Beskerm jou pensioenfonds, sê Roodt

ou-hande-drankie

Argieffoto.

Die beloftes van politici is altyd groter as Suid-Afrikaanse belastingbetalers se vermoë om te presteer, sê Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group.

By die TruckX-konferensie wat onlangs in Johannesburg aangebied is, het Roodt gesê die huidige ANC/Cosatu/SAKP-driepartyregering het ideologies die spoor byster geraak en kom met teenstrydige beleid vorendag wat dikwels nie uitgevoer word nie.

Hy het sy kommer uitgespreek dat die regering pensioenfondse mag teiken as ʼn volgende bron van inkomste juis as gevolg van hoë skuldvlakke, hoë gemeenskapsbesteding (wat voortvloei uit kapitale besteding), ʼn geringe kans om belasting beduidend te verhoog omdat Suid-Afrika min rykes het, en verskeie oneffektiewe en bankrot staatsbeheerde instellings.

“Wat is die volgende pot goud,” het hy gevra. “My vermoede is pensioenfondse. Maak seker dat jy ʼn goeie finansiële adviseur het.”

Roodt voorspel 0% ekonomiese groei vir Suid-Afrika dié jaar – of selfs ʼn negatiewe groei – en slegs 0,8% volgende jaar.

“Die tegniese omskrywing van ʼn resessie is twee opeenvolgende kwartale van negatiewe groei. My definisie van ʼn resessie is wanneer die groei van die ekonomie laer as dié van die bevolking is. Dit beteken dat ons geruime tyd al in ʼn resessie is.”

Roodt verwag die rand gaan aanvanklik swak vertoon as Suid-Afrika later vanjaar afgegradeer word deur graderingsagentskappe, hoewel hy meen die geldeenheid behoort daarna te herstel.

“Moenie dink die rand is net ʼn eenrigting-weddenskap nie.” Nietemin het hy bygevoeg “dat mense daaraan moet dink om hul portefeuljes in die buiteland uit te brei”.

Hy verwag ʼn renteverhoging later die jaar en “moontlik ook volgende jaar”.

Roodt het gewaarsku dat vinnig stygende kospryse kan bydra tot verdere spanning in Suid-Afrika.

Gegrond op ekonomiese faktore soos inkomsteverspreiding, die aantal afhanklikes asook lewensverwagting, het Roodt vooruitskouings van die finansiële welstand van die verskillende rassegroepe in die land gemaak.

Ten opsigte van die finansiële welstand van Suid-Afrikaanse swart mense as ʼn groep meen hy dié groep het te veel afhanklikes – werkloses, oues, ongeskooldes en kinders – om ongeag stygende inkomste en lewensverwagting beduidende vooruitgang te maak.

Hy meen swart mense kan finansieel presteer deur verbeterde ontwikkeling van vaardighede, veral vir meisies, asook deur verbeterde toegang tot betrekkings.

Hy het bygevoeg dat China en Japan, tewens die hele wêreld, gebaat het deur vroue deel te maak van die werkerskorps. Op dié manier het die aantal afhanklikes in die ekonomie nie net afgeneem nie, maar het die werksmag ook verdubbel.

Swart ekonomiese bemagtiging van ʼn uitgesoekte groepie kan dié groep benadeel in terme van verdeling van inkomste, het hy bygevoeg.

Volgens Roodt is bruin mense in dieselfde bootjie as swart mense, met boonop die dilemma van “nie swart genoeg” wees nie om voordeel te trek uit regstellende beleid.

Wit mense het reeds die golf van demografiese welvaart sien aanbeweeg. Namate hulle ouer word met minder kinders en kwynende inkomste is voorspoed iets van die verlede.

Roodt meen Indiërs kan tans skep omdat dit vir hulle pap reën, met min afhanklikes, florerende inkomste, lae werkloosheidsyfers en hoë vlakke van vaardighede.

Samevattend sê hy “ons kan die land op die regte spoor kry, maar nié deur dieselfde uitgesoekte mense op al die bestuursrade aan te stel nie”.

“Ons moet begin by die kinders, veral die meisies. Ons moet vir hulle die beste skoolonderrig en ontwikkelingsgeleenthede moontlik bied en dan moet ons hulle toegang bied tot die werksplek. Ongelukkig vat dit alles baie lank.”

Die berig word met vergunning van Creamer Media se Engineering News gepubliseer. Lees die oorspronklike Engelse artikel hier.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanna Botha ·

Jammer maar ons in SA verdien rommel status met wat in die land gebeur

christine ·

Dawie eks bevrees dis klaar te laat. “Die pension fonds sort in duie” klink baie bekend, omdat dit op bladsy 259 van Siener se boek staan.

Rupert Ashford ·

Werksmag verdubbel…wat is die werkloosheidskoers in SA nou weer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.