Bartholomeusnag, die pandemie en Van Wyk Louw

Barend Uys. Foto: Verskaf.

Ons gesin sit en wag vir die erediens om te begin. Ek sit en wonder: Hoe sal ons kinders dit beleef as ’n klomp polisielede nou hier instorm om “inspeksie” te kom doen oor of daar aan Covid-19-regulasies voldoen word? Sal dit blywende letsels op hulle laat? Is dit reg om dié risiko te neem? Ek dink onwillekeurig terug aan die gebeure van 448 jaar gelede wat in die nag van 23 op 24 Augustus 1572 in Parys, Frankryk, afgespeel het.

Groot getalle Protestantse adel woon op 18 Augustus die bruilof van die protestant Hendrik van Navarra en Margaretha de Valois (suster van koning Karel IX van Frankryk) in Parys by. Op 22 Augustus is daar egter ’n sluipmoordpoging op admiraal Gaspard de Coligny, leier van die Hugenote. (Die dorp Coligny in Noordwes is na hom vernoem.) Hoewel hy ’n vinger verloor en sy een elmboog vergruis word, oorleef hy die aanval. Dit laat egter die spanning tussen die Hugenote en die Katolieke breekpunt bereik.

Die Katolieke vrees wraakaanvalle en in die nag van 23 Augustus laat koning Karel IX hom deur sy ma, Katarina de’ Medici, en Hendrik de Guise oortuig om die Hugenote-leiers te vermoor. ’n Vreeslike slagting wat in die vroeë oggendure van 24 Augustus begin en enkele dae lank duur, eindig met die moord op 2 000 Hugenote in Parys, terwyl 20 000 Hugenote na raming elders in Frankryk vermoor word. Daarom word 24 Augustus, Bartholomeusnag, tradisioneel deur die afstammelinge van die Hugenote herdenk.

Vra jy egter vandag vir Afrikaners met Hugenote-voorouers – soos die Jordaans, Le Roux’s en Du Toit’s – is die kans dat hulle hiervan weet maar klein. Is hierdie gebrekkige kennis van ons voorouers se ervaring een van die oorsake van Afrikaners se optrede – en gebrek aan optrede – vandag?

Dit is my enigste verklaring vir kerkrade se huiwering om eredienste te hervat uit vrees vir moontlike optrede deur polisielede. Hoe anders verklaar mens kerke se stilswye oor die onbillike beperking van ’n maksimum van 50 mense per geloofsbyeenkoms, terwyl dieselfde nie geld vir winkelsentrums nie? Waarom is ons stil oor nagmaal wat verbied word, terwyl mens in ’n restaurant saam kan eet en drink? Leë kerke op die vooraand van die herdenking van Bartholomeusnag is ’n aanklag teen elkeen van ons.

Ons, wat afstammelinge is van dié mense wat bereid was om hul lewens af te lê vir die beoefening van hul geloof volgens hul eie oortuiging, behoort diep te besin.

N.P. van Wyk Louw skryf in Helde:

“Ek het gesê: As ons tradisie teen 1800 of selfs 1652 begin het, dan is ons te arm en klein.

Sal jy meen dat ek ons volk en ons geskiedenis kleineer as ek sê dat ons nog te min groot figure opgelewer het om die verbeelding van ’n moderne Afrikaner volledig wakker te maak? Kleinerend sê ek dit nie, maar dit is ’n waarheid waarvoor ons nie ons oë durf toemaak nie; die ontkenning daarvan sou vir ons hele toekoms te gevaarlik wees.”

Hierdie ontkenning waarvan Van Wyk Louw praat, is gevaarlik omdat dit ons ontneem van die krag wat mens uit die verlede kan put. In dáárdie geskiedenis moet ons die waardes en ervaring ontdek wat die grondslag vorm waarop ons ’n toekoms kan bou. Verstaan my reg: Dit gaan nie om die verlede terug te kry nie; dit gaan om die toekoms te skep vanuit dít wat goed en mooi en waar is uit ons verlede.

Hierdie benadering is nie vreemd aan ons verlede nie. Met die aanvang van die Anglo-Boereoorlog reik F.W. Reitz, staatsekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), die boekie ’n Eeu van onreg (deur J.C. Smuts) uit. In hierdie boekie word daar krag geput uit die geskiedenis van die Hugenote en selfs so ver terug as Leonidas en sy 300 Spartane wat teen Ahasveros van Persië weerstand gebied het.

Groot uitdagings staar ons vandag in die gesig, soos baie keer in ons verlede. Een groot uitdaging is dat dít wat wet is teenoor dít wat reg is, al meer in spanning met mekaar staan en dat ons op ’n kruispad afstuur.

Van Wyk Louw bied vir ons ’n oplossing (ook in Helde):

“[O]m in te sien … dat ons Afrikanertradisie ver agtertoe strek deur wêrelde van die gees …”

As Afrikaners terugkyk na daardie geskiedenis wat “ver agtertoe strek”, wat net soveel deel van ons wese is as dít wat ons vandag beleef, dan sal ons besef dat ons, deur die genade van Bo, met vasberadenheid en deursettingsvermoë al vele beproewings oorleef het. Trouens: Ons het menigmaal oor honderde jare heen uit die as opgestaan en deur middel van ons eie gemeenskapsinstellings meer as oorleef – ons het gebou wat mooi is.

Ons moet op ons knieë gaan en bid vir krag en wysheid. Dan moet ons opstaan en, met ons voete stewig in die verlede geplant, ons oë rig op die toekoms. En bou!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Goeie skywe.
En ja, ek stem saam, ons kerke het ons versaak. Na ’94 gedienstig gedwee geraak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.