‘As SA-skip sink, sink almal saam’

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus

Lees gerus dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, se repliek op pres. Jacob Zuma se staatsrede

Speaker,

In Noord-Ierland vra hulle wat ʼn brug en ʼn verraaier gemeen het? Die antwoord? Albei gaan oor na die ander kant. Ons het iets van daardie emosies in gister se debatte gesien.

In Noord-Ierland het hulle vir jare mekaar doodgemaak oor godsdiensverskille.

In België het taalverskille tot konflik gelei.

In Eritrea het etniese verskille tot ʼn burgeroorlog van 30 jaar gelei.

In die Franse revolusie was dit ryk teen arm.

Amerika het gereeld rasse-onluste. Maleisië en Singapoer het spesiale maatreëls om rasse-spanning tussen Maleisiërs, Chinese en Indiërs te voorkom.

In die lande hierbo was een verskil tussen groepe genoeg vir konflik.

Suid-Afrika het al hierdie verskille in een land. Godsdiensverskille, taalverskille, etniese verskille, rykdomverskille, rasseverskille en talle ander.

Die geskiedenis leer dat een vuurhoutjie ʼn groot veldbrand in droë gras kan veroorsaak.

In ons geskiedenis het baie bloed gevloei in botsings tussen wit en swart, tussen wit en wit en tussen swart en swart.

Tans word die vuurhoutjies van rassisme orals in die droë gras gegooi.

Die probleem is dat meeste van die uitsprake veralgemeen.

Soos: “Alle wit mense is rassiste”; Of “Alle swart mense is misdadigers of korrup.”

ʼn Veralgemening is altyd verkeerd want alle mense is nie dieselfde nie.

As die ANC Lekgotla in ʼn verklaring sê “the black majority … believes that their attempts at nation building are rejected by the white minority” is dit ʼn gevaarlike veralgemening wat opsweep en mense in kampe verdeel.

As die president sê al die probleme in hierdie land het by Van Riebeeck begin, is dit ʼn rassistiese oorvereenvoudiging van ons ingewikkelde geskiedenis en ʼn veralgemening.

Dieselfde om te sê alle grond is gesteel. Die geskiedenis is net nie so eenvoudig nie.

Maar leiers moet die voorbeeld stel. Leiers aan alle kante. Leiers bepaal die trant van sulke debatte.

 

Wat sê die Vryheidsfront Plus?

Rassisme is ʼn baie ernstige saak wat onvoorwaardelik veroordeel moet word. Rassisme van swart kant of van wit kant dra die kiem om Suid-Afrika en alle verhoudinge te vernietig. Net so is veralgemening altyd ʼn fout.

Waartoe lei dit?

In Stellenbosch was daar ʼn koshuispartytjie met as tema die ruimte en sterre. Twee dames besluit om ruimtewesens voor te stel. Hulle verf hulle gesigte pers met blinkers oral oor hulle lyf. Dit lei tot ʼn rasse-uitbarsting op sosiale media; die dames word geskors en vir ʼn week lank deur die owerhede geboelie. Rassisme is die klag. Hoe belaglik.

Hier is ʼn foto van ʼn man in ʼn eetsaal by die Universiteit van Kaapstad. Op sy T-hemp staan “Kill all whites”. Dit is blykbaar nie rassisme nie; net vryheid van spraak.

Waarmee is ons besig? Die studente sal sê ons het die “plot” verloor. Persgesigte is rassisme en “Kill all whites” is debatvoering.

Hierdie man wil minister Derek Hanekom doodmaak net omdat hy wit is en so ook vir my.

Gabonthone Rampa is ʼn 21-jarige student van Madidi in Noordwes. Hy het tien onderskeidings in sy eerste jaar gekry. Hy kan geen beurse kry om met sy studie voort te gaan nie en skuld die universiteit R33 000.

Toe Chris Johnson, ʼn sakeman van Vereeniging hiervan hoor, het hy R150 000 geskenk om vir Rampa en nog twee studente te laat verder studeer. Johnson is wit en ken glad nie vir Rampa nie.

“Kill all whites”, beteken ook sakeman Johnson moet doodgemaak word. Hoe gek en gevaarlik.

Ons sien ekstremiste ook in hierdie raad. Robert Kennedy het gesê: “What is objectionable, what is dangerous about extremists is not that they are extreme, but that they are intolerant.”

Rasseverhoudinge in Suid-Afrika is nou slegter as enige tyd sedert 1994.

In ʼn toespraak in hierdie raad het president Mandela gesê dat die 1994 onderhandelinge geslaag het want “there are good men and women to be found in all groups and from all sectors of society, and that in an open and free society those South Africans will come together to jointly and co-operatively realise the common good” (10 Mei 2004).

 

Is dit nog moontlik?

In 1930 was daar ʼn depressie in Suid-Afrika en ʼn ekonomiese krisis. ʼn Regering van nasionale eenheid is gevorm om die land deur die krisis te kry.

In 1994 skryf die grondwet voor dat Suid-Afrika ʼn regering van nasionale eenheid moet kry om stabiliteit vir die oorgang te kry.

Die verslegtende verhoudinge in Suid-Afrika en die huidige ekonomiese krisis is baie ernstig. As SA tot rommelstatus (junk) verklaar word, gaan dit miljarde rande meer as die Nene-krisis kos.

“Met een vinger kan jy nie ʼn luis doodmaak nie,” is ʼn Swahili-gesegde.

Is dit nie tyd dat politieke leiers van alle groepe maar ook sakeleiers in Suid-Afrika saamgebring word in ʼn regering van nasionale eenheid om Suid-Afrika deur hierdie krisis te kry nie?

Onthou as die Suid-Afrikaanse skip sink weens rassekonflik of ʼn ekonomiese ineenstorting, sink ons almal saam.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

49 Kommentare

Oupa ·

Nope, dis net diegene wat saam óp die skip is, wat saam sink.

CE ·

Ek wens almal wil die stuk lees. Dis fantasties uit een gesit en ek glo nie daar is een wat dit beter kon stel nie ons mense ia te geneig om ons eie afleidings te maak en te oordeel ons almal is skuldig. Maar ek dink persoonlik dis tyd dat ons almal bietjie saam staan en ingryp die land van ons is oppad in die afgrond in

Michael ·

Waar woorde van ‘n goeie leier. My kruisie sal langs jou naam getrek word op stemdag.

Henry ·

Dankie Dr Mulder!
Wens u wil meer skryfsels op MM kom plak.
Sooo lekker om sinvolle, realistiese en innie-kol geskrifte soos hierdie te lese te kry.
Mnre Buys en al die ander leiers van die ‘Soliforum’ stal kan gerus ook meer dikwels van hulle laat hoor.

Doons ·

Puik,baie waar en sistematies.
Johan Rupert het op n keer gese;
Hoe skiet n mens n sebra dood? In die wit streep of in die swart streep?

Boerekryger ·

In hierdie flouerige gesanik is daar geen teken van enige aandrang op “selfbeskikking” nie, maar slegs die wens wat uitgespreek word aangaande ʼn “regering van nasionale eenheid om Suid-Afrika deur hierdie krisis te kry”. Wat het dr Pieter Mulder nou eintlik bereik nadat hy ook maar “na die ander kant” oorgegaan het met sy aanvaarding van die ANC se adjunk-ministerskap? Het die ANC as gevolg hiervan afgesien van hul grondroofbeleid?

Gwen ·

Boerekryger, ’n mens moet eers ’n leeu in ’n hok sit voordat jy hom kan beheer. Dit help nie ons dring aan op selfbeskikking by ’n regering wat niks van ons af wil weet nie. Dr. Mulder laat hom geld in die parlement maar hy besef ook dat ’n aandrang absoluut niks gaan vermag nie. Hoekom dring jy nie daarop aan nie? Stel jouself verkiesbaar vir die parlement en gaan doen jy ding. Jy sal gou besef dat jou aandrang makliker gesê as gedaan is. Jy is onrealisties en waansinnig as jy dink die ANC gaan vir die Afrikaner/Boer selfbeskikking gee.

Dr. Mulder het buitendien allermins oorgegaan “na die ander kant” soos jy dit noem. Gaan kyk maar na die persverklarings wat hy uitgereik het in die vyf jaar wat hy adjunk-minister was. Hy looi keer op keer die regering en die ANC. En hoekom sal hulle a.g.v. sy adjunk-ministerskap afsien van hulle beleide. Dit maak geen sin om so iets te verwag nie en demonstreer jou gebrekkige begrip van die politiek van die dag.

Boerekryger ·

@Gwen. Die blankes/Afrikaners gaan slegs selfbeskikking kry indien ten minste 10% van hulle bereid sou wees om eendragtig saam te staan ten einde dit te verwesenlik. Die kanse dat so-iets sal gebeur is skraal solank misleiers in politieke partye en kultuurorganisasies mense nié behoorlik inlig oor die ware oorsake en ware oplossing vir ons probleme nie. Die enigste blywende oplossing vir die meeste Suid-Afrikaners se probleme is onafhanklike volkstate vir die verskillende bevolkingsgroepe en nié alewige hofsake, aandrang op “groepsregte” of persverklarings waarin die ANC “gelooi” word nie!

Gwen ·

Boerekryger, ek stem saam met jou oplossing maar ek is realisties genoeg om te besef dat dit nie gaan gebeur terwyl ek asemhaal nie. Selfs al staan al die Blankes saam sal dit nie gebeur nie, wat nog van ’n skamele 10% wat saamstaan.

Die ding van die VF+ is dat dit die enigste party is wat ’n stem vir die Afrikaner/Boer in die parlement is. Niemand anders is daar vir ons nie. Wil jy dan liewer hê dat ons glad nie verteenwoordig moet wees nie? Die Afrikaanse spreekwoord ontgaan my nou maar “a chick in the hand is worth more than five in the bush” (of so iets).

Boerekryger ·

@Gwen. Maar is die VF+ werklikwaar ʼn stem vir die Afrikaner/Boer in die parlement indien hulle poog om blankes sover moontlik te oorreed om as “minderheidsgroep” deel te wees van die Suid-Afrikaanse “een-mens-een-stem” eenheidstaat? Is hierdie party se definisie van die woord “Afrikaner” soortgelyk aan Afriforum/Solidariteit se polities-korrekte, nie-rassige verstaan daarvan? Lees gerus Flip Buys se artikel, “Wie en wat is ʼn Afrikaner?”, in verband hiermee en vra hom sommer of daar ruimte is vir ʼn onafhanklike blanke volkstaat in hulle strewe na “selfbeskikking”…

Gwen ·

Boerekryger, my mening is dat die VF+ wel ’n stem vir die Afrikaner/Boer in die parlement is. Ek dink nie die party probeer voorskryf wat ’n “Afrikaner” is, of om ’n eng/breë definisie daarvoor te verskaf nie. As jy egter voel jy is ’n Afrikaner/Boer is die VF+ die enigste party wat jou daar gaan verteenwoordig. Die ander groepe was nooit daar nie (soos die KP), het gekwyn (soos die Nasionale Aksie) of wil nooit daar wees nie (te veel om te noem).

Ek is ook ’n voorstaander van selfbeskikking maar in die huidige bestel gaan ons dit nie kry nie, maak nie saak wat ons doen nie. My mening is dat die ANC wat dit vir ons kan gee, eers moet verstaan waar ons vandaan kom en waarom ons dit wil hê. Vir hulle om dit te verstaan moet hulle eers vertel word dat ons nie kwade bedoelings daarmee het teenoor hulle nie en dit is m.i. waarmee die VF+ tans besig is en ook behoort te wees.

Ek is gevolglik ook ’n voorstaander van waarmee die Solidariteitbeweging hom besig hou. Mnr. Flip Buys is een van die min denkers wat die Afrikaner het en ek het groot ontsag vir sy versiendheid. Dit beteken nie noodwendig dat ek met alles wat hy sê akkoord gaan nie, maar ons het meer meningsvormers soos hy nodig.

Reinhardt ·

Boerekryger, hoekom wil jy so graag n volkstaat he? Hoekom is almal so behep met selfbeskikking? Laat ek dit vooraf se dat ek baie daarvan sal hou as die Kaap-provinsies kan wegbreek van die res van die verskoning van n land wat ons het. Maar om te se jy soek n “onafhanklike blanke volkstaat” is belaglik. Ek het n eenvoudige rede hoekom ek nie van dit hou nie: Twee van my beste vriende is kleurling en praat Afrikaans, hulle is soos broers vir my en was saam met my in die koshuis. Twee van my ander twee beste vriende is moslem en Engels. Hulle werk saam met my en is albei baie intelligente ingenieurs. Nou volgens jou in jou “blanke volkstaat” mag ek nie meer vriende met hulle wees nie. Laat ek raai, ek moet seker dan Steve Hofmeyr ook begin luister? Die laaste punt terg ek net, maar eks seker jy verstaan wat ek se.

Boerekryger ·

@Reinhardt. Jy het ongelukkig die kat aan die stert beet met jou idee dat ʼn onafhanklike volkstaat noodwendig haat of onvriendelikheid impliseer teenoor mense van ander bevolkingsgroepe. Dit impliseer veel eerder respek vir ander mense se unieke kulture en hul pogings om dit te bevorder sonder die gedurige getwis met ander mededingende bevolkingsgroepe wat kenmerkend is van die geïntegreerde Suid-Afrikaanse “nasie”.

Jan ·

Die mandaat aan die Vryheidsfront in 1994 was ‘n Volkstaat. Iewers het hulle die pad byster geraak. Reinhardt, jy kry dit net nie. As jy met jou sogenaamde vriende wil vriende wees, is jy welkom. Doen dit dan buite enige Volkstaat verband. Wat verstaan jy nie? As jy nie deel van ‘n Volkstaat wil wees nie dan is jy nie.

Catryn ·

@Boerekryger @Jan – stem saam met julle oor ‘n soewereine gebied en dit was ook die VF se mandaat gewees, inderdaad iets wat nog nie gebeur het nie. Ironies dat swartes Tuislande behou het maar net ‘n naamsverandering ondergaan het waar miljoene etniese swartes steeds in hul TRUSTgebiede woon, CPA’s van regering en instansies kry, elke etniese stamme het hul eie gebiede, waar net hulle bly, sonder GRONDeienaarskappe, maar die blanke skuld kry vir al hierdie miljoene grond wat aan regering behoort. Ons menseregte word daagliks geskend, en wat doen ons? INDIEN die hordes TRUSTwette voorsiening kan maak vir afsonderlike gebiede, Ingonyama Trust het 9 gebiede in KZN, so het elke etniese groep tot hul eie leier/koning/koningin – het ons dieselfde reg tot soewereine gebied. Volkstaatraad is afgehandel en niks is verkeerd om artikel 235 van grondwet bewaarheid te maak wat ooreenstem met internasionale besluite, dat minderhede geregtig is om op alle gebiede hulself te regeer, AFRIKANERS, BLANKES, BOERE het dieselfde reg daartoe. Kyk na OASE gebied.

Catryn ·

@Boerekryger en @Jan
“Selfstandigheid” soos wat deur Solidariteit/Afriforum aanhou preek vir die mense, hou vir ons ons geen waarborge in teen Swart Bemagtiging (B-BBEE), onteiening, grondhervorming in nie. Ons besighede wat B-BBEE het, is reeds meerderheid swart mag en lankal nie meer eienaar van jou eie besigheid nie. Dit bied geen waarborge. Daarteenoor, soewereine gebied, soos deur artikel 235 bepaal duidelik wat is ons enigste waarborg. Dit stem ooreen met internasionale wette en regulasies.

Frans ·

Dit sal soos gewoonlik soos water van ‘n eend se rug afrol.Blankes is vir die rassistiese ANC
net so ongemaklik as vlooie op ‘n hond se rug,wat met ‘n poot afgekrap kan word en dan ‘n seer plek laat.Lastig maar nie dodelik nie.

StopTheMadness ·

Die stuk is soos appeltert en moedersmelk, dit is goed en almal hou daarvan. Maar wat nou? n Ligte stuk sonder werklike impak deur n beroeps-politikus.

Gwen ·

StopTheMadness, wat wil jy hê moet hy met sy toespraak vermag? Die volk oproep tot oorlog of Zuma en die res van die regering vloek dat die see hulle nie kan skoonwas nie? Watter impak stel jy voor moet dr. Mulder maak as die Afrikaner nie vir hom wil stem nie?

HEVW ·

Soos sy eie woorde:” n Gasbottel sonder gas.” Die probleem is Afrika verstaan nie hierdie taal nie. Nasionale eenheid beteken slegs dat die ander moet afsien van hul taal, kultuur,ens. en selfs van hul bestaansreg. in Afrika wil daar nie gedeel word nie. Noem n enkele geval die bereidheid om te deel. Al wat van belang is, is mag. Dr Mulder stel self hierdie kwessie aan die begin van sy repliek en weerspreek dit in sy verdere rede. Ja n wonderwerk van BO kan wel plaasvind.

Realis ·

Hier is lekker materiaal vir ‘n (lekker man lekker) debat.
Ek beskou Dr pieter as ‘n groot man alhoewel ek nie vir hom stem nie. Sy siening van hierdie sinkende skip is egter ‘n mite.
By die geringste teken dat ‘n skip ter see gevaar loop om te sink sien jy net rotte oorboord spring. Dit is ‘n ingeboude instink wat wetenskaplik onverklaarbaar is.
Sedert 1994 het Suid Afrika die grootste “brain drain” in mense heugenis ervaar.
Moet nou nie vir ‘n oomblik dink ek trek ‘n parallel tussen hulle en rotte nie, maar hulle het ‘n vermoe gehad om die toekoms te ervaar en hulle is nou veilig op hulle eiland soos ‘n sekere liedjie gaan.
Hierdie skip gaan seer sekerlik sink (sonder intervensie van bo) maar die hoof matrose het lankal hulle reddingsboeie uitgegooi na China en Indie.
Dit is ons arme sotte wat sit en wag dat iemand iets moet doen (wat soos dit vir my lyk nie gaan gebeur nie weens ‘n gebrek aan leierskap omdat ons te bang geword het om boe te se) om tot ons redding te kom. Ek het nie meer troos nie. “Ek slaan my oe op na die berge”

Marius ·

Ek staan elke dag in ‘n klaskamer met meerderheid swart leerders. Ons werk hard om hulle deur die skool te kry met ‘n goeie matriek. Hulle aanvaar ons dissipline en gesag en hulle ouers staan bankvas agter ons. Ek weet nie van die sinkende skip nie. Ek weet Jacob Zuma is korrup, en veroorsaak onmeetbare skade. Maar wat ek ook weet is dat daar baie anderskleurige Suid Afrikaners is wat soos ek voel. Hulle wonder ook oor die toekoms, nes ek. Ek dink ‘n mens moet oppas om soos Zuma rasse te wil verdeel. Daar is baie gematigde Suid-Afrikaners van alle kleure wat wil hê daar moet goeie leierskap wees. Die oplossing is nié ‘n volkstaat nie. Al is daar sekerlik baie Afrikaners wat met edele motiewe ‘n volkstaat sal verkies, sal dit ongelukkig ook ‘n teelaarde wees vir rassehaters en ver regses. Ek dink nie ek sal daar hoort nie. Boonop is dit nie ons rol as Christene nie. Elke nasie in die wêreld waar Christene is het dit geword omdat ander mense met ander kulture en kleure bereid was om die evangelie uit te dra en tussen hulle te woon. Daar is nou duisende swart sendelinge in Europa om die evangelie aan die heidense Europeërs oor te dra, omdat daar byna nie meer Christene oor is nie. Ironies né? Gaan kyk na die statistieke van sendingorganisasies. Alhoewel mnr. Mulder nou nie my stem sal kry nie is hy dalk die keer reg.

Gwen ·

Marius, die meeste Swartes waarmee ek daagliks te doen kry voel ook soos jou leerlinge. Hulle wil ook graag “goeie leierskap” hê, en ek ook. Ek wil egter ook nie hê my volk moet uitsterf nie. “Goeie leierskap” gaan die Afrikaner/Boer nie red nie, selfbeskikking en uiteindelik ’n volkstaat, sal wel.

Voorts redeneer jy soos die meeste Blankes met wie ek ook daagliks te doen kry deur ’n liefde vir die Afrikaner/Boerevolk en haar kultuur te verwar met ’n haat vir enigiets anders (veral iets Swart). Die twee is nie gelyk eweredig aan mekaar nie; groter liefde vir die een beteken nie noodwendig groter haat vir die ander een nie. Jou argument dat ’n volkstaat ’n teelaarde vir “rassehaters en ver regses” val m.i. plat omdat jy persoonlik nie sterk voel oor ’n volkstaat nie.

My gevoel is dat rasseverhoudinge nog nooit vantevore so gespanne is soos in vandag se klimaat nie. “Goeie leierskap” gaan nie die jong Swart studente meer verdraagsaam maak jeens Blankes in die algemeen en Afrikaners/Boere in die besonder nie. Dalk moet ons onder hulle sendingwerk doen.

Terloops, waar kry jy jou feite van Swart sendelinge in Europa? En hoe vergelyk die getal Swart en Blanke sendelinge uit Suid-Afrika in Europa? Sonder hierdie getalle beteken jou stelling nie veel vir my nie.

Rupert Ashford ·

Goed gestel Marius en jy is geregtig op jou opinie soos Oom Boer hieronder se. Twee vragies egter: 1.) Hoeveel van daardie kinders wat julle so hard aan werk word ook uiteindelik van die klipgooiers en afbranders en wit T-hemp draers wanneer hulle klaar is met skool? 2.) Vir wie stem die meerderheid van die ouers waarvan jy praat as verkiesingsdag aanbreek? Ek sukkel om die kloutjie by die oor te bring oor waar die ANC se oorweldigende steun vandaan kom as ek sulke dinge lees…

Frans ·

Wat jy skryf is natuurlik net die een kant van die verhaal. Daar is duidende blanke kinders wat netso hard en nog harder werk en beter resultate kry as baie swart kinders maar dan weens ‘n kwotastelsel nie plek in sportspanne of toelating tot verdere studie kry nie.

My kleindogter was let op was, ‘n baie belowende hokkiespeelsters, in so ‘n mate dat ‘n bekende Nederlandseafrigter haar as die mees natuurlike speler beskou het wat hy in ‘n lang tyd gesien het.Hy gebruik haar toe om aan almal swart, wit en gekleurd te wys hoe sekere bewegings en balkontrole gedoen moet word.

Pragtig nê, maar toe die span gekies word om ‘n baie bekende privaatskool te verteenwoordig kry sy nie plek nie.Die lamlendige verskoning ‘daar moet soveel van dit en dat in wees’ om deel te neem aan toernooie.

En so word ‘n kind wat almal van alle kleur omhels het ‘n volslae rassis.

Oom Boer ·

@Marius, Ek hou van Dr Pieter Mulder se skrywe met goeie uiteensetting in ‘n goeie konteks gestel. Daarbenewens verstaan en het ek ook begrip vir jou genoemde stellings al is Dr Mulder nou nie jou gunsteling en ANC/DA wel, dit is jou persoonlike keuse en reg tot so ‘n besluit, maar vele ander mense deel dalk ook nie dieselfde denke nie en sien ook raak dat die skip alreeds skade opgedoen het tot sinking. Vanaand gaan elke soort/tipe voëltjie na sy eie Nessie, in die dierereik het elkeen sy trop en weidings gebied, maar die mens wil alles verander al sê God “Nasies by Nasies”. Vele mense wil nie onder dwang geplaas word om sy lewens wyse, kultuur, taal, geloof, etnisiteit ens op te gee terwille van groepe wat geen dissipline, respek, ander se kulture vertrap, vernietigings, skade, brand ens toepas as hoofdoel nie. Natuurlik is jou klas van meerderheid met die broei epidemie van jongs af wat as die norm by sekere kulture mag wees en vele vroue, maar die minderheids groepe besef wat hul familie verpligtinge en vooruitgang tot versorging mag wees. Dr Pieter Mulder jy verdien my stem.

Willem ·

Boerekryger, ek kyk na jou skuilnaam en dan wonder ek of jy weet wat oorlog is en of jy een van die laaities is wat net wil oorlog maak en of jy besef hoe ons land na ‘n burgeroorlog sal lyk?

Dr Pieter Mulder het gewys dat hy ‘n GROOT leier is wie sy land en volk bo party politiek stel toe hy die pos van Adj. Minister aanvaar het. Daar het hy meer vir ons beteken as om te sit en kerm.

Ons land het reeds met werkloosheid, swak opleiding, swak regering, korrupsie, misdaad verval van infrastruktuur en nog vele ander probleme die rand van ons eie ” Arabian Spring ” bereik. Kyk net na Sirie dan kan jy sien wat moontlik op ons wag.

GEEN politieke party kan ons probleme alleen oplos nie. Slegs deur God se genade en leiding sal wyse en sterk leiers gesamentlik deur moontlik , ‘n Regering van Nasionale Eenheid, dit kan doen. As hulle nie so iets doen nie sal ons land in vlamme opgaan.

Dr Mulder dankie vir jou wyse en kalm leiding hou so aan en sterkte.

Boerekryger ·

@Willem. Daar is verskeie maniere waarop die stryd gevoer kan word. In my geval is dit egter méér sinvol om die pen as die swaard te gebruik. As gevolg van julle eng Christelike sienings en naïewe geloof in die doeltreffendheid van ʼn “Regering van Nasionale Eenheid”, het derduisende Afrikaners jarelank die oorle Nasionale Party ondersteun en pluk almal van ons deesdae die wrange vrugte van julle hubris en kleinlike selfsug.

Frik Lotz ·

Baie goeie toespraak deur dr. Mulder. VF Plus is enigste party wat nugter oor alles dink en werkbare oplossings het. Kom ons maak VF Plus sterker deur in ons duisende vir die party te gaan stem in die munisipale verkiesing. Saam is ons sterker!

Cornel ·

Dankie Dr. Mulder vir alles wat jy probeer doen. Jy kry verseker ook my stem soos altyd.

Shannon ·

Weereens, die immergroen Dok Mulder, wie so dan en wan sy verskyning maak met pragtige woorde.
Wat hy natuurlik bedoel is dat indien die SA sirkus sink dan sink sy eie skippie ook. Is die plus man se loopbaan dan nie juis afhanklik van die Zoeloe hoofman se voortbestaan nie ?

poeksie ·

Jammer Shannon en Boerekryger, verseker kom mens duidelik agter met jul skrywe dat jul baie oningelig is oor politieke aangeleenthede. Jul leef nog in die kappie tydperk. Lees meer en minder bitterheid en dinge sal sommer baie beter gaan. Elke dag dieselfde mense met vergrootglase om tog die geringste foutjie te soek en dan te hardloop daarmee. Wees n slag positief en beur die volgende klaer so bietjie op.

Boerekryger ·

@poeksie. Deur nugter en objektief oor die toekoms na te dink kan vir jou van onskatbare waarde wees om beter besluite te neem ten einde ʼn meer sinvolle toekoms vir jou nageslag te verseker. As jy egter in ontkenning sou leef aangaande politici se ware motiewe, sal “vooraanstaande” misleiers net aangemoedig word om hulself te bevoordeel ten koste van die res van die bevolking…

Gemsbok ·

Ek bou aan Orania as alternatief tot die sinkende skip. Hy is wel tans klein, en Rome is nie in een dag gebou nie, maar sy getalle, sy ekonomie, sy vermoë en sy selfstandigheid groei elke dag.

As Afrikaners is ons beter af met ‘n Orania wat floreer as daarsonder. Net soos wat die Engelse in Suid-Afrika voordeel trek uit die bestaan van Engeland, Amerika, Australië en Nieu-Seeland wat hul kultuur met hul staatsinstellings beskerm en bevorder. En nee, Orania bied nie ‘n teelaarde vir rassisme nie; dit is eerder ‘n plek waar mense van hierdie siekte genees word.

Wie staan saam met Orania vir ‘n toekoms met beter opsies?

Bertie ·

Die enigste mense wat ooit vir ons geveg het, was die Mulders – julle kry ook ons stem. God seen julle.

Bertie ·

Willem: ek stem 100% met jou kommentaar saam. Lank lewe die Mulders! Met God aan ons kant, kan niks, niks, verkeerd loop nie. Ons as SA-kaners moet net weer leer om die knie te buig voor ons Almagtige God.

John ·

Ek stem saam met dr Mulder. Ons moet dadelik ‘n nuwe party stig die ANC+ wat al die burgers in die land kan dien. Presidente bestaande uit die leiers van die huidige politieke partye kan elk vir 1 maand regeer maar hulle is net sittende leiers. Elf eerste ministers gekies uit die 11 taalgroepe gaan vir 11 maande die land lei. In elkeen van daardie maande mag die bevolking net die betroke leier se taal besig. So sal ons mekaar leer ken. In die 12de maand gaan die tradisionele leiers en die predikante afwisselend vir een dag die land beheer. O gits, ek het vergeet om te meld dat ons ekonomiese probleme soos mis voor die so sal verdwyn want al die rolprentmakers in die wereld sal miljarde betaal om die sirkus te kom verfilm. Selfs ‘n kapsule sal moontlik die ruimte+ ingestuur word sodat ander planete kan leer uit hierdie unieke sisteem. ‘n Ry beelde waaronder die van dr Mulder+ andere sal van die Nyl tot by die voet van Tafelberg pryk. Ek stem ANC+.

Etienne ·

Ja dr. Mulder daarom is al 4 my kinders (gegradueerses) en sewe kleinkinders reeds burgers van ander lande, nie australiee nie.
Die wittes wat hier wil bly sal moet onderdanig wees aan die “afrikane”. Die rede vir die volksmoord sal verduidelik word dat wittes meer dan 20 jaar gegun was om rasisme af te sweer maar
nie wou raamwerk nie. Daar was niks gedoen aan Mugabe wat derduisendevemoor het nie? My familie is reeds hier sedert 1750,maar ek is ‘n vooruit denker en die waarheid word nou werklikheid, ek, ja binnekort maak net klaar met alles hier.

stoney ·

Vir al die slim en minder slim kommentare, sorg dat jy jou kruisie op die regte plek trek in die verkiesing!

Rina Kotze ·

Baie goeie deurdenkte toespraak Dr Mulder!

Wens almal wil die moeite doen om dit ordentlik te lees!

En nog iets wat my pla, wat van ons wat dit nie kan bekosttig om te emigreer nie?
Ons moet maar vasbyt! En wanneer alle chaos verby is en als weer “normaal ” is, kom die van oorsee af terug en gaan rustig aan en dink nie daaraan wat die dapperes wat hier moes bly, deurgemaak het nie!

DR Mulder, julle het beslis my stem!

Dankie vir wat julle vir blanke, Afrikaanssprekende mense doen. Dit word waardeer.

Peet J ·

dr.Mulder die VF+ het sedert 2006 onderneem om Transnet pensioenarisse by te staan vir ‘n verbetering met betrekking tot hulle maandelikse karige pensioen.
Na ongeveer 10 jaar is die 2% jaarlikse verhoging steeds van toepassing wat veroorsaak dat die jaarlikse mediese verhogings die pensioenarisse se maandelikse pensioen drasties verminder. Die hofsaak met Transnet om ‘n leefbare pensioen te bewerkstellig word op ‘n gereelde basis uitgestel maar sal blykbaar April 2016 hervat word (hoop nie dit is ‘n April grap nie ).
Van die 70 000 pensioenarisse leef nog net +- 60 000 dr. Mulder wanneer sal die hofsaak eendag sy finale stadium bereik?

Johan van Drimmelen ·

Dr Pieter Mulder se toespraak is puik, vol Selfbeheersing, Respek, Etiek en Integriteit, Positief in RSA belang.
In my SAAMSTAAN-poging is ek gelyktydig n lid van Pretoria-FM, Orania, Vryheidsfront-PLUS, Solidariteit/Afriforum, FAK en SA-Jagters.
Ek het na die politieke partye gekyk en gevind dat niemand aan die ‘moderne’ Afrikaner kan bied wat Dr Mulder en die VF-PLUS aan ons kan bied nie. Nie die ANC of die DA nie.
Die VF-PLUS, (en al die organisasies waaraan ek behoort), is:
1. TEEN Diskriminerende Swart Ekonomiese Bemagtiging,
2. TEEN Grond-Onteiening.
3. TEEN Plaasmoorde.
4. VIR Afrikaans as Moedertaal vir Opvoeding, Onderrig, Opleiding en Studie, Primêr, Sekondêr en Têrsiêr.
5. VIR Selfwerksaamheid, Selfstandigheid, Leierskap en SELFBESKIKKING, soos alreeds deur Orania bewys, om orals toepaslike te kan wees, ook in Kleinfontein, met nog areas in wording.
6. Vryheid MET GEREGTIGHEID vir almal.
Ek het die blog gelees. Indien ons nie in die 2016/19 verkiesings die VF-beginsels met n trotse stem ondersteun nie, sal dit nie in die RSA (ons skip) se belang wees nie.
Moet asb nie vir n party wat amper kan wen stem indien sy beginsels nie 80% met jou eie beginsels ooreenstem nie. Indien daardie party dalk sou wen, wat dan?
6 uit 6 vir die bogenoemde ‘beginsels’ impliseer die VF-PLUS is u tuiste. Die DA kan dit nie lewer nie.
Welkom by die Vryheidsfront-PLUS!

Boerekryger ·

Johan. Doen asb. die moeite om uit te vind watse waarde die VF+ heg aan die woord “selfbeskikking”. Is dit werklikwaar soortgelyk aan Orania en Kleinfontein se selfbeskikking, of sal nie-blankes ook daarbinne welkom wees indien hulle sou “tuis voel” binne die Afrikanergemeenskap? Jy behoort dan te besef dat die “selfbeskikking” van al die organisasies waaraan jy behoort en wat jy ondersteun, nader is aan FW se lagwekkende “eie sake” as aan enige vorm van behoorlike onafhanklikheid en selfstandigheid.

John ·

Waarom dan nog verskillende partye he? Eintlik stem almal saam en verskil net oor hoeveel geld aan Nkandla spandeer moes word of waar die regeringskantore moet wees. Selfs die VF+ wil nou ook ‘n paar osse inspan om die wa deur die drif te help trek. ‘n Ambassadeurspos iewers in die buiteland is dalk net die ding om ‘n man te beloon wanneer hy na jare van swoeg en sweet in die parlement, groet.

Machiel ·

Suid Afrika se probleem is vryheid werk net een kant toe en soos die geskiedenis bewys kan blanke Afrikaners nie saam staan nie van af die groot trek het elkeen in sy eie rigting in gegaan al wanner hulle sal saam staan is wanneer hulle niks meer oor het om te verloor nie

Machiel ·

Ek bedoel vryheid van spraak werk net een kant toe in die lanf

Frik Lotz ·

VF Plus is die enigste party wat werklik ons mense se belange op die hart dra en nie skaam is om op te staan vir ons regte nie. Die VF Plus veg vir Afrikaans en minderheidsregte en doen dit al vir jare lank. Watter ander party sal na die Afrikaner en ander minderheidsgroepe se belange omsien? Die DA? Baie beslis nie! Kom mense, sorg dat jul geregistreer is vir die munisipale verkiesing en gaan stem op stemdag. Elke stem is belangrik en kan n verskil maak. Versterk die VF Plus se hande!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.