Australië: waarheen nou met Peter Dutton se uitsprake?

Peter Dutton. Foto: Facebook

Suid-Afrikaners het so half uit die bloute laas maand verneem van ’n Australiese minister se mening dat sommige wit Suid-Afrikaanse boere in Australië vlugtelingstatus kan ontvang. Peter Dutton, die Australiese minister van binnelandse sake (en immigrasie), het hiermee internasionale erkenning gegee aan die slagoffers van plaasaanvalle wat deesdae alledaags is in Suid-Afrika. Die SA regering het verontwaardig gereageer en eintlik ’n diplomatieke insident met Australië oor hierdie aangeleentheid veroorsaak.

Die sage verloop só

Dit blyk egter dat die Australiese regering nie noodwendig eenstemmigheid het oor Dutton se uitsprake nie, meestal omdat Dutton spesifiek aandui dat wit boere voorkeur moet kry om na Australië te immigreer as “humanitêre inname” (lees: vlugtelinge). Die Aussies se eerste minister en minister van buitelandse sake het maar redelik vaag gereageer op Dutton se uitsprake en die ANC-regering eis dat Dutton sy uitsprake moet terugtrek.

Die verloop van die sage:

  • Dutton het begin Maart gesê dat wit boere beskerming moet verkry van “beskaafde lande” soos Australië en dat daar op meriete na individuele gevalle gekyk moet word. Hy het die SA regering se grondgrypbeleid geïdentifiseer en die boere as slagoffers van erge geweld bestempel.
  • Minister Lindiwe Sisulu het heftig gereageer en geëis dat Dutton onmiddellik sy uitsprake moet terugtrek.
  • Hierop het Australië se buitelandse minister, Julie Bishop, en later die eerste minister, Malcolm Turnbull, versigtig gereageer en Dutton nou nie juis ondersteun of teengestaan nie. Hulle het aangedui dat Australië se humanitêre inneem van vlugtelinge nie teen enige iemand diskrimineer nie en dat elke aansoek op meriete beoordeel sal word.
  • Richard Di Natale, die verlinkse Groen Party se leier het Dutton van rassisme beskuldig wat wit immigrasie wil bevoordeel. Dutton het sulke kritiek as “mal linkses” se praatjies afgemaak.
  • Vroeg in April het Sisulu aangedui dat beide Turnbull en Bishop die uitsprake van Dutton verwerp het en dat Australië sy standpunt teruggetrek het.
  • Dutton het hierna Sisulu basies as leuenaar afgemaak en aangedui dat hy Bishop se brief aan Sisulu onder oë gehad het, en Bishop beslis nie Australië se oorweging teruggetrek het nie.

Soos hierbo gesien, was Turnbull en Bishop se uitsprake eintlik verwarrend, en mens kan selfs vir minister Sisulu vergeef dat sy die reaksie van Bishop en Turnbull op haar eie manier geïnterpreteer het. Nietemin blyk dit dat sy Peter Dutton se rol in die Australiese regering heeltemal onderskat.

Indien ons wel ’n evaluasie wil maak oor die koers wat Australië moontlik gaan inslaan oor die Suid-Afrikaanse wit boere en hul vlugtelingstatus, is dit eerstens noodsaaklik om te kyk na die samestelling van die politieke speelveld in Australië, die rol van Dutton en dan na die moontlikhede van vlugtelingstatus vir die wit boere.

Die politieke landskap in Aussieland

Ten opsigte van die politieke landskap in Australië, beskik Australië oor twee sterk partye, naamlik die Liberale Party (LP – eintlik meer konserwatief ten spyte van sy naam) onder Turnbull; en die Arbeidersparty (AP – neig meer na links) onder Bill Shorten. Die LP het die regering in 2013 oorgeneem nadat hulle ’n koalisieregering gevorm het met ander gematigde partye. Nietemin wissel die LP en die AP mekaar redelik gereeld af as die regerende party en die Aussies hou elke drie jaar parlementêre verkiesings. Die LP en sy koalisievennote het tans maar ’n skrale meerderheid van een in die parlement, en het 76 setels teenoor die AP se 69 setels in die 151-lid parlement. Die volgende verkiesing is (waarskynlik) in 2019 en volgens meningspeilings lyk dit of die AP dalk hierdie keer die septer kan swaai, hoewel die partye se steun baie naby aan mekaar is.

Daar is tans drie partye in die regerende koalisie, die LP (45 setels), die Liberale Nasionale Party (21 setels) en die Nasionale Party (10 setels). Laasgenoemde is veral bekend as ’n party wat plattelandse kiesers verteenwoordig. Dan het die LP ook twee kenmerkende linkse en regse faksies in die party self. Die faksies verskil oor klein beleidsrigtings soos klimaatsveranderinge, belastings en gay huwelike.

Dutton se sentrale rol

Turnbull is aan die linkerkant van die party en het in 2015 net-net die party se leierskap verkry, maar moes daarna hard vry na die regtervleuel se steun – wat hy uiteindelik van Peter Dutton as ’n lojale partyman ontvang het. Turnbull is dus heelwat verskuldig aan Dutton. Aan die ander kant is Julie Bishop ook in die linkervleuel van die party en die adjunkpartyleier van die LP.

Turnbull is tans steeds stewig in die saal, maar Dutton en Bishop loer beslis oor sy skouer as die regtervleuel en linkervleuel se toekomstige kandidate. Dutton bly steeds (vir die oomblik) lojaal teenoor Turnbull. Dutton is nie op sy bek geval nie en nie bang om standpunt in te neem nie. As ’n voormalige polisie- en sakeman, en tans ’n lid van die parlement van Brisbane, Queensland, het hy heelwat aanhangers oor sy reguit uitsprake en standpunte. Hy is immers die tweede magtigste man in die land en beheer ’n “super ministerie” wat Australië se grense en gebiedswaters moet beskerm.

Daar is egter heelwat Australiërs wat glo dat Dutton nooit eerste minister of partyleier sal word nie, meestal weens sy beginselvastheid en handhawing van die beleid oor  “vlugtelinge” – eintlik  arm werksoekers, wat Australië ’n paar jaar gelede met klein bootjies probeer bereik het, maar wat na klein eilandjies naby Australië se gebiedswaters gestuur is. Verder is Dutton eerlik, reguit en nie bang om polities-inkorrekte uitsprake (sy uitsprake oor SA weerspieël dit) te maak nie.

Ons kan ook nie Dutton se uitsprake oor die wit boere van SA afmaak as politieke opportunisme nie. Hy neem eerder ’n standpunt in teen die onregte teenoor die boere en glo dat hulle sal inpas by Australië se kultuur. Boonop is die SA gemeenskap in Australië ’n sterk drukgroep, en kan hul ondersteuning vir Dutton die LP bevoordeel in die volgende algemene verkiesing. Daar is immers meer as 176,000 Australiërs wat in Suid-Afrika gebore is, oftewel amper 1% van die totale bevolking van Australië.

Die punt is dat Dutton een van Turnbull se sterkste ondersteuners is, en die eerste minister afhanklik is van sy steun – al het Dutton aspirasies om eendag self eerste minister te word. Hy lei immers die sterk regse faksie in die LP. Hierdie afhanklikheid veroorsaak dat beide Turnbull en Bishop nie openlik van Dutton gaan verskil nie. Beide weet dat hulle nie kan bekostig om Dutton en die konserwatiewes teen te staan nie.

Hoe nou met vlugtelingstatus?

Dit wil dus lyk of Dutton se plan om spesiale vlugtelingstatus te verleen aan die wit Suid-Afrikaners (wat wel kwalifiseer) deurgevoer gaan word. Dit word verder onderstreep deur twee optogte deur die SA gemeenskap in Brisbane (2 000 mense) en Perth (3 000 mense) en die steun van Alan Tudge, minister van burgerskap en multikulturele aangeleenthede. Dan is daar ook blykbaar bewese steun vir humanitêre inneming deur konserwatiewes in die Liberale Party, soos die voormalige eerste minister Tony Abbott en parlementslede soos Michael Sukkar, Andrew Hastie en Ian Goodenough. Senator Fraser Anning, van die regse One Nation Party, ondersteun ook die SA boere en verwys gereeld na die aanvalle op hulle as ’n volksmoord (“genocide”).

Hoe dit gedoen gaan word en wie gaan kwalifiseer, is nog nie duidelik nie. Sommige parlementslede het reeds gevra dat die boere as ’n spesiale kategorie van vlugtelinge verklaar moet word en dat ’n getal van ongeveer 10 000 boere ingeneem moet word. Irakiërs en Siriërs wat voorheen gevlug het, is só ’n status toegestaan. Of dit net plaasboere sal insluit, is te betwyfel. Wit Suid-Afrikaners, boere en selfs ander, wat bewys kan lewer dat hul aangeval is, in vrees leef vir aanvalle, of wie se grond dalk gekonfiskeer is of gaan word, sal moontlik kan kwalifiseer.

Daar moet egter in gedagte gehou word dat die Liberales moontlik die volgende verkiesing gaan verloor. Dit is te betwyfel of die Arbeiders, wat heelwat meer linksgesind is, Dutton se skema sal ondersteun. Die proses van aansoek doen en ondersoeke is ’n tydsame proses, en sal nie sommer teen vroeg volgende jaar afgehandel wees nie. ’n Nuwe regering kan natuurlik weer ’n beleid teenoor die wit boere maklik omkeer.

Wat ook al gebeur in die volgende Australiese verkiesing, dit gaan intussen bepalend wees om die Aussie-politici se reaksie op die toenemende antiwit-uitsprake en pogings tot grondoorname van die ANC-regering en sy meeloper, die EFF, waar te neem. Hoewel die regering die grondgrypbeleid sekerlik sal probeer afwater (deur byvoorbeeld ’n huurpagstelsel), gaan heelwat boere sekerlik hul grond verloor. Daar is ook geen aanduiding dat die vlaag van moorde en aanvalle op boere sal afneem nie. Inteendeel, aanhitsing deur die EFF en hul leier kan dit laat toeneem.

Die hele proses sal heel moontlik Suid-Afrika se betrekkinge met Australië verder versleg. Dit is ook moontlik dat die SA regering stappe sal doen om mense wat kwalifiseer vir die humanitêre inname, teen te gaan. Nieteenstaande sal daar sekerlik baie aansoekers in Suid-Afrika wees wat as vlugtelinge graag van Australië se aanbod sal wil gebruikmaak.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Disselboom ·

Dis interessant om ‘n beter kykie in die Australiese politieke samestelling te kry in die lig daarvan dat dit op die oog af ‘n land is waar Afrikaners blykbaar maklik aanpas; maar nou klink Disselboom soos van daardie mense wat dit as omtrent vanselfsprekend beskou dat groot getalle Afrikaners (en seker ander blankes in Suid-Afrika ook) aktief soek na geleentheid om te emigreer. As dit so is, is die vraag of AON, dr Theuns Eloff, Fedsas, Helpende Hand se skolesentrum ens se grootskaalplanne vir Afrikaanse skole werklik sin maak vir ‘n dalende mark.

Theresa ·

Daar sal genoeg mense oorbly omdat hul nie KAN emigreer nie. Daar moet aanhou moeite gedoen word om dit vir dié wat moet agterbly, so goed moontlik te hou.

Casper Labuschagne ·

Ek het ‘n artikel op ‘n ander webblad geskryf juis oor wat vorentoe in ‘n sosialistiese SA sal gebeur, en my gevolgtrekking is dat absoluut almal wat kan emigreer, sal noodwendig vlug – beide wit en swart. Buiten vir ‘n groep van die wit elite, sal daar ‘n dramatiese verarming plaasvind van die wit bevolking wat in Suid Afrika agterbly. Dit sal ‘n daaglikse stryd van oorlewing wees onder ‘n oorwegende sosialistiese regering waar alles ingerig word volgens die bevolkingsamestelling asook die kommunistiese beginsel van gelykheid en verdeling van bronne. Wanneer onteiening ‘n werklikheid word, sal daar ‘n ekonomiese insinking in SA plaasvind asook buitensporige inflasie soos wat in Zimbabwe en Venezuela gebeur het. My voorspelling is dat namate blote ekonomiese oorlewing ‘n werklikheid word sal die behoud van Afrikaans afgeskaal word na ‘n mindere faktor.

Oom Piet ·

Was dit die inleidende, eerste salvo (oor die boeg) optrede ter beskerming van Westerse socio-ekonomiese belange teenoor die van BRICs, waarvan die piepklein “s” die stert is wat die hond rondswaai, wat maklikste gemuilband afgeknip kan word?
Sleep die VSA vlerk by Nigerie wat boonop olieryk is, en die “s” nie…..?

Casper Labuschagne ·

Duidelik het die lot van wit Suid Afrikaners ‘n opportunistiese speelbal geword in die politiek van Australië – dit gaan nie soseer oor wat in SA gebeur nie, maar oor Australië se eie politiek. Hoekom die lot van wittes in Suid Afrika ook vir die Australiese politiek van belang is, is omdat soveel elemente van ons politieke opset ook in Australië teenwoordig is, vanaf koloniale besetting, die ontneming van grond vanaf die inheemse bevolking, die ras element en so aan. Tans is daar identiese aansprake vir grondhervorming, regstelling van die verlede, teenkanting teen rassisme, beskerming in die werkplek en opheffing van die inheemse bevolking asook aansprake op vergoeding vir onregte van die verlede. Dan is daar die element van wit verskuldiging, waar liberale wit Australiërs effektief skuldverlam is vanweë onregte en gruwels van die verlede. Hoe slegter die lot van die wit minderheid in SA word, hoe meer geleenthede het konserwatiewes in Australië om te toon wat die uitvloeisel van Australiese liberale beleid sal wees.

Boer in die stad ·

Baie interesant, dankie.
Wil hulle regtig v ons he of het hul ook n kontantinspuiting vd ekonomie nodig?

Gerhard ·

Ek vermoed nie een van die twee nie. SA geld is omtrent niks werd in Australie. Die 10000 wat hulle wil inbring is ‘n druppel in die emmer. Dit gaan oor politici wat hulle kiesers gelukkig wil hou.

Deon ·

Die Liberale Party is ekonomies liberaal en sosiaal konserwatief. Afrikaners hier het vertrek omdat die Volk gestem het vir wat hul nou beleef. Die volksgerigte leiers en predikante kon vir 20jaar nie die realiteit dat slegs n proporsionele volkstaat weg van die metropole die enigste oplossing is nie. Weer van vooraf begin. En vergeet dat landbouers deel van die oplossing sal wees. Volg die geld as jy wil verstaan. Vir n volk wat nie ware leiers het nie, en vir n volk wat nie die oplossing wil volg nie (uitgesluit die minderheidsleiding van die Volksraad en die 2 kantonne), is die enigste oorblywende optrede van indiwiduele families om te immigreer. Hier word Afrikaners klaar n kritiese massa om te oorleef en die betekenisvolle kultuurskatte te behou. U is reeds groter vreemdelinge daar in die ou oorgaweland. Maar ons bid vir u, stort n traan vir u, maar u weet mos altyd beter en glyers is uitgesluit so ons los u uit om self te swem. Vir indiwidue, Google die Afrikaanse Klub, Min. Dutton, Andrew Hastie en kom. Sterkte.

Free for All ·

We as south Africans work hard to keep our homes keep our jobs our businesses if our dedication is not valued here then I say yes to being offered the opportunity to be able to being excepted into a country that values those qualities

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.