Belhar as Bevrydingsteologie

ng-kerk-franschhoekHierdie artikel deur Johan Malan is deel van Maroela Media se reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Die Groot Debat. -Red

In Beeld van 6 November 2014 het ʼn artikel verskyn getiteld: ‘Lede soek Belhar in kerkorde’. In die artikel word gesê dat dit interessant is dat lidmate nie die belydenis se teologiese integriteit bevraagteken nie. Die feit is egter dat daar wesensbesware teen die teologie van die belydenis is. Enigiemand wat die moeite wil doen om ʼn definisie van bevrydingsteologie te lees, behoort dadelik te sien dat die grondslag van die Belharbelydenis bevrydingsteologie is.

Bevrydingsteologie fokus op sake soos wanbalanse tussen ryk en arm en onderdrukking van minderbevoorregtes deur bevoorregte klasse. Volgens dié beskouing behels tradisionele godsdiens ʼn pastei in die lug wanneer jy sterf. Bevrydingsteologie wil met ʼn beroep op die posisie by die vroeë kerk hierdie situasie regstel. Die gedagte in bevrydingsteologie is dat die kerk die pastei hier op aarde gee en God die pastei in die hiernamaals. God sal dus omsien na die ewige redding van mense terwyl Christene as verteenwoordigers van God ʼn meer tydelike rol het, naamlik die bevryding van mense van armoede, onderdrukkende instellings en reëls. Bevrydingsteologie is gevolglik ʼn oproep tot aksie teen onreg en armoede om Jesus se “doel van geregtigheid” in die wêreld te verwesenlik.

Bevrydingsteologie verkondig dus ʼn aardsgerigte Jesus, ondanks die feit dat Jesus self vir Pilatus gesê het: My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie, as dit van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het. Bevrydingsteologie beoog dat gewerk word vir toenemende sosiale verandering. Die ondersteuners daarvan is dus teenstanders van alle instellings wat as onderdrukkend gesien word. Jesus word in die proses gesien as ʼn politieke figuur, die ondermyner uit Nasaret.

Die gedagte dat God in die eerste plek die God van die armes is, is dan ook ʼn slagspreuk in bevrydingsteologie. Bevrydingsteologie gee nie alleen morele regverdiging vir weerstand nie, maar moedig ook ʼn ontwikkelende politieke kultuur van weerstand aan. Dit wil dus aanvanklik ʼn bewussyn skep van onreg, mense motiveer tot betrokkenheid, ʼn gevoel skep van onderlinge gemeenskap tussen deelnemers en die ervaring van demokrasie op voetsoolvlak bewerk, dan kan ondersteuners betrokke raak in spesifieke aksies en laastens in direkte politieke aksies.

Hierdie aspekte kom duidelik uit in die belydenis van Belhar, in besonder paragraaf 4 waarin ons die volgende verklaring vind:
Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy dié wat bedruk is, ondersteun … weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper… dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid … dat die kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die veronregtes dat die kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel.

Nou kan iemand vra: Maar wat is fout hiermee? Christene staan tog vir wat reg is, hulle soek tog na ware vrede en wil tog mense wat swaar kry, help. Christene moet tog praat as dinge verkeerd loop. Die antwoord is dat dit gaan oor fokus. In kort is die effek van bevrydingsteologie om die fokus van die kerk te plaas op die mens se tydelike probleme in hierdie lewe, meer as op die vertroosting van die ewige lewe.

Ons lees in Mat 26 van die vrou in Betanië wat ʼn fles kosbare salf op Jesus se hoof uitgegooi het. Sy dissipels was egter verontwaardig oor die verkwisting. Hulle het gereken dat die salf verkoop en die geld aan die armes gegee kon word. In hierdie gees en gesindheid van die dissipels en in besonder die van Judas Iskariot, het ons die wortel van bevrydingsteologie. Die fokus is op die swaar van mense hier en nou. Wat kan ons antwoord op hul argument? Dit lyk tog billik, prakties en logies. Maar die Seun van God het wel ʼn antwoord gehad. Hy het vir hulle gesê: Waarom val julle die vrou lastig? Want sy het ’n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie. Want toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis.

Beteken dit dat Jesus gevoelloos was teenoor armes? Die antwoord is nee. Jesus het die dissipels se fokus reggedraai. Hy het in effek vir hulle gesê: Hierdie vrou het deur haar optrede my geëer. So het sy meegewerk aan my opdrag om nie net vir ʼn paar armes verligting te bring nie, maar om vir die hele mensdom redding moontlik te maak. Hierdie redding verwys inderdaad eerstens na geestelike redding, die ewige lewe, maar dit verwys ook daarna dat God vir sy mense op aarde wil en kan sorg. Die opbrengs van die salf kon vir ʼn paar armes verligting bring. Deur sy sterwe aan die kruis het Jesus redding na gees en liggaam vir miljoene mense moontlik gemaak.

Die geskiedenis bewys immers dat waar gemeenskappe se lewens verander is deur ʼn egte toekeer tot die Christendom, armoede ook gewyk het. Die feit is egter dat Jesus se optrede gemaak het dat Judas Iskariot finaal vertroue in Hom verloor het. Hy het gemeen dat wat nodig is om die volk se sosiale omstandighede te verander, is dat die Romeinse owerhede bestry en weerstaan sal word. Dit terwyl Jesus leer dat jy die wêreld verander deur jou vyande lief te hê en dat jy jou lewe vir ander moet aflê. Daarom het Judas ná hierdie insident na die owerpriesters gegaan en Jesus verraai vir dertig silwerstukke. Hier het ons ten diepste die ontstaansgrond van bevrydingsteologie, ʼn verlies aan vertroue in God se reddingsplan vir die wêreld.

Die volk Israel het inderdaad ʼn streep van bevrydingsteologie in hul denke gehad. Hulle het gewag vir ʼn redder wat soos Dawid van ouds ʼn aardse koningskap sou kom vestig, wat met die swaard sy volk van hul onderdrukkers sou verlos. Daarom wou die volk by ʼn paar geleenthede vir Jesus as aardse koning uitroep. Telkens het Hy dit ontduik. Hy sou sy volk verlos, nie deur die onderdrukkende Romeinse owerhede te bestry en te weerstaan nie, maar deur sy lewe af te lê.

Dit is hoe Jesus wil hê dat sy volgelinge vandag versoening en geregtigheid sal bewerk, deur Hom te eer, deurdat Hy ons eerste liefde sal wees. Dan sal sy krag sigbaar word in die wêreld. Hy sal ons bekragtig om in navolging van Hom alles te doen in liefde, om ons vyande lief te hê, die kwaad met die goeie te oorwin, ons teëstanders in sagmoedigheid tereg te wys en vir die owerhede te bid. So sal Hy deur ons ander mense se lewens verander.

Jesus vermeld in Openbaring 2 die goeie dinge wat sy volgelinge in Efese gedoen het. Dinge soos dat hulle verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van sy Naam gearbei het. Maar dan sê Hy: Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.

Hoe kan Jesus sy kandelaar wegneem van sy volgelinge wat goeie dinge doen? Die antwoord is dat hul fokus van Jesus af weggedraai het na hul eie pogings toe. Die gevolg was dat hulle pogings kragteloos geword het. Dit kon nie meer mense verander nie, daarom kon hul kandelaar net sowel verwyder word.

Dit is die probleem met Belhar en bevrydingsteologie. Dit draai die fokus weg van Jesus na menslike pogings om onreg en armoede te verander. Terwyl die waarheid is dat indien ons fokus op Jesus is, Hy self dinge sal verander en ons in die proses sal gebruik.

Om saam te vat: Dr. Andrew Murray het gesê: Die enigste wapen wat die Koning sy verlostes toelaat om te gebruik om mense te verander, is om gedurig te getuig van sy wonderlike liefde, sy mag om te red, sy voortdurende en blywende teenwoordigheid en van sy wonderlike krag wat in hulle werk. Hierdie dinge is slegs moontlik vir gelowiges wat voortdurend in God se teenwoordigheid is, vir wie Hy hul eerste liefde is. Dit vereis dat ons ons eie lewens sal aflê, ons tyd, eer en goed onder sy beheer sal kom, sodat ons kan fokus om Hom te eer en sy wil te doen.

Wanneer ons nie voortdurend ons krag en liefde van God ontvang nie, sien ons egter nie God se hand in beweging nie. Dit is dan wat mense vertroue in God verloor soos Judas Iskariot. Wanneer Christene vertroue in God verloor, probeer hulle in eie krag die wanbalanse op aarde regstel soos wat die ondersteuners van bevrydingsteologie wil doen. Dan is hul pogings soos ʼn druppel in die oseaan. Indien ons fokus egter op Jesus is, dan kom sy arm in beweging, Hy verander ryk en arm se harte, Hy kan klimaats- en ekonomiese toestande verander om vir sy kinders te sorg. Dit beteken nie dat Christene niks meer doen nie. Maar nou tree hulle op in God se krag en in sy liefde, hulle pas in by God se aksies en dan verander Hy harte, lewens en omstandighede.

Die kerk is veronderstel om gehoorsaam te wees aan die Here in die geloof dat Hy dan dinge ten goede sal verander. Die feit is egter dat Belhar die fokus plaas op ons eie pogings in eie krag. Dit is juis die oorsaak van die kragteloosheid van die kerk. Hierdie is nie maar ʼn geringe saak nie. Indien Belhar in die kerkorde ingeskryf word, is dit nog ʼn stap in die rigting van die posisie van die gemeente in Efese. Dit formaliseer die NG kerk as ʼn kragtelose menslike poging. Die insluiting van Belhar in die kerkorde sal dus nog ʼn stap wees in die rigting waar God uiteindelik die NG Kerk se kandelaar heeltemal kan wegneem.

Belhar_VoorbladBestel nou jou kopie van Belhar geweeg

In Kraal Uitgewers se boek Belhar geweeg ondersoek 18 skrywers en bekendes die waardigheid van Belhar as belydenisskrif. Belhar geweeg skets nie net die agtergrond waarteen Belhar saamgestel is nie, maar vra ook brandende vrae oor die moontlike invloed van die aanvaarding van Belhar. Die boek bestaan uit ses hoofstukke met artikels wat fokus op onder meer die ontstaan van die Belydenis van Belhar en die agtergrond waarteen dit saamgestel is, die kerkordelike pad wat gestap is en die reaksie van ander kerke en jonger kerkleiers in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Belhar geweeg sluit ook die volledige teks van Belhar in sowel as die begeleidende brief wat daarmee saamgelees moet word.

Skrywers sluit in prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG kerk, prof. Piet Strauss, en bekendes soos die voormalige polisiehoof, genl. Johan van der Merwe.

Belhar geweeg is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Maroela Media-lesers kan die boek nou bestel teen die spesiale afslagprys van R70 (R20 posgeld en verpakking uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za om dit te bestel.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johan Malan

Johan Malan was vroeër professor in regte aan die Universiteit van Port Elizabeth (tans die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit). Tans is hy NG-predikant van die gemeente Goedgegun in Swaziland en Mosambiek.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

henk ·

In kort, politici en selfs sogenaamde Christen godsdiens leiers, is besig om die Bybel te gebruik om hulle politieke doelwitte na te streef en te verwesenlik.
Vir hulle gaan dit daarom om polities korrek hier op aarde te lewe en NIE om God se woord te versprei soos wat van hulle verwag word nie. Om ons kerke as besighede te bedryf en nie as die plek waar ons veronderstel is om na God se woord te kom luister nie. Waartoe jy nie meer toegang tot die kerk en God se dienaars het deur die week nie, maar slegs op ‘n Sondag na iemand se storie kan gaan luister en kan hoop en vertrou dat die woord wat daar oorgedra word WERKLIK God geinspireerd is, en nie maar net ‘n politieke ritueel is nie.
Laat mens nogal wonder oor die waarskuwing in die Bybel wat handel oor vals profete…….

Petrus van Eeden ·

Met watter onsin kan mense hulle tog nie besig hou nie. Die christendom is gebakte lug. Hierdie uitheemse Midde-Oosterse godsdiens is tydens die Middeleeue met grof geweld op die Germaanse stamme afgedwing. Ons eie inheemse Germaanse religie is oor meer as 1000 jaar afgeskryf en deur die Christendom vernietig!

In bostaande artikel word vermeld dat die geskiedenis bewys dat na die kerstening van n Heidense volk, armoede verdwyn en welvaart toeneem! Oh ja? Tydens die kerstening van ons Germaanse en Keltiese voorouers, in die DONKER Middeleeue, is Wes-Europa in groot armoede gedompel. Eers tydens die renaissance het welvaart begin toeneem. Die renaissance sou juis die mag van die kerk breek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.