Belastingterughouding, moraliteit en wet – waar staan ons?

Deur Christo Lombaard en Fanie van Zyl

(Foto: pixabay)

Dis ook omtrent net die Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaar Nataniël wat kon sê hy is blý daar is iets soos belasting. Want, redeneer hy, was dit nie vir belasting nie, was dit in hierdie ou lewe ook nét die dood wat ‘n sekerheid is…

Vir die meeste mense is belasting betaal g’n grap nie, maar darem ‘n ergenis wat jy verduur omdat daar ‘n noodsaak aan is. Die regering het geld nodig om die land te kan bestuur en maak wérk. Maar daar is ‘n paar “maars” daarby…

Jan-Taksonomie

Oor die onbehoorlik hoë vlakke belasting wat Suid-Afrikaners betaal, en die ontnugterende min waarde wat ons daaruit ontvang, is al heelwat geskryf en gekla. Wat egter selde genoem word, is die gepaardgaande onbeskoftheid van ’n regering wat dan gereeld, en soms redelik kru, ’n groot deel van die direkte belastingbetalers slegsê. Dit wil sê, die regering markeer geen retoriese pas as dit kom by diegene wat hulle direk onderhou nie.

Sulke slegsêery is des te minder verstaanbaar in ’n land waar die hoeveelheid belastingbetalers maar klein is. Op 2019-syfers, naamlik, betaal ’n aks minder as drie miljoen Suid-Afrikaners 97% van die land se persoonlike inkomstebelasting. Dit, tesame met 18 miljoen Suid-Afrikaners wat grootliks afhanklik is van staatstoelae (hoe karig daardie toelae ook al is), plaas eersgenoemde klein groepie (die drie miljoen) volledig in die rol van filantrope.

Dat daar ’n ongedurigheid onder belastingbetalers aan ‘t broei is, verbaas niemand nie. In ’n Maroela Media-nuusberig oor die dalende gewilligheid tans in Suid-Afrika om belasting te betaal, word verwys na ’n gesprek van Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, met ’n invloedryke Suid-Afrikaanse sakeman, diplomaties ongeïdentifiseerd, oor belastingbetaling in Suid-Afrika. Daar word geskimp dat “die betaling van belasting in Suid-Afrika … ‘n moontlike oortreding van die Amerikaanse Wet op Buitelandse Korrupte Praktyke” sou wees. Want… jy wéét mos: hierdie geld gáán “hoofsaaklik misdaad, wanbestuur en korrupsie finansier”, naamlik dié van die Suid-Afrikaanse regering.

In sterker taal gestel: die verkorruptering van die ANC-regering tans het só duidelik geblyk – nogeens onderstreep met die plundering van staatsfondse bestem vir die oplossing van Covid-19 probleme – dat dit skaars moontlik is om parallelle met die mafia se manier van werk mis te kyk.

Op verskillende openbare fora is dit daarom onlangs voorspel dat die geloofwaardigheid van die regering nou al so uitgehol is, dat dit in enige stadium ineen kan tuimel. Die finansiële blaaskans van die reuse ± R70 miljard-laekoerslening wat die Internasionale Monitêre Fonds pas aan Suid-Afrika toegestaan het, gaan dalk net ’n paar oomblikke in die wind hou: die Kaapstadse polities-ekonomiese analis RW Johnson het dit reeds in 2015 sien kom dat sulke geld blitsig in gulsige sakke gaan verdwyn. Klikmonde sal, soos in vorige sulke gevalle, baie skielik die lewe laat. ’n Mens ontkom maar nie aan die mafia-metafoor nie… Meer nog, dit gaan ons letterlik duur te staan kom: Suid-Afrika se belastingbetalers gaan vir dekades lank aan die rente op hierdie lening afbetaal.

’n Beduidende aantal belastingbetalers blyk verder ongelukkig te wees oor die gebrek aan dienslewering deur die staat. Die staat het ’n grondwetlike plig om die sosio-ekonomiese regte wat in die Handves van Regte vervat word, aan die mense van Suid-Afrika te lewer. Dit neem net ’n bietjie rondkyk om te sien hoedat groot gemeenskapsdele selde of ooit hierdie sosio-ekonomiese regte geniet. Belasting is egter nie soos ’n kommersiële kontrak nie. Net omdat jy nie voordeel trek uit staatsdienste nie, beteken nie jy is belastingvry nie. Met ander woorde, belasting werk nie op ’n iets-vir-iets basis nie. Daarom sal ryk mense byvoorbeeld baie belasting betaal sodat die staat die geld kan aanwend om sosio-ekonomiese regte aan armes te verskaf. Maar word jou belastinggeld werklik korrek en regverdig aangewend om hierdie sosio-ekonomiese regte ook onder armes te laat realiseer? Ons almal ken die antwoord op dié vraag.

Wat staan die Suid Afrikaanse belastingbetalers dan nou te doen?

Christo Lombaard.

Dalk het dit tyd geword om op moraliteitsgronde belastingbetaling van die Suid-Afrikaanse regering terug te hou. Nie belastingontduiking of wanbetaling nie – dit bly onwettig. Maar eerder, ’n verset om die belasting aan die huidige regering oor te betaal.

Hierdie idee draai al ’n paar jaar lank rond in die Suid-Afrikaanse politieke gedagtemeule. Dink maar aan die omstrede twiets van Helen Zille hieroor. Onlangs was dit so ’n prominente plan, dat Tito Mboweni, minister van finansies, ’n ferm “A nee a!” hieroor moes laat hoor. Sy toon was dié van ’n raad-op pa wat nie meer redes het om aan te bied vir sy baldadige kroos, hoekom hulle streke dan nou ent moet kry, nie. Dis nou net: verbied. Want ék sê so… Die toon van daardie manier van praat wys altyd op ’n desperaatheid, wat moet terugval op ’n blote gesagsargument. Daar is geen ander oortuigingsmateriaal meer beskikbaar nie; die rug is teen die muur.

Hoe maklik of moeilik is dit egter om belasting terug te hou?

Nuk en weeg

Vir ’n begin, kan dit nie gebeur dat mense geen duit betaal nie. As die gewoonte van gereelde betaling eers verbreek is, soos ons met elektrisiteitsverskaffing in heelwat woonbuurte in Suid-Afrika sien, keer daardie gebruik nie maklik terug nie. Dan kry ’n mens maklik langtermyn-skade, met nagenoeg permanente verval as ’n hoë moontlikheid, en geen rasionele mense wil ’n Somalië-scenario hier hê nie. Eerder bly belastingpligtiges hulle aanslaggeld betaal, maar dan nie aan die staat nie. Die gelde word oorbetaal in ’n ander fonds, wat in die internasionale handel bekend staan as ’n “escrow”- oftewel borg-rekening. Dit beteken prakties dat ’n volgende, moreel meer regverdigbare regering, onmiddellik kapitaal beskikbaar het om goeie werk te doen; beter werk as die gifte en gawes aan familie en vriende in ’n kleptokrasie.

Drie probleme duik op met so ’n moontlike ándersbetaal-veldtog.

Eerstens, waar setel so ’n projek en dus so ’n fonds? Word so ’n veldtog onder die adres van ’n enigsins polities-verwante instelling geplaas, faal dit dadelik. Heelwat politieke partye sal die idee dan kan verinneweer, met die huidige regerende party voor in daardie koor. Daarbenewens sal dit onbehoorlike mag aan so ’n instelling verskaf, sou dit polities verwant wees. ’n Metafories-gesproke Moeder Teresa-instelling sal dus so iets moet lei: iemand sonder bybedoelings, bloot tydelik, en wat nooit in ’n politieke magsposisie in ’n nuwe nuwe Suid-Afrika sal wees nie.

Tweedens, wie beskerm daardie geld? Ons ken mos nou almal ons land vol lang vingers, vanaf ’n Steinhoff tot ’n VBS Bank – om maar net by twee huidige voorbeelde buite staatskring te bly. So ’n tydelike belastinggeldpoel sal agter ’n uiters veilige slot-en-grendel geplaas móét word, anders word dit leeggetap. Daarmee saam sal alle integriteit aan ’n projek soos dié, en enige hoop wat dit kan bied op ’n nuwe nuwe Suid-Afrika, weggesypel wees.

Derdens, hoeveel mense voor ons nie tronk toe gaan nie en die staat wel faal? As ’n enkeling of ’n paar mense ’n morele posisie inneem en hulle belastinggeld eerder by ’n Moeder Teresa-instelling inbetaal as aan ’n korrupte staat, sal die magte wat reeds aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verleen word, korte mette maak met so groep. Dit sluit in dat die SAID rente en boetes kan hef en die individue strafregtelik kan vervolg. Daarbenewens het die SAID die mag om die individu se finansiële instelling (bank) of werkgewer opdrag te gee om die beweerde uitstaande belasting, plus rente en boetes, direk aan die SAID te betaal. Die belastingpligtige het ook dan geen eis teen ’n bank of werkgewer wat sodanige geld aan die SAID oorbetaal nie. Maklik is die proses dus nie, met die wetgewing wat heelwat moontlike lekplekke reeds toegestop het.

As 10 000 mense egter daardie skuif waag, raak die skaakspel gemakliker. As ’n 100 000 mense of meer daardie skuif maak, met ’n beduidende deel van daardie groep wat van die groot belastingbetalers insluit, bereik ons skaakmat. Die pionne laat die koning val.

Dit is egter net werkbaar as daardie hele groep mense mekaar ondersteun en deur terselfdertyd alle moontlike stappe neem om die magte van die SAID hierbo genoem, in te perk. Byvoorbeeld: deur 1.) byna ’n nul-balans in hul bankrekeninge te handhaaf, 2.) hul werkgewers oor te haal om deel te neem aan die verset, en 3.) ’n gedugte span regsgeleerdes in hul kamp te kry om kosteloos enige individu wat deel is van die verset, by te staan in enige moontlike regsaksie wat met die verset verband hou. Net deur ’n strategies komplekse skaakspel kan die pionne dus so ’n skuif maak.

Pionne, want op groot besighede kan ’n mens nie aldag vertrou om dié bordspel saam te speel nie. Maatskappye se moraliteit lê vanselfsprekend by wins maak, nie by politieke ideologie of – praktyk uitsuiwer nie. Dit was nog ampertjies altyd die geval die wêreld oor, insluitend in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. ’n Gewaagde politiese spel speel groot maatskappye nou maar eenmaal net moeilik; hulle pas maar gewoonlik net aan by watter maghouer ook al tans septer swaai, om binne daardie bestel te oorleef en te groei. (Vandaar ook die klem op politieke stabiliteit eerder as op politieke moraliteit as kriterium vir industriële beleggings.)

So ’n kampanje, grootskaalse medewerking as wat dit sou verg, sal dus meestal op die skouers van die individuele belastingbetaler berus. Jan en San Rap en hulle maats sal self moet optree.

Hoe haalbaar is dít egter?

Fanie van Zyl.

In 2019 verskyn ’n navorsingsartikel van twee belastingkunde-professore, C Fritz en SP van Zyl (lg. is mede-outeur van hierdie stuk) juis hieroor. Onder die titel “Taxpayer revolt: Withholding taxes due vs SARS’ right of recourse against a defaulting taxpayer”, gepubliseer deur die vakkundige Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg / Journal for Contemporary Roman Dutch Law, kom die outeurs tot die volgende slotsom:

“It is unlikely that an individual taxpayer or a small group of taxpayers will be successful in expressing their unhappiness with the State by withholding taxes due. In the absence of any international benchmark, taxpayer unhappiness remains a subjective state of mind. It is impossible to judge the severity, legitimacy and authenticity of a taxpayer’s state of unhappiness to warrant or make good the withholding of taxes due. As taxes are intended for the greater good of the entire community, the withholding of taxes is detrimental to that same community. However, where taxes are misappropriated, it is the community’s duty to act. If history has taught us anything, it is that the power of the people lies in mobilisation en masse. A complete tax revolt by a larger and more influential group of taxpayers is more likely to yield positive results.”

Die laaste drie sinne van hierdie aanhaling is rigtinggewend vir Suid-Afrikaanse politieke moontlikhede tans.

Natuurlik is daar allerlei struikelblokke wat omseil of oorkom moet word, vir so ’n veldtog om te slaag. Iets soos die jarelange, volgehoue en grootskaalse weiering deur groot getalle individue om tolgelde te betaal op die Gautengse snelweë, wys egter iets positiefs. Daar is reeds ’n nuk in die Suid-Afrikaanse samelewing om ’n ongewilde instelling, wat willens en wetens steeds op die land afgedwing word, te ondermyn. Om dié nuk ’n goeie ent verder te neem, op nasionale belastingskaal, is die moeite werd om ernstig te oorweeg.

  • Christo Lombaard is navorsingsprofessor aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy akademiese agtergronde is in die kommunikasiekunde en die teologie.
  • Fanie van Zyl is professor in die belastingreg aan die Universiteit van Pretoria en navorsingsgenoot aan die African Tax Institute.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
AndréS

Ek sal so ñ verset ten volle ondersteun

annie

Alle rebellies klink mooi en reg, maar ons moes al voor 1994 begin dink het. Al gehoor van konsentrasiekampe weens oorvol tronke weens wanbetaling van belasting deur sekeres weens hul wit vel? Die gryp van pensioene sal saamloop met die gryp van bankrekeninge en ook die banke wat weier om saam te speel. Mens leer nie vir Trixie om te sit deur haar bord vleis te weerhou nie. Sy mag dalk net begin om die kinders te byt.

john

In Oudtshoorn is dit all gedoen met munispale belasting en eiendomsbelastings. Paaie is reg gemaak etc. met die geld wat verwaarloos geraak het onder die ANC munisipaliteit. Daar is n prokereur in Oudtshoorn wat daai ball an die roll gesit het.

Kosie

Die faling van etol het tog duidelik gewys dat belastingterughouding 100% werk. Selfde met Soweto wat nie krag betaal nie. Die feit dat Taxis hulle ook nie steur aan belasting en die regering is alles bewyse dat belastingterughouding werk. Die vraag is egter of die 3milj wat alles betaal nog moreel verplig voel om te betaal al dan nie. Ek vir een, voel geen morele verpligting om verder te betaal vir die regering nie.

Elsa

Nou verduidelik vir my: hoe voorkom die salaris-en pensioentrekker dat daar LBS (lopende betaal stelsel) van hul inkomste verhaal word.
Enige een asb.