Balke, splinters en die heksejag op oud-polisiemanne

Ahmed Timol (Foto: Zetaboards.com)

ʼn Onlangse hofuitspraak deur regter Billy Mothle dat die anti-apartheidsaktivis Ahmed Timol van die dak of uit ʼn vertrek van John Vorster-plein gestamp is, kan lei tot ʼn moontlike heksejag op verskeie polisie- of veiligheidsbeamptes wat tydens die apartheidsjare (of dan Nasionale Party-bewind) diens gelewer het.

Die Mabelane-familie het ook intussen na vore getree en gevra dat die dood van Matthews Mabelane ondersoek word. Onmiddellik moet daar gemeld word dat daar nie onsimpatiek gestaan word teenoor families wat hulle geliefdes verloor het nie. Dit moet egter uitgewys word dat daar reeds ʼn proses was waartydens daar na antwoorde gesoek is, gepoog is om slagoffers se waardigheid te herstel en aansoeke om amnestie oorweeg is. Die proses het in 1996 afgeskop en is deur die Waarheids- en versoeningskommissie (WVK) gelei.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se eenheid vir misdrywe voortspruitend uit die WVK gaan volgens mediaberigte drie sake ondersoek waarvan Timol s’n die eerste was. ʼn Volgende saak wat moontlik ondersoek gaan word is dié van dr. Neil Aggett wat homself glo in 1982 in die John Vorster-polisiekantoor gehang het. Die WVK se bevinding in 1998 was dat lt. Stephen Whitehead en maj. Arthur Cronwright vir Aggett gemartel het. Cronwright is intussen dood en sou die vervolging voortgaan, sal Whitehead alleen tereg staan. Dit is belangrik om te vermeld dat die bejaarde polisiemanne wat nou vervolging in die gesig staar, vir hulle eie regskoste moet betaal aangesien die polisie weier om dit te doen. Dit beteken dat ʼn voormalige polisieman wie se meeste kollegas dood is deur die NVG voor die hof gedaag kan word om verantwoording te doen vir ʼn voorval wat in sommige gevalle tot 40 jaar gelede gebeur het.

Dit is ook belangrik om uit te wys dat die beplande vervolgings wat die nasionale vervolgingsgesag se eenheid vir misdrywe voortspruitend uit die WVK beplan, blykbaar nie gemik gaan wees op diegene wat aan die sogenaamde bevrydingsbewegings verbonde was nie. Daar kan dus met reg gevra word of families van slagoffers wat weens Umkhonto we Sizwe se bomme in Kerkstraat, Amanzimtoti, Durban, by die Johannesburgse landroshof en ander plekke se berusting dan ligter weeg. Dit blyk verder nie dat diegene wat by Kamp Quatro in Angola gemartel is geregtigheid kan verwag nie. Dit wil ook nie voorkom of Siphiwe Nyanda, wat in die dokumentêre rolprent Tainted Heroes erken het dat hy betrokke was by die plant van landmyne, wat onskuldige burgers geteiken het, binnekort in die beskuldigdebank sal sit nie.

Daar moet met groot omsigtigheid te werk gegaan word wanneer ons hou vir hou begin speel oor Suid-Afrika se geskiedenis. Wanneer die NVG besluit om bejaarde polisiemanne in die beskuldigdebank te plaas sal hulle met reg met die vraag gekonfronteer word: Wat van die moordenaars van die talle burgerlikes wat aan die hande van ANC-terreurdade gesterf het? Die onskuldige ma’s en kinders wat met motor- en asblikbomme geteiken is, die IVP-ondersteuners in KwaZulu-Natal wat uitgemoor is en die slagoffers in townships wat met ʼn brandende band om die nek vermoor is. Waar is diegene wat daarby betrokke was – nie net die bomplanter nie, maar ook die bevelvoerder wat homself vandag in ʼn top regeringsposisie bevind?

Die NVG moet diep gaan besin of hierdie hernieude aanslag op oudpolisiebeamptes gaan help om versoening in Suid-Afrika te bevorder en of dit eerder tot verdere polarisering sal lei.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Ons kan op die gevare wys tot ons blou is, ons kan die drukker se ink leeg skryf aan artikels, feit bly dat die meerderheid die mag het om dit te doen en dit gaan doen. Sonder om eie onheilighede aan die man te bring.

Dit sou dalk maar beter gewees het indien hul voor die WVK gebieg het, toe die geleentheid hom voorgedoen het.

Weereens kom die persone wat in posisies van gesag was weg en die voetsoldate word opnuut uitgelewer.

Johan ·

Ja – daar is net 2 tipes ANC ondersteuners. Die wat jou in die rug gesteek het en ….. die wat jou nog in die toekoms in die rug gaan steek.

Valerie ·

Die grootse in die gesit vat en vernedering is dat daar toegelaat is dat die terroris en moordenaar, ene Andrew Zondo, wat die 1985 bom in die Sanlam Sentrum in Amanzintoti geplant het en 5 mense, onder wie ‘n dame wat ek geken het, dieselfde straat waar die slagting (twee dae voor Kersfees) na hom vermoem is. Hoe laag is dit? Kan nie nie laer nie.
Ten minste is hy vir sy moorde gehang. Soos dit hoort.

Johan ·

Ek stem saam Valerie, en die ergste is dat sy bejaarde pa gevra het dat dit nie moet gedoen word nie omdat dit ou wonde gaan oopkrap. Maar die ANC het besluit om voort te gaan daarmee nieteenstaande al die teenkanting van oral af. Die beste is dat wanneer hulle die straatnaam opsit word dit toegeverf. Ons almal hier praat nogsteeds van Kingsway. Al hoekom hulle dit gedoen het, is omdat hulle kan! Hulle (dink hulle) is in beheer hier, so hulle sal maak en breek soos hulle wil.

John ·

Na dekades… nou gerieflike heksejagte en hofsake waarin waarheid en verdigsel eensydig vervleg word rondom sekere mense se vreemde motiewe, teateale getuies en bloeddorstige aannames… Dit sal vertroue in SA ‘n finale nekslag toedien. Die waarheid, soos ‘n perske, kan nie ryp gedruk of ryp vervloek word nie…

Johan ·

Ek stem saam Valerie, en die ergste is dat sy bejaarde pa gevra het dat dit nie moet gedoen word nie omdat dit ou wonde gaan oopkrap. Maar die ANC het besluit om voort te gaan daarmee nieteenstaande al die teenkanting van oral af. Die beste is dat wanneer hulle die straatnaam opsit word dit toegeverf. Ons almal hier praat nogsteeds van Kingsway. Al hoekom hulle dit gedoen het, is omdat hulle kan! Hulle (dink hulle) is in beheer hier, so hulle sal maak en breek soos hulle wil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.