Deur Wilmaré du Buisson
Pres. Cyril Ramaphosa het op 2 September vanjaar nog gespog dat daar geen ander land op die kontinent is wat 18 miljoen mense met maandelikse toelaes ondersteun nie en hy graag dié toelae wil uitbrei na ʼn verdere 10 miljoen mense.
Sy woorde was skaars koud toe meer as 500 000 begunstigdes weens “tegniese probleme” nie hul maandelikse SASSA-toelaes kon onttrek nie.
Hulle moes dae lank skarrel, reëlings tref, skuld maak, kilometers ver na kitsbanke stap en selfs op straat slaap om hul toelaes te kon kry.
Mondli Gungubele, minister van kommunikasie, het verlede week by ʼn mediakonferensie die aandag van die probleem probeer verskuif deur die bevolking opgewonde te probeer maak oor die ontwikkelende Staatsbank wat vir die armes meer toeganklik sal wees as al die ander kommersiële banke.
Dit is egter moeilik om te glo en opgewonde daaroor te wees as ʼn mens na ander staatsinstellings kyk wat versuim om hul verantwoordelikhede na te kom. Tans bied die Posbank beperkte spaarrekeninge, hoofsaaklik vir mense wat toelae ontvang. Die regering wil graag die Posbank uitbrei na die Staatsbank wat beoog om volle bankdienste te lewer.
In die poging om meer klaarheid oor die onlangse “tegniese probleme” te probeer gee het die direkteur van die Posbank, Ntomboxolo Nikki Mbengashe, dit laat blyk dat met nuwe sisteme wat in plek geplaas moet word vir die Staatsbank om op die been te kom, is dit in die tegnologiese wêreld onmoontlik om alle “tegniese probleme” te voorkom. Al wat sy kon doen is om verskoning te vra.
Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het ook verskoning gevra omdat die kwesbaarste gedeelte van die bevolking weereens ʼn slagoffer is van gebrekkige sisteme in Suid-Afrika. Dis baie duidelik dat die agteruitgang van sisteme en instansies wat bestuur word deur die Suid-Afrikaanse regering herhaaldelik die kwesbaarste mense eerste en die hardste tref. En ons ministers trek net hul skouers op. Vir Helpende Hand is dit alles niksseggend.
As die regering daadwerklik die maatskaplike welstand van die kwesbare mense se belange op die hart gedra het, sou die verleentheid vir die regering te groot gewees het om hierdie “tegniese probleme” herhaaldelik te laat gebeur. Ons regering weet nie hoe om om te sien na die maatskaplike welstand van ons kwesbare bevolking nie. Inteendeel verkies hulle om miljoene mense herhaaldelik met leë beloftes teleur te stel. Dit net sodat hulle nog ʼn staatsinstelling op die been kan bring wat tekort kom.
Hierdie mense is uiters afhanklik van ʼn maandelikse begroting, elke liewe sent is deel van ʼn koste wat ʼn behoefte moet bevredig. Van die pensionarisse wat geaffekteer was, het vir ʼn week sonder die geld gesit waarvan hulle moes oorleef. Dit veroorsaak dat hulle desperate besluite moes neem wat hulle in die toekoms net verder sal verarm.
So kyk ons regering toe hoe ons weerlose mense verder verarm en verswak terwyl hulle slegs ʼn verskoning het om aan te bied. Laat of nie-betaling van toelaes is ʼn duidelike skending van burgers se regte op lewe en waardigheid, en dit kan nie geduld word nie.
Solidariteit Helpende Hand versoek die regering om hul kontrakte en prosesse te hersien en dat die mense wat verantwoordelik is vir die krisisse en uitdagings wat daar is, dit moet oplos om te voorkom dat dit nie weer gebeur nie. Ons versoek ook dat die amptenare met wysheid en waardigheid omgaan met die toelae van begunstigdes.
- Wilmaré du Buisson is ʼn navorser by Solidariteit Helpende Hand.
Gee vir party mense goud en hulle verander dit in bollie, gee vir ander bollie en hulle verander dit in goud. Hulle, die ANC stel nie belang in die welstand van die armes nie, nee, slim genoeg om beloftes vir nog 10 miljoen te maak om sodoende nog 10 miljoen stemme te koop. En al wat die minister kan sê is jammer. Skreiende skande. Hierdie ontvangers moet kilometers vêr in die warm son loop en staan om hulle geldjie te kry terwyl madam die minister in ‘n konvooi voortsnel na ‘n volgende ete afspraak. En almal klap vir haar hande. Bravo!
Wat ‘n skande om te spog met soveel mense wat afhanklik is van staatstoelaes!!! Dit kom eintlik neer op werkloosheid! In ander lande probeer hulle werkloosheid verminder, hier probeer hulle dit verhoig en spog daarmee! Wat hulle lyk my nie besef nie, is dat hoe meer van toelaes afhanklik is hoe minder is daar wat belasting kan betaal om die toelaes te onderhou!!! En sovêr ek weet, was daar mos al ‘n staatsbeheerde bank? Die VBS!!!! Wat meer kan mens oor die onbevoegde regering sê???
Ek het Augustus geen Sassa gekry nie. September net R1500. Navrae gedoen emails gestuur. Ek moet maar in die ry gaan staan 6uur in die oggend. Kan nie verstaan hoekom ek Augustus niks gekry het nie.