Australië se 250ste ‘verjaardag’

‘n Aborigine-man. Foto: (AP Photo/Rick Rycroft)

Australia Day, soos wat dit vir Suid-Afrika eens Stigtingsdag op 6 April was, is die dag waarop die Britse seevaarder en ontdekker James Cook Australië ontdek en vir Groot-Brittanje in besit geneem het.

Meer spesifiek het James Cook met sy skip Endeavour in ’n natuurlike hawe by die huidige Sydney, wat hy Botany Bay genoem het, geland. ’n Paar maande tevore het hy reeds Nieu-Seeland besoek en dit vir die Britte opgeëis. Australië was natuurlik nie onbewoon nie, maar baie yl bevolk en die primitiewe en sku inboorlinge, oftewel Aborigines, het geen noemenswaardige weerstand gebied nie, maar het ook nie in handel en kontak belang gestel nie. Alhoewel Cook ’n ware wêreldreis onderneem het en sy hoofbestemming Tahiti in die Stille Oseaan was en hy ook nog verdere groot ontdekkingsreise onderneem het, bly die ontdekking van Australië seker sy bekendste prestasie.

Australië.

Die naam Australië, terloops, verwys na die Latynse term terra australis incognita (die verste, onbekende land). Reeds in vroeë tye het geograwe vermoed dat daar iewers, ver in die suide, ’n geweldige groot landmassa moet wees as “balans” vir die groot landmassa in die noordelike halfrond. Om dit te vind, was een van die doelwitte van Cook se reis. Australië was heeltemal te klein en ook nie fabelagtig ryk soos die misterieuse Suidland gevisualiseer is nie, maar dit het nogtans die naam daarvan gekry.

Hoewel Australië verafgeleë was, het die Britse regering ná die verlies van sy Noord-Amerikaanse kolonies in 1783 ’n plek gesoek vir sy oortollige bevolking, veral die laerklas-“elemente” wat as bedreiging en las gesien is en waarvan talle misdadigers was.

Agtien jaar ná Cook se ontdekking, in 1788, het ’n vloot onder die bevel van Isaac Phillips in Botany Bay aangedoen met die opdrag om ’n kolonie vir strafgevangenes te stig. Omdat daar egter geen vars water naby die baai was nie, en die grond swak, is besluit om die kolonie effens meer noord by Port Jackson, eweneens ’n goeie natuurlike hawe, te stig. Dit is daar waar Sydney se sentrum en hawe vandag is. Dit was die begin van die vestiging van wit mense in die mees afgeleë vasteland (uit ’n Europese perspektief) op aarde. Dit was ook een van die laaste stigtings van ’n permanente vestiging van Europeërs op ’n ander vasteland, lank ná die Kaapse nedersetting van 1652 en die Amerikaanse nedersetting in Jamestown in 1603 – om van die Karibiese streek en Suid-Amerika, waar Europeërs reeds in die laat 15de en vroeë 16de eeu begin vestig het, nie eens te praat nie.

Uluru, ook bekend as Ayers Rock, een van Australië se bekendste landmerke. Foto: Pixabay

Australië was wel reeds aan Nederlandse seevaarders bekend wat in die vroeë 17de eeu op pad na Indonesië daar verbygeseil en dit Nieu-Holland genoem het. Dit was egter aan die woestynagtige westekant van die vasteland, wat tot vandag toe nog baie yl bevolk is, en dit is as totaal en al oninteressant en ongeskik vir kolonisasie beskou. Dis eers deur Cook se ontdekking van die meer vrugbare ooskus, dat Australië in die gesigsveld van Europese besetting gekom het.

Alhoewel Australië se nedersetting met die vloek van ’n strafkolonie begin het en dus nie ’n stigtingsmite het van vredeliewende en godsdienstige vlugtelinge uit Europa wat ’n nuwe en beter beskawing begin het nie – soos die VSA of blanke Suid-Afrika – was latere aankomelinge die nodige hupstoot om die land te ontwikkel tot wat dit vandag is: ’n voorspoedige, moderne en suksesvolle staat met sterk Britse bande.

Die bekende Operahuis in Sydney. Foto: Pixabay

Vanjaar is dit 250 jaar, ’n kwart millennium, sedert James Cook in Australië geland het en dus eintlik ’n groot gebeurtenis.

Omdat die landing van James Cook tot die vestiging van wit mense aanleiding gegee het en wat tot die versteuring van die Aborigines se Steentydperk-leefwyse gelei het, word dit deur die nuwerwetse geskiedenisskrywing as ’n omstrede dag gesien met min rede om dit te vier.

Sonder twyfel het die landing van Cook die einde van eeue se isolasie en later die feitlike uitroei en kulturele verdrukking van die Aborigines beteken, wat vandag slegs 3% van die land se bevolking uitmaak en boonop die armste deel is. Australië het intussen egter erkenning gegee aan die Aborigines as die oorspronklike inwoners en daar word nou ’n poging aangewend om hul feitlik uitgestorwe kultuur weer terug te vind.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Therese

250 jaar oud, geen noemenswaardige vieringe, spreek boekdele oor die tydsgees.
Biljoene dollars jaarliks van regeringskant as ‘boetedoening’ en opheffing, met min of geen resultate, spreek nóg boekdele.

Leon

Suid Afrikaners wat ek ken wat in Australië bly en werk en wat ook teruggekeer het sê dat die Aussies niks voel vir die inboorlinge nie. Hulle voel blykbaar dieselfde as wat die ANC dink van blankes in Suid Afrika. Vee hulle van die aardbol af.Ek kan nie dink dat die Aussies ooit die inboorlinge sal help en hulle op te hef.