Belydenis, offergawe en politiek

Pres. Cyril Ramaphosa. Argieffoto: Elmond Jiyane.

Deur dr. Hercules Boshoff

Geagte mnr. Ramaphosa

Uit u optrede by kerke (veral voor verkiesings), verneem ek u is ’n belydende Christen. Gegewe die wanhopige toestand waarin die land hom tans bevind, kan dit dalk help om ’n kort bepeinsing van ’n teologiese aard oor u leierskap te doen. Daar is natuurlik diegene wat my reeds hierin voorgespring het deur na u te verwys as ’n “politieke messias”. Kom ons neem eerder u eie beskrywing tydens u intreerede as dienaar as uitgangspunt en maatstaf van u leierskap.

’n Vrywillige dienaar in kerklike terme is natuurlik ’n diaken. As ek nou reg onthou, is diakens mos die ooms met die offergawesakkies? En inderdaad word u termyn gekenmerk deur daardie breë glimlag wat beleggers van oraloor probeer lok. Soos ons egter weet, was een van die offergawes wat reeds voor u presidensie in u sakkie beland het, ’n bedenklike en nie te onaansienlike R500 000.

Dit bring my by my volgende punt, naamlik sonde. Anders as Paulus, wat na homself in 1 Timoteus 1:15-16 as die grootste van alle sondaars verwys, was u benadering tot dusver om ander se blote bestaan in hierdie land nie alleen as ’n sonde nie, maar (nog erger) as ’n “oersonde” in te kleur. Dit wil egter voorkom u gretigheid om die paradys waar mens en buffel saam baljaar het, te herstel, ’n ironiese nadraai geneem het in die lig van die feit dat hierdie uitsprake bemoontlik is deur, onder meer, die “offergawe” wat Bosasa aan u veldtog gelewer het.

U pleidooi dat u daarvan onbewus was – soos u dikwels ook doen met die aantygings dat u die ooglopende korrupsie van u eie party tydens u amp as adjunkpresident nie probeer oplos het nie –  getuig van ’n klaarblyklike onbedagsaamheid wat nou ’n kenmerk van u politieke loopbaan geword het. Selfs al sou dit die geval wees dat u bloot onbedagsaam was – en dit blyk by die dag meer onwaarskynlik te wees– sou so ’n onbedagsaamheid, of dalk in u eie terme ’n “lackadaisical”-houding, self nie ook neerkom op ’n sonde nie?

Verstaan my reg– ek opper nie hierdie kwessies om u tot die ewige verderf te verdoem nie. Nee, dit sal meer gepas wees om, soos Paulus aanbeveel, u toe te nader as sondaar (en gegewe die bogenoemde, minstens ook medesondaar). Hier in die ryk van sondaars is daar egter nie net passiewe sondaars wat sonde by hul ouers (of deur skenkings van hul kinders) geërf het nie, maar ook aktiewe sondaars – diegene wat die tempelkoffers daagliks plunder en die sonde nie soos Paulus as beginpunt gebruik nie, maar tot ideaal verhef.

Ek kry die gevoel ons bereik nou ’n kruispad waar u sal moet besluit watter een van die twee vir u verkieslik gaan wees.

Soos u baie goed weet, is politiek die kuns van die smee van onwaarskynlike vriendskappe.

U benadering om allemansvriend te probeer wees, het nou ’n doodloopstraat bereik. U kan egter nie voortgaan om nuwe vriende te wil maak met die voorwaardes wat deur u teenstanders bepaal word nie. Hulle retoriek was soos ’n dwelm wat onmiddellike bevrediging kon gee en ander steriliseer, maar die langtermynuitwerking daarvan word nou sigbaar.

Lê dit neer. Daar is steeds veel bereidwillige en diensbare hande wat teruggehou word uit vrees dat dit afgekap gaan word, wat kan bydra tot praktiese oplossings en die verbetering van toestande. Is u bereid om kompromieë aan te gaan waarin een party se hande nie afgekap word nie? ’n Eerste stap in so ’n vriendskap sal basiese wedersydse respek wees, omdat daarsonder kwalik konstruktief gehandel kan word.

Dit sal beteken die terme waarbinne toenadering tot dusver as legitiem geag is, gewysig sal moet word. Voortgesette minagting, veragting, selfveragting en kastyding gaan nie hierdie land êrens kry nie. Wie respekteer elk geval iemand wat sy eie bestaan verag en soos ’n kind wat aandag soek neulend op die vloer rondrol?

Hierdie patologie (afgelei van die Griekse “pathos” wat pyn beteken), die nimmereindigende kastyding, skep ’n toestand van in pyn bly, wat letterlik voldoen aan die betekenis van die woord pateties.

Geen land word met patetiese houdings opgebou nie. Voeg daarby ’n dwaallogika waarvolgens die hoeveelheid pyn wat aan een party toegedien word proporsioneel is tot die hoeveelheid geluk wat aan ’n ander party toegevoeg word, en jy bevind jou kort voor lank in die geselskap van die minsbewonderingswaardige politieke bestelle in die geskiedenis. Dis tyd dat ons mekaar aanvaar vir wie ons is (met ons foute, maar ook met ons potensiaal) en vorentoe beweeg.

Hierdie aanvaarding sal egter net die beginpunt wees aangesien daar ook bepaal moet word hoe diverse potensiaal tot gesamentlike doelstellings gerig en riglyne daargestel kan word vir die verwesenliking van hierdie doelstellings. Slegs daarin sal die veelbesproke begrip transformasie iets van waarde kan oplewer. Soos dinge tans staan, is daar te veel tussengangers wat die strukture uitsluitlik vir persoonlike gewin misbruik. Hierdie mense moet uitgeskakel en vervang word, want hulle is nie bereid om kompromieë aan te gaan vir die onthalwe van die land nie.

Dat u wil dien, mnr. Ramaphosa, het u duidelik gestel. Die vraag op almal se lippe is, wie wil u dien? Tot dusver lyk dit of u u voorganger se raad volg in sy uitspraak dat wat goed is vir die ANC, ook goed is vir die land.

Hierdie hipotese dra duidelik nie meer water nie, aangesien die ANC nou ineenstort en die land daarmee saam aftrek. Dien die land en sy mense eerste, en pas dan u eie partypolitieke belange daarby aan. Dit is wat u posisie vereis. As dit u houding is, en u dit met woord (beleid) en daad (infrastruktuurverbetering en vervolging van korruptes) kan bewys, dien ek as grootste van alle sondaars graag saam.

  • Dr. Hercules Boshoff is ’n navorser en vertaler in filosofie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stephan de S ·

Ek hoop nie die president lees hierdie artikel nie. Met alle respek aan die skrywer, dis n bloot deurmekaar geleerde praatjie wat niemand sal help nie…….net afstand sal bevorder. As gelowige wil ek nie hiermee geassosieer word nie.

Arak ·

Ek deel ongelukkig nie die skrywer se optimisme dat die president ‘n Christen is nie. Hy is Lemba en dus ‘n jood. Gaan kyk gerus na sy Cyril se toespraak die die sinagoge op 12 Sep 2018, dan sal u hopelik insien dat die man eintlik ‘n jood is.

Merie Perd. ·

Blikkies Arak, Met ander woorde hy is ook n ongewenste imigrant (Setler) net soos die Afrikaner?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.