Baba Bokke voorspel ‘n blink toekoms vir SA-rugby

Die Baba Bokke vier hul oorwinning Foto: www.rugby365.com

Voordat ons die treurmare van Saterdag se wedstryd bespreek, laat ons eers vir ʼn oomblik terugsit en die lof van die Baba Bokke besing.

Nadat die Baba Bokke met die intrapslag teen Ierland verloor het, het baie swaarmoediges en doemprofete voorspel dat hulle veldtog ook in as en vlamme sal vergaan. Dit was dalk net die regte inspuiting om hulle opmars op ʼn ander vlak te plaas.

Hulle is toe onmiddellik onder druk geplaas, want toe moes Engeland ná die Italië-wedstryd met bonuspunte geklop word om na die finaal deur te dring. Dit het die beste uit die spelers gehaal en nadat die Engelse met vier drieë oortuigend geklop is, het die grote teen die Baby Blacks voorgelê.

Ek het my verlede Vrydagaand langs ʼn knetterende kaggelvuurtjie en ʼn vogtige versnapering in die hand voor die TV sitgemaak, soos die Namakwalanders sou sê.

Eerstens was die oorgawe by die spelers en die toeskouers op die paviljoene met die sing van die Volkslied opmerklik en aansteeklik. Hier kom ʼn ding, het deur my kop geflits. En was dit nie ʼn ding nie. Die rugby wat opgedis is, was voorwaar ʼn vertoonvenster van Springbok-rugby op sy beste!

Vat die manne voorlangs aan en slaan dan agter. Dit was inderdaad ʼn vertoonvenster van Suid-Afrikaanse rugby. My gelukwense aan Dawie Theron en Brendan Venter, julle het gewys dat die toekoms van ons rugby blink is.

Ongelukkig het ouboet nie Saterdag op Port Elisabeth die voorbeeld nagevolg nie. Of dit nou die naam van die stad was wat die Engelse geïnspireer het, of die feit dat hulle darem iets wou doen om te verhoed dat die toer nie ʼn absolute mislukking is nie, weet ek nie, maar hulle toewyding was strate beter as dié van die Bokke.

Die vuur en die toewyding wat in die vorige twee toetse by die Bokke te bespeur was, was weg. Inteendeel, die Engelse Rose het die kitaar geslaan en die Bokke moes walgooi dat dit klap. Ek staan by my standpunt dat wedstryde voor die tyd in die kleedkamer gewen word. Dit is Saterdag weereens bewys. Die Engelse wou wen en die Bokke het voor die tyd al gedink, ‘ons het klaar gewen’. Dít was die groot verskil tussen die spanne.

Maar ek glo nie ons moet te gou pessimisties raak oor die Springbokke nie. Dinge sal beslis vorentoe baie verbeter. Ek is net dankbaar dat ons nie gister teen die All Blacks gespeel het nie. Hulle het gister getoon dat hulle geen genade vir hulle teenstanders betoon nie en as hulle jou eers ondergekry het, trap hulle jou meedoënloos in die grond in tot die eindfluitjie jou uit die verknorsing red.

Vra maar vir die Iere.

Nouja, van volgende week af begin die laaste fases van die Super 15 en sal die Springbokke, wat nou nie so goed vertoon het in die toetsreeks nie, dalk die kans wil benut om aan die ou swakheidjies te werk, wat kop uitgesteek het.

Morné is dan terug by Vlok Cilliers en ons weet dat dit sommer beter met hom sal gaan… want die Bulle en hul ondersteuners het hom nodig.

Rugbygroete tot volgende week.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.