Belangriker redes as net tradisie vir matriekuitslae-openbaarmaking

(Foto: Maroela Media)

’n Mens kan maklik die departement van basiese onderwys se besluit, om nie vanjaar se matriekuitslae in die media te publiseer nie, afmaak as ’n onbenulligheid omdat daar tog belangriker kwessies in die land is wat aandag moet geniet.

Mense mag selfs redeneer dat dit nie meer so belangrik is nie omdat die gebruik van hoofstroom-media aan die taan is en dat die klas van 2021 hul uitslae op ander platforms soos die departement se webtuiste kan kry. Dit sal egter verkeerd en selfs naïef wees om só ’n standpunt te huldig.

Daarom behoort daar steun te wees vir AfriForum, Maroela Media en Anlé Spies (’n 2021-matrikulant) se dringende aansoek om Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en die departement se besluit teen te staan.

Een van die heel belangrikste redes wat die algemene publiek nie uit die oog moet verloor nie, is dat indien die departement die alleenreg het om te besluit oor die publisering van die uitslae, dit maklik presies dieselfde optrede is wat die ANC-regering op talle ander terreine probeer regkry, naamlik die sentralisering van mag. Dít moet ten alle koste gestuit word.

Die departement kan nie agter die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, 4 van 2013 (die sogenaamde POPI-wet) skuil om hierdie irrasionele besluit te regverdig nie. Slegs leerders se eksamennommers word op mediaplatforms gepubliseer, met ander woorde leerders se persoonlike inligting of identiteit word op geen wyse sonder hul toestemming bekendgemaak nie.

“In ’n demokratiese land moet inligting (binne die perke van die reg) tog vrylik beskikbaar wees en dit is iets wat die departement ook behoort te ondersteun,” sê Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum.

Natuurlik is daar ook ander redes wat ’n mens kan opper, soos dat dit jaarliks ’n groot geleentheid is waar die publiek, skole en ouergemeenskappe kan deel in die vreugde van derduisende matrikulante wat hul skoolloopbaan suksesvol afgesluit het. Dit is sekerlik ook gepas om eer te bring en erkenning te gee aan dié matrikulante wat baie hard gewerk het om goeie uitslae te behaal.

Dit is nie ’n goeie argument om te sê die uitslae moet nie meer openbaar gemaak word nie, omdat dit leerders sal verneder wat nie goed gevaar het nie. Dit is die beloop van die lewe en natuurlik moet hulle wat nie so goed gevaar het nie, aangespoor word om weer te probeer en om ondanks terugslae nie moed te verloor nie. Dit is egter ’n ope vraag of leerders enigsins negatief geraak word, aangesien die bekendmaking deesdae op grond van ’n enkele (eksamen)nommer gedoen word waardeur feitlik niemand geïdentifiseer kan word nie.

Een aspek waaroor daar ook dalk meer duidelikheid vanaf die departement se kant moet kom, is of die departement nog in staat is én oor die nodige kapasiteit en kundigheid beskik om die uitslae elektronies aan mediahuise beskikbaar te stel, en of die POPI-wet nie nou sommer ’n baie handige verskoning vir sekere gebreke is nie.

Die aansoek word môre in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria aangehoor voordat die matriekuitslae op 20 Januarie 2022 bekendgemaak word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JacaMo ·

In die 80’s gematrikuleer. Natuurlik die skool gebel vir my uitslag, maar kon nie wag om my naam in die koerant te sien nie – so lekker breëbors gevoel as jy jou naam daar sien in die koerant (Die Burger)…

OW ·

Hierdie POPI-wet is niks anders as twak nie.Persoonlike inligting lê die wêreld vol.Die banke,versekerings maatskappye, mediese fondse gee inligting uit.Hierdie ongewenste oproepe is van oral in SA en is weer volstoom aan die gang.Gelukkig is daar true caller om dit te vermy.

Alfred E Neuman ·

Jy is heeltemaal reg OW. Ek ontvang daagliks oproepe van banke, versekering, motorhandelaars en meer. Die popi wetgewing is van geen waarde nie. Die regering gebruik dit net soos dit hulle pas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.