Begin eindfluitjie vir Geloftefeeste blaas?

Geloftedag by die Voortrekkermonument, 2007 Foto: www.gideonvanzyl.co.za

Begin eindfluitjie vir Geloftefeeste blaas? Hierdie vraag val nié uit die lug nie. Dit spruit uit ‘n poging om vir ‘n publikasie besonderhede oor vanjaar se Geloftefeeste, veral in die Vrystaat, te bekom.

Verskeie versoeke is uitgestuur vir besonderhede, en ‘n hele paar internetsoektogte is geloods. ‘n Paar, soos Bloedrivier en Vegkop by Heilbron, die ou staatmakers, is gevind, maar van organiseerders wat reageer en die data na die koerant aanstuur… niks.

Een dominee wat by sy kerk ‘n Geloftediens aanbied, het op ‘n regstreekse navraag gereageer. Maar van daardie Geloftediens het ek toevallig geweet omdat dit in my kerk se nuusbrief bekend gestel is.

Met so min terugvoering is dit nie duidelik of van die Geloftefeeste doodgeloop het nie, en of dit bloot swak bemark word nie.

In die vroeë tagtigerjare het ek by ‘n taamlike groot dagblad gewerk. Van heinde en verre het die nuus gekom oor waar Geloftefeeste aangebied gaan word, wie die gassprekers gaan wees, en boonop uitnodigings aan die koerant om dit by te woon. Ek dink nie enige koerant sou daardie tyd van die jaar genoeg verslaggewers gehad het om al die Geloftefeeste by te woon nie. Boonop was die koerante se redakteurs byna altyd iewers ‘n gasspreker, en die eerstekeuse-verslagspan is soontoe gestuur. Die ander wat bygewoon kon word, is met die hand uitgesoek, met die gasspreker wat ‘n belangrike rol gespeel het by die keuse.

Die uwe het self by geleentheid ‘n lang stuk grondpad aangedurf om te gaan luister wat dr. Niel Barnard, toe die land se spioenebaas, te sê gehad het.

Die soektog deur argiewe om leidrade te kry van Geloftefeeste dui plekke aan waar ‘n mens lanklaas van Geloftefeeste gehoor het – sommiges erg tradisievas. By Winburg word onthou hoe staatspresident Blackie Swart opgetree het. Hy het immers daar naby, by Brandfort op sy plaas, De Aap geboer. Van groot name wat by Bultfontein se fees gepraat het. By Vredefort was enkele jare gelede nog ‘n tradisieryke fees. Byna almal het unieke name.

Maar dis nou byna onmoontlik om sonder reuse uitgawes vas te stel waar feeste plaasvind.

Selfs Orania het nie op die navraag gereageer nie – of hul reaksie het in die kuberruim verdwaal, maar die program is darem op die internet as deel van die vakansieprogram opgespoor.

Rondom Bloemfontein was ten minste drie feeste, sommiges minstens nog baie onlangs.

Is dit dalk oor die organiseerders dit per e-pos moet laat weet, of dan iemand moet vra wat wel oor e-pos beskik?

Die meeste media het ‘n vaste reël: Dagboektipe data moet skriftelik ontvang word – hetsy per e-pos, brief, nota wat afgegee word of faks. Die rede is eenvoudig: Foute sluip in, en as die verkeerde data eers gepubliseer is of uitgesaai is, is dit byna onmoontlik om die skade weer reg te stel.

Ek onthou goed hoe ‘n regter se weduwee ‘n optog gereël het, en my by die radiostasie waar ek nuusredakteur en enigste nuuspersoon was, op die mees ongeleë tyd gebel het om die nuus oor te dra. Ek was naamlik besig om die volgende nuusbulletin te proeflees voor dit ateljee toe geneem word. Ek bedoel om die gesprek kort te hou: “Mevrou, ons aanvaar nie sulke inligting telefonies nie. Stuur vir ons ‘n faks en ons saai dit uit.”

“Maar my hartjie, ek het nie ‘n faksmasjien nie.” Dis nou nie my probleem nie, maar sy maak dit myne. Ek kry haar nie van die lyn af nie, en ek luister al hoe minder terwyl ek op die proeflees probeer fokus. Ek neem eenkant die besonderhede af, bloot om haar van die lyn af te kry. Ek plaas die nota langs die rekenaar, sodat ek die data kan vergelyk wanneer die plaaslike koerant dalkies wel die besonderhede so telefonies aanvaar.

‘n Dag of wat later is die data wel in die koerant, en die tyd verskil van dit wat aan my verskaf is. ‘n Hele vyf mense neem aan die optog deel.

Kortom, daar is ‘n goeie rede hoekom dit asseblief op ‘n manier op skrif moet wees – as die data verkeerd uitgesaai of gepubliseer word, weet ‘n mens darem vir wie om kwaad te wees. Die optogtante sou immers nooit erken sy het die verkeerde tyd (en as ek reg onthou boonop die verkeerde dag ook) vir my telefonies gegee nie.

Of is daar in die Vrystaat werklik so min Geloftefeeste en Geloftediense in kerke oor dat dit op die een hand getel kan word? Navrae is immers aan van die groot sambreel-kutuurorganisasies gestuur wat terug laat weet (dankie vir die terugvoer) hulle hou nie self sulke data nie, maar stuur die navraag aan na ander wat dalk meer data sal hê – en van wie jaar na jaar niks gehoor word nie.

Ek dink ook nie dit gaan veel help om te gaan soek na Geloftefeeste wat “politiek-korrek” nou versoeningsdagfeeste genoem word. Jaar na jaar is die media wat dit durf waag om ‘n Geloftefees ‘n Versoeningsdagfees te noem, kniediep by die organiseerders in die warm water. Selfs al was die kern van die boodskap dat die Geloftefees eintlik ook versoening as oogmerk gehad het – boodskappe wat ‘n mens veral uit kerke se Geloftedienste kry.

Plek-plek is Geloftefeeste duidelik politiek gekaap. Hierdie kapings is soms gedoen deur mense wat nie met, soos hulle dit stel, die liberale media praat nie. Die publikasie waarmee ek hier help, val allermins in daardie kategorie.
Of sou die meerderheid organiseerders nou uit die “liberale” kring kom en nie met die “regse” media praat nie?

Of is dit ‘n geval van ‘n strewe na politieke onverbondenheid dat die inligting so weg van die media gehou word?
Of, helaas, is dit maar net ‘n geval dat die Geloftefeeste onder die kollektiewe aanslag van Versoeningsdag en onbetrokkenheid by die Gelofte in die slag bly?

Ek weet nie want ek kry te min data.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Estelle Kleinhans ·

Ek voel persoonlik dat dit nie behoort saak te maak hoeveel mense Geloftefeeste/dienste bywoon of nie. Dis seker vir elkeen om eendag verantwoording te moet doen.(al is dit tragies dat mense deesdae verkies om nie hulle beloftes aan die Here na te kom nie) Dis net vir my belangrik dat die kerke wel n diens het sodat die wat dit wil bywoon die geleentheid het. Al is dit n handjievol. Dis partykeer al wat n mens nodig het. Ek kry die idee dat sommige predikante net te maklik bereid is om nie n diens te lewer nie en dan die belangstelling die skuld te gee. Omdat die hele idee vir sommiges polities geword het en hulle verkies om saam met die stroom te gaan beteken nie dat ons almal so voel nie. En dis belangrik dat diegene wat wel hulle verantwoordelikheid besef en waardeer die geleentheid het om dit uit te leef.

Rudie ·

Dit is nou nie in die Vrystaat nie, maar die Geloftediens by die Voortrekkermonument geniet steeds groot belangstelling. Dit is nou ‘n twee jaar gelede dat ek laas daar was. Ek doen kontrakwerk elders op die vasteland, en kom gewoonlik eers kort voor Kersfees by die huis aan. Hierdie jaar land ek die nag van 16 Desember. Dit is nie my keuse nie. Ek moet by die organisasie waar ek werk, se datums inval. Die laaste keer dat ek bevoorreg was om die diens by te woon, was in 2009. Toe, net soos die vorige jare, moes mens vroeg daar wees om binne plek te kry. Daar is wel ook tentdakke op die grasperke, met luidsprekers buite. Ek het geweet ek gaan laat wees vir ‘n sitplekkie binne, en het my seilstoel saamgeneem en buite in die skaduwee van die Monument, waar daar die heeltyd nog minstens ‘n strepie beskutting teen die son sou wees, stelling ingeneem. Wat ‘n belewenis, soos gewoonlik.

Dit is ‘n erediens, met lekker knop-in-die-keel-sang vooraf. Geen politieke toesprake en randvertonings nie. Dit is gefokus op die betekenis van die Gelofte vir ons vandag. Ek merk gewoonlik mense van duidelik verskillende politieke oortuiging daar op, sonder voorvalle. Dit is mos hoe dit moet wees – om saam te onthou, al verskil ons van politieke oortuiging.

En van my kant af, al sal ek nie daar wees nie, sterke met die voorbereidings. En as ‘n oud-Voortrekker, geluk aan Die Voortrekkers wat gewoonlik ‘n groot rol speel met steun tydens die geleentheid. Hou koers!

Herman Toerien ·

Die publikasie het intussen teen groot koste deur die bel van selfoonnommers ‘n hele klompie data gekry. Die Geloftefees by die Voortrekkermunument ontbreek – dié instansie het nie op die e-posnavraag wat via die webwerf, of ander instansies se verwysings na hulle, gereageer nie. Ek kon wel op die webwerf met ‘n verbyloopteks sien dat daar ‘n gedenkdiens op 16 Desember is, met meer besonderhede op die Facebookblad. Ek is nie ‘n faceboom-mens nie, maar kon dit in elk geval nie op die profiel kry nie.
‘n Afrikaanse gemeenskapsradiostasie het ook gereageer, en aangedui hulle het dieselfde probleem. Teen daardie tyd het hulle elke jaar al meer as twintig Geloftefeeste op hul dagboek gehad, maar vanjaar net een.
Ek het ook gesien ‘n streekpublikasie het ook ‘n pleidooi gepubliseer dat mense inligting moet instuur. Dit was nog nie voorheen nodig nie. Op die Steedshervormers se facebook het ek gesien iemand het ‘n webwerf begin wat die Geloftefeeste se besonderhede plaas – toe ek die webwerf oopmaak het dit wat die VS betref, net verlede jaar se besonderhede bevat. Vreemd, ek het dié webwerf nie via ‘n Google-soektog gekry nie.

ebert ·

Ek vermoed dat e-pos, veral op die platteland en in ag genome die ouderdomsprofiel van die meeste organiseerders, ‘n gebrekkige kommunikasiemiddel vir Geloftedienste sal wees.

Dit beteken egter nie dat die gebrek aan spontane kennisgewing oor die dienste nie rede tot kommer behoort te wees nie.

Die vraag kan gevra word tot watter mate die reël van Geloftedienste oorgelaat is aan instansies wat na 1994 eerder agteruit gegaan het as vorentoe? Dalk sal van die jonger, selfdoen organisasies se takke hierdie funksie moet begin oorneem in die belang van ‘n tradisie, ons volk en ons verantwoordelikheid teenoor ons Skepper.

Herman Toerien ·

In vanoggend se Woord en Perspektief in Volksblad skryf Hannes Noëth http://www.volksblad.com/Rubrieke/WoordenPerspektief/n-Roep-na-God-van-Bloedrivier-20111211 dat Geloftefeeste herleef en meer a-polities raak. Inderdaad kon die publikasie wat ek gehelp het uiteindelik teen groot koste ‘n langerige lys van Geloftefeeste in die Vrystaat en ‘n paar uitgesoektes alders, soos Paardekraal en Bloedrivier, bymekaar maak, maar die Voortrekkermonument is nie op die lys nie (hulle het my ook steeds nie geantwoord nie).
Uit die lys wat wel saamgestel is, is ‘n paar baie bekendes in politieke kringe.

H J Bester ·

Hier in Namibië vind daar steeds jaarliks in verskeie dorpe Geloftedienste plaas en in sekere boerdery-gebied, selfs trandisionele Geloftefeeste wat oor 2-3 dae strek. Feesgangers daag reeds 2 dae voor Geloftedag op, slaan ‘n tentekamp op en word daar gewoontlik om die kampvuur konsert gehou. Die volgende dag word gewy aan boeresport en sommer net lekker kuier. Die oggend van 16 Desember vind ‘n erediens plaas waarna al die feesgangers weer oppak en na hul onderskeie tuistes terugkeer.

Die 16de Desember het geen status as publieke vankansiedag nie maar nogtans hinder dit nie die belangstellendes om die Gelofte na te kom nie. As werkende in diens van ‘n groot onderneming, het ek bloot afwesigheid, sonder enige probleme, vir ‘n uur gereël om die Geloftediens in die kerk by te woon.

Geloftefeeste het geen politieke karakter nie – dit gaan uitsluitlik oor die Gelofte en die erediens.

Herman Toerien ·

Baie dankie HJ, vir hierdie kosbare bydrae. ‘n Mens hoor soveel positiewe sake hieroor.
Ongelukkig lyk dit vir my is daar ook die nie-positiewe. Die Volksblad se streekkoerant wat vanaf Bethlehem versprei word, Vrystaat, het ‘n baie groot oplaag. Dié koerant het onlangs in ‘n artikel gevra dat nuus oor Geloftefeeste ingestuur moet word. Ek het pas op die argief gaan kyk (wat dit met Volkblad deel) en dit lyk nie of Vrystaat-koerant enige terugvoer gekry het nie.
Nogmaals baie dankie. Jou bydrae gee ‘n mens hoop dat dié gebruik sal voortleef en op die regte manier.

Francis van Zyl ·

Ek was vanoggend 16 Desember 2012 by die Voortrekkermonument om die Geloftediens by te woon. As ek kyk na die hoeveelheid mense wat daar was is daar darem nog baie wat die dag gedenk. Hoop volgende jaar met die 175ste herdenking van die Groot Trek sal daar nog meer mense wees om die diens by te woon.
Die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting het albei ‘n facebook blad. Dis die moeite werd om daarna te kyk en dit te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.