Beoordeling van FW de Klerk se 2 Februarie-toespraak – 30 jaar later

pieter mulder

Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus.

Ek was in die parlement as parlementslid toe FW de Klerk almal met sy 2 Februarie 1990- toespraak verras het.

“’n Politieke staatsman word gemeet aan oor hoe ver hy oor die simboliese bult die toekoms in kan sien,” het ek by my pa, dr. Connie Mulder, geleer.

Dertig jaar ná oudpres. FW de Klerk se bekende toespraak van 2 Februarie, is dit billik dat ’n mens hom en die Nasionale Party aan hierdie stelling meet.

Politieke verandering nodig

In die 1980’s was dit duidelik dat die Nasionale Party se beleid om vryheid vir almal te bring deur ’n eie land vir elke volk te skep om verskeie redes nie geslaag het nie. Veral die groot verstedeliking van swart mense, wat nie voorsien is nie, het hiertoe bygedra.

Politieke verandering was nodig en in Suid-Afrika is heftig debat gevoer oor hoe hierdie verandering moet lyk.

Ek was verras deur De Klerk se toespraak. Verras omdat De Klerk en die NP-leiers met die algemene verkiesing, skaars vyf maande voor hierdie toespraak, sterk standpunt ingeneem het teen enige gesprekke of onderhandelinge met die ANC. Kiesers het tereg die aankondiging as politieke oneerlikheid en ’n berekende misleiding net om hulle stemme tydens die verkiesing te kry, gesien.

Wat my bekommer het, was dat die NP-leiers in die parlement se gange aan ons gesê het: “Moenie julle bekommer nie. Ons gaan die ANC uitoorlê. Deur hulle te ontban gaan die wêreld en Suid-Afrika se mense sien hoe radikaal hulle is. Dan gaan die gematigde swart, bruin en wit mense bymekaar kom en so saam gaan ons as NP die ANC wen.”

Ek het gedink die NP is naïef en hulle onderskat die ANC. Ek het aan myself probeer verduidelik dat FW de Klerk nog nooit in die opposisie was nie. Ná 42 jaar in regering ken NP-leiers nie die frustrasies van opposisiepolitiek nie. Opposisiepolitiek waar jy met min politieke mag sake probeer verander. Die hele geslag NP-leiers van daardie tyd het nie een geweet hoe dit is om sonder mag te wees nie. Daarom dobbel hulle maklik met politieke mag.

(Argieffoto)

Drie politieke oplossings

Twee maande ná die 2 Februarie-toespraak verduidelik De Klerk in die parlement dat daar nou drie politieke oplossings vir Suid-Afrika is (Hansard, 17 April 1990):

  1. Partisie – waar jy die land tussen die verskillende groepe verdeel en dan ’n samewerkingsmodel kry;
  2. ’n Simplistiese meerderheidsregering op die grondslag van een mens een stem of
  3. Magsdeling met beskerming van minderhede waar die een nie oor die ander regeer nie.

Hy verwerp dan die eerste oplossing naamlik partisie. Hy verwerp ook die tweede voorstel van ’n simplistiese meerderheidsregering. Sy argument is dat dit “vir kleiner groepe in ’n ingewikkelde meervolkige land” soos Suid-Afrika onaanvaarbaar is weens die “werklike risiko van oorheersing en onderdrukking”.

Hy glo die derde een is die antwoord – magsdeling. “Metodes om oorheersing te voorkom is geleë in die desentralisasie van mag … grondwetlike wigte en teëwigte en die vereiste van konsensus oor omstrede sake…. Magsdeling is billik teenoor almal, want almal kry stemreg, maar niemand kan al die mag gryp en die ander oorheers nie,” verduidelik De Klerk in die parlement (Hansard-kolom 6603-6606, 17 April 1990).

Hy onderneem ook dat, wanneer die onderhandelinge afgehandel is en daar van die NP-beleid afgewyk is, die resultate in ’n verkiesing of referendum aan die kiesers voorgelê sal word vir hulle goedkeuring.

Referendum 1992 gaan oor metode, nie inhoud

In 1992 kondig De Klerk aan dat ’n referendum nou gehou gaan word. Die onderhandelinge het sopas by Kodesa 1 begin en daar is nog geen duidelikheid oor wat die inhoud van ’n finale grondwet gaan wees nie. Die onderhandelinge is amper twee jaar ná die referendum eers voltooi (November 1993).

“Steun jy voortgesette onderhandeling”, is die vraag waarop die kiesers “ja” of “nee” moet sê. Die meerderheid kiesers argumenteer korrek: Hoe kan jy teen “voortgesette onderhandeling” gekant wees? 69% stem ja. Die regte vraag is egter nie gevra nie. Dit sou wees om aan te dui waarvoor die NP onderhandel? Wat gaan die inhoud van die finale grondwet wees? Dit is nie op die stembrief nie.

Twee weke voor die referendum (2 Maart 1992) verduidelik De Klerk in ’n toespraak in Kaapstad-stadsaal waarom ’n mens “ja” moet stem: “We say that black domination is as unacceptable as white domination. That precisely is why we say that power-sharing without domination is the answer. We reject unequivocally any ideas about a winner-takes-all dispensation. We think that is the worst possible system for a country like South Africa.”

Dit is sterk en duidelike taal. Tog is hierdie “worst possible system” presies wat kiesers twee jaar later gekry het as die eindresultaat van die onderhandeling. Hulle het nie weer geleentheid gekry om ná die eindresultate bekend was, daaroor te stem soos belowe nie.

Roelf Meyer, Pieter en Corné Mulder en genl. Constand Viljoen tydens die grondwet- onderhandelinge.

Keuse was: Bloedbad of hierdie bedeling

Elke jaar as 2 Februarie gedenk word, moet ons van mnr. De Klerk hoor dat dit ’n eenvoudige keuse was: Of die huidige bedeling; of ’n bloedbad. Dit is net nie waar nie.

De Klerk maak wat meeste ouers met hulle kinders doen. Gee die kind net een van twee keuses: “Of jy eet nou die soetpampoen, of ek gee jou spinasie.” Asof daar net twee keuses is. Vir gesond eet kan die kind dalk slaai of jogurt ook kies.

Behalwe dat Chris Hani toegee dat die ANC nooit die Suid-Afrikaanse weermag of polisie se “rug kon breek nie” en die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte die versekering gegee het dat hulle nog tien jaar die beheer kon behou, was daar ook ander politieke opsies.

Dalk is dit waar vir partye wat geweier het om te onderhandel, soos die AWB, dat daar net twee opsies was.

Die partye wat by die onderhandelinge was, was daar omdat hulle geweet het verandering is nodig. Hulle het na die onderhandeling gekom met ander voorstelle as moontlike oplossing.

Mangosuthu Buthelezi van die IVP was daar. In die 1994-verkiesing het die IVP nog meer as twee miljoen stemme gekry. Dit het die IVP ’n belangrike rolspeler gemaak.

Lucas Mangope was daar met voorstelle. Hy het nog verkiesings in Bophuthatswana gewen waar daar meer as 1,5 miljoen mense was.

Die Volkswag het 700 000 na ’n miljoen mense verteenwoordig en het met alternatiewe voorstelle gekom.

Hierdie groepe sou saam met die NP ’n sterk blok teenoor die ANC kon vorm. Daardie “gematigde swart, bruin en wit blok” waarvan die NP-leiers saggies in die gange gepraat het.

Wat nog meer kon help is dat Buthelezi “die desentralisasie van mag” en meer magte vir provinsies soos KwaZulu-Natal voorgestel het. Dit was presies een van die metodes wat De Klerk in sy toespraak as oplossing uiteengesit het om ’n sentrale regering se mag te beperk.

‘Record of Understanding’

Ná die “Record of Understanding” het die NP hierdie IVP en enige ander voorstelle van die tafel gevee. Die “Record of Understanding” is in die geheim alleen tussen Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa onderhandel.

Die NP het Buthelezi hierna berekend vervreem. Die NP het uit hulle pad gegaan om Mangope te vernietig en die Volksfront belaglik te maak. Die gevolg was dat hierdie groepe saamgekom het in die Concerned South African group (Cosag). As groep het hulle druk op die ANC uitgeoefen en sekere kleiner suksesse behaal.

Dit bly ’n vraag dat as die NP oor sake soos die desentralisasie van mag met meer magte aan provinsies (dit wat tans vir die Weskaap gevra word) saam met Cosag kon onderhandel, hoe die eindresultate sou lyk?

Nelson Mandela is op 10 Mei 1994 beëdig as president. (Foto: dailymaverick.co.za)

Verkiesing 27 April 1994

Met die 27 April 1994-verkiesing kry die NP 20% van die stemme. Dit is nie naby die oorwinning wat NP-minister Dawie de Villiers voorspel het of die meer as 33% wat die NP-binnekring geglo het hulle sal kry nie. Die NP het by baie belangrike grondwetartikels tweederde meerderhede vir verandering aanvaar omdat hulle geglo het dat hulle baie meer as 33% gaan kry en so enige ANC misbruik sal kan veto.

’n Week ná die verkiesing van 1994 vra Hanlie Retief in ’n onderhoud met De Klerk in Rapport (8 Mei 1994) aan hom: “Waar sien u uself oor vyf jaar?’

De Klerk antwoord: “As my party nie foute maak nie, is ek oor vyf jaar weer president.” Drie jaar later, in 1997, onttrek hy hom aan die politiek.

In 1996 spel Roelf Meyer by ’n NP-vrouekongres die NP se visie vir die toekoms so uit: “Ons visie in die Nasionale Party is om in 2004 weer aan die bewind te wees.”

In die 2004-verkiesing is die NP nie aan bewind nie, maar het die NP se setels van 82 in 1994 na sewe in 2004 gedaal. ’n Jaar daarna is die NP ontbind en het die NP-leiers by die ANC aangesluit.

Het FW de Klerk en die NP-leiers die ANC en die toekoms mis gelees? Beslis, as ek na die feite hierbo kyk. Nou sit ons met die probleme en moet die beste daarvan probeer maak.

Oudpres. FW de Klerk (Foto: CNN)

Regering van nasionale eenheid – in goeie gees

Die NP het wel met die tussentydse grondwet tydelike sukses behaal met die ANC se belofte van ’n regering van nasionale eenheid vir vyf jaar in die oorgangsperiode. Die NP was dus aanvanklik in die kabinet verteenwoordig gewees.

Op 8 Mei 1996 forseer die ANC die finale Grondwet deur die parlement. Die volgende dag onttrek die NP hom aan die regering van nasionale eenheid. Dit is na slegs twee jaar van die vyf jaar wat belowe is. In De Klerk se verduideliking waarom hulle onttrek, verduidelik hy dat die ANC geen ag geslaan het op die klem wat hy en ander NP-leiers gelê het op die noodsaak van magsdeling en gesamentlike besluitneming nie.

De Klerk kla by daardie geleentheid en weer verlede week in ’n koerantonderhoud dat die ANC nie gehou het by die “gees” waarin die ooreenkoms tussen die NP en die ANC gesluit is nie. Hierin is hy korrek. Maar hierdie “goeie gees” is nooit deur die NP op skrif of in een van die 34 grondwetlike beginsels vasgevang nie. Die resultaat is dat by die finale Grondwet van 1996 daar geen verdere verwysing na ’n regering van nasionale eenheid of konsensusbesluite is nie.

Die NP gaan die onderhandelinge binne met ’n sterk weermag, polisie, beheer oor die land se finansies en tyd aan sy kant omdat hy die land nog regeer. De Klerk betreur dit vandag dat hy nie die ANC kon oorreed tot ’n konsensussoekende model nie (Rapport Weekliks, 2 Februarie 2020,p.9). Die feite is dat die NP homself aan die einde van die onderhandelinge in so ’n swak posisie in onderhandel het dat hy afhanklik was van die ANC se goedgesindheid en niks meer kon eis of afdwing nie.

Ramaphosa se mening van FW de Klerk en Roelf Meyer

In ’n BBC TV-program wat ná die onderhandeling gemaak is, vra die kommentator Cyril Ramaphosa se mening oor De Klerk se 2 Februarie-toespraak. Ramaphosa antwoord:

“In his speech on the second February 1990 he thought that by unbanning the ANC, he would be able to control political events in our country. I don’t believe that he knew that he was actually unleashing a force, which he would find far, far, far beyond his own political imagination and control.”

Toe Ramaphosa in dieselfde program oor sy onderhandelingsvennoot Roelf Meyer uitgevra is, het hy verwys na die informele partytjie wat die ANC en die NP gehou het nadat die finale onderhandelinge afgehandel was:

“I was able to see Roelf Meyer for the first time dancing on the floor where we were having this party, he was quite happy, he was quite jovial – and I kept wondering whether I would have been as happy as he was if I was in his position – having finally given in, in the way that they had.”

In ’n artikel soos hierdie is daar nie plek om ander frustrasies tydens die onderhandelinge te bespreek nie: sake soos die aankondiging van ’n verkiesingsdatum voordat kernsake afgehandel is; dit is die swak onderhandelinge oor amnestie; dit is hoe belangrike grondwetlike artikels oor taal en die regterlike dienskommissie, wat in die 1993-Grondwet verskyn, in die 1996-Grondwet afgewater en verswak is.

Hoekom nou hierdie artikel?

Hoekom hierdie artikel nou skryf? Ek het nog nie voorheen hieroor geskryf nie.

  1. Omdat daar hierdie week so eensydig oor hierdie gebeure in ander media geskryf is. Die klem in meeste van hierdie artikels, ook deur De Klerk, val op die vrylating van Mandela en die ontbanning van organisasies. Dit was maar 5% van die gebeure tussen 1990 en 1996 op pad na die finale Grondwet. Die meeste kritiek teen die NP gaan oor die lomp en amateuragtige hantering van die uiters belangrike onderhandelinge wat ná 2 Februarie gebeur het. Min word hieroor geskryf.
  2. Omdat De Klerk in sy outobiografie trots skryf hoe die bronsbeelde van ses vorige Suid-Afrikaanse premiers wat op sy kaggelrak gestaan het, omgedraai is sodat die gesigte na die muur wys voor sy toespraak. Dit mag humor wees, maar dit kom arrogant oor. Dit is vorige premiers wat, soos De Klerk in 1990 gedoen het, geoordeel het wat die beste vir hulle tyd is. Leiers op wie se skouers hy staan en waarsonder hy nie in die posisie van staatspresident sou gewees het nie.
  3. Dit is belangrik dat mense alle kante aanhoor en dan self besluit of daar oor die bult gesien is en wen-wen oplossings gekry is. My mening is duidelik. Ons het nie slaai of jogurt gekry nie – om die waarheid te sê ook nie soetpampoen nie – eerder swak voorbereide spinasie.

Skep ’n eie toekoms

Maar dit is die verlede. Nou moet ons ’n toekoms skep met die werklikhede van vandag. Waar die staat misluk, is ons reeds besig om eie alternatiewe te skep.

Ons het reeds private afleweringsdienste – waar die poskantoor misluk.

Ons het reeds private veiligheidsdienste – waar die polisie misluk.

Voormalige presidente Nelson Mandela en FW de Klerk vier die einde van apartheid.

Ons maak self die slaggate in ons dorpe reg – waar stadsrade dit nie meer doen nie.

Ons is besig om ’n private universiteit en skole te skep. Hoekom? Omdat Roelf Meyer se 1996 onderhandelde Grondwet en die “belangrike onafhanklike grondwethof” waarna De Klerk so trots in sy koerantartikel verwys, nie meer Afrikaans-onderrig waarborg nie.

In die parlement argumenteer ons oor minderheidsregte en verduidelik hoe selfbeskikking, federasie, outonomie, kultuurrade en soortgelyke metodes minderhede se probleme op internasionaal erkende maniere kan oplos. Voorstelle wat destyds by die onderhandelinge van die tafel gevee is.

FW de Klerk: Politieke staatsman of korttermyn politikus?

’n Populistiese stelling is dat ’n politikus net tot by die volgende verkiesing kan sien terwyl ’n politieke staatsman tot by die volgende geslag kan sien. FW de Klerk en die NP se onderhandelinge ná 2 Februarie 1990 moet hieraan getoets word – of dit vir die volgende en huidige geslag voorsiening gemaak het. Dalk was De Klerk ʼn goeie en selfs dapper politikus, maar geen vêrsiende politieke staatsman nie.

 

Dr. Pieter Mulder is ’n voormalige professor, VF Plus-leier en parlementslid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Zirk ·

Ek wens en hoop dat Pieter Mulder, wat ‘n oud politiekus en veteraan parlementariër is, ons meer sal verras met sy binnekennis van die politiek. Diesulkes word ouer en sterf uit en ons agtergeblewenis krepeer weens ‘n gebrek aan kennis.
As ek moet oordeel, sou ek beweer dat die ANC het met oneerlike en kwade bedoelings die Codesa onderhandelings binnegegaan. Hul verdraaide interpretasie van die grondwet as geheel en die minagting van eiendomsreg getuig van hul kriminele bedoelings. Nietemin, dis water onderdeur die brug. As lesers die onlangse boek van Dr.Jefferies lees, sal gesien en verstaan word dat die ANC nog suksesvol op koers is met hul beleid van die vyftigerjare om SA stelselmatig sosialisties te omvorm en daarna uiteindelik na kommunistiese diktatuur. Dis ‘n langtermyn plan, 50 jaar, en hulle is nou presies halfpad sederd 1994. En soos die landsburgers kan sien, en ervaar, word die skroewe vinniger vaster gedraai.

Hermann P ·

Waarom nou eers Pieter maar dankie daarvoor. Ek het wel een ding teen jou en die VF nou +. Julle het destyds baie geluide gemaak oor selfbeskkiking. Het selfs ‘n kaart voor gelê waar julle gedink het ons, ons eie volkstaat kon vestig. Daar het dadels van gekom.

Ek het destyds, toe julle nog ‘n kletskammer op julle webwerf gehad het, julle baie aan gevat hieroor, soveel so dat, so dink ek maar by myself, dat julle die opsie heeltemal gestaak en verwyder het van julle webwerf af. Ek weet nie of julle so iets weer begin het of nie. Ek was baie jare laas op julle webwerf.

Ek het in 1994 laas gestem, vir julle natuurlik, maar na bo genoemde valse beloftes het ek nooit weer gestem nie. Ek hoop julle kan dit eendag regstel.

Groetnis van uit die goeie ou Transvaal.

Pieter ·

Onthou die VF+ is ‘n kind van Militêre Intelligensie. Net daar om ‘n deel van die regterkant van die politiek te neutraliseer en deel te maak van hierdie nuwe bedeling. My laaste stem was in 1992.

Michiel ·

Die eerste 10 jaar was wittebrood. Na 20 jaar wis ons al: die projek flop maar wist niet hoe nou verder?
Na 30 jaar.. elemente van territoriale selfbeskking kom langsaam van start.
Nu die ANC alles kapotemaka het kan ons net instap en oorneem. Voor ons daaraan begin moet onsself eers alternatiewe strukture he. En nooit weer oorgee.

Joe Olivier ·

Baie goeie rubriek en uiteensetting van die destydse gebeure Dr Mulder. Vir de klerk en sy maatjies sal ek nooit enige respek hê nie, en dit is baie ligtelik gestel.

Pieter ·

Steun jy voortgesette onderhandeling, die 1992 referendum vraag. Natuurlik het ons NEE gestem. Die NP het daardie tyd al goed gewys dat sy verkiesingsbeloftes leuens is en het ons geweet dat hierdie Gelofteland weg gegee gaan word. Geen vertroue in die NP gehad nie. Op universiteit is studente wat die Nee stem aangehang het, geïntimideer en op video vasgevang indien hulle lastige vrae vra. Soos ‘n eier vir Meyer. Die NP het slegs die Gelofteland so gou as moontlik wil weggee soos voorgestel deur volksvreemde magte. Die volksverraad kom ‘n lang pad. Die NP met sy kiesers het die Gelofteland en God verraai oor ‘n lang tydperk. Die NP se politieke styl word deur die ANC gevolg, dus iemand hoërop se belange word gevolg.

Strandloper ·

Ek kon nie vinnig genoeg lees nie…my bek het letterlik oop gehang! Kyk ons almal het neeeee gestem maar het berus en geglo dit is die beste vir almal.

FW HOE KON JY JOU EIE VOLK VERAAI???

Laastens dankie Dr Mulder vir die eye opener en ek weet met n man soos jy aan roer van saake is daar hoop!

SomeOne ·

van dag een af wat de klerk in ie parlment ingestap het, het hy baie gedroom, uiteindelik het hy sy hele volk verraai
volgens hom sou die np oor ‘n paar jaar later aan bewind gewees het , ek LMGA vir sy simpel redenasie, hy het sy “mag” aan die kommuniste verruil vir ‘n koppie koffie
daars nie regte , genoeg , woorde om hom sleg te se nie – verraaier

Louis ·

Sal ons werklik weet wat in FW se binnekamer, tydens sy gesprekke en worsteling met sy Skepper plaasgevind het. Niemand loop te koop daarmee nie. Ons ken tog hierdie opdrag uit die Woord baie goed.

Die verleentheid waarin ons onsself nou bevind het nuwe energie losgelaat. Dinge is besig om te gebeur soos Dr. Pieter dit baie duidelik in hierdie artikel stel. Mag Geloof, Hoop en Liefde vir almal in SA nuwe perspektiewe bring, terwille van Sy naam en die voortbestaan van die Christendom in Afrika.

Neestemmer ·

FW het nie gesprekke met sy Skepper gehad nie en is verseker nie ‘n Christen gemeet aan sy aksies en sy vriende soos Soros en ander NWO figure nie. Hy het na hulle pype gedans en het ‘n groot aftreebonus gekry om SA uit te lewer om geslag te word….

Sam ·

Dit is duidelik dat FW De Klerk en sy Nasionale Party landsverraaiers was. Die oneerlikheid waarna Dr Mulder hier verwys, is onverskoonbaar. EK wonder wat nou deur sy gedagtes gaan wanneer hy die gemors aanskou waarin hy Suid-Afrika gedompel het. Verandering was nodig, maar wat hy en sy party op ‘n silwer skinkbord aan die ANC oorgelewer het, was ‘n wenresep tot mislukking.
Hy behoort ‘n spesiale prys vir landsverraad te kry en moes nooit die Nobelprys vir vrede gekry het nie. Wat die gevreesde bloedbad van destyds aanbetref het hy alleen daarin geslaag om dit met 30 jaar uit stel.
Mooi so Oom FW! Ek is seker Maryke was beie trots op jou!

Philip ·

n Broederbonder ht vir my op stemdag gese dat NP beleid in 1994 en daarna beteken dat daar eieskole en woongebiede vir blankes onderhandel is as persone NP sou stem. Dit is ook volgens my wete die grootste leun wat hy aan die stemvee verkondig het maar dieselfde persone is vandag of dood of hou n lae profiel

Wimpie ·

Pieter dankie dat ons almal na soveel jare die inligting mag bekom. Dit is wel n jammer dat dit so lank moes vat. My siening en ek weet baie gaan gal braak hieroor. Aan die begin was SA maar n swart land. Ons Afrikaner het ons neste hier kom skrop. Ons het die groot vout begaan om later die swart man te verneder eerder as om hulle deel te hou van die land. Dit het later vererger deur ons toedoen. Instede daarvan om hom eerder deel van die land te hou het hy n bywoner begin raak. Sou ons as boere dit aanvaar het? Nee ons sou nie en juis waarom die gevoel nou by ons so intensief is. Is FW n verraaier….Ja hy is want hy het nooit by sy Boere belofte gebly nie. Instede daarvan het hy agter sy volk se rug hulle verloon. Amerika was in die selfde stryd. Tog het hulle dit anders hanteer. Gelyke regte. As dit eerder bewerkstellig was het SA vandag anders gelyk. So glo ek. Doe grootste vout was reeds toe Mandela gevange geneem is. Was hy n komunis? Ek glo so. Lees verder…….

Wimpie ·

Was Mandella n kominus? Ja ek glo so. Dit was sy enigste oplossing om te veg vir sy mense. Ons Afrikaners het verseker nie vir hom bygestaan nie. Wat anders moes hy doen. Ongelukkig het FW die verkeerde besluit gemaak. Gee die land weg. Totaal en al weg. Instede daarvan om ook die swrte gelyke regte te gee soos met Amerika. Stop die blankes/swartes onderskyding en laat hulle in hulle eie land toe. Ja toe dit die Afrikaner se land wat ook voorheen maar nie hulle sn was nie. Ek sou Mandela vry laat en onmiddelik n plek in die parlement gee. Juis sodat hy ook vir sy mense n beluit in die parlement kon maak. Sodoende kon die land moontlik vandag nog aan die Suid Afrikaner behoort. Vandag is die Afrikaner onder hewige druk juis omdat FW ons verloon het en als weg gegee het. Instede daarvan om sy belofte vir sy volk te breek. Daar was (en is steeds) plek vir almal. As ons eerlik gaan sit en dink sal ons nie anders as om saam te stem dat die land in die begin nie aan ons behoort het nie.

Chrisp ·

Vir die persone wat hier lees en onder die wanindruk is dat die land in geheel aan swartmense behoort stel ek voor om die boek deur Harry Booyens( AmaBhulu-The birth and death of the second America) te lees hier is die beste weergawe van die RSA se geskiedenis volgens my. Hy is ‘n oud Suid-Afrikaner ingenieur nou in kanada waar hy klas vir ingenieurs student gegee het.

Neestemmer ·

Dankie Dr Pieter vir ‘n goeie artikel wat die waarheid op die tafel sit van hoe ons land uitberkoop was deur De Klerk en sy meelopers.

Dis so duidelik deur die feit dat daar nie eers ‘n poging aangewend is om eers ‘n gedeelte van die Land waar die minderheidsgroepe in die meerderheid was en steeds is, soos die Kaapprovinsi, onafhanklik te hou nie. Hulle kwade bedoelings is ook bewys deur hoe hulle Buthelezi behandel het en ook Mangope ontsetel het in plaas van om hulle as onafhanklikes te laat aangaan soos hulle wou, duidelik volgens opdrag van hulle Nuwe Wereldorde meesters

Die ANC terroriste het al gedurende die Kodesa onderhandelinge ooreenkomste gebreek, so hoe het enige iemand met verstand gedink dit gaan nie meer en met groter gevolge gebeur nadat hulle mag gekry het nie?

Fluisterwind ·

Dit is vir my moeilik om woorde te vind oor die sogenaamde keuses “bloedbad of huidige bedeling”. Hoeveel mense het gesterf sedert 1994, toe ek as onderhoofseun van die HTS Pretoria Tuine die ou landsvlag vir die laaste keer gestruik het en moes toekyk as jong seun hoe die hele personeel korps gestaan en huil het? Ons het ‘n groter bloedbad beleef sederdien. Ons moes hierdie kommunistiese bestel toe in sy spore gestop het met ons gedigte weermag, lugmag, toe polisiemag en vloot. Hier sou ongekende vrede en orde aan die suidpunt van Afrika gewees het. Maar nou is alles tevergeefs. Sê vir fw hy moet sy nobel prys geld vir al die plaasmoord families gaan gee!

Jaco ·

Maar dan volgens my mening is die hele nuwe bedeling in Suid Afrika onregmatig/onwettig, gebasseer op leuens, soos die engelse sê “void” . Hoe is dit moontlik dat soveel mag in een man se hande geplaas was deur dit moontlik vir hom te kon maak om n land op so n onregmatige manier te kon weggee op sy eie terme want heel duideluk het almal nie Ja gestem vir dit wat toe daarna gebeur het nie dit maak dus die refferendum heeltemal ongeldig?? Was die politici daardie jare aan die slaap toe dit gebeur het?? Was daar nie n “watchdog” wat sulke malligheid kon stopsit nie?

wagnbietjie ·

Ek beaam ‘n goeie vriend van my se gesegde – Die pap is op die grond !
Wonder nou so by my selwers, wat is volgende – Private munisipaliteite, -kragopwekking, -opvoedingsentrums en dies meer.
Waar sal die geld vandaan kom om alles privaat ingestel te kry, die dinge wat ons altyddeur maar as vanselfsprekend beskou het.
Mag die Here ons genadig wees en ons help !

Chris ·

Dit is nou te laat om daaroor te kla en aan te hou beskuldigings slinger. Elke persoon in die land is volgens my ‘n rat voor die oë gedraai. Die Rooi gevaar het in 1989 “verdwyn”. Aan die wat almal en alles vir die stand van sake beskuldig, wat sou julle gedoen het? Het julle onderhandelaars van statuur gehad? Wat se planne sou julle mee vorendag gekom het? Die grootste probleem wat ek aan kan dink was dat die NP regerings onderhandelaars totaal en al onbevoeg was. Die “vrees” wat die mense vir die dreigende massas gehad het was ook ongegrond. Die druk op die land was oorweldigend maar daar was ‘n alternatief. ‘n Verteenwoordiger van een van die buurtstate het my in 1993 gevra, Wat maak julle mense dat julle die land net wil weg gee? Julle is in die magsposisie en julle verkrummel. Dit is nou te laat. Ons sal maar wag tot alles ten gronde is en dan weer van vooraf begin opbou.

Michiel ·

Die enige, strukturele oplossing: Ons eie Republiek. Klein soos Swaziland is al genoeg: “Niet te klein om GROOTS te zijn”. Fysiek bewaakt grens, ekonomies sterk, ééntalig: Afrikaans+Nederlands. Vredig. Modern. Eerstewereld landje. Permanent verlost van ANC-kultuur. Met afgunst sal hulle ons beny!
Hoe realiseer ons dit <=2040?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.