Becker-broers se positiewe scenario’s

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Dit gebeur selde dat die slegste moontlike verwagte bedeling vir ’n land bewaarheid word. Dis ook nie vergesog dat ’n land se ekonomie binne ’n kwessie van 25 jaar, oftewel een generasie, omgedraai kan word van benard tot voorspoedig nie.

So reken die broers Markus en Joe Becker. Albei is ingenieurs en projekbestuurders met internasionale ervaring. Markus het ’n meestersgraad met lof behaal by die Instituut vir Toekomsstudies aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het ook ’n spesiale korporatiewe toekenning ontvang van die Internasionale Skool vir Toekomsstudies in Brittanje.

Hulle het onlangs ’n lesing gegee by die US-instituut waarin hulle vier scenario’s voorgehou het van hoe die land teen 2045 kan lyk. Al die moontlikhede is gemik daarop om die drie basiese probleme van armoede, werkloosheid en ongelykheid te verlig.

Anders as ander geleerdes gee hulle nie verskillende opsies van goed tot sleg nie. Hulle vertrekpunt is om verskillende opsies vir ’n positiewe toekoms te skets. Hulle sluit dus die “low road”-opsie uit. Hulle wys daarop dat al dikwels gevrees is dat die land totaal in duie sou stort, maar dit het nog nooit gebeur nie. En selfs al sou dit gebeur, is dit moontlik om binne 25 jaar weer op ’n positiewe koers te wees.

Hulle verwys na die voorbeeld van Duitsland. Dié land het in die vyf jaar tot 1938 met 55% gegroei. Daarna het Adolf Hitler homself as diktator gevestig en Duitsland na totale verval gelei. Die land se bevolking het van 68 miljoen voor die Tweede Wêreldoorlog tot 65 miljoen daarna gedaal. Die lewensverwagting het verswak van 61 tot 46 jaar. Die land se ekonomie en infrastruktuur was verwoes. Dit kon kwalik slegter gaan. Maar die Duitsers het aan die werk gespring en herbou. In die dekade tot 1963 het die bruto binnelandse produk (BBP) met 250% gestyg. Die lewensverwagting het toegeneem tot 69 jaar. En die land het ’n funksionele demokratiese bestel gevestig.

Die Becker-broers ontleed die huidige situasie hier as volg:

Armoede: Meer as die helfte van die bevolking ervaar steeds armoede, maar dit het in die geheel verminder sedert 2000. Sowat 40% ervaar egter steeds erge armoede – dis diegene wat R810 per maand per persoon verdien. Meer as 60% van mense en hul afhanklikes, oorleef op staatstoelae.

Werkloosheid: Dit het al die afgelope 25 jaar vasgehaak tussen 25 en 30%. Die Vierde Industriële Rewolusie (4NR) verminder poste wêreldwyd. In Suid-Afrika word die probleem vererger deur ’n gebrek aan vaardighede. Diegene met werk bring gemiddeld 42,9 uur per week by die werk deur – dit is van die langste ter wêreld. Een uit tien mense werk vir die staat en hulle verbruik sowat 34% van die land se begroting.

Ongelykheid: Soos welbekend, is Suid-Afrika een van die lande met die grootste ongelykheid in die wêreld. Vanaf 2011 tot 2015 het werkendes se reële inkomste gestyg, maar die onderste 50% s’n nie. Die top 10% het 56% van die inkomste verdien en 95% van die rykdom. Swart mense word die ergste getref deur ongelykheid. Hulle maak 81% van die bevolking uit, maar net 23% van die elite, 67% van die middelinkomstegroep en 95% van die armes.

Hulle voorsien die vier scenario’s so:

Uit die Becker-broers se vier scenario’s is die beste opsie herindustrialisasie met die regering, vakbonde, die privaat sektor en die burgerlike samelewing wat saamwerk in ’n maatskaplike verdrag.

In elk van die ander drie positiewe opsies is daar ook negatiewe elemente. Die swakste van die vier is dat die land maar op ’n drafstap voortgaan soos nou, maar basies afhanklik is van China wat vir eie gewin Suid-Afrika se bronne gebruik en die mark hier ook as afsetgebied vir sy verbruikersgoedere aanwend.

Die werklik interessante deel van die virtuele byeenkoms was die aktiewe deelname van die sowat 40 inskakelaars. Hulle is in vier groepe verdeel en elke groep is ingedeel by een van die vier scenario’s. Hulle is dan denkbeeldige karakters gegee, almal so rondom 30 jaar oud. Die persoonlike besonderhede van die karakter is gegee – soos waar hy/sy woon, gesinsbesonderhede, ensovoorts.

Die groep moes in ’n werksessie hulself in die situasie van die karakters plaas en probeer om te beskryf wat hulle 25 jaar van nou af beleef. Elke groep moes dan ’n profiel saamstel van ’n manlike en vroulike karakter aan die hand van vrae soos: Wat eet hy/sy vir ontbyt? Wat doen hulle met hul vrye tyd? Waar werk hulle? Wat doen hulle daar? Wat is hul kwalifikasies? Moet hulle vervoer gebruik en wat? Watse tegnologie gebruik hulle? Hoe gesond is hulle? Wat is hul drome? Wat bekommer hulle? Wat dink hulle van die gemeenskap waarin hulle hul bevind? Wat dink hulle van die regering? Of van hul maatskappy of plek van werk? Hoe voel hulle oor die omgewing?

Om sulke karakters lewe te gee binne ’n werklikheid 25 jaar vorentoe, is pret, maar ook besonder leersaam. Dit dwing jou om mensgerig te dink oor die toekoms. Dit word ’n praktiese oefening om jou te probeer indink hoe jy verskillende scenario’s sal beleef. Jy kan dié tegniek gebruik om verskillende profiele saam te stel van mense in die verskillende scenario’s; of oor hoe mense kan verskil in hul sienings selfs binne een scenario – byvoorbeeld om hulle in verskillende soorte leefstyle in te deel. Of jy kan die karakters se ouderdomme laer of hoër bepaal. Dit sal dan weer ander belewenisse na vore bring.

In die voorlopige oorsigtelike ontleding van die terugvoer van die vier groepe blyk dit dat misdaad ’n groot kommer bly – veral in die scenario’s waar ongelykheid steeds voortduur. Verstedeliking brei uit behalwe in die scenario Post Arbeid, Sosiale Demokrasie waar dié tendens begin omswaai. In al die scenario’s blyk dit dat die middelklas die swaarste gaan trek vir die minste relatiewe voordeel.

Oor die hele spektrum heen sal die armes beter daaraan toe wees, maar waar die gaping in ongelykheid nog groot is, bou die frustrasie op. Die beginsel word gesteun dat ’n sterk staat nodig is vir die implementering van die maatskaplike verdrag, maar die regering moet nie outokraties wees deur te veel inmenging nie – soos in streng voorskrifte oor outomatisasie.

Miskien sal dit ’n interessante oefening wees vir die lesers van Maroela Media om jouself op ’n bespiederspos te plaas 25 jaar die toekoms in en te vertel wat jy (realisties gesproke) waarneem. Dan kan jy vra: Is dit waar ek myself en/of my gemeenskap ’n kwarteeu van nou af sal wil sien? As jou scenario positief is, soos die vier hierbo, goed so en werk daaraan om dit te probeer realiseer. As jou prentjie bietjie donker is, wat kan jy doen om groter lig in jou toekoms te verseker?

In alle gevalle hang die mate van sukses ook af van eie persoonlike ywer. So kan jy help sorg dat die toekoms jou nie oorval nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

OW ·

Interessante skrywe Freek.Jou laaste paragraaf het ‘n woord wat my al baie aan die dink gesit het.Die afgelope 26 jaar het die hele politieke bestel in Suid-Afrika my laat dink aan “ywer sonder kennis”Die geesdrif is daar sonder om iets te bereik.Suid-Afrika kan ook nie meer met eerste wêreld lande vergelyk word nie.Daardie dae is lankal verby.Ek vertrou dat SA in die toekoms beter gaan lyk,maar soos die rockgroep Boston sing”The future is blind”

Kanjynoumeer ·

Die Becker broers praat van Duitsland.
Suid-Afrika of Afrika is n heel ander scenario.
Die opbou aan Suid-Afrika het na al die jare tot n hartseer einde gekom soos ook Zimbabwe en Mosambiek.
Pessimisties, nee wat net realisties.

Fritz ·

Jip, sodra die wigte en teenwigte inskop, sal dinge verbeter.

annie ·

Herindustrialisasie: Om die wiel weer uit te vind en alle nuwe ontwerpe sedert die uitvinding voor 2020 te verbied want alle beswaardes volstaan met ‘n vierkantige vorm uit goud met diamante en groen robyne versier en deur wetgewing onderskryf. Grootse planne by aanbiedings deur ‘kenners’ uiteengesit… aaitog. Spaar ons uit.

Therese ·

Baie interessant, soos altyd, deur Freek Robinson!
Ook nie verrassend dat “herindustrialisasie” as die beste opsie aangedui word nie.
Presies wat die verguisde Donald J. Trump al vier jaar gelede geïdentifiseer het as prioriteit van sy administrasie, na dekades van globalisering waartydens China die fabriek van die wêreld geword het.
Dieselfde word tans al hoe harder in lande soos Australië gesê, heel waarskynlik te laat.
SA het nog tyd, as gesonde verstand seëvier, om sy groot en relatief goedkoop werkersmag te bemagtig.

Marthinus W ·

Duitsland het biljoene dollar van Amerika ontvang, wat hulle gehelp het om ekonomies weer op hulle voete te kom. Sonder die Marshall-plan sou dinge moontlik nie so gou reggekom het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.