As ‘The Times’ sink, wat van Afrikaanse dagblaaie?

Argieffoto

Na berig word, gaan een van die land se grootste gedrukte dagblaaie sluit omdat dit nie meer winsgewend is nie. Die gedrukte weergawe van The Times, kleinboet van Sunday Times, se sirkulasie het teen verlede jaar tot ongeveer 80 000 gedaal nadat die voorheen meer as 140 000 was. Trouens, in 2015 het die base van The Times nog besluit om die oplaag na 100 000 per jaar te verminder – ’n voorneme wat geblyk het erg ooroptimisties te wees.

Meer as 1 000 werknemers word geraak.

Die groep waartoe The Times behoort wat deesdae as Tiso-Blackstar-groep bekend staan, is reeds besonder aktief op die digitale terrein, en die web-weergawe, Times Live, is goed interaktief geïntegreer.

Dat ’n koerant met daaglikse verkope van meer as 80 000 per dag op ’n verlies werk, gee ’n prentjie van hoe uitdagend dit vir die groot gehalte Afrikaanse koerante moet wees om kop bo water te hou. Die Burger is hiervan die grootste met meer as 50 000 verkope, terwyl Beeld sowat 46 000 verkope onlangs teen Die Burger teruggesak het. Volksblad met sowat 17 000 verkope oor ’n baie groot era se prestasies is eintlik verstommend.

Selfs Son met ’n oplaag van sowat 80 000 se sirkulasie het gedaal. Media24 het sy kuberweergawe sterk in Netwerk24 ontwikkel, maar as betaalportaal het dit ’n ingeboude beperking. Ook Media24 se tydskrifte kan nou via Netwerk24 gevolg word.

Die rol wat Afrikaanse gehalte-koerante speel om Afrikaans by wyse van spreke in stand te hou, kan moeilik onderskat word. Dit is nie altyd net die groot koerante wat voordeel trek uit ingeboude dienste soos taalversorging en proeflees nie, maar ’n groot aantal gratis streekkoerante, spesifiek in die Vrystaat en Noord-Kaap waar die Volksblad die meeste besit.

Die taalkundige versorging en leesbaarheid is egter nie al wat bepaal of ’n koerant verkoop nie. ’n Goeie voorbeeld was toe ’n noordelike koerant met ’n jong hoofredakteur aan die stuur in ’n oorlog met sy lesers betrokke geraak het. Die koerant moes spoedig sy nommer een- posisie in sy mediagroep aan ’n suidelike koerant afstaan. In vandag se digitale era word verlore lesers nie sommer herwin nie.

The Times bevind hom nie in ongewone geselskap nie, met onder meer The New York Times en die Christian Science Monitor wat die digitale koers ingeslaan het.

Die probleem is dat adverteerders nog nie oral dieselfde sprong maak nie, en allerlei metodes word aangewend om inkomste te genereer. Sommiges word volledige betaalportale, ander op ʼn selektiewe skaal, en soms kry lesers ʼn aantal gratis besoeke voordat hulle moet begin opdok.

In die proses, met ook baie van die beter TV-kanale waarvoor betaal moet word, word ʼn groot deel van die media eintlik eksklusief vir die meer welvarendes.

Gelukkig is daar radiostasies wat hul bes doen om ʼn diens van gehalte oor die hele spektrum te lewer, en meer gelukkig, daar is stasies wat daarin slaag.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Kortom ·

Behalwe vir makliker tegnologiese toegang tot elektroniese media, moet mens se toenemende kort aandagspan en onvermoee om lang sinne te lees en interpreteer ook skerlik ‘n rol speel.

“As dit nie in 140 karakters pas nie stel ek nie belang nie.”

DewaldS ·

Wat van Afrikaanse dagblaaie? Ek hou ‘n bottel MOET op ys vir die dag dat die laaste een val. Hulle het in my opinie NIKS goeds vir die Afrikaner/Boere beteken nie – hulle het hulle-self inteendeel besig gehou met misleiding en verguising van die Afrikaanses.

Ou Koerantleser Vrydenker Ystervark ·

Sonder ondersoekende joernaliste en politieke analiste kan ons demokrasie op ons mae skrywe en afvee. Derhalwe behoort elke Afrikaans sprekende die een of anderopbouende rol speel om die Afrikaanse koerante en aanlyn koerante te steun en die joernaliste help om die oor en oog van die samelewing te wees. Koms ons wees positief en hou op om die koerante alewig te kritiseer asof net ons eie idees altyd reg is. En moet asseblief nie die Afrikaanse koerante teen mekaar afspeel nie, al verskil jy met hulle. Volwassenheid beteken dat mens ook na ander se menings luister want dalk het hulle beter oplossings of kan mens by hulle ook iets leer. Finish en Klaar. Amen. Sela. Sterkte ons joernaliste.

DewaldS ·

Ek dink nou aan joernaliste oos Eva Bartlett. En Matt Lee. Michael Hastings. Julian Assange. Ons eie Adiolf Spangenberg. Ware joernaliste.

Dan vergelyk ek hulle met die ‘paid shills’ wat nog altyd in Afrikaanse koerante hulle beste pappegaai-weergawe van die voorgeskrewe narratief opdis. Klakkelose herhalers van polities korrekte idees – ander mense se idees. Ruggraatlose wesens wat ‘n hele persoonlike identiteit rondom zeitgeists gebou het. Wat nie ‘n nag se slaap verloor oor die kollaterale skagoffers van die ideologieë en leuens wat hulle met sulke slim woordjies help verkoop nie.

Rooi Jan ·

Ja Herman maar dieselfde jong redakteur wat met sy lesers in die oorlog betrokke geraak het, het bevordering gekry daarvoor.

Willie ·

Die probleem met die media wêreldwyd is dat dit gebruik word as propaganda om een of meer agendas aan te blaas. Deur die jare het die mense dit herken, maar hulle was magteloos teen die mediahuise wat die omvang van nuus beheer het. Gaan lees maar wat het uittredene joernaliste gesê wat sou gebeur het as hulle die ware feite moes publiseer – einde van loopbaan. Die internet het nou ‘n deur oopgemaak vir ander standpunte en nou huil die hoofstroom media en brandmerk ander as “fake news”. Die feit is orals is ware en vals nuus, maar immers het ons lesers nou toegang tot meer bronne. Mens kan net ‘n leuen herken as jy die waarheid weet.

Eish ·

Die invloed van die digitala media is dekades reeds in beplanningscenarios verdiskonteer. Om in die hoogwatermerk te bly sit en te hoop die gety klits jou nie van die rots af nie, is n futiele uitdaging van die werklikheid.

Daar was genoeg tyd om hulself te belyn met nuwe tegnologie. Swem of suip pappie!

Kosie Kramer ·

“Ou Koerantleser”, jy sê “(v)olwassenheid beteken dat mens ook na ander se menings luister”, maar dan skyf jy “Finish en klaar. Amen. Sela”. Hoe vervelig. Wat jy eintlik sê is: “my mening is al wat tel. Hou julle mond.” Dis nie hoe debat gevoer word nie.
Alle Afrikaanse koerante behoort aan een maatskappy; dit is dus `n monopolie. As jy iets sê waarvan hulle nie hou nie, ignoreer hulle jou. Vra maar vir Steve Hofmeyr; hy moes kniel en laag buig, voor hulle hom weer `n spreekbeurt gegee het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.