Belhar kom uit belydenisbeweging teen apartheid

Warden se kerk Foto: Marianne Styan

Warden se kerk Foto: Marianne Styan

Hierdie artikel deur prof. Piet Strauss is deel van Maroela Media se reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Nóú pra’ jy. -Red

Die finale aanvaarding van die Belydenis van Belhar in 1986 deur die Sinode van die destydse Nederduits Gereformeerde Sendingkerk, was die klimaks in die belydenisbeweging teen apartheid. ʼn Beweging wat sy eerste klanke laat hoor deur Beyers Naudé van die Christelike Instituut in Suid-Afrika in 1965 en daarna deur ander kerklike figure voortgesit is.

In hierdie beweging was Allan Boesak van die Sendingkerk ʼn sentrale figuur.

In 1981 verklaar hy dat daar ʼn groot behoefte is aan swart Christene wat die gereformeerde waarhede in apartheid-Suid-Afrika herontdek. Hy gaan verder: “I indeed believe that black Christians should formulate a Reformed Confession for our time in our own words.”

Boesak sien swart as ʼn kader van onderdrukwees in die wêreld. Vir hom staan God aan die kant van die verdruktes, nietiges en veragtes. Apartheid in die naam van die Evangelie soos voorgestaan deur Afrikaanse gereformeerde kerke maak ʼn bespotting van die Evangelie. Boesak se invloed wys duidelik in verklaring van die Black Alliance of Reformed Christians (Abrecsa) in 1981. Hierin word apartheid ʼn sonde en ʼn verdraaiing en bespotting van die Evangelie genoem: verraad teenoor die gereformeerde tradisie en kettery.

Vir Boesak is die teologiese en morele regverdiging van apartheid meer as net ʼn etiese kwessie soos ʼn persoonlike belediging van iemand. Dit tas die kern van die Evangelie aan. Daarom voel hy dat die kerk dit met ʼn kernsaak vir die kerk, ʼn belydenis, moet opponeer.

Die Algemene Vergadering van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke van 1982 in Ottawa staan sterk onder die invloed van die belydenisbeweging. As ʼn teken van solidariteit met diegene aan die ontvangkant van apartheid en ʼn duidelike “nee” teen die beleid word Boesak tot voorsitter van die vergadering verkies.

In sy besluit neem die Wêreldbond baie van die terme wat Boesak teen die teologiese en morele regverdiging van apartheid gebruik, oor. Die Algemene Vergadering koop in op die saak van kerklike weerstand teen apartheid op die vlak van ʼn belydenis as dit besluit dat kerklike steun aan apartheid vir hom ʼn status confessionis skep. Dit beteken dat jy nie met hom oor apartheid kan verskil sonder om die “integrity” van die gemeenskaplike belydenis van die gereformeerde kerke in gedrang te bring nie. Die Nederduits Gereformeerde Kerk en Nederduits Hervormde Kerk van Afrika word uit die Wêreldbond geskors.

By die heropname van die Nederduits Gereformeerde Kerk in die Wêreldbond in 1998 verklaar die algemene sekretaris van die bond, Milan Opocensky, dat ʼn aanvaarding van hierdie status confessionis nie beteken dat ʼn belydenis daaruit móét volg nie. Die Sinode van 1982 van die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk besluit egter anders.

In sy aanvaarding van die pasgenome besluit teen apartheid van die Wêreldbond aanvaar die Sendingkerk ook ʼn status confessionis teen apartheid. Die voorstel van Gustav Bam dat daar nog tydens die sinode ʼn belydenis in die gees hiervan opgestel moet word, word ook aanvaar. ʼn Kommissie waarin die dogmatikus Dirkie Smit ʼn groot rol speel, word getaak om so ʼn belydenis te formuleer. Volgens Willie Jonker neem Smit ʼn belangrike aandeel aan die “formulering en afwerking” van die Belydenis van Belhar. Hy word hierin bygestaan deur dosente in Teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland en Allan Boesak.

Nadat die ringe van die Sendingkerk die nuwe konsepbelydenis onder oë gehad het, aanvaar die Sinode van 1986 dit as ʼn nuwe belydenis vir die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk.

Hoewel daar veel meer vir en teen Belhar as ʼn gereformeerde belydenis gesê kan word, die volgende:

  1. In ʼn gereformeerde kerk is die aanvaarding van ʼn belydenis ʼn ekumeniese saak of ʼn saak van meer as een kerk. Omdat ʼn belydenis moet handel oor kernwaarhede van die geloof moet dit bestaan uit waarhede wat bo die tyd uitstyg en oor 100 jaar steeds kernwaarhede is: algemene Bybelse kernwaarhede wat vir meer as net die Christene van ʼn bepaalde kerk of in ʼn sekere omgewing kernwaarhede is. Kernwaarhede wat hulle so duidelik aanspreek dat die gelowiges wil ja sê. Daarom moet dit ʼn belydenis vir meer as een kerk kan wees. ʼn Saak wat reeds by die aanvaarding van ʼn belydenis in ag geneem moet word. Dit is nie met Belhar gedoen nie. Inteendeel, die Sendingkerk het aanvanklik besluit om dit nie met ander kerke te toets nie. Nou moet ander kerke dit eenvoudig sonder insette aanvaar!
  2. Daar is al dikwels gesê dat die woord apartheid nie in Belhar voorkom nie en dat dit oor die algemene Bybelse waarhede soos kerkeenheid, versoening en geregtigheid handel. Dit is nie waar nie. Hoewel die woord apartheid nie daarin voorkom nie, word woorde soos “gedwonge skeiding” en “aparte kerkformasie” gebruik wat laat blyk wat die ontstaansrede is. Die begeleidende brief sê ook dat Belhar in die situasie van apartheid gebore is.
  3. Met sy aparte kerkformasie praat Belhar oor die NG Kerk van 1982. Die verskillende NG Kerke het op daardie stadium in ʼn federale raad saam besluit. Hierdie vergadering was egter ʼn liggaam van oorleg en nie ʼn sinode wat bindende besluite neem nie. Die kwessie van kerkverband – dit wat hier ter sprake is – is egter nie ʼn kernwaarheid nie, maar ʼn tydgebonde inrigting van hoe gemeentes saamwerk. Die NG Kerk self het van 1905-1962 ʼn federale raad vir die kerke in die provinsies gehad en dit nooit as iets aparts beleef nie. Die Algemene Sinode is eers in 1962 gevorm.
  4. Dan die gewraakte sinnetjie: God is op ʼn besondere wyse die God van die armes ens. Die NG Kerk se Kerk-en-Samelewing van 1986 en 1990 het dit reeds gedoen. Hierin is verklaar dat God aan die kant van die reg van die armes is.

Belhar_VoorbladBestel nou jou kopie van Belhar geweeg

In Kraal Uitgewers se boek Belhar geweeg ondersoek 18 skrywers en bekendes die waardigheid van Belhar as belydenisskrif. Belhar geweeg skets nie net die agtergrond waarteen Belhar saamgestel is nie, maar vra ook brandende vrae oor die moontlike invloed van die aanvaarding van Belhar. Die boek bestaan uit ses hoofstukke met artikels wat fokus op onder meer die ontstaan van die Belydenis van Belhar en die agtergrond waarteen dit saamgestel is, die kerkordelike pad wat gestap is en die reaksie van ander kerke en jonger kerkleiers in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Belhar geweeg sluit ook die volledige teks van Belhar in sowel as die begeleidende brief wat daarmee saamgelees moet word.

Skrywers sluit in prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG kerk, prof. Piet Strauss, en bekendes soos die voormalige polisiehoof, genl. Johan van der Merwe.

Belhar geweeg is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Maroela Media-lesers kan die boek nou bestel teen die spesiale afslagprys van R70 (R20 posgeld en verpakking uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za om dit te bestel.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Piet Strauss

Prof. Piet Strauss is 'n professor in Kerkreg en Kergeskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, predikant NGK De Bloem en moderator van die NGK 2007-2011.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Thys Human, Pretoria ·

Na hierdie skitterende uiteensetting deur die vorige moderator van die NGK, kan hierdie politieke pamflet bekend as Belhar mos nie as ‘n “belydenis” aanvaar word nie. Dis bedrog.

Flip ·

Baie dankie vd ewewigtige uiteensetting Prof Piet- nou verstaan ek die kwessie ook beter. Die harseer is dat die Kerkleiers die saak so skerp op die spits dryf, dat die NG Kerk gaan verloor al ‘wen’ hul leiers.

Sarie ·

My vraag is het die leiers met die gewone VGK lidmate ook oor die saak geworstel soos die NG leiers vandag doen . Was daar ook ‘n stemming of het die leiers alleen die besluit geneem. Sal nogal wou sien hoe die pad oor die belydenis in die VGK geloop is voor die besluit geneem is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.