Benut kanse vir Afrikaans, ook by Bosma

Die balanseertoertjie vir Afrikaans

In my vorige blog het ek vertel van die lewe van ʼn taalaktivis en die probleme wat dit soms meebring. Ek het onder meer vertel van my gesprek op 13 Januarie 2012 toe ek die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Werksgemeenskap (NZAW) in Delft (naby Den Haag) toegespreek het oor verwikkelinge rakende Afrikaans.  Die koerantberigte daaroor in SA het aangedui dat ek ʼn “vlammende pleidooi” gerig het dat  ons Vlaamse en Nederlandse parlementslede moet gebruik om ook druk op die SA regering rakende tale te plaas. Daaroor is ek kwalik geneem uit bepaalde kringe. Dit is nou maar eenmaal so.

My eie standpunt is gewoon dat ek die kanse benut waar ek met mense kan praat oor Afrikaans – uit watter hoek hulle ook al na Afrikaans kyk. Volgens sommige mense is ek reg en volgens ander is ek verkeerd.

Die afgelope week was daar ʼn groot mediadebat aan die gang oor die besoek van die Nederlandse politikus Martin Bosma aan SA en oor sy gesprekke met Afrikaanse en Afrikanerorganisasies. Sy party, die Partij voor de Vrijheid (PVV), die party van die Nederlandse politikus Geert Wilders, het onlangs besonder negatiewe opmerkings oor Moslems in Nederland gemaak – dit grens aan erge rassisme. Dit behoort op sigself verwerp te word. Die belange van Afrikaans wat ek verteenwoordig, is juis gerig op die inklusiwiteit van die Afrikaanse gemeenskap en ons sluit niemand uit nie. Dit plaas ons dan in ʼn opponerende posisie met Bosma se party.

Beteken dit nou ek behoort nie met hom te praat nie omdat sy party ander standpunte handhaaf as wat ek persoonlik oor sake het? Dit is die afgelope week gesuggereer deur van die deelnemers aan die debat. Ignoreer hom omdat sy party rassisme goedkeur.

Ek glo juis weer deur met iemand te praat wat ander standpunte (van uitsluiting) as ek het, kan ek hom/haar probeer oorreed tot my eie standpunt (van insluiting). As Bosma se party uitsluit, kan ek hom vertel dat ek ʼn voorstander is van insluiting, beslis nie van uitsluiting nie.  As ek hom van die winste van my standpunt vertel, kan ek hom moontlik oorreed om anders na sy eie werklikheid in Nederland te kyk. Dan wen ons beide mos!

Wat die saak verder kompliseer, is dat Martin Bosma voorsitter is van die belangrike interparlementêre komitee oor taal van die Nederlandse Taalunie en in hierdie posisie wat hy beklee, kan hy dalk deure vir Afrikaans oopmaak wat andersins toe sou bly. Die vraag is weliswaar dan: wil ek hê dat iemand met so ʼn assosiasie deure vir Afrikaans oopmaak? Word Afrikaans nie daardeur besoedel nie? Sommige mense in die debat het dit gesuggereer. Ek weet nie.  Wat ek wel weet, is dat ek die geleenthede moet benut wat na my kant toe kom en my saak oor taal (ook Afrikaans) stel daar waar ek gehoor kan word.

In ʼn brief aan Beeld op Saterdag 25 Februarie 2012 skryf ʼn Nederlander dat Bosma heeltemal verkeerd ingeskat word en dat hy gewoon ʼn stem van konserwatiewe mense in Nederland uitdra. Om konserwatief te wees, is nie noodwendig gelyk aan rassisme nie. Dus: daar is twee kante van die saak en dit het in die hitte van die debat myns insiens effens verlore gegaan.

Watter een reg is, is nie vir my duidelik nie. Ek weet wel dat daar nog baie praat voorlê voordat ons as Afrikaanse gemeenskap vanuit een hoek na die werklikheid sal kan kyk.  Laat ons ons verskille vier omdat dit deel is van die proses oor hoe ons die verlede van verdeling en seermaak kan heel. Laat ons aanhou praat oor wat pla en laat ons oplossings bedink vir wat krap. Ons kan dit tog doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Robert Friedman ·

“Die afgelope week was daar ʼn groot mediadebat aan die gang oor die besoek van die Nederlandse politikus Martin Bosma aan SA en oor sy gesprekke met Afrikaanse en Afrikanerorganisasies. Sy party, die Partij voor de Vrijheid (PVV), die party van die Nederlandse politikus Geert Wilders, het onlangs besonder negatiewe opmerkings oor Moslems in Nederland gemaak – dit grens aan erge rassisme”…

Rassisme? Ras-sisme? Is Moslems dalk ‘n ras??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.