Begroting 2016: Groei is die kernpunt, maar dit ontbreek

pravind-gordhan1

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Die nasionale begroting vir 2016 was weens verskeie faktore een van die moeilikste begrotings in die ANC-regering se geskiedenis.

Die oomblik toe die begrotingsdokumente vrygestel is, het die rand teenoor die Amerikaanse dollar verswak. Die JSE het op daardie dag ook laer gesluit. Dit toon dat beleggers en kredietgraderingsagentskappe nie oortuig was dat die begroting genoeg gedoen het om die swak toestand van staatsfinansies om te keer nie.

Die belangrikste faktor wat die begroting moes aanraak, was gebrekkige ekonomiese groei, tans onder 1% van BBP geskat, ʼn hoofkommer van die graderingsagentskappe.

Moody’s én Standard & Poor’s (S&P), twee van die belangrikste kredietgraderingsagentskappe, was skynbaar tevrede met sommige van die begroting se elemente, maar is nog steeds bekommerd oor BBP-groeivooruitsigte. Die Solidariteit Navorsingsinstituut deel daardie kommer.

Moody’s en S&P volg nou ʼn wag-en-sien-benadering, wat nie latere afgradering uitskakel nie. ʼn Afgradering na rommelstatus kan uiters negatiewe gevolge inhou. Saam met duurder staatskuld kan dit beteken dat heelwat beleggersfondse eenvoudig opdroog en verdwyn – wat katastrofaal is vir ʼn klein ekonomie.

Groei is nodig, maar gaan dit realiseer?

Ekonomiese groei is ʼn spilpunt van die huidige begroting se gesondheid. Indien groei swakker is as wat die Tesourie voorspel, gaan belangrike ratio’s, soos skuld, die begrotingstekort-, belastinginkomste en staatsuitgawes, as ʼn persentasie van BBP verswak. Die ratio’s word deur beleggers en kredietgraderingsagentskappe met valkoë dopgehou.

Binne beperkte fiskale ruimte is dié kernratio’s aan beduidende risiko’s blootgestel. Die belangrikste is dat ekonomiese groei op medium termyn sal teleurstel. ʼn Ander is dat skuld, uitgawes of albei vinniger as verwag sal toeneem. ʼn Verdere risiko is laer as geprojekteerde belastinginkomste.

In aanloop tot die begroting het die SNI ʼn verslag vrygestel waarin ons aangevoer het verskeie interne faktore is besig om die land se ekonomiese groeivooruitsigte lam te lê. Terwyl eksterne faktore soos swak kommoditeitspryse en ʼn insinking van die Sjinese ekonomie ʼn rol speel, is die eksterne faktore slegs olie op ʼn vuur wat reeds goed aan die brand was.

Die belangrikste interne faktore wat hier genoem kan word, is beleid wat sakebedrywighede ondergrawe, ondermyning van eiendomsreg, meer ingrypende reëls vir swart ekonomiese bemagtiging, en kroniese wanbestuur van staatsinstellings (lees gerus meer hieroor in Artikel 5 van die jongste SNI-ETM Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkrapport).

Dit lyk tans of die staat se inmenging in die ekonomie nie beduidend verminder gaan word nie, maar eerder steeds uitgebrei sal word. Dit sal ekonomiese groei aanhou strem. Namate die rol van die staat vergroot, word die rol van privaat ondernemings en instellings verklein. Belasting onttrek dan toenemend geld uit die privaat sektor wat ʼn verlammende effek op die privaat sektor en ekonomiese groei kan hê.

Vir die gewone mens is lae groei ook ʼn probleem. Dié SNI-ETM Arbeidsmarkindeks wat ʼn aanduiding van werk- en loonsekerheid in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark is, is sedert Desember 2007 vir slegs drie uit 32 kwartale bo 50, wat dui op ʼn struktureel swak arbeidsmark. Swak groei in lone, asook afleggings in sekere segmente, word al ʼn geruime tyd gesien.

Gerhard-Begrotingsrede-mening-2016

Grafiek: Verskaf.

Voorskrifte vir groei

Breedweg beskou, is die SNI van mening dat afbestuur van die staat se inmenging in die ekonomie en samelewing die enigste manier is om die ekonomie aan te wakker. Daarom het ons in afwagting van die begroting die volgende gevra: Gaan die regering volgens die begroting minder doen, en minder belastinggeld besteen aan die dinge wat hy steeds gaan aanhou doen?

Die begroting is wesenlik dus nog steeds ʼn voortsetting van die huidige etos van gesentraliseerde staatsbestuur en inmenging in die ekonomie.

Sekere beleidstellings, soos die omstrede visumregulasies, is wel hersien, maar die onteieningswet is steeds besig om sy pad deur die parlement te vind. Komende beperkings op buitelanders se grondbesit is weereens in die onlangse staatsrede beklemtoon. Die 2016-begroting voorsien weer belastinggeld vir grondhervorming en die rol van SEB in “transformasie” word beklemtoon. Dit blyk dus dat dié soort inisiatiewe nie verminder gaan word nie.

Daar is sprake in die begroting dat regulatoriese versperrings vir plaaslike en buitelandse beleggers verminder sal word. Of dit ver genoeg sal gaan om bestaande skadelike wette beduidend uit die weg te ruim, is twyfelagtig.

Rassetransformasie, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, herverdeling en ander skadelike beleidsrigtings is in die DNS van die huidige regering vasgevang en sal moeilik omgekeer word.

Staatsinstellings

Verder verwag ons nie dat die impak van staatsinstellings in die ekonomie beduidend verklein sal word nie, eerder die teenoorgestelde.

Die verslag van presidensiële hersieningskomitee op staatsinstellings (PHKS) – wat min. Gordhan as ʼn roetekaart vir staatsinstellings in die begroting bevestig het – bevat 31 voorstelle. Slegs een hiervan (voorstel 17) dui op die verkoop van staatsinstellings. Die verkoop van staatsbates, indien dit enigsins op ʼn beduidende skaal gaan gebeur, gaan ʼn lang tyd duur.

Die grootste gedeelte van die voorstelle dui eintlik op sentralisering en vergroting van staatsinstellings, en beklemtoon in wese sulke instellings se inmengende betrokkenheid in die ekonomie.

Die gevaar is nou dat indien privaat fondse saam met belasting en ander fondse in sulke instellings ingeploeg word, dit ʼn aantal groter, meer ingrypende, en nog meer riskante rolspelers daarstel. Soos sulke staatsinstellings se proporsionele aandeel in die ekonomie vergroot word, sal markgebonde spelers in verskeie sektore uitgedryf word, wat verdere ekonomiese skade sal aanrig.

Belasting en staatsbesteding

Eenvoudig gestel: belasting gaan styg en besteding gaan steeds toeneem (slegs teen ʼn effens laer koers as wat in Oktober 2015 geprojekteer is), en die staat se skuldvlakke gaan nog steeds onder druk verkeer.

Belasting

ʼn Styging in die algemene brandstofbelasting, stygings in belasting op drank en tabak, ʼn voorgestelde belasting op suikerverbruikers, en verhogings op oordrag- en kapitaalwinsbelasting is tasbare toenames in belasting.

Verder sal mense wat inflasieverwante aanpassings aan hul inkomste ontvang, meer op ʼn minder tasbare wyse aan inkomstebelasting betaal. Paul Joubert, senior navorser by die SNI, verduidelik:

Gordhan se aankondiging van belastingverligting is, soos in vorige jare, erg misleidend. Om die “verligting” te ontvang, moet jy eers verarm deur inflasie wat jou koopkrag opvreet. Iemand wat in die 2015/16-belastingjaar belasbare inkomste van R300 000 gehad het, sou 17% (R50 986) daarvan aan inkomstebelasting moes afstaan. Indien die persoon ʼn verhoging van 6% in sy inkomste kry, sal hy R318 000 verdien, waarop hy in die 2016/17-belastingjaar R55 360 inkomstebelasting sal moet betaal – dit is 17,4% van sy inkomste. Dis nie moeilik om te sien dat 17,4% hoër is as 17% nie. Jy het dus ʼn keuse tussen om jouself deur inflasie te laat verarm, of om inflasie die hoof te bied, maar dan deur hoër belasting verarm te word.

Staatsbesteding

Staatsbesteding gaan op medium termyn steeds toeneem. Groei in besteding in die mediumtermynbegroting van Oktober 2015 was saamgesteld 7,92% per jaar. Die syfer staan nou by 7,54%, wel effens laer, maar steeds bo vooruitskattings van VPI-inflasie. Groot besnoeiings in die staat en ʼn werklike daling in besteding is dus soos gewoonlik nie te verwagte nie.

Die Tesourie reken daarop dat besnoeiings, wat ʼn bevriesing van niekritieke staatsdiensposte insluit, genoeg sal doen om die tekort op die begroting beduidend te verminder. Of die begrotingstekort beduidend verminder gaan word, sal van suksesvolle besnoeiings van staatsuitgawes en voldoende groei in belastinginkomste afhang. Albei elemente verkeer tans onder groot druk.

Staatsinkomste uit belasting

Die Tesourie verwag dat geprojekteerde belastinginkomste Oktober 2015 se verwagtinge sal oortref. Volgens die aangepaste belastinginkomstesyfers verwag die Tesourie om bykomend tot die Oktober 2015-vooruitskattings ongeveer R64 miljard (nominaal) meer oor die drie jaar van die medium termyn in te vorder.

Ingesluit in die bedrag is ongeveer R46 miljard (nominaal) in bykomende belasting wat in 2017/’18 en 2018/’19 uit tans ongespesifiseerde, nuwe maatreëls vir belasting ingevorder sal word. Volgens die begrotingsdokumente sal die maatreëls in toekomstige begrotings aangekondig word.

Uiteraard sal die maatreëls hoër belasting beteken, wat verdere onttrekkings uit die produktiewe ekonomie sal beteken.

Skuld en skulddienskoste

Die Tesourie hoop verder om netto-skuld-tot-BPP-vlakke onder 50% te bestendig. Netto skuld, wat voorsiening vir die aanpassing van sekere kontantsaldo’s maak, staan tans in 2015 by 44,3% van BBP.

Bruto skuld, die volledige skuld waarop die staat rente betaal, het nou reeds 50% van BBP oorskry en trek tans by 50,5%. Projeksies van die koers waarteen skulddienskoste op medium termyn gaan groei, is nou reeds hoër as in Oktober. In die lig van moontlike rentekoersverhogings is die item nog steeds ʼn groot bron van kommer.

Soos voorheen is gunstige skuldratio’s van BPP-groei afhanklik. Indien BBP-groei teleurstel, gaan die skuldratio’s verder verswak. Inflasie speel hier ook ʼn rol. Hoër inflasie kan nominale BPP verhoog en sodoende nominale BBP-ratio’s laat beter lyk, maar inflasie is op sigself sleg vir die ekonomie.

Soos ons in ʼn vorige verslag verduidelik het: “Hoër inflasie kantel ook die skaal in die rigting van rentekoersverhogings en hoër rentekoerse sal die koste van die regering se skuld, wat reeds snel groei, in die toekoms verder opjaag. Dit sal besteding op ander staatsprojekte onder druk plaas.”

Gevolgtrekking

In geheel beskou, dink ons nie dat die 2016-begroting bevorderlik vir broodnodige ekonomiese groei is nie. Dit gaan eerder verdere druk op ekonomiese groei plaas. Ekonomiese groei is die spilpunt van die begroting se sukses, maar ʼn fokus daarop ontbreek.

Ten spyte van ʼn hersiening van beleidstellings is daar min aanduidings dat beleid en wette wat die ekonomie skaad, verwyder gaan word. Inmenging in die ekonomie is nie beduidend omgekeer nie. Gevolglik dink ons nie dat groei noemenswaardig in die huidige ekonomie kan verbeter nie. Dit sal die staat se begroting verder onder druk plaas.

Staatinstellings se bedrywighede, wat klaaglike mislukkings insluit, gaan steeds ʼn groot uitwerking op die ekonomie hê. Belasting gaan verhoog word, wat verdere onttrekkings vanuit die produktiewe ekonomiese basis gaan beteken. Dit is op sigself ʼn remskoen vir privaat besteding en uitbreiding van sakebedrywighede.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Frans ·

Moet ek nou aanvaar na aanleiding van die artikel dat Suid Afrika gedoem is om die pad van so baie Afrikastate te loop eenvoudig omdat die mense inbeheer nog steeds paranoïes vasklou aan die uitgediende sienswyses van hul leermeesters die kommuniste?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.