As wette wapens word

Deur Johan Nortje

(Foto: Unsplash)

Wanneer gewone mense verregaande idees het, versprei dit (gelukkig) gewoonlik nie verder as hul onmiddellike omgewing nie – dit bly bloot ’n gesprek oor ’n koppie koffie of dalk ’n gekrabbel in ’n dagboek. Indien hulle met eerlike vriende of ouers geseënd is, word die gapings in hul planne uitgewys.

As magshebbers verregaande idees kry, blyk dit ongelukkig dikwels dat dié idees in ’n memorandum vervat word. As dit net daar gelaat word, was dit die einde van die storie. Maar memorandums is geneig om in e-posse te verander en op komiteetafels te beland, waar wyse manne hul koppe knik en dit met penne wat magtiger is as die swaard onderteken. Daarna verskyn die idees in die Staatskoerant en die publiek moet weer hul leesbrille opsit.

Suid-Afrika is ’n demokratiese regstaat met ’n grondwet as oppergesag. Hoewel dit nie eksplisiet genoem word nie, maak die Grondwet voorsiening vir wigte en teenwigte vir die skeiding van magte. Hierdie beginsel (wat as trias politica bekend staan) is beskryf deur die Franse denker Baron de Montesquieu in sy The spirit of the laws, wat geskryf is teen die agtergrond van die Franse Revolusie – ’n revolusie waarvan die domino-uitwerking vandag nog ervaar word. Die beginsel is dat staatsmag verdeel moet word tussen die wetgewende (parlementêre), uitvoerende (die kabinet) en regterlike gesag (die howe). Dié verdeling moet toesien dat geen gesag ’n ander oorrompel of oorweldig nie. Verskeie demokratiese lande het hul eie variasies hiervan. Suid-Afrika het oor die afgelope twee en ’n half dekades sy eie weergawe hiervan ontwikkel.

Met staatskaping, tenderbedrog en korrupsie in verskeie staatsinstellings, kan daar aangevoer word dat die Suid-Afrikaanse model groot tekortkominge toon om te verhoed dat die kaping van staatsentiteite in die eerste plek seëvier en howe ná die tyd skadebeheer moet toepas. Verskeie kenners het al redes hiervoor aangevoer. Dit sluit onder meer in dat die konsep, “sfere van die regering”, nie duidelike grense stel nie en ’n ideologiese vertolking van die Grondwet is wat transformasie nastreef. Die regering maak selde wette wat deur hul eie leierskap afgekeur word.

Ongeveer 90% van wetsontwerpe word deur die uitvoerende gesag geïnisieer en die ANC beheer ongeveer 62% van die setels in die parlement. Nog ’n punt wat moontlik oor die hoof gesien word, is dat openbare deelname aan parlementêre aangeleenthede nie beduidend hoog is nie. Volgens ’n studie wat Ipsos in 2019 oor die bedrywighede van die parlement uitgevoer het, het slegs 14% van die respondente geweet hoe om aan die aktiwiteite van die parlement deel te neem.

Frédéric Bastiat was nóg ’n denker wat na die Franse Revolusie geskryf en gewaarsku het dat mense se vryheid deur sekere wette van gesaghebbers gyselaar gehou word. Om te bepaal of ’n daad as wettige plundering geag kan word, moet daar volgens Bastiat bepaal word of die wet toelaat dat eiendom van een persoon gekonfiskeer kan word en aan ’n ander oorgedra kan word.

Daarbenewens moet daar bepaal word of die wet een persoon ten koste van ’n ander bevoordeel, deur te doen wat die persoon self nie kan doen sonder om ’n misdaad te pleeg nie. Bastiat voer aan dat geen samelewing kan voorbestaan indien respek vir die reg ontbreek nie. Indien moraliteit en wette mekaar weerspreek, moet die publiek die moeilike keuse maak om óf sy moraliteit te laat vaar, óf sy respek vir die wet te verloor.

Daar is tans talle konsepwette wat daarop gemik is om verregaande idees deur te voer, soos die voorgestelde onteieningswetgewing. Die nuutste voorbeeld hiervan is die voorgestelde wysigings aan die vuurwapenwet, wat beoog om mense te ontwapen.

Internasionale navorsing oor vuurwapeneienaarskap en geweld kom tot uiteenlopende gevolgtrekkings, vermoedelik weens verskeie veranderlikes soos kultuur, die gesindheid teenoor wapens, die tipe wapens, bekwame veiligheidsdienste en die teenwoordigheid van verskeie psigoaktiewe dwelms.

Die joernalis Peter Hichens het die onteiening van vuurwapens van wetsgehoorsame persone onder die loep geneem en meen dat onteiening ’n fundamentele oortreding is van die veronderstelling van onskuld. Daar word dus aanvaar dat die persoon klaar ’n misdaadvoorneme en -bedoeling het.

Hoewel daar aangevoer kan word dat persone met ’n geskiedenis van gewelddadige gedrag verhoed moet word om wapens te besit, is die idee dat álle persone ontwapen moet word onrealisties en irrasioneel.

Hichens noem met reg dat daar niks daarmee verkeerd is as mense idees het nie. Inteendeel, niemand kan vir ander mense voorsê wat om te dink of hoe hulle oor hul idees mag voel nie. Dit sal op ’n miskenning van vryheid van gewete neerkom.

Nietemin moet idees, geformuleer deur gesaghebbende persone, eers met ’n verstandhouding met die werklikheid getoets word voordat dit op nasionale vlak uitgerol word.

  • Johan Nortje is ’n navorser by AfriForum Navorsing.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Enige persoon wat dink dat mense hulle wapens gaan in gee na dese droom.Wet of te nie

Persheks Adri

SAPS kan nie eers die ongeskoolde klomp betogers onder beheer kry nie en hulle dink ons gaan die wet laat deur gaan. Dit gaan NIE gebeur NIE!

koos10

Die ANC is magsdronk, wat versterk is deur die COVID pandemie. Hulle het agter gekom dat deur ‘n noodtoestand, jy regulasies kan afkondig dat dit dadelik wet word. Sigarette, drank, oop skoene, petrol koop in houers, en so kan ons maar aangaan. Cyril het self gesê dat die howe daar is om die geldigheid van wette en regulasies te bepaal. Klink die padda in die pot nou al meer waar?