#JongStemme: Behoort kommunistiese simbole verban te word?

Morné Bester wonder oor die sogenaamde gewildheid van die hamer en sekel. Foto: Verskaf.

Deur Morné Bester

Op 1 Augustus 2019 het die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) sy 98ste verjaardag gevier as naasoudste bestaande politieke party in die land (naas die ANC) en die oudste Kommunisteparty in Afrika. Op die party se Facebookblad pryk gelukwensings vanaf onder andere die ANC, wat saam met die SAKP deel vorm van die drieledige alliansie, en die Kubaanse ambassade in Suid-Afrika. Die rooi profielfoto op die blad is baie opvallend tussen Facebook se blou tema sodat die geel hamer en sekel in die swart vyfpuntster op die party se embleem nog meer uitstaan.

Die feit dat die hamer en sekel nog so “gewild” is in die samelewing ondanks die gruwels in die 20ste eeu, maak dat ek redelik innerlike konflik ervaar. Aan die een kant is ek pro-vryheid van uitdrukking én assosiasie, maar tog glo ek die kommunistiese simbole behoort meer taboe te wees.

Kyk byvoorbeeld na die indruk wat die Nazi-simbole op die deursneepersoon sal maak. Om ʼn vlag met die swastika rond te waai in die strate gaan vir seker nie vir jou ʼn handeklap verwerf nie. Die swastika is nie verban in Suid-Afrika nie, maar in lande waar dit wel is, is die vyfpuntster en hamer-en-sekel-simbole ook geneig om verban te wees. Lande soos die Oekraïne en Estland, waar ondersteuning van die outoritêre regime wat 6 miljoen Jode vermoor het onwettig is, is ook van mening dat die totalitêre ideologie wat omtrent ʼn derde van Rusland uitgewis en duisende teregstellings in China elke jaar tot gevolg het, nie aanvaarbaar behoort te wees nie.

SAKP

Op skool het ek in geskiedenis geleer oor al die verskriklike dade van Hitler, en hoewel ek geleer het daar was ʼn Russiese rewolusie wat later gelei het tot Stalin wat aan bewind gekom het op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog, is die negatiewe aspekte van kommunisme uitgelaat. Die feit dat Stalin duisende wetenskaplikes vermoor het omdat hulle nie wou saamstem dat plante kommuniste is nie, of dat daar 6 000 mense na ʼn eiland gestuur is om ʼn lewe van kannibalisme te lei, is ek ook nooit geleer nie. Die verbintenisse wat met kommunisme (en die simbole) gemaak kan word, is vir my soms erger as die Nazi-wapen, maar tog beskou ons dit nie so nie.

Ek dink egter nie daar moet gesê word “jy mag nie ʼn hamer-en-sekel-wapen in die openbaar vertoon nie”. Vryheid van spraak én uitdrukking is vir my te waardevol om dit prys te gee ter wille van só ʼn reël. Ek dink die oplossing begin in ons huise en skole. As ons ons kinders kan leer wat met naziisme én kommunisme gepaardgaan sodat hulle nekhare rys wanneer hulle enige van die simbole iewers raaksien – dis ál manier hoe ons die lot van Venezuela en soortgelyke mislukkings kan vermy.

  • Morné is ‘n finale jaar BCom Menslike Hulpbronbestuur student aan die Universiteit van Pretoria en beoog om sy honneurs te doen in Bedryfsielkunde.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Naas ·

Kommunisme is verantwoordelik vir die dood, honger en vernedering van miljoene mense wêreldwyd oor die laaste 110 jaar. Dit is die grootste euwel naas sosialisme wat die menslike bevolking nog ervaar het. Net mense met verwronge ideologieë kan dit aanhang.

Sann ·

Inderdaad, Mornè. Kennis is mag.Kyk gerus na die vier hoofstrategieë waarmee kommunisme werk, en dan sal ons nog beter verstaan hoekom elkeen se “hare moet rys” : distract, deceive, disarm, devide. (Jammer vir die Engels op Afrikaanse Taaldag, maar dit vereis die minste verduideliking)

Charles ·

Uitstekend,die rede waarom jy nie van die genoemde dinge geleer het nie,is omdat die Weste ‘n onheilspellende,verfoeilike en simpatiek-gesinde houding teenoor die grootse moorddadige ideologie van alle tye handhaaf wat verantwoordelik is vir die dood van minstens 100 miljoen mense(sien THE BLACK BOOK OF COMMUNISM).Tesame met hierdie skadelik ideologie sien ons veral dat die “liberales”-te wete vandag se linkses-se optrede veroorsaak dat fascisme uit sy oorspronklike raamwerk van regsheid geruk is en nou al hoe meer vereenselwig word met linkse anargiste en nihiliste,en in die verband kan melding gemaak word van die opkoms van ANTIFA-wat niks goeds inhou vir die Weste nie,en ‘n linkse,ekstreme beweging is wat optree soos die fasciste van ouds (alhoewel hulle die oudste reels van kommunistiese onderdrukking en “double think” alla Stalin aangeneem het,nl. dat jy bloot ‘n beskuldiging kan maak en nie hoef te bekommer oor bewyse daarvoor nie,en dat jy ander beskuldig van dit [fascisme] waaraan jy self skuldig is).Dit is inderdaad nie die einde van die geskiedenis soos Fukuyama voorspel het nie,waarvolgens die wêreld sal voortstrompel in demokraties-sosialistiese gewaad nie.(nie dat hierdie heersende raamwerk wat sedert die einde van WW2 geld meer volhoubaar is nie,dit is juis ontevredenheid daarmee; en met die globalistiese, kollektivistiese wêreldorde,wat mense laat smag na verandering soos potus Trump,Salvini,Orban ea.)
Dit is nou duidelik dat daar weereens groot struwelinge op pad is,maar hierdie keer tussen broer en broer,vader en seun, moeder en dogter,soos die Groot Boek tewens voorspel.

Gert ·

Dat die kommunisme ‘n aaklige ideologie is, is baie beslis waar. Dit beteken egter glad nie dat jy hulle simbole moet verbied nie. Dis eintlik belangriker dat oor alles gepraat word, so kan jy dalk mense oortuig dat hulle standpunt verkeerd is, terwyl as jy dinge verban, is die enigste opsie vir mense om in die geheim te glo aan hulle dwalinge.
Volgens dieselfde argument is dit siek om die ou landsvlag te verban, of om mense slegs toe te laat om negatiewe dinge van apartheid te sê. In ‘n vrye samelewing moet elkeen sy standpunt kan stel, en dan mag daar gesonde debat plaasvind waardeur die verskillende standpunte bespreek kan word, en mense dan meer ingeligte besluite kan neem oor watter ideologie vir hulle aanvaarbaar is al dan nie.

George in Bloem ·

Kommunisme is ‘n uitgediende ideologie wat gewaarborg is om te faal en daar is talle voorbeelde daarvan. Ongelukkig is dit springlewendig en gesond in Suid Afrika danksy die ANC en sy bondgenote.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.