Barnard-saak beslis tussen FW en ANC

Kaptein Renate Barnard en Dr. Dirk Hermann

Kaptein Renate Barnard en Dr. Dirk Hermann

Die ANC het op sy kenmerkende liggeraakte manier gereageer op oudpres. F.W. de Klerk se kritiek op hoe die party die land regeer. Ná al die kritiek wat die afgelope ruk op die ANC gelewer is, het die party se Oos-Kaapse tak besluit hulle kan maar hul woede op ‘n bejaarde voormalige president uithaal om die party se katarsis op te los.

Kortweg het FW aangevoer die ANC se huidige pad is nie volhoubaar nie en sy ideologie los nie die land se probleme op nie. Hy erken dat die ANC heelwat uit die verlede geërf het wat nie oornag opgelos kan word nie, maar kap dan die ANC se Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR), wat die land se ekonomie en hele bestaan wil orden volgens die demografie. Breedweg het hy gesê die openbare sektor is deurtrek van kaderontplooiing, onbevoegdheid en korrupsie. Hy het ook ‘n stekie ingekry na die Marxistiese inklinasies van die SAKP en Cosatu as vennote van die ANC en gesê hul ekonomiese idees is wat die arbeidsonrus en ekonomiese problem aanvuur.

Op sy beurt, het die ANC by monde van die Oos-Kaapse partysekretaris Lubabalo Oscar Mabuyane uitgevaar teenoor De Klerk omdat die Nasionale Party destyds swartmense doelbewus uit die ekonomie geskop en die ANC dit nou begin regstel het. Hy het ook gesê die ANC sal aanhou met regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en “ander beleide wat ekonomiese groei aanvuur”. Hy het gesê die beste ding vir De Klerk is om stil te bly of blankes aan te moedig om by die NDR aan te sluit en swart werkers op te lei en salarisse gelykstaande aan Indiër-, bruin en wit werkers te betaal.

Terwyl De Klerk ten minste erken het dat hy en die Nasionale Party (NP) van ouds foute gemaak het, sien mens nie hierdie eerlikheid by die ANC nie. En die ANC leer klaarblyklik nie uit die NP se foute nie. Die ANC het veral sedert die Mbeki-jare dieselfde kardinale fout as die NP begaan deur probeer om ‘n “meesternarratief” vir die land te skryf. Dit was gegrond op die NDR. Minderhede, veral die “rassistiese” Afrikaners maar ook die “neoliberale” Engelssprekendes, moet hul plek ken en die toelaat dat lojale partykaders beheer neem van die bevelhoogtes van die ekonomie en politiek. Die skole, universiteite, ekonomie en staatsektor moet die demografiese profiel van die land weerspieël sodat die NDR verder bevorder kan word en minderhede se stemme nie gehoor kan word nie.

Dit is gegrond op ‘n bevrydingsteologie waarvolgens die party as die “messias” na vore tree om die “ware evangelie” aan te kondig en toe te pas. Volgens die ANC sal die land slegs dán reg funksioneer. Hierdie denkraamwerk het in die jare 20 reeds beslag binne die ANC gekry, maar is formeel in 1969 deur die ANC en SAKP tydens ‘n konferensie aangeneem. Die SAKP is verbind tot die rewolusionêre aspekte van hierdie ideologie en hou volslae kommunisme as ‘n einddoel voor. Die uiteindelike doel van die NDR is om ‘n nie-seksistiese, nie-rassige en gelyke samelewing te skep. Gelykheid van uitkomste, nie gelykheid van geleenthede nie.

Daarenteen huldig De Klerk en meeste mense uit die minderheidsgroepe in die land, veral die Afrikaners, ander idees rondom die skep van ‘n nie-rassige, nie-seksistiese en gelyke samelewing. Vir hulle handel dit rondom gelykheid van geleenthede en nie uitkomste nie. Hulle glo as almal die vryheid gegun kan word om hulself te verwesenlik, sonder die boeie van regstellende aksie en ander diskriminerende maatreëls wat mense uitsluit op grond van wie hulle is, sal die land werklik gelyk wees. Al erken hulle almal speel steeds nie op ‘n gelyke veld nie, glo hulle nie daar kan nou onregte gepleeg word om historiese wanbalanse reg te stel nie.

Terwyl De Klerk hoog opgee oor die Grondwet en die regte daarin vervat, maak dit eintlik voorsiening vir beide benaderings. Die aanhef en handves van regte stel dit duidelik dat die land nie-rassigheid, demokratiese beginsels en nie-geslagtelikheid moet bevorder, en daar is ook ‘n prominente regstel-element daarin ingesluit.

Wie is dan reg en watter benadering voer die botoon in SA? Solidariteit se hofsaak oor kapt. Renate Barnard is ‘n baie toepaslike geval en die nuutste wending is tekenend van hoe die politieke winde waai. Terwyl die Grondwet plegtig verklaar dat daar nie weens ras of geslag gediskrimineer kan word nie, het sy, ten spyte van uitstekende kwalifikasies en mildelike ervaring, nie ‘n forensies werk by die polisie gekry nie. Die uitspraak in die appèlhof in die polisie se guns wys dat transformasie nou bo meriete tel. Die uiteindelike lakmoestoets vir die beleid van regstellende aksie in SA sal wees om te sien of die grondwetlike hof in die volgende ronde in ‘n wit vrou se guns beslis.

Wat egter van deurslaggewende belang in hierdie saak is, is dat die polisie daardie pos vakant gelos het omdat geen bevoegde swart kandidate gevind kon word nie. Wie ly dan eintlik daardeur? Slegs Renate? Nie heeltemal nie omdat sy vir ‘n forensiese pos aansoek gedoen het en dit ‘n diensleweringskwessie begin raak. Hoeveel moorde is onopgelos omdat sy nie haar werk kon doen nie, hoeveel rooftogte en inbrake kon al bewys word en hoeveel swart protégés kon sy al opgelei indien sy toegelaat is om die werk te doen waarvoor sy die nodige passie en kundigheid het? Dis moeilik om te beraam, maar een feit staan vas: Die vriende en familie van die slagoffers, wit én swart, gee nie om wie die misdadigers vastrek wat hul geliefdes vermoor het nie. Hulle soek geregtigheid en hulle soek dit vinnig.

Hierdie saak wys weer eens dat die breë publiek nie omgee oor kwotas en Regstellende aksie as dienslewering daaronder gaan ly nie. Die Grondwetlike Hof sal nou die dubbelsinnigheid tussen regstelling en gelykheid, oftewel ‘n gelykheid van uitkomste of ‘n gelykheid van geleenthede, hopelik uitklaar. Behalwe dat Barnard nie aangestel word nie – sy kan waarskynlik ‘n baie beter besoldigende pos iewers in die private sektor kry – is die ander onreg in hierdie saak, en een wat grootliks misgekyk word, dat daar nie geskikte swart kandidate vir haar pos nie. Dit is een van die ANC, en daarmee saam die NDR, se skouspelagtigste mislukkings oor die laaste 18 jaar en daarmee kan die ANC nie stry nie. Regstellende aksie is skadelik vir die ekonomie en dit is sleg vir almal as dienste nie gelewer word nie en swart bemagtiging moet plaasvind voordat ‘n persoon in ‘n pos aangestel word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.