As ons gaan stem, soek ons waarde

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

In my vorige artikel op Maroela Media het ek ’n pleidooi gelewer vir die publiek om wel op 1 November in die plaaslike verkiesing te gaan stem.

Die redes is eenvoudig: Daar sal ’n raad in jou munisipaliteit na afloop van die verkiesing wees. Hulle gaan besluite oor jou dienste, belasting en in wese jou alledaagse lewe kan neem. Hoe daardie raad saamgestel gaan word, hang van ons af. In die metro’s is die politiek lankal meer vloeibaar en weens die lae stempersentasie in Suid-Afrika is baie landelike munisipaliteite ook vir verandering vatbaar.

Kortom, dit is baie makliker om die EFF-ANC-kabaal se korrupsie, grypsug en onbevoegdheid te beveg as hulle minder as 50% van jou raad uitmaak as wat hulle 80% daarvan verteenwoordig.

Dit beteken egter nie dat die opposisiepartye – en die EFF word by hierdie term uitgesluit – op hul louere kan rus en nie geldige redes verskaf hoekom ons vir hulle moet stem nie. Op stuk van sake is daar ook talle van hulle om van te kies en al is koalisies op sekere plekke ons voorland, behoort ons nietemin waarde vir ons stemme te kry.

Ek is tans besig om in dorpe en woongebiede praatjies te lewer oor onder meer die verkiesing en die politiek in die algemeen (veral wat munisipaliteite betref). Behalwe dat mense redelik verdeeld is oor om te stem al dan nie, is straks die meeste van hulle onseker vir wié om te stem. Baie van hulle weet net nie genoeg nie, terwyl ander weer ontnugterd met die partypolitiek is. Dit is deur onlangse navorsing deur Ipsos bevestig.

Vir wie om te stem is nie ’n besluit wat ek of enigiemand anders vir individue kan of behoort te maak nie, maar dis net vir my interessant om sekere tendense waar te neem. ’n Mens kan ook nie die publiek verkwalik nie, want behalwe vir sekere leidrade in nuwe en ouer manifeste (wat die meeste mense nie lees of eers van bewus is nie) en ook wie die leiers en plaaslike kandidate is, kry ons min deurlopende inligting oor wat hulle nou juis wil vermag. Nog minder hoor ons iets oor wat hulle al in die verlede reggekry het om jou stem vir hulle te regverdig. Daar is ook ’n reuseverskil tussen waarvoor jy staan en wat jy nou eintlik werklik vermag.

Eugene Brink. (Foto: AfriForum)

Weens die gebrek aan inligting oor prestasies en grootliks fier maar hol slagspreuke op plakkate, stem baie mense steeds vir partye waarmee hulle kultureel identifiseer. Daar is niks daarmee fout nie, maar partye moet ons darem vertel hoe hulle (hoe klein of groot hulle ook al is) reeds sukses met hul doelwitte behaal het en hoe hulle hul beloftes in die toekoms gaan nakom. Tydlyne, praktiese uitvoerbaarheid en ander meetinstrumente moet deel vorm van manifeste en planne. Myns insiens is dit nie genoeg om bloot aan te voer waarvoor jy staan nie. Jy moet ons vertel hoe en wanneer jy dit gaan bereik sodat daar ten minste ’n mate van aanspreeklikheid en meting van vordering kan wees.

Eerder as wat partye ons vertel wat húlle wil sien gebeur, moet hulle ons as kiesers raadpleeg oor wat óns wil sien gebeur en dan ’n plan aanbied. Geen party het my al as deel van navorsing genader om dit te doen nie, of ’n vergadering in my buurt kom hou om my steun te probeer werf nie. Ek sien hulle net op plakkate en dalk in die plaaslike media. Hulle is vreemdelinge.

Intussen is dit onvoldoende om gebeurtenisse en besluite in mediaverklarings te veroordeel of jou steun daarvoor uit te spreek. Om bloot op ’n sekere manier in rade te stem is ook ontoereikend. Partye moet begin om hoërorde-doelwitte (wat wel in hul uitlatings en manifeste neerslag vind) na te jaag en te verwesenlik. Sommiges het weliswaar al daarmee gevorder, maar ander bly in die hipotetiese arena rondspeel. Dis tyd dat beloftes tasbare realiteite word.

Ons as AfriForum is besig om op talle plekke met munisipale besture saam te werk om verval om te keer en dienslewering stukrag te gee. Die land se plaaslikeregeringuitdagings is te groot vir slegs die staat om op te los en gemeenskappe speel reeds ’n enorme rol om dienste te verbeter en te lewer. Ons is tot die politieke partye se beskikking, maar dan moet die wil en werk aan die dag gelê word om die uitdagings die hoof te bied.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Keelvol ·

Gaan nie stem nie. Mors van tyd. Die da doen absoluut niks.

Johan ·

Moet dan nie vir hulle stem nie, stem vir die party wat na jou luister.

Fritz ·

Vra maar vir enige party (jip, die VF en DA ook) n vraag via e-pos oor hul beleid, en jy kry n dawerende stilte. Nie eens erkenning van ontvangs van jou e-pos nie. So useless soos kan kom. Sooooooo…….soos gewoonlik sal ek dus nie gaan stem nie. Ek stem nie vir useless buksies nie.

Andre ·

Dit is soos jy sê, maar dit beteken nog ‘n stem vir die huidige regime. Is dit waarvoor jy staan?

Hendrik ·

Ons bly in ons eie gemeenskap en elke jaar kies ons lede om die gemeenskap te bestuur. Dit is vir my geweldig moeilik om vir iemand te stem net omdat hy iets belowe en met die wete dat hy regtig niks kan doen agv die masiewe oormag stemme. Vra hoeveel mense weet van die Demarcation Board wat die wyksgrense trek. Die wyke is so getrek dat geen minderheidsgroep ooit ‘n wyk gan wen nie maar altyd moet tevrede wees met ‘n proposionel sitplek in ‘n raad. Die Demarcation Board word deur die regering aangewys en hoe regverdig is dit nou eintlik?

Hendrik ·

Aan die anderkant van die verkiesingsmunt. Ons het ‘n eie selfstandige gemeenskap met eie water, krag, rioolering, vullisverwydering, welsynsdienste, sekuriteit, sorgsentrum, gemeenskapsaal, sport fasiliteite en kos die metro geen geld en hulle lewer ook geen diens. 500 huise, 1500 mense in die gemeenskap. Politieke partye en selfs bekende burgerregte groepe bied geen ondersteuning om die selfstandige selfbestuur te bevorder. Hoekom sal ons dan gaan stem? Eugene julle is welkom om ons te besoek en ons is nie ver nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.