Behoede SA dat BLF moet besluit oor grond

blf-t-hemp-land-or-death

Sommige ondersteuners was geklee in T-hemde met die bewoording op die rug “Land or Death”. Foto: Verskaf.

Die Afrikanerbond is onlangs deur die Gesamentlike Parlementêre Grondwetlike Hersieningskomitee genooi om ʼn mondelingse voorlegging te doen oor die wysiging van Art 25 die sogenaamde eiendomsregklousule. Ons standpunt in beide die skriftelike voorlegging asook die mondelingse voorlegging is dat die Grondwet nie gewysig moet word nie.

Ons mondelinge voorlegging op Woensdagmiddag 5 September 2018 het gevolg ná die voorlegging van Carel Boshoff van Orania wat op sy beurt voorafgegaan is deur die uiters gevaarlike Andile Mngxitama van Black First Land First (BLF) wat deur ʼn aantal ondersteuners vergesel is. Sommige ondersteuners wat geklee was in T-hemde met die bewoording op die rug, “Land or Death” het die tafel gedek vir die voorlegging wat sou volg.

Mngxitama van BLF is natuurlik nie ʼn onbekende aan die parlementêre terrein nie en was vir ʼn wyle ʼn LP van die EFF totdat hy in Februarie 2015 deur die party geskors is, nadat hy die EFF van wanaanwending van fondse beskuldig het. Sy gedrag tydens ʼn sitting van die parlement was vir die speaker ook onaanvaarbaar en hy is in November 2014 vir 5 dae geskors weens sy uittartende gedrag.

Tydens die onderskeie voorleggings aan die Hersieningskomitee, net soos met ander sittings, is daar ʼn deurlopende kom en gaan van organisasies, joernaliste en ook lede van die Parlement. Dit was egter opmerklik dat terwyl Mngxitama besig was met sy voorlegging, Nick Koornhof, ANC-LP instap om sy sitplek in te neem, dat Mngxitama homself onderbreek en terstond aan die voorsitter vra: “Why are you allowing this white man to disrupt me?”

Oor sy rassistiese tirade daarna het die media wyd berig. Grond moet van wit mense afgeneem word en aan swart mense gegee word; Grond sal met geweld van wit mense teruggeneem word; Grond is deur wit mense gesteel; Orania en wit mense het geen reg op grond nie.

Hy het ook verwys na wit mense in stedelike gebiede wat groot huise het. Hulle sal swart mense in “wit huise” met 8 kamers wat deur slegs drie wit mense bewoon word, plaas en ander onverantwoordelike en onsinnige uitlatings.

Bo en behalwe die blatante rassistiese uitlatings wat hy met sy voorlegging gemaak het, het hy ook op ʼn vraag te kenne gegee dat hy “proud to be a constitutional delinquent” is. Volgens die Afrikaans/Engelse woordeboek wat geraadpleeg is, is ʼn delinquent ʼn oortreder of misdadiger. Sinonieme van dié Engelse woord is lawless, lawbreaking, criminal, errant, badly behaved, unruly.”

Die gedrag van Mngxitama is natuurlik nie net beperk tot sy voorlegging en erkenning van “grondwetlike misdadigheid” nie, maar ook deur sy en BLF-optredes en -aksies. Die openlike ondersteuning aan Jaco Zuma en sy seun Duduzane by dié se hofverskyning, begin al klaar ʼn prentjies skets van die ideologiese rigting wat hulle inslaan.

In ʼn onderhoud met die Mail & Guardian op 18 Mei 2018, sê Mngxitama dat hul ondersteuning en bevordering van radikale ekonomiese transformasie, die verdediging van Jacob Zuma en die jag op witmonopoliekapitaal hulle in die hoofstroom van die politiek geplaas het. Sedertdien is die uitdrukking witmonopoliekapitaal as ʼn skepping van Bell Pottinger uitgewys. Die verwantskap tussen die Bell Pottinger-groep en die Guptas en werk wat Mngxitama op hul instruksies uitgevoer het, is uitgewys in die GuptaLeaks-e-posse wat uitgelek het en wat in die staatskapingondersoeke vorentoe waarskynlik verder uitgelig sal word.

Die befondsing van BLF deur die Gupta-familie is ook al in Mei 2017 deur die media ontbloot. Hy het dit ontken, maar het die Gupta-familie strykdeur verdedig.

Dieselfde Mail & Guardian berig het ook verwys na die BLF wat hulself grond op Steve Biko se Swart Bewussyn-beweging en was sedert sy stigting “betrokke by grondbesettings in Gauteng en Limpopo” en ʼn sterk voorstander daarvan dat Suid-Afrika se “wit bevolking uit die land geskop moet word.”

Bo en behalwe die feit dat die BLF erg rassisties was met hul voorlegging, het die afvaardiging, ná hul voorlegging, met groot lawaai en gevloekery die komiteekamer verlaat. Ten tyde van die skrywe kon ons nog nie vasstel of die parlement self enige standpunt ingeneem het teen die gedrag van BLF nie.

Die BLF het natuurlik al ʼn reputasie vir optredes in die parlement. In ʼn mediaverklaring van die parlement op 3 Mei 2017 betreur hulle die optrede van die einste Mngxitama wat die gesamentlike komiteesitting van die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid en van finansies ontwrig het. Die een portefeuljekomiteevoorsitter is ʼn fascis genoem en het gedreig om die ander voorsitter aan te rand.

Die Parlement het toe reeds gesê dat dit in stryd is met die “oop en demokratiese kultuur van betrokkenheid wat die Parlement te alle tye wil bevorder”. Hulle het ook in die verklaring dit as feit gestel dat BLF met die vooropgestelde idee van konflik na die komitee gekom het “eerder as deur ʼn konstruktiewe benadering”. Volgens die verklaring moedig die Parlement aktiewe openbare deelname aan en ‘n kultuur van robuuste debat en ʼn vrye uitruil van uiteenlopende standpunte. Van alle deelnemers word egter “te alle tye verwag om die gees van die Grondwet en die reëls van die parlement te handhaaf,” aldus die verklaring. Die parlement sou die voorval ondersoek en dan bepaal watter verdere stappe gedoen moet word. Meer as ʼn jaar later kan ons nie vasstel of daar enige iets verder van die voorval gekom het nie.

Mngxitama en die BLF se optrede en standpunte met die voorlegging op 5 September 2018 is egter presies dieselfde en is dit duidelik dat die parlement deur sy eie nie-optrede van vorige insidente, nou ʼn slagoffer van sy eie omstandighede geword het.

Die vraag moet egter gevra word waarom iemand soos Mngxitama en die BLF, wat na hulself verwys as grondwetlike misdadigers, enigsins grondwetlike prosesse kan gebruik om hul ongrondwetlike optrede, aksies en uitsprake te kan bevorder. In ʼn parlementêre persverklaring op 30 Augustus 2018 oor die aard van die voorleggings, word medevoorsitter van die Grondwetlike Hersieningskomitee, Lewis Nzimande, aangehaal: “Die voorleggings is van die landbousektor, akademici, burgerlike samelewingsorganisasies en die godsdienstige sektor. BLF is dit nie. Meer as 33 organisasies uit die burgerlike gemeenskap het binne die grondwetlike perke, voorleggings aan die Hersieningskomitee gedoen binne die parlement se riglyne vir ‘aktiewe openbare deelname aan en ‘n kultuur van robuuste debat en ʼn vrye uitruil van uiteenlopende standpunte’. Meer nog: die organisasies het almal binne die ‘gees van die Grondwet en die reëls van die parlement’ hul standpunte gestel. Van BLF kan dieselfde nie gesê word nie en as geregistreerde politieke party is hulle nie verhewe bo die grondwet nie. ʼn Soektog van die 261 geregistreerde politieke partye by die Onafhanklike Verkiesingskommissie het aangedui dat BLF wel nasionaal geregistreer is as ʼn politieke party.

Indien hulle dan wel ʼn politieke party is en as sodanig wil optree, moet hulle as politieke party deelneem aan verkiesings en hul standpunt so bevorder. ʼn Soektog by die OVK toon aan dat die BLF nie aan die 2016 plaaslike regeringsverkiesings deelgeneem het nie.

In sy skriftelike voorlegging sê Mngxitama namens BLF dat hulle ‘n Swart Bewussyn-Pan Afrikanistiese beweging is wat ‘n “Sankaristiese leierskap-etos” omhels. ʼn Wikipedia-inskrywing dui daarop dat Sankariste die ideologie omhels van die militêre regering onder leiding van kaptein Thomas Sankara wat nou bekend staan as Burkino Faso (voorheen Bo-Volta), wat in ‘n volksondersteunde militêre staatsgreep die regering in 1983 oorgeneem het. Hy word gesien as ʼn werklike Afrika-revolusionêr.

Max du Preez skryf op 26 Junie 2017 in Netwerk24 dat Sankara se filosofie was “dat die land trots en selfversorgend moes wees eerder as om op buitelandse hulp te wag.

Hy wou armoede uitroei en menswaardigheid herstel. Hy het die onderwys en gesondheidsorg reggeruk, vrot amptenare en onderwysers in die pad gesteek en BBP-lyfwagte afgeskaf. Hy het groot landbouprojekte begin en miljoene bome aangeplant om die woestyn in toom te hou. Hy het tienduisende mense werk gegee deur hulle self huise, paaie en ’n spoorlyn te laat bou. Hy was die eerste Afrika-staatshoof wat vir gelykberegtiging van vroue geagiteer het.” Sy regering het lofwaardige ideale gehad, maar het, onder meer, opposisiepartye verbied.

Of BLF deur hul rassistiese en onverdraagsame optrede en uitsprake wel as ʼn Sankaristiese beweging getipeer sal word, sal ons mettertyd leer.

Die gelag en kopskud van lede van die parlement en ander mense teenwoordig op 5 September 2018 in die ou Volksraad oor die uitsprake en optrede van die BLF is meer kommerwekkend. Laat ons maar lag en koppe skud. In hul skriftelike voorlegging aan die parlement skryf Mngxitama in paragraaf 11 “The return of the land must be guided by the principle of ‘by any means necessary’ ”.

Saam met T-hemde wat in die parlement gedra is “Land or death” is die ernstige waarskuwing dat grond van wit mense afgeneem sal word – met geweld indien nodig. Daaroor moet daar nie twyfel wees nie.

Behoede Suid-Afrika en behoede die wit bevolking as Mngxitama en sy makkers se idees begin steun kry van Suid-Afrikaners, veral swart Suid-Afrikaners. Hulle is gevaarlik in optrede en uitsprake. Hulle is deur eie erkenning grondwetlike misdadigers en het geen respek vir die Grondwet, sy prosesse of wetgewing wat politieke partye reguleer nie. Die Verkiesingswet bevat ‘n gedragskode wat daarop gemik is op die bevordering van “voorwaardes wat bevorderlik is vir vrye en regverdige verkiesings en die skep van ‘n klimaat van verdraagsaamheid”. As ons dít in ag neem, steur min politieke partye hulle hieraan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Katerina ·

Op sulke tye is ek maar bly ons sit liewer met n ANC regering en Dit spreek biblioteke nie net boekdele!

Casper Labuschagne ·

@Katerina, iemand het eens gesê dat demokrasie die kuns is om stemme te kry van die armes en fondse van die rykes, onder die voorwendsel dat jy die een groep teen die ander sal beskerm. En hier het ons ‘n eg Suid Afrikaanse variasie op die tema, “Wees dankbaar dat jou regeerder vandag vir jou buurman aan die krokodil gaan voer en nie vir jou nie, so nie sal ‘n erger monster voortaan jou regeerder word.”

piper ·

ek kry die gevoel dat dat die BLF deur die ANC daar geplaas is en dat hulle gedrag en radikale uitlatings die aandag van die ANC verskuif word en dat hulle dan as n beter organisasie voorkom.

Santie ·

En sulke T Hemde word toegelaat, as dit ‘n wit person is dan is ons weer rasisties.
Skande

Casper Labuschagne ·

@Santie, inderdaad sal ek nie my T-hemp in na die Openbare Verhore oor Onteiening mag dra nie. Dit is daardie oranje wit en blou T-hemp met die woorde daarop, “Met my lewe, sal ek my plaas beskerm.”

koos1 ·

En Ernest Roets is deur alle partye uit gehaal, regerend en oposisie, omdat hy feite weer gegee het!
Dubbele standaarde in die plek wat ons demokrasie moet beskerm!

Vir BLF gaan die NET oor ras. Hulle sal eerder ‘n swart massa moordenaar as ‘n wit predikant vertrou en mee omgaan. Mense, wees bang, baie bang!

Casper Labuschagne ·

@Koos, Inderdaad is dit nou reeds die tydstip om paniekerig te raak. Dit het klaarblyklik ‘n gruwelike rassistiese standpunt geword om bloot die standpunt te hê dat ‘n wit persoon ‘n grondige geskiedkundige rede mag hê om grond in Afrika te besit. Nee, vanweë ons velkleur is ons nou skuldig aan ‘n oorspronklike sonde teen die meerderheid, naamlik dat ons voorvaders vier honderd jaar gelede in Afrika gevestig het en gevolglik is ons nie op enige verweer of onskuld op die aanklag geregverdig nie.

Paul ·

Die EFF het nou die middelgrond geraak, of die ANC dit nou wil weet of nie. Dit veg nou om die prys wat bepaal word wie die wit mense die meeste verwens.

Andre ·

BLF bestaan uit 8 mense, hoekom is julle bekommerd oor die mense?

Aleenloper ·

@Andre , rede vir vrees is omdat dit dan al agt van hulle lede teen 1 (huisgesin) gaan wees. Want ons praat , lewer kommentaar maar saamstaan………die kan ons nie

Casper Labuschagne ·

Daar is een erger scenario en dit is dat Aritkel 25 van die grondwet wel sodanig gewysig word sodat onteiening sonder vergoeding moontlik is. Onder Ramaphosa word dan net so ‘n honderd of wat eiendomme tot en met die komende verkiesing onteien, eerstens as propaganda vir die ANC se verkiesingsveldtog en tweedens sodat die oorblyfsels van Zuma se korrupte kaders deur ‘n paar kuddes beeste asook die grond waarop die beeste wei, in toom gehou kan word. Maar na die verkiesing word onteiening dan afgewentel na ‘n munisipale vlak. Dan sal burokrate in jou plaaslike dorp of stad besluit wie volgende onteien gaan word. Effektief sal dit dan wees asof die BFLF die proses bedryf, maar slegs op die heel korrupste en onbedrewe wyse.

Jerry ·

Andre, die EFF was eers in getalle n klein Marxistiese Pan Africanist beweging wat Malema met Thomas Sankara se idees en populistiese uitsprake laat groei het tot n politieke party met n miljoen ondersteuners. Die BLF is net soos die EFF, n Marxistiese Pan Africanist beweging wat dieselfde Thomas Sankara idees en populistiese uitsprake gebruik. Die verskille is dat die BLF n Zupta georkestreerde beweging is en ook nie n politieke party is nie. Beide hierdie bewegings maak gebruik van valse aantygings oor die onreg van die verlede en rassistiese aanmerkings ten einde hulle demands vir geregtigheid te probeer regverdig. Hulle kan dit alleenlik regkry deur hulle opponente in argumente te betrek en teenoor wie se standpunt hulle dan n teenoorgestelde standpunt sal inneem. Dit is eintlik baie eenvoudig om hulle te hanteer deur hulle blatantweg te ignoreer en sodoende frustreer jy hulle en jy ontse hulle die geleentheid om n idee verder te ontwikkel en hulself daarmee te bemark en om steun daarvoor te werf. Hulle aanslag kan dus net werk indien jy daarop reageer en jouself probeer verdedig teen valse aantygings en verdraaide waarhede. As jy nie reageer nie verdwyn die aanslag soos mis voor die son. Die EFF en BLF is nie ons probleem nie, hulle is die ANC se probleem. Speel hulle teen mekaar af, teen die ANC, teen wetstoepassing en teen wetstoepassers deur hulle te frustreer totdat hulle die wet oortree of teen mekaar begin baklei.

Swartwolf ·

Wie is BLF? Minder as 10 onopgevoede terroriste. Waarom is wat hulle se enigsins belangrik. Net soos houtwerk Malema. Minder as 10% van die nasionale stem maar almal moet na sy bebrabbel luister. Te veel “airtime” vir die “wannabee revolutionaries”……

Droë Perske ·

Land or Death? Be carefull what you wish for, grootbek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.