Belangrik om die verbondsmatige aard van federalisme in gedagte te hou

Deur dr. Adi Schlebusch

kerk-gemeenskap

Foto: Thepalmerperspective.com

Die afgelope maand se AfriForum-konferensie aangaande Gemeenskapsfederalisme verteenwoordig werklik ʼn bemoedigende stap in die regte rigting. In Suid-Afrika bied die versnellende staatsverval immers aan ons ʼn unieke geleentheid om innoverend te dink oor hoe die sosio-politieke orde herstruktureer behoort te word. In die lig hiervan bied die rykdom van die federale tradisie vir ons ʼn raamwerk sonder weerga waaruit innoverende oplossings vir ons unieke uitdagings hier in Suidelike Afrika onderbou kan word.

Wanneer ons egter uit hierdie ryk federale tradisie put, is dit belangrik om te onthou dat federalisme, anders as ander vorme van lokalisme of desentralisasie, juis gekenmerk word deur die beklemtoning van die Christelike verbondsleer as deurslaggewend vir alle denke oor die sosio-politieke orde. In hulle 1991-boek, Fountainhead of Federalism: Heinrich Bulllinger and the covenantal tradition, beklemtoon die outeurs Charles McCoy en James Baker dat federalisme juis haar wortels vind in die verbondsdenke van die Protestantse Kerkhervormer Heinrich Bullinger.[1]

Vir Bullinger begin hierdie verbond dan by God, wat gesinne roep om die kultuuropdrag uit te voer – iets wat op ʼn organiese wyse uitloop tot die daarstelling van volksgemeenskappe as uitbreidings op die gesin as basiese boublok van die samelewing. Bullinger gaan inteendeel so ver as om die Ou-Testamentiese verbondsverhouding tussen God en Israel ook op sy eie Switserse volk van toepassing te maak. Hy skryf die volgende in ʼn traktaat uit 1528 waarin God die Switserse volk in die eerste persoon aanspreek:

“Ek sal julle God wees net soos toe, en julle sal my volk wees… As julle afvallig word, as julle nie die goeie beskerm en die kwade bestraf nie, as julle nie julle oorloë en sondes los en ʼn Christelike regering daarstel nie, sal Ek julle straf soos ek Israel en Juda gestraf het.”[2]

Die woord federalisme is afgelei uit die Latynse woord foedus, wat verbond beteken. Federalisme begin by verbondsouers wat in die konteks van die verbondshuishouding hul verbondskinders onderrig in die Christelike geloof. Die vernaamste politieke filosoof in die federale tradisie, Johannes Althusius, beklemtoon daarom dan ook dat die samelewing organies vanuit die gesin as basiese Godgegewe verbondstruktuur groei, vanwaar dit verder uitkring na die buurt, stad, provinsie en volk. Vir Althusius is die indiwidu se identiteit en rol in die gemeenskap geanker in sy verwantskap tot ʼn uitgebreide familie oftewel die consociationes consanguineorum.[3]

Wanneer federalisme dus ter sprake kom, bly dit altyd belangrik dat die wesenlikheid van beide ʼn gesonde organiese gesinslewe gewortel in die Christelike godsdiens, sowel as die kulturele en godsdienstige homogeniteit van die gemeenskap as natuurlike uitvloeisel van hierdie familie-gebaseerde sosiale orde, deurlopend in gedagte gehou word.

[1] McCoy, C.S. en J.W. Baker. 1991. Fountainhead of federalism: Heinrich Bullinger and the covenantal tradition. Louisville, KY: Westminster/John Knox, p. 27.

[2] Bullinger, H. 1544 (1528). Anklag und erstliches ermanen Gottes Allmachtigen zu eyner gemeynnen Eydgenosschaft. Zürich: Froschauer, p. 7, 57.

[3] Althusius, J. 1610. Politica Methodice Digesta, Atque Exemplis Sacris et Profanis Illustrata. Groningen: Radaeus, p. 715.

  • Dr. Adi Schlebusch is ‘n navorser by die departement sistematiese en historiese teologie by die Universiteit van Pretoria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Uit dieselfde protestantse leer het calvinisme voortgespruit. En uit die reusagtige klem wat calvinisme op die verbondsteologie geplaas het, is apartheid weer uit die Bybel geregverdig.

Fluisterwind ·

‘n Verbond met God, ‘n gelofte aan God en ‘n altaar vir God in vandag se term ‘n monument. Waarom rig die blanke volke sedert 1994 nie meer monumente op nie? Monumente is her-oriëntasie punte in ‘n volke se geskiedenis, waar God al die eer ontvang. Die Taal monument, gee aan God die eer vir Afrikaans, Die Bloedrivier monument, die Voortrekker monument en die Vroue monument, vir soveel vroue en kinders afgesterf in konsitrasie kampe, kan ons volk her-oriënteer. Dalk is ons net voos, hopeloos en moedeloos en kan nie die verbondmatige aard van federalisme meer insien en waardeer nie.

annie ·

As hierdie navorsing tog maak hier teen 1980+ die lig gesien het, het Afrikaner leiers dalk ook die lig gesien en dan was die uitloop anders, maar soos sake nou staan sal die ANC die saak nie ligtelik opneem nie. En veral noudat SA meer na die donker neig sal onderhandelinge ‘n ander formaat moet aanneem, bv eers ná ‘n bloedige geveg voordat daar weer lig in die tonnel skyn en dit nie dié van ‘n trein is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.