Beheerliggaam-verkiesings bevorder gehalte skole

Derek Swemmer

Dr. Derek Swemmer is die hoof uitvoerende beampte van Fedsas se Instituut vir skoolbeheer, -bestuur en -leierskap. Foto: Verskaf.

Deur dr. Derek Swemmer

Gedurende Maart 2018 sal verkiesings oor die land heen gehou word. Sowat 280 000 persone sal verkies word om op beheerliggame van openbare skole in Suid-Afrika te dien.

Die meerderheid van hierdie persone sal deur die ouers by elke skool uit die aantal beskikbare ouers verkies word. In die skool sal daar ook verkiesings gehou word vir ’n aantal opvoeders en ander personeellede. In sekondêre skole word leerders ook jaarliks verkies. Die skoolhoof is die enigste lid wat op grond van sy of haar amp op die SBL (skoolbeheerliggaam) dien.

Verkiesings vind elke drie jaar plaas om die lidmaatskap van elke openbare skool se beheerliggaam te bepaal. Diegene wat verkies word, speel ʼn kritieke rol om die gehalte van die skool asook die opvoedkundige en buitekurrikulêre aktiwiteite te verseker, insluitende sport- en kulturele aktiwiteite. Die oogmerke van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie word uitstekend weerspieël in die huidige skoolbestuursmodel. Dit erken dat die gemeenskap wat deur elke skool bedien word, ʼn sterk demokratiese stem moet hê. Die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASW) bevat die beste internasionale beheer- en bestuurspraktyke en bied die korrekte inligting vir demokraties verkose, vrywillige ouers van leerders om die meerderheidslidmaatskap van elke skoolbeheerliggaam te vorm.

Alle ouers is waarskynlik bewus dat die skoolhoof die skool bestuur deur:

  • die professionele funksies wat aan hom of haar gedelegeer is deur die provinsiale onderwyshoof van die departement (HOD);
  • die toelatings- en taalbeleid wat uniek is aan elke skool soos geformuleer en bepaal deur die SBL, maar goedgekeur deur die departementshoof; en
  • die finansiële en ander beleide wat die skool se bestuursraamwerk aanvul, wat goedgekeur en onder toesig is van die SBL.

Nie alle ouers is bewus dat die skoolhoof aan die hoof van die departement as die werkgewer en aan die SBL aanspreeklik is om te verseker dat die skool se etos en goedgekeurde waardestelsels in plek is nie. Gevolglik bestaan die leierskap van die SBL uit ampsdraers, aangestel uit die verkose lede van die SBL, wat in noue samewerking met die skoolhoof werk.

Die Skolewet definieer die funksies van ʼn SBL. Die primêre doel van die skoolbeheerliggaam is om die beste belange van die skool te bevorder en terselfdertyd ook te poog om ontwikkeling te verseker deur die voorsiening van gehalte-onderwys vir al die leerders. Die SBL bereik dit deur ʼn grondwet, die ontwikkeling van die skool se missieverklaring, die aanvaarding van ʼn gedragskode vir leerders en die ondersteuning van die professionele personeel in die uitvoering van hul funksies. Die SBL is ook verantwoordelik vir die administrasie en beheer van die skool se eiendom, geboue en gronde. In sommige gevalle kan dit ook ’n skoolkoshuis insluit.

Die Skolewet bied aan die skoolbeheerliggaam die funksie om aanbevelings oor die aanstelling van die departementshoof sowel as die aanstelling van opvoeders en dienspersoneel te maak en sodoende goeie operasionele bestuur vir die skool te verseker.

Die skole wat die beste bestuur word, het toegewyde, geskoolde en bekwame lede van die SBL. Hulle bevorder die finansiële hulpbronne van die skool. Hul verseker ook dat die beste begrotingspraktyke in plek is. Hulle ontvang gereelde finansiële verslae wat hulle gerus moet stel dat die fondse wat ingesamel word in die vorm van skoolgeld, subsidies of fondsinsamelingsaktiwiteite, behoorlik aangewend word.

Wanneer die ouers oorweging skenk aan die behoorlike samestelling van hul SBL, stel hulle die skool in staat om te verbeter en om ʼn impak te maak. Die geskikste moontlike kandidate moet geïdentifiseer word en hulle moet op hul beurt verstaan dat hulle die skoolgemeenskap in geheel verteenwoordig en nie slegs ’n bepaalde groepering nie. Die SBL moet op die mees effektiewe en etiese wyse moontlik optree. Elke besluit wat deur ʼn SBL geneem word, moet gemeet word teen die beginsel dat die besluit en gevolge daarvan in die beste belang van die skool in geheel is.

Tydens die verkiesing moet ouers die behoefte aan vaardighede onder diegene wat hulle verkiesbaar stel, opweeg. Hulle moet ook hul stemme so uitbring dat ʼn mate van kontinuïteit van lidmaatskap verseker word, wat die nodige hupstoot bied om nuwe lede tot die SBL te voeg. Persone wat hul verkiesbaar stel, moet bereid wees om tyd af te staan in belang van die skool. Hul doel moet wees om te dien eerder as om voordeel te trek uit die aanvaarding van sodanige amp.

Die SBL skep ʼn leergeleentheid vir elke lid. Die pragtige uitkoms van hierdie verkiesingsproses is dat daar elke drie jaar ’n nuwe groep mense die geleentheid kry om deur effektiewe leierskap die kuns van goeie beheer en bestuur onder die knie te kry of verder te ontwikkel, tot voordeel van meer as net die plaaslike skool.

  • Dr. Derek Swemmer is die hoof uitvoerende beampte van die Federasies van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se Instituut vir skoolbeheer, -bestuur en -leierskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gemaskerde Sopbeen ·

So pragtig op papier………so absoluut verrot in die praktyk!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.