Bell Pottinger: Meer as R20 m. moet teruggeploeg word

Dit is met ongeloof wat ʼn mens die laaste ruk kennis neem van die onderduimse werk waarmee die Bell Pottinger-groep in Londen bygedra het tot ongekende rassepolarisasie in Suid-Afrika. ʼn Vreemde groep individue in Suid-Afrika onder wie die Gupta-familie, die Zuma-familie en spesifiek dan Duduzane Zuma en die BLF leier, Andile Mngxitama, het ter wille van eie en persoonlike belange dit goedgedink om ʼn rasgedrewe agenda in Suid-Afrika te bevorder en daarvoor is Bell Pottinger aangewend om die kloof tussen Suid-Afrikaners net verder te vergroot.

Bell Pottinger het wel skadebeheer begin toepas, maar loop ook in Brittanje kwaai deur onder kritiek. Die jongste is dat die firma vir vyf jaar geskors is uit dié land se vereniging vir skakel- en kommunikasiemaatskappye en dat die uitvoerende hoof bedank het. Terwyl die maatskappy sukkel om sy eie beeld te herstel is enorme skade in Suid-Afrika gedoen.

Uit die Suid-Afrikaanse perspektief waar ʼn rasgedrewe agenda die gesprek van die laaste paar jaar bepaal het, het Bell Pottinger olie op die vuur gegooi. Vrae moet dus gevra word oor die geld wat die Guptas en die Zumas aan die groep betaal het om die onderduimse werk in Suid-Afrika te verrig. Slegs die Oakbay-betalings aan Bell Pottinger sou na raming meer as R20 miljoen beloop het. Dit sluit in die minstens £100 000, teen die huidige wisselkoers, wat Oakbay maandeliks betaal het. Dit is Duduzane Zuma se betalings uitgesluit.

Die verantwoordelike stap vir Bell Pottinger sal nou wees om die geld (die meer as R20 miljoen) wat onregmatig vanuit Suid-Afrika betaal is vir die onheilige en onderduimse werk wat hy gedoen het, terug te betaal in die vorm van brugbou-inisiatiewe tussen Suid-Afrikaners.

Die ANC-regering se obsessie met ras het Suid-Afrika begin verdeel. Bell Pottinger met sy kliënte het dié situasie uitgebuit. Suid-Afrikaners het nodig dat daar weer ʼn tydperk kom van wedersydse vertroue, respek vir mekaar se standpunte en bowenal ʼn wil om mekaar tegemoet te kom en mekaar te probeer vind tussen die probleme en uitdagings van die tyd. Ons het weer ʼn werklike wil en deursettingsvermoë nodig om Suid-Afrika as suksesvol tot voordeel van almal te laat funksioneer. Bell Pottinger se pogings om die wig in te dryf met onregmatige geld kan ʼn eerste stap wees om Suid-Afrikaners weer in mekaar te laat glo.

Die individue wat saam met Bell Pottinger ʼn eie en onaanvaarbare en onverantwoordelike agenda bevorder het moet nog die pad van reg en geregtigheid stap. Intussen kan die geld wat die agenda bevorder het gebruik word om Suid-Afrikaners te help om weer ʼn pad van herstel te stap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Domvraag ·

Is hierdie nie rassisme wanneer propaganda teen n ras gemaak word deur skuld op wiites te plaas met verwysing na white capital monopoly? Gaan die opdraggewers ook aangekla word van rassisme?
Duidelike bewys van sekeres wat net nie vertrou kan word nie en die Menslike Geregtigheidskommissie is doodstil want hulle is blind hiervoor..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.