Belangrike hervormings in Midde-Ooste nodig

Afghaanse veiligheidsmagte tydens ‘n operasie teen die Taliban. Foto: Javed Tanveer/AFP

’n Vinnige soektog van nuusberigte uit die Midde-Ooste die afgelope paar dae vertel die verhaal van ’n wêreldstreek wat voortdurend verstrengel is in die siklus van sektariese geweld, swaarkry en oorlog.

Oorloë in Afganistan, Irak, Sirië en Jemen het tot die grootste vlugtelingkrisis wat die wêreld sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog gesien het, aanleiding gegee. Terwyl meer as ses miljoen mense die afgelope dekade uit Sirië gevlug het, sien ons tans die beelde van hongersnood in Jemen en daaglikse selfdoodbomaanvalle in Afganistan.

Bydraende faktore wat die Midde-Ooste die afgelope paar jaar toenemend in chaos gedompel het, was die opkoms van Islamitiese terreurgroepe; die magstryd tussen die Soenniete en Sjiïete-Moslems (vernaamlik tussen Saoedi-Arabië en Iran); hernude sektariese geweld (veral ná die Arabiese Lente); grensgeskille wat terugdateer ná die val van die Ottomaanse Ryk aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog; en ’n algemene onvermoë in groot dele van die Moslemwêreld om by moderne ekonomiese uitdagings, regeringseise en ’n dramatiese bevolkingsgroei aan te pas.

In die dekades ná die twee vernietigende wêreldoorloë, die einde van ryke soos die Oostenryk-Hongaarse Ryk en die Ottomaanse Ryk en die ontwikkeling van nuwe globale instellings en magsverhoudinge, kon die meeste lande in die Amerikas, Europa en Asië aanpas en meer voorspoedige, moderne samelewings daarstel. In die Midde-Ooste was daar oor die afgelope dekades gereeld goeie tekens van hoop.

Foto: (AP Photo/Alex Brandon)

In die 1950’s het Iran een van die modernste, demokratiese, pro-Westerse samelewings in die Midde-Ooste gehad. Ook lande soos Sirië en selfs Jemen wat beide die afgelope paar jaar in groot puinhope deur oorlog verwoes is, het gedurende die twintigste eeu lang periodes van stabiliteit ervaar. Libanon was vir dekades lank een van die modernste, suksesvolste lande in die Midde-Ooste. Deesdae strompel dié land van die een krisis na die ander.

Na die Tweede Wêreldoorlog het Kemal Ataturk die moderne Turkye opgerig en die land het binne enkele dekades in ’n moderne globale politieke, ekonomiese en militêre rolspeler met noue Westerse bande en sterk demokratiese instellings verander. Die afgelope paar jaar boer Turkye egter agteruit soos wat die land weer toenemend Islamiseer en wegstap van die sekulêre, moderne roete waarop Ataturk die land geplaas het.

Die ligpunte in die Midde-Ooste

(Foto: AP Photo/Oded Balilty, File)

Die Midde-Ooste is egter nie sonder huidige suksesverhale nie. Die ooreenkomste wat in 2020 tussen Israel en talle Arabiese lande gesluit is, is ’n belangrike stap in die regte rigting en kan tot groter stabiliteit, maar ook ekonomiese ontwikkeling in die streek lei.

Die Golflande, insluitende die Verenigde Arabiese Emirate, Katar, Bahrein en Oman is almal stabiele, hoewel meestal ondemokratiese lande, wat graag stabiliteit in die Midde-Ooste wil sien. Die meeste Golflande is ook sterk gekant teen sogenaamde politieke Islam. Jordanië is ook ’n stabiele land in die Midde-Ooste wat homself saam met Egipte grootliks by die Golflande aansluit in sy afkeur in politieke Islam.

Die afgelope paar jaar se isolasie van Katar deur die VAE, Saoedi-Arabië, Bahrein en Egipte nader ’n einde met ’n ooreenkoms wat waarskynlik binnekort bereik sal word.

Vyf dinge wat die Midde-Ooste in 2021 sal help vorm

Satellietbeelde van Iran se kernfasiliteit in Isfahan. Foto: Maxar Technologies/Reuters

Iran se invloed in Irak, Sirië, Jemen en Libanon is egter ’n voortdurende strydpunt wat tot heelwat geweld, mobilisering van milisie-groepe en die destabilisering van dele van die Midde-Ooste aanleiding gee. Iran se aankondiging ’n paar dae gelede dat dié land sy uraanverryking verder verhoog het, dra by tot vrese in die Midde-Ooste en Westerse lande dat Iran hom nie deur sanksies en ander optredes wat daarop gemik is om dié Sjiïet-Moslemland te isoleer, gaan laat onderkry nie.

Hoe die magstryd tussen Iran en Soenniet-lande – by uitstek Saoedi-Arabië – gaan uitspeel, gaan ’n belangrike bydrae tot die vraag oor vrede in veral Sirië, Jemen en Irak lewer. Indien Iran weer tot ’n kernooreenkoms met die Weste kan instem, kan dié land se rol in die Midde-Ooste geherdefinieer word. Iran is steeds ’n gevorderde samelewing met hoë opvoedingsvlakke, ’n gesofistikeerde kultuur en geskiedenis en ’n bevolking wat meer gematig is as wat die persepsie baie keer van buite mag wees.

’n Tweede belangrike faktor wat tot stabiliteit, of die afwesigheid daarvan, in 2021 in die Midde-Ooste gaan bydra, is suiwer ekonomies van aard. Ook die ekonomieë van die Midde-Ooste het groot skade tydens die pandemie gelei. Die Internasionale Monetêre Fonds het onlangs aangedui dat die ekonomie van Irak in 2020 met 11% gekrimp het.

Terwyl Irak ’n groot oliereserwe het, kan dié land se regering nie meer sy skuld terugbetaal nie en het staatsdienswerkers verlede jaar vir maande aaneen geen salarisse ontvang nie. Die land se geldeenheid verloor daagliks meer veld en vrees bestaan dat die huidige regering, wat minder as ’n jaar gelede ná gewelddadige betogings oorgeneem het, ook uit die kussings gelig kan word. Terwyl Irak tans die mees bekwame eerste minister in baie jare het, is die land se ekonomiese uitdagings, die vlakke van regeringskorrupsie, swak infrastruktuur en die lae olieprys ’n kombinasie wat moeilik deur een bekwame regeringsleier binne enkele maande opgelos kan word.

Foto: (AP Photo/Charles Rex Arbogast)

In die meeste Midde-Oosterse lande dreig ekonomiese probleme om tot opstande aanleiding te gee. Die skatryk Golflande moes selfs die afgelope tyd weens lae oliepryse regeringsprogramme inkort en miljoene gasarbeiders is na lande soos Indië en Pakistan teruggestuur.

Een van die grootste uitdagings in die Midde-Ooste bly Islamitiese terreurgroepe. Terwyl die Islamitiese Staat grootliks in Sirië en Irak verslaan is, is dié groep besig om in ander lande te herorganiseer. Ook Al-Kaïda en sy verskillende filiale funksioneer in verskeie lande in die Midde-Ooste en die noorde van Afrika.

Terwyl die Taliban ’n vredesooreenkoms met die Amerikaanse regering gesluit het, voer dié terreurgroep steeds ’n magstryd met die regering van Afganistan en word terreuraanvalle nog weekliks op regerings- en weermagteikens uitgevoer.

Die beste manier om Islamitiese terreurgroepe oor die langer termyn te beveg, is deur stabiele regerings in Midde-Oosterse lande te vestig, bekwame polisiemagte en weermagte op te lei en ekonomiese ontwikkeling aan te moedig wat jong mans eerder deel van die ekonomie maak as om hulle in die hande van terroriste in te jaag.

‘n Kind staan buite ‘n grot waar ‘n gesin van Jemen skuiling gevind het weens ‘n gebrek aan behuising in Taez. Foto: Ahmad al Basha/AFP

Die vierde saak wat die Midde-Ooste in 2021 kan raak, is die groeiende humanitêre krisisse in verskeie lande. Die ergste geval is sekerlik in Jemen waar miljoene mense reeds voedseltekorte ervaar. Daar is egter ook dele van Sirië, Afganistan en Irak waar die tekort aan voedsel, verhitting tydens wintermaande en mediese dienste baie hoog is. Humanitêre krisisse kan die streek verder destabiliseer, tot verdere strome van vlugtelinge aanleiding gee en ’n teelaarde vir ekstremisme skep.

Die vyfde faktor wat op die stabiliteit in die Midde-Ooste in 2021 gaan inwerk, is buitelandse betrokkenheid. Die vraag bestaan tot watter mate die Biden-administrasie in die VSA ’n nuwe rigting in die streek gaan inslaan. Ook Rusland se betrokkenheid in, onder meer, Sirië en Iran kan tot vrede bydra, sou die Russe met ander lande saamwerk om byvoorbeeld ’n nuwe kernooreenkoms met Iran te fasiliteer en ’n einde aan die oorlog in Sirië te maak.

Die Midde-Ooste is een van die wêreldstreke met die jongste bevolkings. Die streek het groot ekonomiese potensiaal, maar argaïese politieke Islam, komplekse sektariese verskille binne naoorlogse lande soos Sirië en Irak en jare se oorloë – ook deur buitelandse magte – het die streek die afgelope tyd in ’n doolhof van ellende, armoede, konflik en uitsigloosheid ingestuur.

Of die huidige globale krisis lande in die Midde-Ooste van die noodsaak van hervormings sal laat besef, sal ons in 2021 moet sien. Die enigste alternatief is dat die globale krisis die huidige probleme in die Midde-Ooste net verder sal beklemtoon en tot selfs groter uitdagings aanleiding gee.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.