As Suid-Afrika ʼn maatskappy was…

Deur Flip Buys

flip-buys-2017-11-01-featured

Flip Buys, voorsitter van die Solidartiteit Beweging. (Foto: René Roux)

Lank, lank gelede in ʼn land vêr hiervandaan, het daar ʼn maatskappy ontstaan wat die wêreld se verbeelding aangegryp het. Die firma is as ʼn wonderwerk beskryf, en sy Akte van Oprigting as die beste op aarde.

Hierdie maatskappy het veral opslae gemaak omdat dit ontstaan het uit sy baie omstrede voorganger, wat wêreldwyd groot kritiek uitgelok het omdat net die minderheidsaandeelhouers stemreg gehad het. Hulle het die direksie verkies en aangestel, en verwag dat die maatskappy veral in hulle belang moes optree. Kenners en aktiviste het in die media die ondergang en bankrotskap van die maatskappy voorspel, en geëis dat sy stemreg breër uitgebrei moes word.

Na ʼn lang tyd, waarin die maatskappy wêreldwyd geboikot is, is daar ʼn nuwe voorsitter en direksie verkies. Hulle het ingegee en die maatskappy likwideer, en sy aansienlike bates na die nuwe firma oorgedra. Hierdie nuweling het aan al die eise wat aan die maatskappy gestel is voldoen.

Die geboorte van hierdie nuweling is wêreldwyd toegejuig, en binnelands was feitlik amal ook in die wolke! Minderheidsaandeelhouers het sekere regte behou, maar hul magte is afgeskaf. Voortaan sou die meerderheidsaandeelhouers die stemkrag hê om die direksie aan te stel en die maatskappy te bestuur, en te besluit oor die minderhede se sake. Die Akte se implikasie dat hulle selfs met net 51% van die stemreg 100% van die mag kon kry, het wel in kleiner kringe kritiek uitgelok. Hierdie groep het gevoel dat daar nie behoorlike beskerming vir die minderheidsaandeelhouers was nie, en vergeefs gewaarsku dat die Akte kommerwekkende leemtes het. Die geesdrif oor die nuwe wonderwerk was egter só baldadig, dat niemand na kritiek wou luister nie.

Boonop het die twee stigtersdirekteure gesamentlik die Nobelprys vir ekononomie gekry en veral die nuwe voorsitter se gewildheid het wêreldwyd voorblaaie gehaal en hy is met eredoktorsgrade oorlaai. Binnelands het mense aan sy lippe gehang en was selfs die elite van die minderheidsaandeelhouers, bykans in ʼn toestand van beswyming oor die wonderlike nuwe leier. Ekonomiese publikasies het regoor die aardbol rekord prestasie en hemelhoë winste vir hierdie nuwe wonderwerk voorspel.

Aandeelhouers

Die opwinding was so groot dat feitlik niemand die fynskrif van die nuwe maatskappy se stigtingsaktes gelees het nie. Die wat dit wel gelees het, was meestal so goedgelowig dat selfs hulle geen probleem voorsien het nie. Die enkeles wat kritiek gelewer het, is uitgeskel as pessimiste wat terughunker na die verlegingerde se eksklusiewe voorregte van die minderheidsaandeelhouers.

Die nuwe Aktes was inderdaad rewolusionêr en enig in sy soort in die wêreld. Dit het naamlik bepaal dat alle aandeelhouers dieselfde aandeel en dus stemreg sou hê, ongeag of hulle bydraes verskil het. Dit het ook bepaal dat in die (na verwagting onwaarskynlike) geval waar die maatskappy verliese sou maak, die minderheidsaandeelhouers daarvoor moes instaan en nog geld sou moes inbetaal.

Werklikheid

In die wittebroodstyd van die nuwe maatskappy het sake voorspoedig verloop. Die vorige maatskappy se bestuur en werknemers het alles in hul vermoë gedoen om die nuwe maatskappy te laat werk. Die wêreldwye goedgesindheid het ook tot die goeie resultate bygedra. Die meerderheidsaandeelhouers se verwagtings was egter deur die aktiviste veel hoër aangevuur as wat enige maatskappy kon presteer, wat gou tot groot ontevredenheid en selfs proteste en betogings onder die aandeelhouers gelei het.

Die nuwe direksie het toe besluit dat ʼn radikale omwenteling nodig was om hulle ondersteuners tevrede te hou. Die eerste stap was dat die samestelling van die aandeelhouers in alle poste weerspieël moes word. Hulle het drastiese teikens begin stel vir die indiensname en bevordering van lede van die meerderheidsaandeelhouers. Hulle het ook gratis aandele en maatskappydienste en -produkte gegee aan die meerderheid wat hulle verkies het.

Die direksie het selfs spesiale voorkeur aan hulle eie familie en vriende gegee, wat hulle in sleutelposisisies ontplooi het om totale beheer te verseker. Hulle wou alle hefbome van mag oorheers. “Plekmaakpakette” is vir mense van die minderheidsaandeelhouers gegee, wat voortaan hulle eie potjie sou moes krap. Dit was nie maklik nie, omdat die nuwe direksie ook drastiese teikens gestel het met betrekking tot die werknemer- en aandeleprofiel van die verskaffers waarmee die nuwe maatskappy sake sou doen.

Klagtes hieroor deur die minderheidsaandeelhouers is deur die direksie en later selfs die hof afgemaak as ʼn poging om na die verlede terug te gryp en ʼn projek om aan die voorregte van verlede vas te klou. Baie van die top gekwalifiseerde lede van die minderheid het bedank en moes na ander maatskappye om te oorleef.

Krisis

Die maatskappy het mettertyd al swakker presteer en was later op ʼn glybaan na mislukking. Selfs geesdriftige ondersteuners van die nuwe wonderwerk moes naderhand erken dat die direksie totaal onbevoeg en heeltemal korrup was. Mense was geskok toe dit bekend geword het dat die voorsitter miljoene dollar onder sy sitkamerbank versteek het! Hoewel hy deur die direksie se eie interne ouditeurs onskuldig bevind is, was daar geen verklaring gegee van waar die geld vandaan kom en hoe dit “verdien” is nie.

Dit het slegter en slegter met die maatskappy begin gaan. Groot verliese is gemaak, die dienste en produkte het heeltemal verswak, die maatskappy se infrastruktuur is so verwaarloos dat dit verval het. Boonop is die bates openlik op groot skaal gesteel. Die wêreld het geskok gehoor dat selfs vooraanstaande lede van die direksie van die grootste diewe van maatskappybates was.

Die een na die ander komissie van ondersoek is aangestel, maar dit het gou duidelik geword dat net oëverblindery was en dat geen leier vervolg sou word nie. Die rede was klaarblyklik dat die direksielede mekaar wou beskerm, omdat bykans almal tronk toe sou gaan as een tronk toe gestuur word. Dit was onvermydelik dat die vrot voorbeeld wat die direksie en topbestuur gestel het, daartoe gelei het dat talle werknemers besluit het om ook hulself te help met die maatskappy se bates.

Diefstal en vandalisme het ʼn daaglikse verskynsel geword, en talle werknemers het selfs gestaak of protesteer omdat hulle nóg meer gratis wou hê. Geweldsmisdaad en rooftogte het selfs helder oordag alledaags geword. Die maatskappy se hopelose sekuriteit het niks daaraan gedoen nie, omdat hulle ook maar net ʼn werkskeppingsprojek vir die meerderheidsaandeelhouers se families was.

Beloftes

Dit het net van erg tot erger gegaan. Die kenners en kommentators in die media het keer op keer verkeerdelik voorspel dat die direksie op die volgende aandeelhouersvergaderings uitgestem sal word. Dit het nie gebeur nie, omdat die direksie die meerderheid se steun behou het deur gratis dienste en produkte van die maatskappy vir hulle te gee, met nog beloftes van meer.

Boonop het die voorsitter onder die luide leiding van die direksie gedreig om die minderheid se aandele sonder vergoeding te konfiskeer en onder die meerderheid te verdeel. Die minderheid is gedwing om die groeiende verliese te dra met hulle kapitaal. Die minderheid is voor die algemene aandeelhouersvergaderings belaster en beledig, en selfs hulle voorouers blameer vir alles wat verkeerd gegaan het.

Sentraliseer

Die direksie het alle mag sentraliseer, en swak bestuurde en verliesmakende filiale van die maatskappy jaar na jaar op skuld subsudieer. Die ergste was dat die direksie nie die wat vir die wanbestuur en korrupsie verantwoordelik was aanspreeklik gehou het nie. Dit het die aandeleprys van die maatskappy soos ʼn klip laat val, wat die voorsitter gereeld geskok het. Niks is egter aan die probleem gedoen nie, en die publiek het agtergekom dat die direksie eerder net saam met die probleme leef as om iets daaraan te doen.

Beleggers wou nie langer hulle geld in die maatskappy belê nie, en die rykes het hul aandele verkoop en soveel moontlik bates na ander lande geskuif. Die gewone mense kon dit egter nie doen nie. Die direksie het hulle verplig om die grootste deel van hulle pensioengeld in die maatskappy se aandele te belê. Daar was ook baie wat gevoel het dat die maatskappy vir geslagte lank opgebou is, en dat hulle nie net kan opgee en weggaan nie.

Ontbondel

Die verval van die maatskappy het tot groot woede en ontsteltenis gelei. Talle drukgroepe het sonder sukses probeer om die direksie uit te stem en te vervang met ʼn koalisie van gegriefdes. Dit het veroorsaak dat al meer stemme begin opgaan het dat die maatskappy eerder ontbondel moes word, en dat die winsgewende filiale eerder hulself moes begin bestuur.

Dis nou bykans dertig jaar na die stigting van die nuwe maatskappy, en dinge lyk beroerd. Dis nie moontlik of wenslik om weer na die ou maatskappy terug te keer nie, maar die eens nuwe wonderwerk is besig om bankrot te speel. Dis duidelik dat die probleem veel groter as net ʼn vrot direksie was, en dat die totale maatskappy in sy geheel hersien sal moet word.

Daar het uiteindelik vier groepe aandeelhouers oorgebly. Die eerste groep bly hoop dat die direksie uitgestem en die maatskappy gered kan word. Die tweede groep glo die probleem is in werklikheid die onwerkbare maatskappy, en die direksie is net ʼn gevolg daarvan. Hulle wil eerder die maatskappy ontbondel. Die derde groep het reeds moed opgegee, hul aandele verkoop en die land verlaat. Die vierde groep is die meerderheidsaandeelhouers. Hulle glo self nie meer die direksie en sy beloftes nie, maar stem steeds vir hulle vanweë die gratis dienste.

Die wêreld wag om te sien watter rigting die eertydse wonderwerk gaan inslaan…

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Ontbondel. Dringend. Hierdie mengelmoes was reeds in 1910 gedoem. Ons het vir dekades teen swaartekrag baklei. Ons kan nie meer nie.

WitBlits ·

Skitterende brief Mr Buys….. Jy slaan die spyker 100% op die kop….

Werner ·

Oulike (en vermaaklike) verhaal. Daar is egter ‘n 5de groep wat nie genoem is nie. Daardie groep is maar klein. Hulle het reeds voor die “wonderwerk” oomblik besef wat gaan met die maatskappy gebeur, en hulle aandele prysgegee. Hulle het ‘n baie klein nuwe maatskappy gestig wat onafhanklik is van die groot maatskappy, en dieselfde dienste sou lewer, net op klein skaal. Hierdie piepklein maatskappy groei na meer as 30 jaar steeds goed, tans teen 16% per jaar, en niks van die verval van die wonderwerk-maatskappy is hier te vinde nie. En hier, langs die Oranjerivier, werk al die aandeelhouers elke dag om die maatskappy te laat groei.

Republikein in die Wes Kaap ·

Entrepeneurs wat wat die rigiede korporatiewe lewe verlaat het.

Hendrik ·

Ons is gereed om te ontbondel en federalisme af te wentel na gemeenskap vlak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek het nie ‘n probleem met federalisme en selfbestuur op gemeenskaps vlak nie. Maar jy betaal steeds belasting aan die keiser en is onderworpe aan belaglike wette. Indien jy betrek word by ‘n oorlog gaan jou kinders opgeroep vir militêre diens en veg vir ‘n sinnelose saak wat hulle nie steun nie. Dus, selfregering van onder tot heelbo is die beste.

Maria ·

Die 5de groep is die stam van Juda wat oor die wereld versprei is en almal teen mekaar opsteek. Hy betaal die konings en die elite om saam te speel en almal te verslaaf

Jacob ·

Interessante analogie!
Ontbondeling klink na die beste opsie.
En stuur die huidige direksie tronk toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.