Belastingprotes: Pres. Ramaphosa: “Ons druk terug!”

Dirk Hermann.

Beste medeburger

Ons is g’n slawe van die regering nie; ons is burgers van die land. Ons is dus nie hier om deur ons swaarverdiende geld die onwerkbare ideologie van die regering slaafs uit te voer nie.

Die regering regeer téén belastingbetalers, alhoewel ons sy enigste bron van inkomste is.

Ons is hier om as vry burgers te leef. Ons moet die selfvertroue kry om nee te sê vir hierdie nuttelose regering.

Die regering het ’n utopiese Marxistiese ideologie van absolute gelykheid. Dié wat het moet alles gee, en dié wat nie het nie moet alles ontvang. Die klem is op herverdeling en nie produksie nie.

Die sentrale staat sal so vriendelik wees om die herverdeling te hanteer, natuurlik teen ’n skamele plunderfooitjie van ’n paar miljard rand vir ’n groepie elite. Hulle het darem nie gestruggle om arm te wees nie.

Die onlangse witskrif oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die groenskrif oor maatskaplike sekerheid (NFMS) is klassieke voorbeelde hiervan. Minister Lindiwe Zulu het onlangs die groenskrif tydelik onttrek, maar beslis nie geskrap nie.

Hoor net die wysheid van die groenskrif: “All income earners should contribute according to their income and benefit from the system according to their needs.” Marx op sy beste.

Dan kom die groenskrif met die utopiese droom dat die basiese inkomstetoelaag na R7 500 per maand verhoog moet word.

Die regering glo dat jy dit nie vir mense makliker moet maak om te werk nie. Nee, jy moet dit makliker maak om nié te werk nie.

Diegene wat nog so dom is om hard te werk, moet daarvoor betaal. Terwyl die departement van maatskaplike sekerheid foute in hulle groenskrif wil regstel, blyk dit of Utopia die belastingbetaler ’n skamele 10 ekstra persentasiepunte belasting kan kos. Dit is natuurlik nou buiten die 8% tot 12% wat van hulle salarisse afgetrek moet word om in ’n sentrale staatspensioenfonds gestort te word, wat deur ons wonderlike oppasserstaat vir ons bestuur sal word.

Die utopiese hemel op aarde. Dié groenskrif stop kort duskant groen grasvelde, koeldrankwaterstrome, lekkergoedbome en spookasemwolke.

Dán die gek idee van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Die staat moet nou ons gesondheid sentraal beheer en bestuur. Hulle wil besluit waar dokters mag praktiseer, na watter hospitaal jy moet gaan en watter medisyne jy kan gebruik. Ons moet betaal om nie te kies nie.

Dit is nou dieselfde staat wat Eskom in beurtkrag, Denel in beurtsalarisse en die SAL in beurtvlugte in bestuur het.

Dit is ook dieselfde ideologie van sentrale beplanning wat miljoene al wêreldwyd vir die “groter doel” doodgemaak het en meer onlangs Kuba in ’n ramp in geplunder het.

Die regering gee egter nie om nie, want hulle ideologie is mos gelykheid. Almal gaan gelyke toegang tot niks hê nie. Die utopiese wêreld waar een nie meer het as die ander nie. Behalwe natuurlik die elite wat alles het. Die droom van gelykheid is nie vir die elite beskore nie. Hulle sal in ongelykheid leef vir die “groter doel”.

Die regering het nie behoorlike impakstudies, of koste-ontleding van die groenskrif óf witskrif gedoen nie. Hulle is só ideologies dat hulle net voortploeter, want geen koste kan te veel wees vir Utopia nie.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het indieptenavorsing oor die koste van die NGV en die belastingimplikasie vir ons getroue belastingbetalers gedoen. Die syfers is verbysterend.

Ons moet in gedagte hou dat ons reeds die tweede swaarste belastinglas, naas Swede, in die wêreld het. In ruil daarvoor kry ons ’n vrot staat met amptenare en elite wat hulleself verryk deur te plunder en nie daarvoor vervolg word nie.

Daar is sowat 60 miljoen mense in Suid-Afrika. Net 3 miljoen betaal 95% van alle inkomstebelasting en net 1 miljoen betaal 80% van alle inkomstebelasting. In plaas daarvan om ʼn beleidsraamwerk te ontwikkel wat meer belastingbetalers tot gevolg gaan hê, ontwikkel hulle ʼn beleid wat net nog meer by die min belastingbetalers gaan vat. Daar is altyd nóg. Dis die onverklaarbare wonder van Utopia.

Die NGV gaan ’n verdere tekort van R112 miljard op ons gesondheidsbegroting tot gevolg hê. Moenie kommer nie – ons oppasserstaat sal betaal, al is dit nou met óns geld.

Wat sal met ons belasting gebeur as die twee stukke mal wetsvoorstelle geïmplementeer word? Gaan sit en hou jou stoel vas. Indien die twee stukke beleide deurgevoer sou word, kyk die enkele burgers wat belasting betaal gemiddeld na ’n verdubbeling in belasting (113,2%).

Dit is gek, irrasioneel, bloot ideologies en onwerkbaar. Dit is ’n totale minagting van belastingbetalers.

Solidariteit se hoofraad het ’n mosie vir belastingprotes aanvaar. Ons lede, ondersteuners en gemeenskappe is die gewone getroue belastingbetalers, en ons moet nee sê en terugdruk. Uiteindelik moet ons geweeg en nie getel word nie, en ons belastingsak weeg baie swaar.

’n Deel van die belastingprotes gaan die moeder van alle belastinghofsake wees. Die groenskrif en witskrif moet in die hof teruggedruk word. Die irrasionaliteit moet ontbloot word. Massalitigasie van belastingbetalers is nodig. As die regering nie wil hoor nie, moet hulle hard en duidelik voel. Ons is keelvol vir ’n regering wat geld spandeer wat hulle nie verdien het nie en dan gevolge veroorsaak wat hulle nie hoef te dra nie.

Internasionale druk op mal beleide van die regering moet toeneem. Vir internasionale beleggersvertroue is beleidsekerheid nodig. Solidariteit vertrek reeds 24 September op ’n omvattende toer na Europa en gaan verskeie Europese parlemente besoek.

Plundery van veral staatsinstellings moet ontbloot word en plunderaars moet vervolg word. Dit sluit die regering se Kubaanse program in. Solidariteit gaan met sy stryd teen die wanbestuur van instellings soos Denel voort asook die vervolging van plunderaars soos Brian Molefe. Gerrie Nel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid doen ook wonderlike werk in hierdie opsig. Daar word aan ’n spesiale ondersoekeenheid beplan wat plundery en plunderaars moet ondersoek.

’n Spesialistaakspan gaan aangewys word, wat ondersoek gaan doen na metodes om belasting wettiglik só te struktureer sodat burgers so min as moontlik belasting moet betaal. Elke sent aan die ANC-regering is geld wat heel moontlik in ’n korrupte amptenaar se sak gaan eindig. Ons moet dit eerder op die dienste waarvoor dit bedoel is spandeer – al is dit sonder die regering.

Ons moet terugdruk. Kom ons doen dit deur litigasie, ontbloting van plundering en vervolging van plunderaars, openbare druk en die herstrukturering van belasting.

Kom ons doen dit ook deur duisende briewe van protes direk aan president Ramaphosa te stuur. As jy hier klik kan jy jou brief en verklaring van steun aan belastingprotes direk aan hom stuur.

Belastingprotes is ’n moet. Ons is nie slawe nie.

Kom ons druk terug. Belastingkrag is sterker as regeringsmag.

Groete

Dirk Hermann

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hoekom ·

Tyd vir onafhanlikheid as jy my vra. Gebruik eerder al jul geld en energie om dit aan die rol te kry.

Hendrik ·

Self doen, selfstandige bestuur, mediesefondse, veiligheid, mediese geriewe, werkskepping, nywerhede, water, energie, opvoedkundige instansies, eie geld eenheid, ens.

Pieter9 ·

Iemand, al is dit net EEN in die ANC regering moet tog ekonomie verstaan…die probleem volgens my het min daarmee (ekonomie) te doen; dit klink dalk te eenvoudig maar dit is so, dit gaan slegs oor RAS. RAS en Kolonialisme is die regverdiging van ANC kader beleid. Internasionlae sanksies is die enigte uitweg – hulle moet nerens meer kan reis en geen toegang tot kapitaal kry nie.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Elke Suid-Afrikaner wat Suid-Afrika eerste stel moet toeriste, buitelanders, buitelandse besluitnemers en potensiële buitelandse beleggers eerbaar en deeglik met die waarheid inlig oor die werklike toestande in Suid-Afrika en die risiko’s om Suid-Afrika te besoek en/of in Suid-Afrika te belê. Die ANC ry ‘n immorele golf van gierigheid en kriminaliteit. En ons moet die joernaliste wat ondersoekende joernalistiek beoefen om die waarheid en geregtigheid te bevorder, ondersteun en betrek. Elke goeie burger kan die oë en ore vir die joernaliste met integriteit wees. Die ANC moet oopgevlek word vir wat hy in sy diepste wese is.

Hendrik ·

Ek weet ons is in die groter demokrasie maar as ons net so hard kan werk om ons eie ekonomie in ons eie selfstandige selfbestuur area kon ons met ons eie geldeenheid (bv. kriptogeld ) die belastinggeld gebruik vir die gebiede. Dit is tog waarnatoe ons moet beweeg as ons die geskiedenis van demokrasie in Afrika se resultate waarneem. Moet ons die groot sprong neem vir ons toekoms of moet ons probeer red wat te rede is as ‘n minderheid? Kom ons wees regtig eerlik met onself en dink werklik wat die probleem is in Suid.Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.