Assange besig met sy swanesang

Julian Assange (1 Februarie 2012) (Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth, File)

Is Julian Assange, stigter van WikiLeaks, ’n vegter vir mediavryheid? Of ’n kuberterroris?

Assange se inhegtenisneming einde verlede week het opnuut die debat oor hom laat oplaai. Hy het talle heftige ondersteuners, maar daar is ook heelparty mense wat hom met ’n passie haat.

Kom ons begin by die begin.

Assange (47), ’n Australiese burger wat in Brittanje woon, het die organisasie WikiLeaks in 2006 saam met enkele ander mense gestig. Die doel was om geheime of vertroulike dokumente te publiseer wat sou wys hoe regerings oneerbare of selfs misdadige dinge doen en dan in die openbaar daaroor lieg.

In 2010 het Assange byvoorbeeld ’n video gepubliseer wat wys hoe twee Amerikaanse lugmaghelikopters die vuur open op ’n groep burgerlikes op ’n plein in Bagdad. Die geskiet eis êrens tussen 12 en 18 dooies, onder wie twee joernaliste van die nuusagentskap Reuters.

Dis ’n tipiese saak wat die Amerikaners wou toesmeer, maar die video het dit onmoontlik gemaak.

Die video is deur kpl. Bradley Manning aan WikiLeaks gegee. Manning, wat later ’n geslagsverandering ondergaan het en nou Chelsea Manning is, is deur ’n krygsraad aan spioenasie skuldig bevind en tot 35 jaar se aanhouding in die Amerikaanse leër se detensiebarakke Fort Leavenworth gevonnis.

Daar is geen twyfel dat die Amerikaanse weermag swaar in die verleentheid gebring is nie, veral omdat die skietery op die mense op die plein aanvanklik heftig ontken is. Dit het van Assange in sommige kringe ’n groot held gemaak.

Assange het dit opgevolg deur ’n kwartmiljoen geheime diplomatieke en militêre dokumente te publiseer. Ook is lêers openbaar gemaak wat wys hoe die regte van vermeende Moslem-terroriste in die militêre gevangenis Guantánamobaai geskend word – wat die Amerikaanse regering (toe nog onder pres. Barack Obama) in ernstige probleme gebring het.

Assange kon toe as ’n linkse, anargistiese vegter gesien word, iemand wat regerings se leuens aan die kaak stel. Konserwatiewe het hom dit hoogs kwalik geneem – die sakeman Donald Trump het WikiLeaks se optrede byvoorbeeld “skandalig” genoem.

Maar sy sukses het duidelik na sy kop gegaan. Spoedig het hy rusie met van sy vroegste medewerkers gekry, wat weggebreek het en niks meer van hom wou weet nie.

In 2010 was hy in Stockholm om ’n lesing oor sy werk te gee. Toe het hy ’n vrou na bewering verkrag en nog een seksueel gemolesteer.

Die gevolg was dat hy by sy terugkoms in Brittanje aangehou is in afwagting van ’n Sweedse aansoek om hom uit te lewer. Die oomblik toe hy op borgtog vrygelaat word, vlug hy na die Ecuadoriaanse ambassade waar hy politieke asiel aanvra.

Omdat Ecuador toe net deur ’n hoogs linkse regering oorheers word wat graag ’n vinger in die Engelse se oog wou steek, is dit toegestaan. Dit was in 2012, en sedertdien het Assange ’n klein kamertjie in die ambassade bewoon.

Terwyl hy daar was, het hy sy grootste roem verwerf. Blykbaar in samewerking met die Russiese militêre intelligensiediens, die GRU, het hy ’n magdom e-posse van Hillary Clinton, toe die Demokratiese presidentskandidaat, in die hande gekry en op die internet gepubliseer. Dit het Clinton taamlik geëmbarasseer en haar vermoedelik ook ’n onbekende aantal stemme gekos.

Tóé was Trump, ondertussen die Republikeine se presidentskandidaat, se mening: “I love WikiLeaks.” Hy het Rusland ook aangemoedig om ander e-posse van Clinton te publiseer.

Sedert Assange se vlug na die Ecuadoriaanse ambassade het dié land ’n ander regering gekry wat minder deur Assange se dinge geïmponeer was. Alles dui ook daarop dat hy sy eie belangrikheid begin oordryf het, die ambassadepersoneel uitgeskel en gevloek het, sy higiëne het veel te wense oorgelaat (luidens ’n ambassadelid het hy selfs sy eie uitwerpsels op die mure gesmeer). Volgens pres. Lenin Moreno van Ecuador het hy ook op dié land gespioeneer.

Ten slotte het dit te veel geword. Sy asiel is teruggetrek en die Britse polisie is toegelaat om hom, al skoppende en skreeuende, na buite te sleep en in ’n vangwa te boender.

Nóú is Trump se houding: “I know nothing about WikiLeaks.” En sy woordvoerder, Sarah Sanders, sê Trump het maar ’n grap gemaak toe hy Assange vroeër geprys het. Dit daar gelaat.

Om mee te begin is dit nie duidelik of Assange links of regs is nie. Dis nie eens duidelik óf hy enige herkenbare politieke oortuigings het en of hy nie maar net ’n moeilikheidmaker is nie.

Assange het in sy beginjare inderdaad ’n positiewe invloed gehad. Hy het die skynheiligheid van verskeie regerings aan die kaak gestel en hulle gedwing om twee keer te dink voordat hulle in die openbaar lieg.

Verskeie van sy eie vroegste medewerkers meen egter hy het te ver gegaan. Pleks van om die dokumente wat hy publiseer, noukeurig uit te soek, het hy hulle voor die voet op die internet gegooi, en daarmee mense se lewens in gevaar gestel.

As dit bloot om ’n fluitjieblasery gaan, word Assange deur die beginsel van mediavryheid beskerm. Maar met dié dat hy honderdduisende dokumente sonder onderskeid en sonder inagneming van mense se veiligheid geplaas het, so meen die meeste regskenners, kan hy nie meer as ’n fluitjieblaser beskou word nie.

’n Joernalis was Assange nooit. Eerder ’n aktivis van wie die egte agenda – as hy een gehad het – steeds onduidelik is.

Rusland, met wie hy nou saamgewerk het, het in elk geval verontwaardig op sy aanhouding gereageer. Assange is ’n “onafhanklike inligtingsbron wat vervolg word”, het Dimitri Peskof, woordvoerder van die Kremlin, gesê. Sy aanhouding klop nie met “die ideale van vrye media of hul onskendbaarheid nie,” aldus dié woordvoerder van ’n regime wat mediavryheid in Rusland byna volledig nekom gedraai het.

Wat nou? Assange is in aanhouding terwyl die Sweedse regering ’n uitleweringsversoek rakende die verkragtingsklag voorberei. Daar kan aanvaar word dat die Trump-regering hom ook graag in die hande wil kry en dat ’n versoek om hom aan Washington uit te lewer, ook aan’t kom is.

Dan sal Brittanje – en Swede – moet besluit wie se versoek voorrang kry.

As Assange in Amerika tereg kom, sal hy sonder twyfel aangekla word, dalk ook van spioenasie. En, soos wat met sy inligtingsbron Chelsea Manning gebeur het, kan hy verwag om sommer ’n baie lang vonnis te kry.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Joe

What a LEGEND!! Wikileaks het oopgevlek wat governments wou wegsteek!

Stephan de S

Dankie vir die inligting.
Ek is ook nog steeds onseker of Assange se “bydra” n euwel of n bonus verteenwoordig .

Andreas

Soos die legendariese Robin Hood, of soos Julius Malema hier by ons?

Andreas

Dr Leopold, dus moet ons besluit was hy ‘n opportunistiese krimineel, of was hy die fluitjieblaser van ongeregtigheid wat nou verguis word?

By ons is daar die Guptas en die Watsons waaroor nie net die fluitjie geblaas word nie, maar in kore voor die Zondo kommissie saamgesing word.

Andreas

Aha, maar as hy nie meer as ‘n fluitjieblaser beskou kan word nie om die redes soos hierbo deur jou genoem, wat is dan reg om die inligting te verskaf wat jou kriminele regering jou van aankla? Is hulle dan nie ‘n groter krimineel as die ‘vluitjieblaser’ nie?