As ‘njet’ eintlik ‘da’ beteken

donald-trump-001-deur-gage-skidmore-flickr

President Donald Trump. Foto: Gage Skidmore/Flickr.com.

Een van die gevolge van pres. Donald Trump se oorlog teen sekere media is dat die nie-goedgesinde media hom en sy medewerkers nou met ’n valkoog dophou. Op die internet kan ’n mens behoorlik kies en keur welke publikasie se dagboek oor kontak tussen Trump se medewerkers en senior Russiese amptenare ’n mens wil gebruik.

En terwyl van hierdie kontakte heel in die haak blyk te wees, soos om ’n vergadering tussen Trump en pres. Wladimir Poetin solank te begin skeduleer, werp die Trump-administrasie se aanvanklike ontkennings oor dié kontakte ’n negatiewe beeld oor die hele affêre. Die aanvanklike “njet” oor kontak moes dikwels na die nodige bewyse getoon is, teensinnig na “da” verander word. In een geval het al 17 Amerikaanse intelligensiedienste saam bevestig dat so ’n kontak wel plaasgevind het.

Die vyandiggesinde media hoef hulle nie lank te verknies het oor wat om te maak met Trump se meesterlike toespraak voor die Amerikaanse kongres nie. Die Trump-Russiese verbintenisse het gesorg dat daar ’n ander stukkie vleis rondhang om die tande in te slaan.

Trump self het by geleentheid Poetin se stert geprys. In die VSA werk dit egter nie so goed nie, want peilings toon dat meer Amerikaners Rusland as die groot gevaar beskou, eerder as China.

Intussen het dit nou die koppe van Trump-vertrouelinge laat rol. Die eerste groot kanon wat ingeplof het, was lt.genl. Mike Flynn, Trump se veiligheidsraadgewer.

Nou lyk dit ook of die pas aangewese prokureur-generaal, Jeff Sessions, in die slag kan bly. Hy het onder meer kluitjies gebak in sy ondervraging in die kongres oor kontak met die Russe. Sessions het hom ook pas verskoon van enige ondersoek wat ingestel kan word na beweerde Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesingsveldtog.

Oor hierdie inmenging het Trump self ook bontgepraat, deur aanvanklik te midde van oorweldigende bewyse te ontken daar was so iets, en dit later tog toegegee het, maar volgehou het dit het nie die uitslag van die verkiesing bepaal nie.

Die aandrang op ’n onafhanklike ondersoek na die beweerde Russiese bande met die Trump-administrasie word nou nie net deur Demokratiese kongreslede gesteun nie, maar ook sommige Republikeine. So ’n ondersoek kan die Withuis maande lank lamlê.

Aanvanklike aanduidings en uitsprake van Trump oor nouer samewerking met Poetin en Rusland het gou onder druk gekom. Die VSA verwag steeds van Rusland om by die Minsk-ooreenkoms oor die Oekraïne te hou, en Trump verwag van Rusland om hom aan die Krim te onttrek.

Rusland het gereageer deur op die oog af die Koue Oorlog weer voluit te hervat. Russiese TV-stasies het opdrag gekry om minder dikwels na Trump te verwys en spaarsamig om te gaan met lof vir Trump. Verskeie militêre stappe is hervat.

Volgens Rasmussen se jongste peiling is 52% van die kiesers tevrede met Trump se vertoning. Diegene wat bitter ontevrede met hom is, is egter effens meer as die wat baie tevrede met hom is.

Dit gaan klaarblyklik nie ’n vervelige presidentskap wees nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

DewaldS ·

Ek ken al die reuk en klank van mense wat begin vreesagtig raak. Al hierdie molshope waarvan berge gemaak moet word – kyk, daar is net een logiese verklaring – daar is ander dinge wat weggesteek moet word. Julle media-mense kan maar probeer net wat julle wil – dit gaan nie werk nie. Die wêreld het verander en solank inligting beskikbaar is sal die waarheid altyd langer bene as halwe waarhede en onwaarhede hê.

JC ·

Sessions het niks verkeerd gedoen nie en gaan nie in die slag bly nie. Hy het absoluut nie meineed gepleeg nie, maar hoe meer dit verduidelik word, hoe meer vasberade raak die demokrate en media om hom swart te smeer. Miskien moet die skrywer hiervan na meer onpartydige nuusagentskappe soek en nie op CNN, ABC, NBC en kie nie, wie se gelofwaardigheid by die deur uit is. In elk geval is daar al hoeveel keer benadruk dat niks buite die ordinere of iets verdags tussen President Trump en die “spook” Russe gebeur het nie. Wat nou egter uitkom is dat as gevolg van al hierdie “blowing smoke up the chimney” sameswerings teoriee, Obama in die moeilikheid is omdat sy agentskappe hul magte oorskry het en ongrondwetlik opgetree het. Nou is die media ewe skielik stil oor die Russiese “conspiracy theories” omrede voormalige Pres Obama nou geimplikeer word en verdag gemaak is.

Wern ·

Hoe gaan die ou gesegde nouweer, as jy iemand wil slaan sal daar altyd n besem of stok gekry kan word, so iets.

Pietman ·

Waaroor die bohaai? Nou wat as Rusland Trump ondersteun het? Saudi Arabië ( wat ‘n vrot vroue en menseregte geskiedenis het ) het openlik Hillary ondersteun met $20 Mijoen . Skryf bietjie meer oor Obama wat Trump afgeluister het tydens sy veldtog.

JC ·

Hey Pietman, ja dis absoluut belaglik wat die linkses in Amerika probeer en hoe ver hulle sal gaan om hul siek agenda te probeer bevorder. Slegte nuus vir hulle, hulle gaan nie slaag nie, vervreem net die VSA man- op- straat verder, en ook konserwatisme is aan’t groei in die VSA. Wens net Europa kon wakker skrik; Brittanje het reeds; maar hulle is blykbaar bestem vir die asblik.

Herman Toerien ·

My nuuskommentare vir Pretoria FM is vir Maandagoggende bedoel. Ek moet dit dus voor Vrydagmiddae om 12:00 indien vir opnames ens. Weens die lang tydsverlop probeer ek dit so tydloos as moontlik skryf, wat dan ook die onderwerpe waaroor geskryf kan word beperk. Die tydloosheid het dan weer die voordeel dat Pretoria FM dit later die week, bv die Vrydag eers, uitsaai, en dit dan eers die Vrydagmiddeeg hier gesplaas sal word. Soms gebeur die onvoorsiene egter dat iets nuuswaardigs gebeur, of nuus wat “weggsteek” was uitlek, en ‘n ander perspektief op die stuk gee. Dit is dan verstaanbaar dat die skrywer van die nuuskommentaar van selektiewe feite-aanwendig beskuldig kan word, terwyl dit glad nie die geval was nie. Vir hierdie stuk is, terloops, nie een van die bronne gebruik wat ‘n leser hierbo genoem het nie. Ek gebruik hoofsaaklik die Christian Science Monitor, Trouw en De Standaard, en verder Googe ek om seker as moontlik te maak dat ek nie fopnuus gebruik nie.

Nico K ·

Volgens die Trump ondersteuners is Trump pro- nasionalisme. Maar Putin is anti-nasionalisme, want nasionalisme onder al die minderheids groepe in Rusland is ‘n groot bedreiging vir die land. Ek verstaan nie die talle Afrikaners se steun vir Rusland nie. Rusland kan vergelyk word met Imperialistiese Engeland in 1900 en die ander minderheidsgroepe in Rusland met die Boere.

Paul ·

Dis ietwat van ‘n drogredenasie as jy ‘n historiese blik daarop neem, Nico K.
Vat byvoorbeeld ‘n land soos Frankryk. In die tye van die Valois- en Bourbon-huise is Franse nasionalisme voorgestaan en uitgedra. Tog was daar nie werklik iets soos ‘n “Franse” nasionale identiteit nie – min mense se groepsidentiteit was “Frans”, maar mense het eerder met hul streeksidentiteit en streekstaal geassosieer. Heelparty van die Hugenote wat hierheen gekom het, kon nie eers behoorlik Frans praat nie, aangesien hulle Bretons of Ossitaans of Katalaans of Arpitaans, ens. gepraat het. Dit was werklik eers met die Revolusie en die brutale regime wat daarop gevolg het, dat ‘n Franse identiteit suksesvol afgedwing is.
Die Revolusionêres (en ook die latere konings net voor die revolusie) het tereg die streeksidentiteit en streekstale as ‘n bedreiging gesien, en het dus aktief een enkele nasionale identiteit met ‘n sterk Franse Nasionalisme voorgestaan.

Sien jy dalk enige parallele met Rusland?

Paul ·

Net vir duidelikheid – ek bedoel nie jou redenasie is ‘n drogredenasie nie, Nico.

Renier ·

Hulle gee nie regtig om of jy vir Manie Maritz of Mof Myburgh skree nie. Solank jy glo dat wat jy sien ‘n ware stoeigeveg is.

Cathy Kotze ·

Daar is deurgaans kontak tussen die Russe en Amerikaners. Hillary Clinton was die tussenganger toe ‘n Russiese mynmaatskappy die meerderheids aandele in ‘n Amerikaanse Uranium myn verkry het. Dit het gesorg vir groot Russiese bydraes aan die Clinton Foundation.

Bill Clinton is goed betaal vir sy hulp aan Russiese maatskappye, soos die $500,000 wat hy kwansuis vir ‘n toespraak in Moskou ontvang het.

Donald Trump het talle lande se ambassadeurs in die Trump Tower ontmoet tydens die oorgangsfase. Die Russiese Ambassadeur was geen uitsondering nie, maar slegs een van vele.

Die linkse media probeer ‘n vlam aanblaas waar daar nie eers regtig ‘n rokie is nie. Daar blyk nou bewyse te wees dat Barak Obama wel insae gehad het in private oproepe van mense in Donald Trump se binnekring.

Daan ·

Waarom gaan hulle so te kere ? Obama het nog steeds nie n geboorte sertifikaat nie en waarom word dit ook nie onsersoek nie. Iamand steek iets weg

Paul ·

Ai. Dis een van daai gevalle waar iemand net nie kan wen nie, né?
As die man die sertifikaat nie vrystel nie, dan skree die mense: “Wat het jy om weg te steek!?”
En as hy dit dan wel vrystel, soos hy in 2011 gedoen het, dan skree dieselfde mense: “Dis ‘n fake!!!”

Kan nie so stryd wen nie.

Nico K ·

Paul ek kan nie regtig oor die Franse praat nie. Is nie so goed bekend met hulle nie, maar die Franse het darem bankvas agter Napoleon gestaan in sy oorloë teen ander lande. Ek sien iets van ‘n nasionalisme daarin. Maar ons weet dat Rusland, veral voor 1990, maar selfs vandag nog uit talle nasies bestaan met hul eie tale. Daar het onlangs nog van hierdie groepe in opstand gekom omdat hulle nie deur die Russe regeer wil word nie. Ek weet van geen sulke opstande van minderheidsgroepe in Frankryk die laaste 200 jaar nie, en hul taal het beslis vereenvormig. Rusland is nie so groot omdat die Russe daai gebiede bewoon het nie. Hulle het dit bloot ingepalm. Beide Rusland en Oostenryk het nooit deelgeneem aan die koloniale wedloop nie en my mening is dat dit was omdat hulle kolonialisasie rondom hulle toegepas het.

Paul ·

Wel, daar kan vrae gevra word oor hoeveel die Franse werklik vir Napoleon gesteun het, aangesien Napoleon homself tot alleenheerser en keiser verhef het en enige opposisie brutaal gesmoor (dikwels letterlik vermoor!) het. Hy het ook geen vrye media geduld nie – in 1811 was daar slegs vier koerante in Parys oor, en hulle het almal net Napoleon se stert geprys en amptelike persverklarings gepubliseer.
So dis redelik moeilik om te weet hoeveel steun hy werklik in Frankryk gehad het, aangesien enigiemand wat hom nie gesteun het nie, baie bang sou gewees het om so te sê.

Wat opstande van minderheidsgroepe in Frankryk betref, wat van die Baske? Hul terroriste/vryheidsvegtersgroep ETA het in 2008 nog aanvalle op Franse grond uitgevoer.

Theresa ·

Dit sal nie ‘n gewone presidentskap wees nie, want die man is ‘n hoogs suksesvolle besigheidsman wat nie impulsief optree nie, maar ook nie jare sit en openlik slaap wanneer gesprekke gevoer word wat impak op sy land gaan hê nie. Hy giggel GLAD nie oor landssake en goed wat saakmaak nie. Natuurlik sal hy ook nie almal se guns wen nie – dis onmoontlik – maar solank hy vas kan staan vir dit wat reg is, kan hy maar weet hy sal baie kritiek moet hanteer. Die hoogste boom ….

Paul ·

Wat die Russe en kolonisasie betref – wat van die Russiese Ryk? Net omdat die Russe nie na Afrika gevaar het met skepe nie, beteken nie dat hulle nie koloniale uitbreiding gehad het nie.
Omstreeks die jaar 1400 was “Rusland” slegs ‘n gebied rondom Moskou . Hulle het toe suidwaarts, noordwaarts en ooswaarts begin uitbrei, onder Ivan (die Grote) III en Ivan (die Verskriklike) IV en Novgorod oorgeneem
Eers teen ongeveer die middel tot laat 1800s het die Russiese Ryk die area gedek wat later die Sowjetunie geword het, en onder die VSSR het die gebiede uitgebrei, veral in Sentraal-Asië en ook, deur middel van sterk invloed, in Wes-Europa (hulle besit steeds Königsberg en Karelië en dele van Pole en Belarus) en in Afrika en Suid-Amerika.

Onthou ook, selfs voor die VSSR het die Russe wel in Amerika ‘n kolonie gehad. Dit was amptelik ‘n kolonie, en het die naam “Russiese Amerika” gedra. Deel daarvan was Alaska, wat later aan Amerika verkoop is, maar min mense weet dat die kolonie eintlik so ver as Sonoma in Kalifornië gestrek het so onlangs as die 1800s. Daar is steeds ‘n groot rivier daar genaamd “Russian River”. Daar was ook ‘n poging tot kolonisering van Hawaii, op die Kauai-eiland. Ook in Afrika, waar Djibouti vandag is, was daar ‘n “nie-amptelike” Russiese kolonie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.