Behoort ontgroening nie ‘n keuse te wees nie?

Noem die word “ontgroening” en jy ontlok menings van die heel negatiefste tot die positiefste. Jy kan ander woorde ook daarvoor gebruik: verwelkoming, inlywing, bekendstelling, ontvangs en bekendstelling (O&B), doop, inisisasie, induksie, noem maar op, die lys is eindeloos. (Vir die doel van die artikel word ontgroening gebruik.)Ontgroening2

Soek jy op die Internet meer hieroor, kry jy meestal koerantbriewe en blogs wat dit aanprys of verdoem tot in die diepste duisternis. ‘n Vraag waarop ‘n antwoord mens egter ontwyk, is waarom moet daar ontgroening wees? Waarom die hele ding met “inlywing” in ‘n nuwe omgewing, maar veral in koshuise op universiteite en by hoërskole? Hoekom word dit steeds gedoen, ten spyte daarvan dat dit gereeld “verbied”, “afgeskaf”, selfs begrawe word?

In die geskiedenis van die Universiteit van Noordwes (PUK) is ontgroening reeds die eerste keer in 1937 afgeskaf en amptelik begrawe in ‘n regte doodskis. Talle foto’s en staaltjies kan in die ou argiewe opgespoor word om hiervan te getuig.

Die Puk is egter pas weer uitgesonder as die bose bewaarder van die afskuwelikste sonde waaraan eerstejaars in die jaar 2014 onderwerp is. Soveel so dat die Hoe’s Hoe van menseregte nou in ‘n vyfman-kommissie saamwerk om die praktyke by die universiteit te ondersoek. Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het ook in die afgelope week onder skoot gekom oor transformasie wat op kwansuis afgedwing word op die JBM Hertzog manskoshuis op die kampus.

Mites

As jy na my mening (blote leek en gewone lid van die samelewing) die onderwerp wil ondersoek is daar ‘n paar mites waarmee jy sal moet rekening hou:

• Dit kom in 2014 nog net in Suid-Afrika voor
• Dit is net tradisioneel Afrikaanse universiteite wat daaraan vasklou
• Ontgroening het net een doel: jy wil daardeur jou manlikheid bewys (en jy is ook waarskynlik homofobies, omdat jy jou gay-wees onderdruk!)
• Dis ons Afrikaners se patriagale denke wat dit laat voortbestaan
• Owerhede in veral Afrikaanse instellings hou hulle blind daarvoor
• Dis die “army” van destyds se skuld. Ons dra vandag nog die gevolge
• Koshuistradisies veroorsaak al die probleme
• Mense wat probleme het met gesag is veral die skuldiges
• En so kan jy aangaan . . . .

Elkeen het ‘n standpunt wat as “feit” verkondig word. Wanneer jy hier lees, dink jy seker die skrywer is naïef? Dink weer. Dit is die argumente wat letterlik honderde skrywers gebruik om vir of teen ontgroening te argumenteer. Jy hoef net die afgelope twee maande se koerante of webblaaie te bekyk om dit te sien. Die feit is egter dat niks van dit noodwendig absoluut waar is nie.

Wat eerder opvallend is, is dat verstommend min wetenskaplike navorsing, indien enige, nog ooit oor die onderwerp gedoen is. Selfs wêreldwyd. Harsh Agarwal, ‘n medestigter van die organisasie CURE (Coalition to Uproot Ragging from Education) in 2001 in Indië, het so onlangs as 2010 hieroor sy lot bekla in ‘n voorlegging by ‘n seminaar van die Delhi Legal Services Authority in New Delhi. (“Ragging” word in Engels as sinoniem met ontgroening gebruik)

Die vraag kom dus by mens op: waarom bly die ding kop uitsteek?

Logika sê waarskynlik vir jou dat dit onmoontlik is om byvoorbeeld, soos op die PUK se Potchefstroom-kampus, 4 000+ studente net eenvoudig op ‘n dag te laat opdaag en aan eie genade oor te laat. Daar moet op die een of ander manier orde aan die chaos gegee word. Behalwe egter vir die universiteit en sy akademiese en verwante bedrywe, is daar nog ‘n koshuis en die algemene studentelewe waaraan die eerstejaar-student voorgestel moet word.

Die manier om dit te doen is ten beste dus deur die een of ander vorm van geordende bekendstelling. Elke verantwoordelike instelling het dit bedink, herbedink en weer bedink, veral in die lig van probleme wat telkens opduik. Daar word reël neergelê, jaar in en jaar uit. Dit is hoekom daar by elke instelling reg deur die wêreld soveel name vir die “monster” gegee word, hoekom dit al soveel keer “dood” en begrawe is en maar weer in een of ander “nuut” verrys het. Die indruk onder gewone mense is blykbaar dat veral universiteitsowerhede hulle nie steur aan ontgroening nie en dit “oorlaat” aan senior studente, terwyl dit allesbehalwe die geval is.

Persoonlikhede en waardestelsels

By gebrek aan beter wetenskaplike navorsing blyk dit duidelik uit blogs en briewe: mense met verskillende persoonlikhede reageer verskillend op wat in hul wêreld gebeur. Dieselfde vir mense met verskillende waardestelsels.

Neem enkele waardes en dink daaroor in die ontgroeningsmilieu: selfbeheersing, regverdigheid, eerlikheid (integriteit), respek (vir lewe, mense/geslag, eiendom, waarheid) en getrouheid. Nie eens lede uit dieselfde huis sien dit op dieselfde manier nie. Waar een persoon dus negatief op ‘n ervaring sal reageer, sal ‘n volgende weer positief op presies dieselfde ervaring reageer. Meer nog so wanneer mens dink aan ontgroening.

Die gevolgtrekking wat mens dus behoort te maak is dat net soos elke idividu ‘n spesifieke studierigting kies volgens aanleg, belangstellings, persoonlikheidstipe, vakke, voorliefdes en afkeure, so behoort keuse van kampus en verblyf volgens dieselfde riglyne gemaak te word.

Spanbou is nie iets wat gereëld in koerante omstrede hoofopskrifte haal nie. Om die waarheid te sê waarskynlik nooit nie. Tog is dit die manier waarop maatskappye dikwels met groot groepe, departemente of afdelings te werk gaan om byvoorbeeld vinnig mense op alle vlakke te laat inskakel by die maatskappykultuur of wanneer groot uitdagings of veranderinge ‘n maatskappy in die gesig staar. Die voordele van spanbou word uitgelig as maniere om die instelling vinniger te leer verstaan, kommunikasiekanale oop te maak, werknemers se behoeftes te leer ken en te bevredig, vertroue tussen kollegas te bewerkstellig, en mekaar vinniger te leer ken want almal word in ‘n spanbou oor dieselfde kam geskeer.

Ontgroening4Mens wonder dikwels of dit nie dieselfde is wanneer alle eerstejaars dieselfde klere moet dra en in groepe saam dinge doen in die eerste twee weke op die kampus nie? Wat is dit anders as spanbou? Die hoofmeisie van die beste hoërskool in die land, die eerste rugbykaptein wat al vir die junior Springbokke gespeel het, Lerato, wie se pa die voorsitter is van ‘n genoteerde maatskappy en Kleinpiet, boertjie van Delareyville met sy nuwe Porche spesiaal vir sy eerste jaar, kry almal ewe skielik gelyke kans om in te skakel en hul medestudente te ontmoet. Niemand beoordeel jou op die klere wat jy dra, jou prestasies of wie se pa/ma is die rykste nie.

Normaalverspreiding

Daar daag 4 000 eerstejaars by ‘n kampus op, elkeen met sy eie persoonlikheid en waardestelsel. Hulle is pas uit die skool waar hulle die toppunt van hulle skoolloopbane bereik het. Hulle het twee maande vakansie gehad waarin hulle meestal kon doen wat hulle wou.

Nou moet hulle op ‘n nuwe lewe begin fokus. Hoe kan jy aan almal behoeftes gelyk aandag gee? Dit moet mos gebeur dat daar ‘n normaalverspreiding sal wees: die meeste studente is tevrede, ‘n paar haat elke oomblik en kla by hul ouers. ‘n Paar is so ingenome daarmee dat hulle uit hulle velle bars van opwinding en jare later nog briewe en blogs skryf oor hoe wonderlik die ontgroening was. Maak dit nie sin nie?

‘n Instelling soos ‘n universiteit kan dus nie voorsiening maak vir elke smaak en voorkeur nie. Die gemiddelde student moet reg ingeburger en voor voorsiening gemaak word. Dit sal dus die individu baat wat weet dat hy/sy nie die gemiddelde persoon op straat (die “redelike man” waarvan die reg praat) is nie, om sy/haar keuse vooraf reg te maak.

Elke jaar sterf en word meer kinders vermink in inisiasieskole in Suid-Afrika as wat al ooit in die geskiedenis van die land gedurende ontgroening iets oorgekom het. Dit verdien dalk ‘n berig in ‘n koerant of ‘n regeringswerknemer om “kommer” uit te spreek oor die praktyke. Waar is die Menseregtekommissie? Niks verder word regtig daaraan gedoen nie. Is dit omdat dit rassensitief is? Omdat dit aan godsdienspraktyke raak?

Of is dit omdat daardie ouers hulle kinders, nadat hulle daaroor besin het, vrywillig daarheen stuur, met die gevolge wat kan volg en waarvan hulle deeglik bewus is, in gedagte. Hoekom kan dieselfde dan nie gebeur wanneer jy jou kind na ‘n instelling stuur waar daar ‘n program van ontgroening bestaan en waar jy weet die instelling se owerheid het ‘n ordentlike program waarvan jy vooraf weet en waaroor jy hopelik gedink het en jy weet jou kind sal daarby kan inval nie? Sy persoonlikheid en waardestelsel inaggenome? Is die probleem nie dat ons nie vooraf hieroor besin nie?

* Die skrywer was ‘n baie onwillige, vet eerstejaar, wat wat swaar gedra het aan ontgroening, maar op die ou-end as Door Lekkerlag bekend gestaan het.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sandra du Preez

Meer oor die skrywer: Sandra du Preez

Sandra is ‘n oud-Wapad-redakteur, woon tans in Potchefstroom en is ‘n vurige ondersteuner van die Puk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Wayne Liebenberg ·

Jy’s heeltemal reg. Onthou net as jy nie van n supermark hou nie, gaan koop jy elders, die supermark verander nie om jou as individu te pas nie. Hoekom moet instansies wat dekades bestaan en sekere gebruike het verander om by jou aan te pas vir die 1 jaar wat jy eerstejaar is?

Slim Daan ·

Ummmm. Met hierdie een enorme verskil. Jy neuk nie na n universiteits-instelling om n blikkie weense worsies te loop koop nie.
Jy gaan daarheen met die uitsluitlike doel om jou horisonne op akademiese vlak verder te verbreed.
Die feit dat sekere rituele / gebruike uit die tyd van laager-trek dateer, beteken nie jy moet hieraan klou asof jou lewe daarvan afhang nie. Menige hiervan is argaies en boonop uitgedien.
Die verloop vd lewe is allermins n statiese proses. In die geval is dit meer n kwessie van n abrogasie-proses ( gebruike wat in onbruik verval ) – en ” time to move on “.

Slim Daan ·

Hmmmmm. Met die verskil dat ek nie universiteit-toe gaan om n blikkie Weense-worsies te loop koop nie. Eerder so om my kennis te verbreed.
Laager trek en jukskei speel ” bestaan ook al jare ” – maar sien u dit as n florende tydverdryf wat steeds gedy ?
Hierdie matriek manewales / mentaliteit is waar dit moet eindig.

PS
Dki mnr die MODERATOR vir die groot uitveer waarmee u my vorige, meer breedvoerige uiteensetting bygekom het. Hierdie 2de poging n meer halfhartige / afgewaterde weergawe daarvan. ( U tap my kreatiewe denke. )

sarie ·

Kreatiewe denke ou Uilspieel ? – Jy tokkel my lagspiere!!

Slim Daan ·

Vorm van selfspot tante. In u geval / ouderdom is die lagspier-kwessie ok. Oppas net vir die sluitspier.

Leana ·

Vergewe maar die verstoktheid van die ouer geslag Slim Daan. Hulle het vergeet (Alzheimers dalk of Old Timers?) hoe om vir hulself te lag. Geen wonder die lewe het vir almal suur geraak nie. Om teen sulke gesigte vas te kyk laat ongetwyfeld ‘n wrang suur trek op almal wat dit aanskou se gesigte ! Ons ander vind jou humor alles behalwe uilspieel agtig.

Wayne Liebenberg ·

Jy’s heeltemal reg. Onthou net as jy nie van n supermark hou nie, gaan koop jy elders, die supermark verander nie om jou as individu te pas nie. Hoekom moet instansies wat dekades bestaan en sekere gebruike het verander om by jou aan te pas vir die 1 jaar wat jy eerstejaar is?

Slim Daan ·

Ummmm. Met hierdie een enorme verskil. Jy neuk nie na n universiteits-instelling om n blikkie weense worsies te loop koop nie.
Jy gaan daarheen met die uitsluitlike doel om jou horisonne op akademiese vlak verder te verbreed.
Die feit dat sekere rituele / gebruike uit die tyd van laager-trek dateer, beteken nie jy moet hieraan klou asof jou lewe daarvan afhang nie. Menige hiervan is argaies en boonop uitgedien.
Die verloop vd lewe is allermins n statiese proses. In die geval is dit meer n kwessie van n abrogasie-proses ( gebruike wat in onbruik verval ) – en ” time to move on “.

Slim Daan ·

Hmmmmm. Met die verskil dat ek nie universiteit-toe gaan om n blikkie Weense-worsies te loop koop nie. Eerder so om my kennis te verbreed.
Laager trek en jukskei speel ” bestaan ook al jare ” – maar sien u dit as n florende tydverdryf wat steeds gedy ?
Hierdie matriek manewales / mentaliteit is waar dit moet eindig.

PS
Dki mnr die MODERATOR vir die groot uitveer waarmee u my vorige, meer breedvoerige uiteensetting bygekom het. Hierdie 2de poging n meer halfhartige / afgewaterde weergawe daarvan. ( U tap my kreatiewe denke. )

sarie ·

Kreatiewe denke ou Uilspieel ? – Jy tokkel my lagspiere!!

Slim Daan ·

Vorm van selfspot tante. In u geval / ouderdom is die lagspier-kwessie ok. Oppas net vir die sluitspier.

Leana ·

Vergewe maar die verstoktheid van die ouer geslag Slim Daan. Hulle het vergeet (Alzheimers dalk of Old Timers?) hoe om vir hulself te lag. Geen wonder die lewe het vir almal suur geraak nie. Om teen sulke gesigte vas te kyk laat ongetwyfeld ‘n wrang suur trek op almal wat dit aanskou se gesigte ! Ons ander vind jou humor alles behalwe uilspieel agtig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.