Bestaan die Islamitiese Staat (Isis) werklik?

islamitiese-staat

Foto: Signature-reads.com/Verskaf.

Kyk lesers vandag na internasionale nuuskanale, is daar omtrent daagliks berigte oor die Islamitiese Staat (Isis). Wat egter opmerklik is, is dat die organisasie asof van nêrens ontstaan het nie en sonder ’n bewese leierskap tot ’n wêreldwye bedreiging ontwikkel het.

Isis is baie aktief in Sirië en Irak, maar ook in Libië, Egipte en Jemen. Dan is daar ook die swetterjoel terreuraanvalle in Turkye, Duitsland, Frankryk, Brittanje, België, Rusland ensovoorts wat klaarblyklik deur “Isis-vegters” uitgevoer word.

Die globale Isis-“bedreiging”

Gewoonlik, nadat radikale Moslems ’n mesaanval in Londen uitgevoer het of mense met ’n vragmotor in Duitsland of Frankryk omgery het, is dit nie lank nie dan neem Isis verantwoordelikheid vir die aanval en al die nuusagentskappe soos die BBC, CNN, Al-Jazeera en RT vertel in groot detail hoe Isis besig is om vrywilligers reg oor die hele wêreld, insluitende die Weste, te lok.

Op ʼn stadium, so vanaf 2014, seker so vir ’n jaar of wat, het Isis menigte Westerse gyselaars soos die Amerikaner James Foley en die Brit David Haines en ander onthoof en dan video’s hiervan op die internet versprei. Ons is toe wysgemaak dat dit die werk was van Jihadi John, ’n Brit en ʼn Isis-lid. Hy is later in ’n aanval deur Amerikaanse en Britse hommeltuie (drones) in Sirië uitgewis.

Isis het ook beheer van groot dele van Irak en Sirië oorgeneem met ’n goed geoliede weermag en ’n skrikbewind onder die inwoners van dorpe en stede soos Aleppo (Sirië) en Mosoel (Irak) gevoer. In Egipte is dosyne deur Isis onthoof en ander in ysterhokke doodgebrand. Sedertdien het die wêreld ’n sug van verligting geslaak nadat Isis deur Irakse troepe uit groot dele van Mosoel en Siriese troepe uit Aleppo verdryf is.

Die feit van die saak is dat Isis blykbaar steeds groot dele van Sirië en Irak beheer, enige opposisie meedoënloos uitwis en van alle inwoners verwag om in te val by hul streng Islamitiese reëls en regulasies wat deur die sjaria (oftewel Islamitiese wette) gerig word. Hulle is onverdraagsaam, moordlustig en oorlogsugtig.

Gaan soek jy na die leierskap van Isis is daar honderde berigte oor ’n persoon met die naam van Abu Bakr al-Bagdadi. Al-Bagdadi was blykbaar deur die besette Amerikaanse troepe in Irak aangehou in 2004. Verder is daar ’n “kabinet” van adviseurs wat Al-Bagdadi bystaan (name onbekend). Daar is ook iewers ’n raadgewende liggaam wat Al-Bagdadi van raad bedien (name onbekend).

Probeer jy uitpluis presies wat Isis probeer bereik, is feitlik alle bronne dit eens: Hulle probeer die hele wêreld in ’n Islamitiese kalifaat verander. Hierna raak dit ietwat wollerig. Hulle is amper die reïnkarnasie van die profeet Mohammed se magte wat die Arabiese skiereiland in oorloë verower het en Islam as godsdiens op die verowerdes afgedwing het.

Dan hang Isis ook die Sunni-vorm van Islam aan en is gekant teen Sjiïete-Moslems (laasgenoemde meer verteenwoordigend in Iran, Irak en tot ’n mindere mate Sirië). Die twee hoofstrome van Islam se ondersteuners het ’n erge haat vir mekaar. Isis is ook verder onderskeibaar van “gematigde” Moslems deurdat hulle of die Sufi-“stroom” of tak óf die Wahabiete-stroom of tak van Sunnisme aanhang. Albei takke word as uiters konserwatief beskou. Die Sufi-skool het aanhang in Pakistan en Indië en die Wahabiete weer in Saoedi-Arabië.

Isis is gekant teen Westerse regerings en Westerlinge is dus aanvaarbare teikens. Gevolglik word terreuraanvalle in Europa deur Isis-“vegters” uitgevoer. Interessant genoeg het Isis nog nooit enige terreurdade in Israel gepleeg nie. Israel is al sedert sy ontstaan seker die grootste vyand van die Arabiere/Moslems. Isis het ook nog nie terreuraanvalle in Saoedi-Arabië gepleeg nie. Afrika en Suid-Afrika is blykbaar ook nie juis ’n teiken van Isis nie.

Ter opsomming: Isis, ISIL of Deash (soos hulle in Arabiese lande genoem word) maak dood, vermoor, onthoof, verkrag, het oneindige toegang tot geld (blykbaar nadat hulle sekere olievelde in Irak oorgeneem het), het toegang tot grofgeskut soos tenks wat hulle afgeneem het van Siriese en Irakse magte en is ’n gedissiplineerde weermag met netjiese swart uniforms.

Maar … hoekom is daar twyfel?

Nou kan ons hierdie hele prentjie in oënskou neem en twyfelagtighede uitwys rondom Isis.

Eerstens is dit onwaarskynlik dat ’n “private” weermag van vrywilligers so goed gekoördineerd wêreldwyd kan optree. Radikale Moslems verskil meestal oor doelwitte en dit is waarom daar altyd konflik en tweespalt in Islam is en was. As voorbeeld dien die verskillende Sunni-opposisiegroepe in Irak ná die Amerikaanse inval in 2003. Elkeen het sy doelwitte gehad van erg radikaal tot gematig. Party het selfmoordbomaanvalle gebruik teen Amerikaners, ander het konvensioneel opgetree of Sjiïete-Moslems aangeval. Daar was weinig sprake van koördinasie ten spyte van ’n gesamentlike vyand.

Tweedens is dit erg onwaarskynlik dat ’n wêreldwye organisasie bestaan wat terreuraanvalle in Europa, Irak, Sirië, Jemen, Egipte, Rusland ensovoorts op ʼn gekoördineerde wyse uitvoer. Die naaste wat die wêreld al ooit aan gekoördineerde, ideologiese konflik of terreur gekom het, was tydens die bewind van die Sowjetunie. Die Sowjetunie het kommunistiese bewegings wêreldwyd ondersteun, bewapen en befonds. Daar was ’n ondergrondse struktuur met leiersfigure wat terrorisme gebruik het om hul doelwitte te bereik of in guerrilla-oorloë betrokke te raak. Isis het geen sodanige strukture nie.

Derdens het Isis in 2014 en 2015 geweldige publisiteit verkry deur onthoofding en ander barbaarse metodes teenoor Westerlinge én Moslems. Hierdie strategie of metode is skielik laat vaar teen einde 2015. Dit maak glad nie sin dat so ’n radikale organisasie skielik van ’n baie suksesvolle taktiek afwyk wat vrees en ontsag ingeboesem het nie.

Vierdens is die leierskap van Isis verdag. Behalwe ’n ou met die naam Abu (wat in Arabies vader of broeder beteken) weet ons van geen ander leiers nie. Die leier van Isis, ’n wêreldwye hoogs gemotiveerde, hoogs georganiseerde organisasie, is ’n ou met die naam van die Broer van Bagdad? Verder is daar geen leiersfigure nie, net ’n “raad” wat Broer Bagdad advies gee. Ons weet nie eens wat sy regte van is nie nie ten spyte daarvan dat hy lank deur Amerikaanse troepe in Irak aangehou is!

Vyfdens kan ons die oorsprong van Isis se aanhang deur Sunni-Sufis of Wahabiete bevraagteken. Moslems, selfs die strome of vertakkings, is moeilik definieerbaar en selfs gewone Moslems het nie altyd ’n idee wat vertakkings se verskille is nie.

Sesdens is dit onverstaanbaar dat Israel nie een van die teikens van Isis is nie. Waarom sal Isis verkies om terreur teen die pasifistiese Swede of Franse uit te voer, maar die Israeli’s uitlaat?

Radikale Islam – ’n eietydse bedreiging

Nou moet dit net duidelik gestel word dat hierdie artikel nie daarop gerig is om samesweringsteorieë oor die Isis te verkondig nie. Al wat hier probeer illustreer word, is dat dit hoogs onwaarskynlik is dat daar ’n sentraal-beheerde, gekoördineerde en gedissiplineerde organisasie soos Isis bestaan wat die wêreld bedreig.

Isis is ’n nuttige stuk gereedskap vir enige regering om militêr op te tree, vryhede in te perk, wapentuig aan te koop, standpunte in te neem of verkiesings te beïnvloed. Isis se aksies kan maklik gefabriseer word om regerings of hul agentskappe te pas. So het die Amerikaanse CIA deur blote leuens in 2003 die hele Amerikaanse regering, opposisie, media en bevolking oortuig het dat Irak wapens van massa vernietiging vervaardig, terwyl daar nooit enige sprake daarvan was nie.

Hiermee word ook glad nie ontken dat die grootste bedreiging van ons moderne samelewing radikale Islamitiese terrorisme is nie. Verskeie terreuraanvalle vind plaas in Europa en daar is Islamitiese groepe wat oorloë voer in Sirië, Irak en ander lande, wat mense vermoor en onthoof in die naam van Isis. Ons kan ook aanvaar dat daar groepe en/of individue is wat hulself Isis noem, al het hulle niks of amper niks met mekaar te doen nie. Dit word voorsien dat hierdie bedreiging net verder gaan groei weens die invloei van Moslem-vlugtelinge in die Weste. In die naam van Isis gaan baie van daardie Moslems terreurdade pleeg, soos reeds nou reeds plaasvind deur veral tweede generasie Moslems in Europa.

Die saadjies vir die huidige vlaag van ekstremisme is reeds jare gelede gesaai deur inmenging in state se huishoudelike sake in die Midde-Ooste en Noord-Afrika, deur die aandrang op regimeveranderings, wat aanslae teen die ou sekulêre diktators soos Saddam Hoesein, Hosni Mubarak, Moeammar Ghaddafi en Basjar al-Assad insluit. Tot ’n groot mate het die Amerikaanse invalle in Irak en Afganistan, die Arabiese Lente en die Westerse inmenging in Sirië en Libië die saadjies laat ontkiem.

Maar Isis is nie ’n wêreldwye organisasie nie. Vir Westerse en ander regerings is die bestaan van Isis ’n maklike manier om hul militêre optrede te regverdig, terwyl Arabiese/Moslem-regerings Isis gebruik om hul eie burgers te onderdruk.

Soos Al-Kaïda, wat ná sy 9/11-aanval in die VSA vir jare daarna al die skuld gekry het vir alle terreuraanvalle wêreldwyd, en eintlik later niks meer was as ’n paar ou mans wat eers in grotte en later in ’n huis in Pakistan weggekruip het nie, is Isis ’n versamelnaam vir radikale Islamitiese ideologieë en terrorisme, eerder as ’n wêreldwye organisasie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pietman ·

Uitstekende artikel. Geldige vrae. Ja Israel bly ‘n raaisel. Hoekom geen aanvalle? dalk omdat Israel ‘n muur het en reeds goeie sekuriteit weens jare se aanvalle deur Palestyne? Ook wie finansier ISIS? Wie koop die olie? Sommige meen Turkye ander die Saudis. Neem ook in ag Islam se konstante poging om westerse lande te verower sedert 600 NC. Die Turke wil bitter graag deel van die EU word.

Chris ·

Baie goeie artikel. Dit is weereens ‘n bewys wat die massamedia kan doen. Die beweging is deur die Amerikaners op die been gebring. Die VSA moet ten minste twee oorloë bedryf om hul ekenomie aan die gang te jou. Wat is die maklikste, jy stig ‘n organisasie wat almal haat en jou propoganda skop in. Ek vra ook waar en wie is die Islamitiese Staat. Die aksies veroorsaak paniek en versprei haat en wantroue onder nasies. Ek vra in dieselfde asem waarmee is die Amerikaners dalk hier in ons landjie besig?

naamloos ·

Watse artikel is hierdie nou eintlik? Mnr Nico Stegman bestaan dalk eerder glad nie. Geen teenwoordigheid op Facebook onder hierdie naam pas by sy beweerde nering nie. En, wat probeer hy bereik? Anti-Amerikaanse propaganda? Anti-Westerse propaganda? Anti-semitiese propaganda? Of is dit eerder navorsing om te toets hoe gullable Afrikaanse lesers op Maroela is? Sy vraag moes dalk eerder gewees het: Is ‘n terroriste-beweging ‘n organisasie? Is ‘n terroriste-beweging ‘n beweging? Ag nee, Maroela! Moenie jul lesers blootstel aan navorsers wie se inligting nie eens kan kers vashou by Wikipedia nie, om nie eers te praat van die Jordaniërs en Europeërs en derduisende ander mense wat diep seer gemaak is deur die terroriste nie. Gaan kyk na ISIL se huidige leier se foto! Gaan kyk na verklarings van die slagoffers. Kyk rond en leer hoe dom westerlinge Arabiese name afkort. Maak vriende met mense wat die stryd daagliks stry. Doen dit voor jy jou mond oopmaak op die Internet. En hou op om my nasie te tipeer as dom en behep met ekstremisme en net hulself. Doelbewus of toevallig. Asseblief!

Realis ·

Goeie artikel. Die een ding wat Nico egter nie aanraak nie, is die geloofsleiers van hierdie klomp radikales. Dis waar die organisering in die geheim plaasvind. Moet egeter nie glo die intelligensie dienste in die VSA en Europa is nie bewus van wat gebeur nie. Inteendeel, dis lankal nie meer n’ geheim dat hierdie babare juis deur die CIA en andere op die been gebring en steeds vandag ondersteun word nie. Dit sluit Israel in, wat myns en siens eintlik maar in beheer is van wat in Amerika gebeur deur die ryk bankiers soos die Rothschild, Bilderberg, Rockerfeller ens. Dit is hoekom Israel nie aangeval word nie.

Die Saudis is die hoof finasierders en besit in elk geval meeste van die groot massa media instellings. Ongeag hulle pateties menseregte doen hulle en veral the VK and VSA fluks besigheid in biljoene dollar wapentransaksies, en dien hulle selfs op die VN se Menseregte Komissie. Hierdie ondersteuning dien n’ paar doele.
1. Die sekeruteitskwessie word gebruik om burgers se regte and privaatheid te ondermein, en groter beheer oor alle burgers te verkry.
2. ISIS dien as n’ privaat weermag om mandaat oorlog uit te voer teen lande waarvan die leiers nie wil kapituleer en toegee aan die imperialistiese VSA en sy bondgenote nie.
3. Dit hou Rusland besig (die enigste Westerse wereldmag wat hulle planne teenstaan).

Op die ou einde gaan alles oor mag, en die Amerikaners en Britte het geen eer, inbors, etiek of genade vir enigiemand nie. Hulle wil regeer!

John ·

Ons almal hou mos daarvan dat iemand anders ons vuilwerk doen? Waar kry IS sy wapens, swart-uitrustings en apparaat om beelde te vernietig en wie maak sy vlae? Hoekom is die groot moonthede so lief vir Saoedi-Arabie ten spyte van sy swak menseregte-rekord? Hoekom is geen IS-vegter nog lewendig gevang nie of selfs dood gefotografeer nie?

Herman G ·

Ja, interessant. Ek stem saam dat westerste inmenging gehelp het om ISIS te laat ontkiem en om Sadam Hussein uit te haal het ook ‘n vakuum gelaat. Ek verskil dat dit die hoof oorsaak is. Die meeste Arabiese lande het vir dekades lank ‘n disfunktionele stelsel – net soos die meeste Afrika lande. Bevolkings groei is hoog, ekonomies groei is laag, die ekonomie is in die hande van die regering (m.a.w. die rykste ou in die land is die president), en die onderwys is pateties (om dit sag te stel). So daai lande word soos ‘n drukkooker wat jaar na jaar druk op bou en toe ontplof het met die Arabiese lente. Somige lande (Bv. Dubai) was slimmer.

ISIS, en radikale islam is vir die mense (wat grootendeels niks het nie) ‘n politiese idee, soos wat nazisme en kommuniste was. Verder is daar moslems in westerse lande (veral Frankryk) wat sukkel om deel te wees van die formele ekonomie en samelewing, deels a.g.v. swak opleiding/ onderwys, deels a.g.v. swak werksetiek. Hulle haat die lande waarin hulle lewe en radikale islam is vir hulle aantreklik.

Charles ·

Goeie artikel. Realis som dit baie goed op. Ons word gevat vir ‘n fool. As jy eers die groter prentjie verstaan wat hier aangaan besef jy dat die geldmagte geen gewete het nie. Dit is teen die tyd byna al om bekend dat 9/11 die grootste klugspul in die geskiedenis is. En dis onbegryplik dat’ n verkose regering dit aan sy eie mense kon doen. Wat ons in die media vertel word en wat werklik die geval is verskil hemelsbreed. Gaan lees gerus na oor die petrodollar. Daarin le die ware rede vir die inval in Irak, Libië en Sirië.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.