Beleggers moet na die lang termyn kyk

Deur Magnus Heystek

Magnus Heystek.

Daar het onlangs ʼn artikel, SA aandele wys hul hakskene, verskyn waarin twee ekonome van die Old Mutual-groep die indruk probeer skep dat alles goed gaan met die beleggings van die gemiddelde Suid-Afrikaner, veral diegene met portefeuljes wat regstreeks gekoppel is aan die prestasie van die Johannesburgse Aandelebeurs (JEB).

Dis opmerklik dat daar onmiddellik reaksie was van meer ingeligte lesers (‘n adviseur miskien?) wat die vertoning van die JEB in konteks probeer plaas het. Die artikel probeer om ʼn baie klein en kortstondige periode van minder as ʼn jaar te gebruik om te probeer spog dat alles goed gaan met opbrengste vir plaaslike beleggers. Dit is wel so dat die plaaslike beurs vanaf Oktober 2020 tot einde April uitgeskiet het, grootliks vanweë veral die skerp styging in die pryse van kommoditeite en platinum-aandele. SA is die grootste produsent van die platinumgroep-metale ter wêreld en dit was te verstane dat dit waardes op die JEB positief sou beïnvloed.

In die artikel is daar ook voorbrand gemaak vir “nog verdere uitprestasie wat voorlê”, baie duidelik ʼn aanmaning vir beleggers om meer geld op die plaaslike mark te belê.

Die eerste fout in die aannames van die artikel is om ʼn kort termyn van enkele maande te gebruik as aanduiding van toekomstige groeiprestasies. Batebestuurders maan altyd dat opbrengste oor lang termyne gemeet moet word – vyf tot 10 jaar – om beleggingsprestasie na behore te oordeel. In die artikel doen die Old Mutual-ekonome presies die teenoorgestelde. Die tweede fout is om die skielike – en onvoorspelbare – oplewing in die platinumprys te gebruik as ʼn aanwyser van verdere stygings in hierdie sektor en ook derhalwe die groter mark.

In die drie maande sedert einde Maart 2021 het hierdie neiging eensklaps omgeswaai en is die prestasie van die JEB nou weer heel laaste, indien dit teen ontwikkelende lande gemeet word (-0,6% in VSA-dollarterme) en heel onder in die bondel teenoor opkomende lande, ons portuurgroep. Ook hierdie periode is veels te kort om enige voorspellings oor toekomstige groei met enige mate van sekerheid te maak.

Dit is egter belangrik om beleggingsprestasie oor ʼn langer termyn te beoordeel, in hierdie geval 10 tot 15 jaar.

Vir die doeleindes van hierdie artikel het ek die rand-en-sent-opbrengste van die vier grootste aandelefondse op die JEB gemeet teenoor ʼn soortgelyke aandelefonds in die buiteland, in hierdie geval een van die gewildste aandelefondse in die VSA. Ek het doelbewus nie een van die tegnologie- of biotegnologiefondse gebruik wat nog beter opbrengste gelewer het nie. Die oefening gebruik vier van SA se grootste aandelefondse – wat myns insiens meer verteenwoordigend is van die uitkoms van beleggers – en kyk hoeveel geld ʼn belegger 10 jaar later in rand en sent sal hê.

Die beleggingsbedryf is baie lief daarvoor om eerder opbrengste in persentasieterme te reflekteer maar, kom ons wees maar eerlik, baie mense besef nie watter impak ʼn persentasiepunt of twee per jaar oor ʼn langer termyn kan hê nie. Ek het die berekening gedoen deur alle koste en fooie te bereken sodat die randwaarde van my oefening presies sal reflekteer wat ʼn belegger op sy staat sal sien. Al wat ek nie kon bereken nie, is die impak van adviesfooie, want dit kan wissel van 0,5% per jaar tot selfs so hoog as 1% per jaar.

Ek self wat in die bedryf is en wat daagliks hiermee werk en deeglik bewus is van die onderprestasie van die JEB teenoor die res van die wêreld, was geskok oor die uitkoms van my oefening. Ek moes dit twee keer herhaal net om seker te maak ek is korrek.

Bron: Brenthurst Wealth Beleggingskomitee.

Hier is die randwaardes van ʼn R10 000 belegging 10 jaar gelede in die vyf verskillende fondse: vier SA aandelefondse en die ander een ʼn gewilde VSA aandelefonds wat Brenthurst Wealth al meer as 10 jaar gebruik in die samestelling van portefeuljes.

Beleggers in die Suid-Afrikaanse aandelefondse het beswaarlik die koopkrag van hul belegging gehandhaaf. In die geval van die Old Mutual Investors Fund, hul grootste, het die denkbeeldige belegger ná die impak van inflasie minder ontvang en oor vyf jaar selfs minder in nominale terme.

As langtermynbeleggings daaroor gaan om waardeskepping in reële terme te bewerkstellig, is dit duidelik dat die plaaslike aandelebeurs geen waarde oor 10 jaar geskep het nie. Daarenteen het die belegging in ʼn doodgewone VSA fonds aansienlike waarde geskep, nie alleen in randterme nie maar ook in dollarterme. Maar kom ons bly by die rand-opbrengste. Veronderstel ʼn belegging van R1 miljoen is in elk een van hierdie vyf fondse gemaak. Aan die hand van die tabel is dit derhalwe maklik om die waardes vandag te bereken. Beleggers in die vier plaaslike aandelefondse, met ʼn belegging van R1 miljoen, het “winste” gemaak van tussen R1,53 miljoen en R1,88 miljoen oor die 10 jaar. Daarenteen het die belegger in die Franklin US Opportunities Fund ʼn wins gemaak van meer as R7,2 miljoen, wat R5,4 miljoen méér is as die plaaslike SA fonds wat die beste vertoon het. Teenoor die swakste fonds, die Old Mutual Investors Fund, was die verskil R6,2 miljoen.

Wat kan R6,2 miljoen vandag koop? Dit kan ʼn huis op ʼn gholflandgoed én dalk ʼn nuwe motor van meer as R1 miljoen beteken. Of ʼn paar kinders deur duur skole of universiteit sit. Of ʼn baie meer gemaklike aftrede beteken vir die belegger, ʼn inkomste van amper vier keer meer as die inkomste wat die plaaslike belegger kan produseer.

Hoe dit ook al gemeet word, vir die gemiddelde belegger met grootliks plaaslike aandelebeleggings was die afgelope 10 jaar nie baie winsgewend nie.

Onafhanklike kommentators soos myself en andere wat hierdie tendense al etlike jare uitwys, word heftig daarvoor gekritiseer en aangeval. Die kritiek is dat ons glo “onpatrioties” en “on-Suid-Afrikaans is” ensovoorts, wat natuurlik bog is.

Die JEB self is ʼn internasionale genoteerde winsgedrewe maatskappy met duisende buitelandse beleggers. Net soos ons groot batebestuurders. Allan Gray se eienaarskap sit in Bermuda; Prudential is ʼn Britse maatskappy; en meeste van die groot batebestuursmaatskappye (Old Mutual, Coronation ens.) se beherende aandeelhouers sit in Brittanje en Mauritius. Baie mense is nie hiervan bewus nie.

Verder is meer as 50% van die groot maatskappye in die Top-40-indeks almal buitelandse maatskappye wat geen winste en belasting in Suid-Afrika produseer nie.

Niemand weet wat die volgende 10 jaar of meer inhou vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en derhalwe die JEB nie. Maar indien die lesse van die afgelope 10 jaar en meer geleer is, beteken dit dat plaaslike beleggers dalk ʼn groter deel van hulle beleggings aan buitelandse bates moet allokeer.

  • Magnus Heystek is beleggingstrateeg by Brenthurst Wealth, SA se topboetiekwelvaartbestuurder in 2017 en 2020.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

Die goue era van SA se ekonomiese groei en die JSE as bes presterende beurs in die wereld is vir altyd verby, vanaf 2000 is dit ‘n gemors. SA aandelebeurs nou < 1% totale wereld groei, asook heeltemal gekonsentreer tov Glencore en Naspers. Haal die twee aandele uit en die prentjie is nog valer. Watter moderne investering is daar in SA mbt skoon energie, mediese tegnologie of hoë tegnologie vervaardiging ? Ons bly by mynwese, banke en ondersteunende industrieë. Magnus is 100% reg. Ek het presies gedoen wat hy gesê het. En bitter dankbaar vir sy advies.

Snowball ·

Ná die afgelope week se geweld en wetteloosheid en ‘n regering wat grootoog en uitgeklop op die kantlyn staan en toekyk, moet ‘n mens jouself afvra: “Gaan jy jou finansiële toekoms vertrou in die hande van ‘n Afrika regering deur plaaslik te belê ?”
Selfs al sou die JEB buitelandse beleggings uitgestof het, (en duidelik het hulle nie), sal jy wragtig skille op jou oë moet hê as jy nie besef dat SA ekonomies in ‘n afwaartse draaikolk is nie en daar is polities geen vermoë of ervaring in die huidige regering om die situasie in die langtermyn te beredder nie.

Vrijburger ·

‘n Gesegde uit my kinderdae bly my steeds by – “Daar is net twee soorte Rhodesiers, die wat hul geld betyds landuit geneem het, en die wat wens hulle het.”

Dankie aan Magnus en span – ons het jare terug een van jul sessies bygewoon en jul raad gevolg. Van die beste raad wat ek ooit gevolg het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.