Benodig: Dapper studente en beleggers

Argieffoto.

Argieffoto.

Leonard van der Dussen

Die huidige (Oktober 2015) mode is #…MustFall. #RhodesMustFall, #TotiusMustFall en #FeesMustFall. MustFall is die gonswoord van die huidige onrus by universiteite en ʼn uitdrukking van die afbrekendheid van massas wat baie wil hê, maar die telbord wys niks van opbou nie.

Daar is fout met hoe Suid-Afrika regeer word en hoe geld vermors word en verkeerd aangewend word, maar deel van dieselfde massas wat die universiteite ontwrig, is ook diegene wat nie omtrent twee of driehonderd miljoen rand aan die staatsgedrewe studenteleningsfonds terugbetaal nie. Daar is ook ander maniere as om mede-studente se eindeksamens te otwrig en met intimidasie en skade aan eiendom die regering aan te vat oor ondoeltreffendheid en wanbestuur.

ʼn Klompie jong Afrikaners het self al vir Max du Preez geantwoord oor waarom jong Afrikaners nie aan hierdie afbrekende rewolusionêre betogings deelneem nie, ongeag of die saak teen hoë studiegelde geldig is of nie. Dis bemoedigend om te sien hoe die Afrikanerstudente self begin skryf en ontwaak om hulself netjies en regop uit te druk oor hoe hulle dink en voel. Hier is iets om te hoor, die vroeë klanke van die eerste druppels van die aankomende reën dat jong Afrikaners begin opstaan.

Die bevryding van akademiese onderrig van die juk van staatsinmenging en die teenstaan van sosialistiese programmering wat ware akademiese doelwitte verdring, word net al hoe nodiger. Volgens berigte het president Zuma self ook weer gesê die universiteite se leerplanne moet sterker op sosiale omvorming gerig word.

Die vertrapping van akademiese doelwitte en standaarde word raakgesien. Die teenstand en hoe om dit te oorkom en te verhoed dat nog ʼn geslag se opleiding in die slag bly, is moeiliker as om net te sit en die probleem te bekyk in selfbejammering.

Die uitdaging is groot, want die inbinding in die staat se netwerk strek van voorskool tot binne in die beroepslewe, met ʼn stelsel van beroepsregistrasie wat ook misbruik word om die bevolking te verslaaf en op hulle plek te hou. Dit is ʼn stelsel wat jou verplig om die staat se voorgeskrewe pad te volg, deur byvoorbeeld graad 10 tot 12 te koppel om matriek te mag skryf of tersiêre instellings wat net studente mag aanvaar wat staatsgoedgekeurde skoolkwalifikasies het sonder enige verdere akademiese beoordeling en diskresie. Die afgestudeerde student word dan vir baie beroepe ook net tot die beroep toegelaat as sy kwalifikasie by ʼn staatsgoedgekeurde instelling verwerf is. Om uit hierdie slawe-kringloop te breek, verg dapperheid. Dit verg ʼn besluit vir vryheid, langer roetes en risiko’s, soos om dalk buite die staatserkende beroepsraad jouself as bekwaam in ʼn professie te bewys.

Net vir duidelikheid, ʼn saak kan uitgemaak word daarvoor dat iemand wat ʼn naald in iemand anders indruk of ʼn operasie uitvoer, nie sommer enigiemand kan wees nie en dat ʼn vorm van registrasie en beheer nodig is. Die beroepsrade vir byvoorbeeld ouditeurs, bourekenaars en ingenieurs word egter misbruik om almal in die regering se voorgeskrewe bane te hou en die sosiale gelykmakingsproses wat in die onderwys afgedwing word, tot in die beroepslewe voort te sit. Die newe-effek is agteruitgang en uiteindelik rampspoed.

Twee dinge is nodig om akademiese vryheid te herwin. Eerstens dapper mense wat die stelselvereistes uitdaag en deur harde werk en inisiatief die nodige bekwaamhede nastreef en behaal, maar sonder om deur die staat se vereistes ingeperk te word en dan deur hul bekwaamheid en deursettingsvermoë die werk doen sonder die staat se sertifikaatjies.

Ten tweede word kapitaal benodig en dus beleggers wat in die toekoms en in vryheidstrewe belê, wat die geleenthede vir hierdie dapperes bied om te studeer en hulle te bekwaam met die uitnemendheid wat hulle benodig. Die beleggers moet ook akademiese instellings oprig wat in eie reg ʼn naam in die mark verwerf en deur markerkenning die staat se rol verwater. ʼn Begin is reeds gemaak met sulke geleenthede, maar dit kort heelwat kapitaal om dit te versnel en uit te bou.

Beide dapperes en beleggers se pad hierin is nie maklik nie. Dit moet mense wees wat bereid is om risiko’s te loop en ʼn harde en lang pad te stap waar daar nie waarborgde en kitsoplossings is nie.

Die ongewilde maar noodsaaklike vraag wat ouers wat nou kinders op skool het moet antwoord, is of ons die kinders werklik ʼn guns doen om tog maar telkens weer gehoorsaam in die stroom saam te dryf en of dit nie tyd geword het om onsself en ons kinders tot dapperheid en heldedade op te roep nie.

Die verrotting en agteruitgang moet gestuit word en dit gaan nie gebeur solank ons bang is en nie aktief teenstand bied nie. Solank ons praat van weerstand en heropbou, maar dit wil doen sonder verliese en sonder terugslae, gaan ons maar in die staatstroom bly water trap. Oorlog is nie aangenaam nie, maar kan nie altyd vermy word nie en as die stryd betree word, kan dit net suksesvol wees as ons bereidheid is om ongevalle te ly. Dit is moeilik, maar die verering van helde, beelde en monumente is leeg en nutteloos sonder hierdie bereidheid.

Die helde van onderwys en opleiding kan nie sommer net lukraak optree nie. Hulle het geriewe en die geleentheid nodig. Die voorbereiding en logistieke ondersteuning moet van beleggers kom. Dapper mense moet sinvol en berekend optree, maar ook die “veilige” ingesteldheid verruil vir die inploeg in die noodsaaklike, maar riskante, terrein waar die waarborge min is, maar die noodsaak hoog is.

Daar is potensiële wins: dit hoef nie maar net bodemlose skenkings te wees nie en die geleentheid is daar vir beleggings ook in die gewone sin van die woord, waar opbrengs en risiko mekaar uitbalanseer. Die onderwys-entrepreneurs moet in staat gestel word om idees en aanvangswerk na stewige, volhoubare en gehalte-instellings te neem. Met dapperheid van leerlinge word nie bedoel dat hulle in onmoontlike en ontoegeruste en stowwerige omstandighede moet opleiding kry nie. Hulle het juis beter en sterker geleentheid nodig om hulle tot daardie uitnemendheid te neem wat hulle uiteindelik in staat gaan stel om bo “die stelsel” uit te presteer.

Die #…MustFall-gebeure het dit nou nog duideliker sigbaar gemaak selfs vir diegene wat hulle oë nog probeer toeknyp het. dat onderwys in Suid-Afrika dringend weer onder eie beskaafde beheer moet kom volgens eerste wêreldstandaarde en beskaafde werkwyses.

Die onderwys-entrepreneurs is daar. Die goeie bedoelings van groepies Christen-Afrikaner-ouers is daar. Dis die dapperheid en bereidheid om, ten spyte van die risiko van ongevalle, wat kortkom om die onderwys-tydbom te ontlont en die regte toekomsgeleenthede in Suid-Afrika te bou.

Dis tyd dat die beleggers hul kapitaal insit en dat die geleentheid vir sinvolle dapperheid gevestig word en dis tyd dat vryheid as ʼn leefwyse en strewe in ons onderwys gevestig word.

  • Leonard van der Dussen is die besturende direkteur van Indicato Inligting. Hierdie meningstuk is oorspronklik op www.saonderwys.wordpress.com gepubliseer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Wat vanplaasmoordenaarts#MustFall# KorrupsieMustFall#RassehaatMustFall?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.