maak, mense te bemoedig, en ook so die WARE liefde te verkondig. Wees geseënd in als wat jy doen, jy is ‘n SUPERVROU!

iemand ·

Voel laaste ruk of hope klippe op my lê. Want dit is sleg as jy niks, vir mense wat baie na aan jou is, wat finansieel swaar kry, kan help nie. Skuus julle, maar sal verder bystaan in my gebede!!!!

Lucy ·

Terwyl ek deur Susan se brief lees, dink ek aan die klippe wat swaar in my bors rus. Ek is geskei met twee pragtige dogters, 13 en 8 jaar oud. Elke dag sien en hoor ek wat in die land aangaan en ek het hierdie oorweldigende vrees binne in my, wat gaan word van ons kinders? Watse toekoms het ons almal in hierdie land waar geweld deel van ons daaglikse bestaan is?

My kinders het nooit die voorreg om soos ek in my kleintyd buite in die straat saam die bure se kinders te kan speel nie, sonder vrees vir iemand wat jou gaan aanval en beroof of nog erger.

My jongste is so talentvol, maar weens pappa wat so min as moontlik onderhoud wil betaal, kan sy nie meer deelneem aan karate en dans klasse waarin sy presteer het nie. Sy wil so graag Wit Jassie wetenskap klasse vat maar die kostes is te veel. Nog een rots swaar in die bors – die behandeling wat mammas kry by die hof as daar oor onderhoud gepraat moet word. Pappa kan R5500 per maand op sy nuwe Ford Ranger bakkie betaal, en as hy dan nie eens twee derdes van sy bedrag onderhoud kan betaal nie trek onderhoudsbeampte net skouers op as ek vra – hoe moet ek vir alles uit my salaris betaal?

Maar ja, ons hou moed, bid en glo elke dag dat dinge vir ons almal sal beter word in ons pragtige land….

Peet ·

Lucy, dis slegte nuus van so ‘n nikswerd pa. Wat sê die kinderhof? Daar behoort hy goed opgeskroef te word.

Bren ·

Dankie! Jy is so n dinamiese vrou; ek bewonder jou. Maroela is bobaas; en ja julle span is inderdaad briljant!

Jana ·

Dankie Susan.
Vir die hoop en perspektief.
Ek is n boer se vrou. Ons bestaan is nou een van ‘altyd paraat wees.’
Ons kuier nie meer buite nie. Ek kom nie meer in die tuin nie. Ons kinders kom minder kuier, want dis gevaarlik op die plaas.
Ons lewens het verander.
Maar ek lees daagliks van mense wat n erger stukkie realiteit het as ons. Mense wat met soveel erger moet leef.
Mag ons elkeen nog n stukkie werklikheid behou waarvoor ons wel kan dankie sê.

Pierre ·

Die najaar, met sy nuwe gras,
Met reën wat bult en vlakte was,
Met milde koelte wat die brand
Van somerdroogte deur die land
Versag, en oor die wingerd strooi
Die afvalblare ysterrooi
– Pontak se rou wat sonder traan
As treur vir somersaftrek staan –
Die najaar wat die lelieblom
Laat blaarloos bloei op leegtes, kom.

Babs Brouwer ·

So hartseer EN bemoedigend al die boodskappe! Vanoggend se boodskap op Pretoria FM was wat Christus gesê het voor sy kruisdood en opstanding en hemelvaart:”hou goeie moed, wat Ek het die wêreld oorwin” Mag dit vir almal met die “klippe op die bors” tot troos wees. Lied 601: “die wat die Here wil dien, hul het ‘n nuwe toekoms.Swaarkry vir altyd verby, God laat hul vreugde sien. Stil maar, wag maar, alles word nuut….”

Martha ·

55jr oud word ingeroep ek is retrench. Ek is n weduwee en kon nog nooit voorbereidings maak vir polisse nie, want ek is dankbaar kan verblyf betaal en petrol werk toe ook leef vir die maand! Wat nou? GELOOF EN GELOOF!!!

Andrea ·

My man is Desember oorlede. Hy laat my en 2 tieners agter. N Seun en n dogter. Ons het almal nou baie emosionele issues en is heeldag in trane. As n ma weet ek nie meer watter kant toe nie. My anker is weg,maar ek bly op my knieë ,want ek weet Jesus sal my nie los nie.

Koos ·

Dis net so onvanpas om ‘n Aardklopbekendstelling in Johannesburg te hou as om die Macufe-fees se bekendstelling in Orania te hou. As dit in Potch of Pretoria gehou was tussen Aardklopondersteuners het Jannie nie deurgeloop nie, punt.

bren ·

Koos? weet nie wanneer laas jy in Pch was nie? selle poerieng net n ander sous; gebeur daagliks hier ook.

Penellope Jones ·

Ai, hartseer en verdrietige dinge wat met mens gebeur!
Dinge wat mens se hart omkeer en deurmekaar maak!
Die gewaarwording dat daar oraloor So baie seer is!
Wat my tog opval is die moed, die veerkragtigheid om wel te kan aangaan, hoe erg ookal is die skok , hoe seer ookal, al neem dit Hoe lank.

Amber ·

Dan kla ek as my toilet gebreek het. Sterkte aan julle almal hier bo wat die swaar klippe op hul bors moet dra. Mag God aan diegene n uitkoms gee.

Wouter ·

Om die fisiese te verloor is die minste, eiendom, wêreldsgoed, maar om jou siel in Guantanamo-baai se tronk te verloor, jou selfrespek, afgebreek, gewoondgeraak om uitgerek dood te gaan. Kyk elke oggend met glasigheid oor die mistigheid van die dorp, hoor nie eens meer die voëls roep, in afwagting van die hemel, 10 miljoen ligjare weg.

Johan Oosthuizen ·

Menselled is onbeskryflik, onmeetbaar, ondenkbaar, onverstaanbaar. Geen mooiwoordesalf sal ooit help nie. Die hoof van ‘n organisasie wat bystand verleen aan Christene wat ly in lande waar hulle tot die dood toe vervolg en gemartel word. Hulle vra hoofsaaklik gebedsondersteuning, Vreemd, maar die vervolgdes vra nie dat ons sal bid dat hulle lyding beëindig sal word nie, maar dat hulle tot die dood toe sal VOLHARD en dan beloof hulle om te bid dat ons sal VOLHARD. Die verskriklike leed kan nie verstaan word nie, kan nie weggepreek word nie. Ons moet mekaar vashou en bemoedig om in geloof, HOOP en liefde te volhard tot die einde toe want hulle wat volhard tot die einde toe, sal gered word. Iewers wag iemand vandag vir my om ‘n verkil te maak – mekaar se laste te dra …

Wonder hoekom ·

Meer as 2 jaar lank werk ek saam met iemand wat ek, en baie ander, probeer verstaan. Om een of duistere rede kom ons net nie regtig oordie weg nie. Nie seker of dit jaloesie en of dit n narsisistiese streep in haar is nie, maar sy het my uitgesoek om my te kritiseer, blameer, verneder, ignoreer of net te maak of ek nie bestaan nie, en nog minder enige vorm van erkenning te gee: of ek verjaar presteer net probeer, harder gewerk of siek of weg is; so asof sy wens ek het eerder nie bestaan nie. In haarself is sy nooit verkeerd nie en het sy selde n goeie woord oor enigiemand of iets. Kan iemand troos in haarself kry deur die lewe vir almal te probeer reël en septer swaai soos dit haar pas? En elke dag haar sin kry by die werk of tuis! Wonder net van alle kante hoe so n persoon dit regkry om almal te manipuleer soos dit haar pas en watter genot sy daaruit kry….haar lewe lank?

Maria ·

Ek stem saam met ander GELOOF en HOOP en LIEFDE bestaan ..dit werklik!! Ek ook alles verloor….maar Here voorsien ,beskerm en genade vir ons. Die geheim is wees Lief met jou hele HART, SIEL , VERSTAND en jou KRAG vir HERE dan sal julle sien en verstaan….Aardbesitting betkend niks soos sand wat deur wind weggewaai word.

JAN ·

Na die aller vreeslikste beleg van Leningrad het slegs 9000 van die 900000 duitse troepe huis toe gekom. Toe skryf Muzorkski musiek vir wanneer daar nie meer trane is nie.
En in Sarajevo het ‘n eensame tjello speler op straat gespeel terwyl skerpskutters op spelende kindertjies teiken. Dit was uiters effektief een die malligheid.
Dan dink ek aan die dowe Beethoven se asemrowende 9de simfonie : ‘ Huldeblyk aan die Vreugde” en sooo baie ander….

Wanneer daar storms in die natuur kom dan vlug al die diere na die hoogtes.
Waarom bly julle / ons mense op die vlaktes agter en kruip in gate en vlug nie ook na die berge nie waar God is?

JAN ·

Mag ek Herman Charles Bosman se beste in Engelse letterkunde aanhaal :
vertaal: Toe die Boer na die ABO weer op sy verwoeste plaas sy vrou ontmoet, nadat hy 4jaar op kommando die allervreeslikste ontberings oorleef het; en sy na 2 jaar in die Konsentrasiekamp al hule kinders verloor het ; – het hy tot die vreeslikste ontnugtering gekom dat hy nooit die oorlog gesien het nie….
Jeremia 31; 15-22

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.