Bekgevegte in Amerikaanse voorverkiesings

Foto:. (AP Photo/Brynn Anderson)

Die verskil tussen verkiesingsveldtogte en godsdienstige saamtrekke is dat politici jou ’n hemel op aarde belowe, terwyl evangeliste sê dat God sal voorsien. Dit is dus geen verrassing dat beloftes van ’n paradys ten koste van belastingbetalers met groot vertoon voorgehou is tydens die Amerikaanse Demokratiese Party se presidensiële voorverkiesings wat in Februarie ’n aanvang geneem het nie.

Ondanks die verskillende beleide van die Demokratiese Party-kandidate (sien die lys onder), was hul standpunte, met enkele uitsonderings, redelik dieselfde. Op die ou end en ná elf openbare debatte het hulle – almal slawe van identiteitspolitiek – met twee bejaarde wit mans gesit: die een seniel en die ander ’n sosialis.

Die vrouekandidate het mekaar probeer oortref as voorstanders van identiteitspolitiek, maatskaplike gesondheidsorg plus gratis mediese sorg vir onwettige immigrante, die kansellasie van universiteitskuld en, les bes, aborsies – laasgenoemde met al sy skrikwekkende uitvloeisels: van laattermynaborsies tot die keuse om die lewe van ’n kind ná ’n verbroude aborsie te beëindig.

Ondanks saambindende politieke sienings, het mensliewendheid onder die susterskap begin taan. Toe senator Kamala Harris die voormalige visepresident, Joe Biden, daarvan beskuldig dat hy rassisties was toe hy destyds die vervoer van swart kinders na skole teengestaan het, is sy geloof vir haar dapperheid om hom as ’n “rassis” te ontmasker. Skenkers is summier nadergetrek, maar haar gewildheid was van korte duur – kongreslid Tulsi Gabbard het Harris as ’n ideologiese bedrieër ontmasker, wat van die een beleidstandpunt na die ander rondgeval het toe sy distriksprokureur van San Francisco (2004-2011) en staatsprokureur van Kalifornië (2011-2017) was.

Kamala Harris. Foto: (AP Photo/Paul Sancya)

Harris het eenkeer gesê dat sy privaat gesondheidsversekering wil opskort; by ’n ander geleentheid het sy dit ontken. Gabbard het Harris se geskiedenis as aanklaer bevraagteken aangesien sy duisende tronk toe gestuur het, maar tog beweer het dat sy ’n pionier op die gebied van die hervorming van strafregspleging in haar staat was. Harris het ook ’n terdoodveroordeelde wat glo kon bewys dat sy skuldigbevinding onregverdig was, se reg tot appèl teengestaan.

Op ’n ander keer het Harris in ’n televisieonderhoud beweer dat sy slegs dagga gerook het met die doel om die wettiging daarvan te regverdig, terwyl sy in werklikheid besig was om mense vir dwelmgebruik in hegtenis te neem.  Haar vader, ’n vooraanstaande professor wat in die Karibiese Eilande woon, het haar aantygings verwerp omdat sy geïmpliseer het dat Jamaikane as ’n groep dwelmgebruikers is.

Kort nadat Gabbard vir Harris mooitjies op haar plek gesit het, het die immer-inmengerige Hillary Clinton Gabbard daarvan beskuldig dat sy ’n Russiese agent is en was vasbeslote om haar naam deur die modder te sleep namate Gabbard se profiel op sosiale media die hoogte inskiet. Nie een van die susterskap het Gabbard teen Clinton se venynige, gemene en ongevraagde aanval verdedig nie – weer eens ’n bewys dat niemand met meer veragting behandel word as ’n gekleurde nie (wat terselfdertyd haar susters se skynheiligheid blootgelê het).

Elizabeth Warren. Foto: (AP Photo/Steven Senne)

Die Demokratiese Party se feministiese hiërargie het onder die soeklig beland toe Elizabeth Warren en Amy Klobuchar by die stembusse voorgeloop het, met korporatiewe skenkers wat geld na Warren gooi. Maar haar voortdurende mokeraksies teen miljardêrs en kapitalisme – soos haar leuens – het veroorsaak dat haar veldtog stoom verloor het.

In ’n redaksionele berig van die Washington Examiner op 28 December 2019, is dit sagter gestel: “Wat ook al die rede blyk te wees, die senator van Massachusetts het haar veldtog op oordrywing en wanvoorstellings gebou.” Warren het keer op keer beklemtoon dat haar kinders openbare skole bygewoon het. … Haar kinders het egter ook privaat skole bygewoon. Miskien spruit hierdie spesifieke wanvoorstelling uit haar stryd teen skoolkeuseprogramme wat aan minderbevoorregte kinders dieselfde geleenthede tot privaat onderwys bied as wat haar kinders gehad het.”

Op die vraag waarom Warren aanhou om leuens te vertel, gaan die redaksionele berig voort: “Miskien weet die senator dat sy nie verlinkse beleidsvoorstelle, soos die versosialisering van die gesondheidsorgstelsel deur Medicare for All, sal kan verkoop sonder enige opsmuk nie. Of miskien wil sy nie haar kiesers laat agterkom wat die geheim van haar veldtog is nie en daar is niks populisties daaromtrent nie. Kommentators bots in dié verband gereeld met Bernie Sanders. Sanders word egter deur die jeug en werkersklas ondersteun, terwyl Warren se ondersteuners meestal bestaan uit hooggekwalifiseerde baby boomers wat daarvan oortuig is dat hulle deel is van die een of ander populistiese opstand.”

Amy Klobuchar. Foto: (Robin Buckson/Detroit News via AP)

Die stomvervelige Amy Klobuchar het dikwels eenderse beleidstandpunte (met hier en daar ’n variasie) kwytgeraak, terwyl sy haar as gematig voorgedoen het. Alhoewel sy in die eerste voorverkiesings goed gevaar het in vergelyking met die ander kandidate, het haar kollegas haar die trekpas gegee met die wete dat die party haar nooit sou benoem nie. Toe die vrouekandidate uitval, het die meeste van hulle seksisme vir hul mislukking blameer en nie die swak veldtogte wat hulle gevoer het of hul gebrekkige beleidsvoorstelle nie.

Trouens, min van die kandidate het mekaar werklik uitgedaag en het hoofsaaklik op president Trump gefokus. Maar namate Super Tuesday (3 Maart 2020) nader gekom het, het beleidsverskille begin opduik.

Op die debat van 25 Februarie in Charleston, Suid-Carolina het die kandidate gepoog om hulself van mekaar te differensieer. Met die hoop op ’n tamaai oorwinning het Sanders, wat New Hampshire en Nevada in die voorverkiesings gewen het, die Charleston-debat kordaat gepak, met mededingers soos Biden, Bloomberg, Klobuchar, die miljardêr Tom Steyer, Pete Buttigieg en Warren. Bloomberg (voormalige burgemeester van New York) wat meer as ’n halfmiljard dollar aan sy politieke veldtog spandeer het, het heelwat van die voorverkiesings oorgeslaan, maar besluit om in Charleston by hulle aan te sluit in die hoop om sy voorspring voor Super Tuesday te gebruik met die verwagting om te wen.

Joe Biden. Foto: (AP Photo/Matt Rourke)

Tot baie se verbasing, het sy politieke mededingers hom genadeloos toegetakel, woedend dat hy dit durf waag het om sy finansiële mag te gebruik om die verkiesing te koop. Warren het hom aangeval oor sy optrede teenoor vroue in die werkplek, met wie hy verskeie geheimhoudingsooreenkomste aangegaan het. Ander het hom oor die kole gehaal oor sy rassistiese misdaadvoorkomingsbeleid van stop-en-visenteer wat veral swart mans geteiken het. Die kandidate het die miljardêr wat ’n realistiese bedreiging was, fel gekritiseer en vir die eerste keer gewys wat in hulle steek en hom verpletter, wat dan ook die einde van sy veldtog beteken het.

Hoewel Sanders en Biden oor min dinge verskil het, het hulle vasgehaak oor die koste van Sanders se maatskaplike gesondheidsorgplan van tussen $32 tot $34 biljoen (Engelse trillion), terwyl Biden eerder Medicare for All as ’n opsie beskou het. Daar was ook ’n woordewisseling oor Biden se steun vir die oorlog teen Irak en die buitelandse beleid in die algemeen; of meer troepe gestuur moet word om terrorisme te beveg; en hoe hulle die Covid-19-pandemie behoort hanteer.

Biden het Amerikaanse globale oorheersing en die herstel van verhoudings met bondgenote voorgestaan, terwyl Sanders Amerikaanse imperialisme sterk teengestaan het. Warren was van mening dat globalisering die VSA benadeel het. Hulle was in ’n woordestryd oor Russiese inmenging in die verkiesings, met Biden wat erken het dat die Obama-administrasie nie genoeg gedoen het om buitelandse inmenging te bekamp nie. Sanders het Poetin gewaarsku om nie by die 2020-verkiesing in te meng nie. Pete Buttigieg het op sy beurt gratis vierjaarkursusse aan openbare universiteite vir gesinne wat tot $100 000 verdien, ondersteun. Daarteenoor het Biden ’n plan van $750 miljard voorgestel vir gratis onderrig aan gemeenskaps- en tegniese kolleges, terwyl Warren ’n $640 miljard-plan op die tafel gelê het om die leningskuld van privaat studente op te hef.

Joe Biden. Foto: (AP Photo/Evan Vucci)

Terneergedruk oor sy swak vertoning, het Biden direk ná die debat na Suid-Carolina vertrek – die tel van stemme het hom weinig geskeel. Tot in daardie stadium was Bernie Sanders by verre die beste mededinger met sy veldtog wat goed stoom opgetel het weens die vurige ondersteuning van die Demokratiese Party se radikale ondersteuners en universiteitstudente.

Terug in Suid-Carolina het Biden Sanders loshande verslaan en teruggekeer tot die stryd danksy swart ondersteuning. Mededingers Pete Buttigieg, Amy Klobuchar, burgemeester Bloomberg, Tom Steyer en die ongeneë Elizabeth Warren het uitgeval, sodat Biden en Sanders dit verder alleen kon uitbaklei.

In sy skik oor sy sege in Suid-Carolina, het Biden die res van die state ingepalm en die Super Tuesday-voorverkiesings in Texas, Noord-Carolina, Massachusetts, Maine, Alabama, Arkansas, Oklahoma, Minnesota, Tennessee en Virginia gewen. Sanders het Colorado, Utah, Vermont en Kalifornië gewen. Op 17 Maart 2020 het Biden nog ’n skouspelagtige oorwinning teen Sanders in Arizona, Florida en Illinois behaal, met ’n sege van 1 100 stemme uit die 1 991 afgevaardigdes. Sanders het Biden se oorwinning – ten spyte van sy dimensie wat gedurende sy veldtog duidelik sigbaar was – in ongeloof aanskou.

Bernie Sanders. Foto: (AP Photo/Paul Sancya)

Oortuig daarvan dat die stembusse in Biden se guns gemanipuleer was, het Sanders geweier om handdoek in te gooi en berei hom tans voor vir die volgende voorverkiesings in die res van die land wat teen Junie 2020 ten einde loop. In ’n CNN-debat op Sondag 15 Maart 2020, wat weens Covid-19-maatreëls sonder ’n gehoor plaasgevind het en met ’n partydige moderator wat Biden openlik voorgetrek het, het die twee mededingers aan ’n doodvervelige debat deelgeneem, en behalwe vir klein beleidsverskille, mekaar skaars gekritiseer.

In teenstelling met my mening, het ’n verslaggewer die debat opgesom en gesê dat Biden “vertroue uitgestraal het, asook bevoegdheid in sy hantering van die koronaviruspandemie, en Bernie só met punte uitgestof rakende die relevansie van Medicare-for-all ten opsigte van die krisis. Hy het ’n paar stewige houe ingekry veral ten opsigte van Sanders se standpunt met betrekking tot wapens en immigrasie. Sy opmerking oor veldtogfinansiering, “Ek het nie geld gehad nie, maar tog gewen,” sal lank onthou word.

Vir die Demokrate is die Covid-19-virus ’n bedekte seën wat die uitgeputte en dikwels oorspanne Biden nou ’n kans bied om asem te skep. Tot tyd en wyl het ons geen idee wat met die presidensiële veldtog gaan gebeur nie weens die drastiese stappe wat die president geneem het om die virus te bekamp en te bestry.

Hoewel Sanders weier om uit die stryd te tree, sal Biden na alle waarskynlikheid die Demokratiese Party se nominasie vir dié party se presidentskandidaat wen.

Lys van presidensiële kandidate:

Vrouekandidate:

  1. Kamala Harris ‒ ’n swart senator van Kalifornië;
  2. Kirsten Gillibrand ‒ ’n wit senator van New York sedert 2009;
  3. Tulsi Gabbard ‒ ’n Indiër kongreslid van Hawaii se tweede distrik sedert 2013;
  4. Amy Klobuchar ‒ ’n wit senator van Minnesota sedert 2007;
  5. Elizabeth Warren ‒ ’n wit senator van Massachusetts sedert 2013 (wat valslik beweer het dat sy van Cherokee-afkoms is); en
  6. Marianne Williamson ‒ ’n skrywer, entrepreneur en aktivis.

Mans:

  1. Cory Booker ‒ ’n swart voormalige burgemeester van Newark en tans senator van New Jersey;
  2. Julian Castro ‒ ’n Spaanse voormalige burgemeester van San Antonio, Texas, van 2009 tot 2014;
  3. Andrew Yang ‒ ’n Taiwannese sakeman;
  4. Bernie Sanders ‒ ’n wit senator wat die staat Vermont verteenwoordig;
  5. Steven Bullock ‒ die goewerneur van Montana;
  6. Michael Bloomberg ‒ ’n wit miljardêr en voormalige burgemeester van New York van 2002 tot 2013;
  7. Michael Bennet ‒ ’n wit senator van Colorado sedert 2009;
  8. Pete Buttigieg ‒ ’n wit voormalige burgemeester van South Bend, Indiana;
  9. Bill de Blasio ‒ die huidige wit burgemeester van New York;
  10. John Delaney ‒ ’n wit kongreslid in Maryland se sesde distrik van 2013 tot 2019;
  11. Mike Gravel ‒ ’n wit voormalige senator van Alaska;
  12. John Hickenlooper ‒ ’n wit voormalige goewerneur van Colorado van 2011 tot 2019;
  13. Jay Inslee ‒ die wit goewerneur van die staat Washington sedert 2013;
  14. Wayne Messam ‒ die swart burgemeester van Miramar, Florida, sedert 2015;
  15. Seth Moulton ‒ ’n wit kongreslid van die sesde kongresdistrik in Massachusetts sedert 2015;
  16. Richard Ojeda ‒ ’n senator in die staat West Virginia;
  17. Beto O’Rourke ‒ ’n wit kongreslid van die sestiende kongresdistrik van Texas van 2013 tot 2019;
  18. Deval Patrick‒ ’n swart voormalige goewerneur van Massachusetts;
  19. Tim Ryan ‒ ’n wit kongreslid uit die dertiende distrik in Ohio sedert 2003;
  20. Joe Sestak ‒ ’n wit voormalige kongreslid;
  21. Tom Steyer ‒ ’n wit miljardêr, donateur en liberale aktivis; en
  22. Eric Swalwell ‒ ’n wit kongreslid uit die vyftiende kongresdistrik in Kalifornië sedert 2013.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Autobahn

Monkey theater (Affentheater) op sy beste.
Dankie vir die humorvolle beskrywing van die „Demokrate“ se verkiesingsvoorbereidings.