Basson ‘projekteer vooroordele teen Afrikaners op AfriForum’

Aan:  Adriaan Basson
Van:  Kallie Kriel (AfriForum)

Beste Adriaan,

Jou ope brief aan my, wat in By verskyn het, verklap dat jou vooroordele teen AfriForum nie werklik gegrond is op wat die burgerregte-organisasie doen of sê nie, maar eerder gegrond is op wat AfriForum is. Die feit dat AfriForum groot steun van Afrikaners ontvang en sy ledetal die afgelope 18 maande verdriedubbel het, is op sigself ʼn probleem wanneer jy en Malema-gesinde kommentators AfriForum beoordeel vanuit die diepliggende negatiewe stereotipes wat julle rakende baie Afrikaners koester.

Adriaan, die oorgrote meerderheid Afrikaners is gebalanseerde mense, wat wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe na streef. Hulle is trots op wie en wat hulle is, terwyl hulle ander gemeenskappe se erfenis ook respekteer. Dit is hierdie groep Afrikaners wat AfriForum toenemend steun.

Indien jy werklik op AfriForum se werksaamhede ingestel was, sou jy gesien het dat AfriForum byna elke hofsaak wat hy aanpak, wen. Dit impliseer dat AfriForum se argumente voor die howe geregverdig en op billikheid en die reg geskoei is. Indien jy dit in twyfel trek, skaar jy jou 100% by die groepie Malema-dissipels wat voortdurend die howe blameer wanneer hulle argumente deur die howe verwerp word.

Jou kritiek op AfriForum getuig van dubbel standaarde. Die volgende is goeie voorbeelde daarvan

Nadat die gelykheidshof in die Sonke Gender Justice Network-saak (SGJN) bevind het dat Julius Malema hom skuldig gemaak het aan haatspraak teenoor vroue, het die meeste mense, insluitend AfriForum, positief daarop gereageer dat die hof die waardigheid van vroue in beskerming neem. Adriaan, my aanname is dat jy ook positief was daaroor, aangesien ek nie gesien het dat jy ʼn ope brief aan die SGJN geskryf het waarin jy hulle daarvan beskuldig dat hulle vroue mislei en die gemeenskap polariseer nie.

Dieselfde geld toe die Durbanse gelykheidshof ʼn man beboet het omdat hy iemand die k-woord genoem het. Adriaan, in hierdie geval was daar geen ope brief van jou nie.

Tog, noudat AfriForum vir soortgelyke haatspraak teen Afrikaners die hof genader en die saak gewen het, ag jy dit nodig om AfriForum in ʼn ope brief te beskuldig dat hy Afrikaners mislei en mense polariseer. Dit is vreemd dat jy nie insien dat dit net so onaanvaarbaar behoort te wees vir Julius Malema om Afrikaners honde te noem wat geskiet moet word, as wat dit is om vroue en swart mense se menswaardigheid aan te tas nie.

Terwyl jy die beskuldiging maak dat AfriForum Malema pak omdat dit “lonend” is, is daar natuurlik ook mense wat sal aanvoer dat dit “lonend” vir jou loopbaan by City Press is om ʼn brief te skryf waarin jy AfriForum aanval. Ek dink egter nie dit is die geval nie. Dit wil eerder voorkom of jy só op sleeptou geneem is deur die propaganda teen AfriForum, dat jy self selektief met die werklikheid begin omgaan. Soveel so, dat jy tereg raaksien wanneer AfriForum Malema en regter Motata se rassistiese tirades aanvat, maar dit miskyk wanneer AfriForum hom sterk in die openbaar uitspreek teen voorvalle waar swart mense se waardigheid aangetas word deur die gebruik van die kwetsende k-woord. Daar is ʼn lang lys soortgelyke optredes, wat bevestig dat AfriForum konsekwent standpunt inneem vir dit wat reg is.

Adriaan, in jou pogings om AfriForum te diskrediteer, haal jy ook statistiek selektief en verkeerd aan. Jy vra byvoorbeeld waarom AfriForum nie ‘n positiewe verklaring uitgereik het toe plaasmoorde met “byna 100%” gedaal het nie. As jou “100%” afname korrek was,  sou beteken dat daar nou geen meer plaasmoorde is nie! As dit so was, kan ek jou verseker AfriForum sou die eerstes gewees het om die regering daarmee geluk te wens.

Ongeag jou kritiek, sal AfriForum voortgaan om, sonder om skaam te wees vir wie en wat ons is, in te tree wanneer Afrikaners onbillik behandel word. AfriForum sal ook nie huiwer om konsekwent in te tree wanneer ander Suid-Afrikaners se waardigheid aangetas word nie. Hierdie parallelle rol is juis moontlik omdat die meerderheid van Afrikaners besef dat hulle identiteit op Afrikabodem ontwikkel het en hulle tegelyk trotse Afrikaners en Afrikane kan wees.

Adriaan, ek nooi jou en ander wat steeds vooroordele koester teenoor diegene met wie hulle verskil, om saam te bou aan ʼn samelewing wat gebaseer is op wedersydse erkenning en respek. Natuurlik beteken dit nie dat ons nou op polities korrekte wyse nie van mekaar mag verskil nie. Daar is baie verskille en robuuste debat is nodig. Robuuste debat word egter gekniehalter deur die stereotipering. Kyk eerder na AfriForum se geregverdigde argumente as om die organisasie met ongegronde stereotipering te probeer diskrediteer.

Beste wense,

Kallie Kriel

Uitvoerende hoof: AfriForum

*Hierdie brief verskyn vandag in By.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Ek vind Basson se stelling, dat Afriforum verantwoordelik kan wees vir die skep van nuwe Skierlik-moordenaars, uiters onsmaaklik.

Ek glo eerder dat Afriforum juis ‘n uitlaatklep bied vir frustrasies wat by so baie gewone Afrikaners veroorsaak word deur die verwaarlosing waaraan die ANC-regering hulle onderwerp.

Suid-Afrika se agteruitgang op die internasionale maatstawwe van menslike ontwikkeling, geletterdheid, verwagte lewensduur, verspreiding van welvaart, misdaad, ens. het bitter min met Afrikaners te doen en heelwat met die pligsversuim van die regering.

As sodanig is ek dankbaar vir die bydrae wat Afriforum lewer om ons kwesbaarheid (d.m.v. die verdediging van ons bestaande regte in die howe) te verlig.

Ons kwesbaarheid is egter die produk van ons uiters beperkte politieke bedingingsmag in die Suid-Afrikaanse eenheidstaat en sal voortduur namate ons ‘n minderheid in elke munisipale en provinsiale kiesafdeling/wyk bly.

Terwyl Afriforum uitstekende taktiese veldslae tot ons voordeel voer, loop ons die risiko om onsself in ‘n strategiese doodloopstraat vas te loop indien ons nie terselfdertyd onsself herposisioneer binne die Suid-Afrikaanse werklikheid nie.

Die strategiese werk wat Orania doen, om ‘n gebied te bou waar Afrikaners ‘n meerderheid vorm wat onafhanklik van vreemde arbeid is (binne ‘n groter Afrikaans-vriendelike omgewing) gaan deurslaggewend vir ons volhoubare voortbestaan op hierdie kontinent wees.

Anoniem ·

Martin Luther King Jr. het gesê: “In every movement toward freedom, some of the opressed prefer to remain opressed.”

Die vraag is egter of Afrikaners wel onderduk (opressed) word vir bogenoemde stelling om van toepassing op ons te wees.

Hoewel Afrikaners se individuele regte ingevolge die Grondwet gewaarborg word, is die regering se nakoming van daardie waarbog gebrekkig.

Dit beteken nie dat Afrikaners geteiken word nie, maar Afrikaners beskik oor die algemeen oor die gevoel dat hulle self beter sou kon doen as regering om daardie regte aktief te waarborg.  Die ANC hegemonie en Suid-Afrika se verkiesings wat grootliks rasse-sensusse verteenwoordig, verhoed Afrikaners om effektief aan regering deel te neem of om dit te beïnvloed.

Tweedens word Afrikaners soos ander etniese groepe se groepsregte groortliks ontken deur die Grondwet.

Ander etniese groepe vind hierdie toedrag van sake minder van ‘n probleem, omdat hulle effektief daarin slaag om sekere gebiede demokraties te domineer.  Xhosa in die Oos-Kaap, Zoeloe in Natal, Kleurling in die Wes-Kaap en Noord-Kaap, Sotho in die Vrystaat, Tshwana in Noord-Wes, Indiër in Durban, ens.  Hierdie streeksdominasie laat hulle toe om hulle groepsbelange d.m.v. die verskillende regerinsfere te bevorder.

Afrikaners daarenteen is oral in die minderheid en trek dus aan die kortste ent wat die beskerming van hul groepsidentiteit d.m.v. regeringsinvloed betref.

Die gebrekkige toegang tot beskerming van individuele regte sowel as gebrekkige groepsregte plaas dus wel die Afrikaner in ‘n posisie van onderdrukking in vergelyking met Suid-Afrika se ander kulturele groepe.  

Hoewel die gevolg van die onderdrukking in sekere opsigte deur effektiewe private sektor-aktiwite van Afrikaners verminder word, is dit baie duidelik sigbaar onder diegene wat nie oor private rykdom beskik wat hul kan aanwend om hul regte te verskans nie.

As sodanig is die aanhaling van Martin Luther King Jr. hierbo wel van toepassing op Afrikaners.

Hoe is dit van toepassing op hierdie gedeelte van Die Groot Debat?

Wel, ek reken eenvoudig dat Adriaan Basson een van daardie Afrikaners is wat die onderdrukking verkies, waarskynlik weens sy bevoorregde posisie by CityPress.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.