Beroepsrugby, reëls het spelers groter, swaarder gemaak

rugbybal-3.jpg

Argieffoto.

Rugby is nie meer ʼn spel vir spelers van alle groottes nie. Die vereistes om bo uit te kom, stel nou geweldige fisieke eise.

En dit is die koms van beroepsrugby, saam met die reëlveranderinge, wat grootliks daartoe bygedra het. Ek lees die ander dag ʼn artikel op die webtuiste Bill’s Rugby Blog oor die yslike toename in die grootte en gewig van internasionale rugbyspelers.

En as dít jou sal laat regop sit, neem ook sommer in ag dat dit nie al is nie. Daar is ook die hedendaagse vereistes van brute krag en fisiekheid wat later in die artikel aangeraak word.

Grootte

Een voorbeeld wat deur Bill van Zyl, die skrywer van die artikel genoem word, is dat Nieu-Seeland Rugby in 2014 in ʼn studie bevind het dat die gemiddelde grootte en gewig van die agterste driehoek van Nieu-Seelandse spelers oor die vier dekades sedert 1974 met 14 kg en 10 cm toegeneem het.

In 1974 was die vleuels se gemiddelde massa 84 kg en hul lengte 1,78 m. Teen 2014 het die heelagters en vleuels gemiddeld 1,88 m in hul sokkies gestaan en 98 kg geweeg.

Jordie Barrett (regs), aen sy broer Beauden. Foto: (AP Photo/Eugene Hoshiko)

Vanjaar was daar in die All Blacks se Wêreldbeker-groep manne soos Jordie Barrett (1,96 m, 96 kg), George Bridge (1,86 m, 96 kg) en Rieko Ioane (1,89 m en 102 kg).

Hierdie toename in massa en lengte geld egter feitlik al die posisies.

  • Die gemiddelde massa van stutte het sedert 1987 se Wêreldbeker-toernooi van 108 kg tot 118 kg toegeneem en vanjaar was dit 122 kg.
  • Flanke het in 1987 gemiddeld 96 kg geweeg, vanjaar was dit 113 kg en hulle staan nou 1,97 m in hul sokkies teenoor 1987 se 1,82 m.
  • Senters het in 1987 ʼn stewige 87 kg geweeg en was 1,81 m lank. Vanjaar was hul gemiddelde massa 103 kg en was hulle 1,89 m lank.
  • Neem boonop ook in ag dat die persentasie liggaamsvet met 5% vir agterspelers en 15% vir voorspelers afgeneem het, wat beteken dat die toename “gesond” is, m.a.w. spiere!

Adrien Sedeaud van Frankryk se Sportinstituut (INSEP), wat deur Van Zyl aangehaal word, staaf die gemiddelde toename in gewig en lengte met vergelykings in sy studie van 2 500 spelers in die sewe Wêreldbeker-toernooie van 1987 tot 2011.

Sy slotsom? Die spanne wat die beste gevaar het, het die swaarste voorspelers en die langste agterspelers gehad! Sedeaud gee toe dat ander faktore soos afrigting, beplanning (soos deur Rassie Erasmus!), strategie en dies meer ʼn belangrike rol speel.

Reëlveranderinge

Foto: (AP Photo/Jae Hong)

Reëlveranderinge is nóg ʼn faktor wat massa en lengte beïnvloed. Hakers haak byvoorbeeld nie meer nie, hul skrum nou soos hul stutte – en hulle is veel groter as destyds.

Trouens, die geweldige verandering aan die reëls maak rugby een van weinig wêreldsporte waar die spelers se gewig en lengte oor die afgelope 40 jaar aansienlik verander het omdat afrigters en spelers by die nuwe reëls moes aanpas.

By Amerikaanse voetbal (gridiron), bofbal en basketbal het weinig verandering aan spelers se gewig en lengte voorgekom, aldus professor Jean-Francois Toussaint, direkteur van die Institute of Biomedical and Epidemiological Research for Sport (IRMES) by Frankryk se Sportinstituut.

Professionaliteit

Verskeie bronne meld dat die koms van professionaliteit in rugby in 1995 heelwat bygedra het tot die algemene neiging om groter spelers te kies.

Daar was ʼn uitermatige toename in die grootte van rugbyspelers sedert 1995, in teenstelling met die vorige vier dekades sedert 1955, toe die Britse Leeus die reeks teen die Springbokke onder die kapteinskap van flank Stephen Fry gedeel het.

Net een uit elke 75 spelers in 1955 het meer as 100 kg geweeg. Vandag is dié getal byna 50.

Ook, skryf Van Zyl, het die gemiddelde lengte van spelers, nadat dit tussen 1955 en 1985 min gewissel het, vanaf 1995 tot 2015 aansienlik van 1,80 m tot 1,88 m toegeneem.

Veral senters en hakers se massa-toename is opvallend hoër. Tussen 1955 en 1995 het nie ʼn enkele internasionale senter 100 kg geweeg nie. In 2005 was daar net een, vandag is daar letterlik tientalle van hulle.

Damian de Allende (Foto: Instagram)

Kyk maar net na van ons eie groot Springbok-senters: André Esterhuizen en Frans Steyn weeg 110 kg, Damian de Allende weeg 101 kg, en die voormalige Lions-senter Rohan Janse van Rensburg, wat nou vir die Sale Sharks speel, se massa is 109 kg.

Sonny Bill Williams lyk nie so groot nie, maar weeg 107 kg. Frankryk se (nou straks voormalige?) senter Mathieu Bastareaud weeg 120 kg en Engeland se Wêreldbeker (nogal buite-) senter Manu Tuililagi 114 kg.

Natuurlik is daar kleiner manne wat dit op topvlak maak, soos Cheslin Kolbé (80 kg) vanjaar. In die verlede was Japie Mulder, sterk Transvaalse senter in die 1995 Wêreldbeker-eindstryd, se 84 kg feitlik die norm. Een van ons heel, heel bestes, ʼn man wat ook gereken is as ʼn sterk hardloper, was John Gainsford (81,6 kg). Danie Gerber het die skaal op 88 kg getrek.

En wat van die groot, sterk vleuels Ray Mordt (91 kg) en Gert Muller (90 kg) wat vandag nie as uitermate groot beskou sou word nie?

Naas Botha, die grootste wedstrydwenner in Springbok- en Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis en een van ons heel beste spelers in sy 28 toetse wat weens politiek beperk is, het maar 83 kg geweeg. Die taai, hardekwas-haker Uli Schmidt se massa was 90 kg; dié van vanjaar se hakers Malcolm Marx (114 kg) en Bongi Mbonambi (106 kg).

Vergelyk ook vanjaar die massa van die heel swaarste speler van die 16 spanne in Japan se Wêreldbeker-skouspel, Thomas du Toit (136,5 kg), met dié van oud-Bokkaptein en die sterk vaskopstut Hannes Marais (99 kg) en met dié van die toenmalige swaarste spelers in ons toetsgeskiedenis, Flippie van der Merwe (133 kg) en slot Vleis Visagie (135 kg).

Die Springbokke se stutte in Japan se massa was soos volg: Frans Malherbe, 124 kg; Steven Kitshoff, 120 kg; Vincent Koch, 118 kg; Trevor Nyakane, 118 kg (wat deur Du Toit vervang is); en Beast Mtawarira, 116 kg.  En so kan jy aangaan …

Fisieke aard van spel

Foto: (AP Photo/Eugene Hoshiko)

Maar benewens die reëls het die fisieke aard van die spel ook dramaties toegeneem. Van Zyl skryf dat plettervatte in die sewentigerjare teen 1 100 N (newton) gemeet is. Vandag is die gemiddelde plettervat-krag sowat 1 700 N, terwyl die werklike têkkels teen sowat 3 000 N gemeet word!

ʼn Gewone plettervat van 1 700 N kan vergelyk word met die val van ʼn yskas van ʼn hoogte van sowat twee meter, en 3 000 N, skryf Van Zyl, is soos om deur ʼn klein motor getref te word.

Vandag se skrumkrag wissel tussen 13 500 N en 16 000 N as twee top pakke voorspelers teen mekaar sak.

(Newton is die internasionale metingseenheid van krag. In leketaal is een Newton gelyk aan die krag wat benodig word om ʼn objek met ʼn massa van een kilogram een meter per sekonde te beweeg.)

  • Heelwat van die kerninligting vir bostaande artikel is verkry van die webtuiste Bill’s Rugby Blog.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nico K

Ek dink die reels is deel van die probleem en benadeel hadloop rugby. Die aanvallende span word te veel bevoordeel wat tot gevolg het dat ‘n span baie lank balbesit kan behou deur net te dryf deur die voorspelers totdat ‘n strafskop afgedwing word. Dan skop hul vir die hoekvlag en rolmaal. So vervelig. Hardloop rugby op sy beste kom van teenaanvalle.

André André

Kan die reëls hulle korter dikker maak?